Etnisiteit herbedink

Hugo Hayes

eCe : evangeliese Christelike eukumene

Kaapstadse verbintenis

'n Insiggewende nuusberig is, dat tydens 'n onlangse Kaapstadse byeenkoms, daar 'n verklaring opgestel is, waarin diversiteit gehandhaaf word (Volksblad van 29 Jan. 2011). Die strekking is dat etniese verskeidenheid 'n gawe van God is, wat tot in die hiernamaals gaan voortduur. Die opstel daarvan volg op die Lausanne-kongres oor wereld-evangelisasie wat verlede jaar in Kaapstad plaasgevind het. Evangeliese Christene vanoor die wereld het deelgeneem, en tot hierdie oortuiging gekom. Die verklaring staan as die Kaapstadse verbintenis bekend. Dat etniese verskeidenheid vanwee die mens se sonde skeefgetrek is / word, word erken. Insgelyks word verklaar dat etnisiteit in die volgende bedeling (hiernamaals) sal voortbestaan, wanneer verloste mense uit alle nasies voor God's troon sal staan. Die beklemtoon ook die kerk se rol in etniese versoening en dat Christene se etniese identiteit altyd aan hulle nuwe identiteit in Christus ondergeskik sal wees.

Betreffende hierdie verklaring, is die erkenning van die volkeverskeidenheid op sigself belangrik. Dit alleen kan as 'n deur braak gesien kan word. Die verskynsel van onderskeie volke is 'n kosmologiese werklikheid, wat deur enige onbevange waarnemer raakgesien behoort te word (die stamwoord, ethnos in Grieks, beteken 'volk'). Waarop die aandag egter eerder gevestig wil word, is dat vir die eerste keer 'volkeverskeidenheid' internasionaal in die evangeliese Christelike eukumene (hierna eCe) as 'n durende gawe van Goddelike oorsprong gehuldig word. Verder ook dat die uitwerking van die sonde in die behartiging van die Godsgawe erken word, met verwysing na spesifieke gebeure, soos die Joodse volksmoord inter alia. Uiteraard kan nie met alles wat onder hierdie kategorie (noem dit dan "misdrywe teen die mensdom") vermeld word, saamgestem word nie. Maar dat die sonde gevolge as oorsaak van sekere tragiese gebeure in die volke-geskiedenis aange toon kan word, is nie weg te redeneer nie. Objektiwiteit en realisme ontbreek nogtans opvallend, wat 'n groot jammerte is. As voorbeeld, die verswyging van die skreiende onreg wat die Afrikanervolk vanwee die Tweede Vryheidsoorlog (konsentrasie-kampe, ens.) aangedoen is.

Volkeverskeidenheid regmatig

Ons Christelik-gereformeerde beskouing verklaar die volkeverskeidenheid as 'n God-gewilde verordening. Dit is op Bybelse uitsprake oor die owerhede en volke / nasies begrond, soos trouens in ons belydenisskrif verwoord. Geheel nuwe perspektiewe op die vraagstukke van staatkunde, volkwees en die behoud en uitbouing van kultuur-eiendomlikhede is daardeur geopen, danksy die Reformasie. Dit is 'n eerste stap op pad na 'n verantwoorde ethnos-begrip. Vir ons heersende tydsomstandighede is die kennis hiervan van kritieke belang. Die tweede behels die erkenning van die sondeval en, histories gesien, die gevolge daarvan vir volke die wereld oor. Die sonde setel nie in die strewe na eie onafhanklike en selfstandige volke nie. Dit skuil wel in verkeerde motiewe, wat van 'n nie-Christelike staat- en volkekunde getuig. So kan, vir die doel hiervan, imperialisme as een so 'n motief uitgesonder word. Ons moet begryp dat die Sataniese aanslag op die Goddelike volksordening nie agterwee sou bly nie. Ons Afrikanervolk se eie strewe om as onafhanklike en vrye volk te bestaan, sou in die loop van die geskiedenis deeglik hiermee te kampe kry. Ons verneem dit uit die geskiedenis reeds van so vroeg as die begin van die 19de eeu, met opklimmende intensiteit teen die einde daarvan, wat op die Vryheidsoorloë uitgeloop het.

Die Kaapstadse erkenning van etnisiteit hou daarom 'n baie belangrike boodskap vir ons tyd in. Dit is 'n groot stap om die Bybelse perspektief weer onder aandag te bring, al ontbreek daar veel aan 'n konsekwente deurtrek daarvan. Indien aan etnisiteit die betekenis van 'n Godsgawe verleen word, kan daarmee nie fout gevind word nie. Maar die waarde van so 'n verklaring moet eers werklike Bybelse diepgang vind, alvorens dit vir dwingende eietydse omstandighede bruikbaar en relevant kan wees. Word die standpunt ingeneem dat etnisiteit as 'n gawe van God beskou moet word, het dit duidelike implikasies. Die volk(e) vir wie die Godsgawe bedoel is, moet bemagtig word om dit hulle eie te kan maak. 'n Gawe het geen waarde, indien die ontvangers daarvan nie in 'n posisie gestel is / word om dit te kan toe-eien en daaruit voordeel te trek nie. Die verklaring moet in die lig hiervan van naderby bekyk word. By die nagaan van die opgawe oor etniese onderdrukking in die verklaring, blyk daaruit weer die ou geykte scenario: slawehandel, apartheid, die Palestyne … Van die feit dat daar heersend spesifieke gevalle van doelbewuste onderdrukking van etnisiteit gepleeg word, word geen melding gemaak nie. Dit geld sekere dele van die wereld, maar veral ook Suidelike Afrika, waarvan ons maar terdeë bewus is. 'n Mens sou veel meer hieroor in 'n verklaring soos hierdie wou sien.

Wat gevolglik benodig word is 'n veel groter begrip en sensitiwiteit vir die hantering van eiesoortige volksbelange in verskillende dele van die wereld, maar ook in Suid-Afrika. Voordat dit op hierdie wyse hanteer kan word, sal tot die punt gekom moet word waar die reg van volke om aan hulle besondere etnisiteit uitdrukking te mag gee, erken word. Voorwaardes ter bereiking hiervan, sal in ag geneem moet word. Die wat in hierdie verband vermelding verdien, handel oor die erkenning van volke kragtens hulle identiteite, godsdiens, taal en kultuureiendomlike, grondgebied, en die vryheid om hulself te wees en oor hulself te regeer. Die implikasie is dat volke in eie reg toegelaat word om as afsonderlike volke te kan bestaan, en as sodanig erken te word. Die vraag is of die Kaapstadse verbintenis bereid sal wees om die voorgaande in die oog te sien en hulle verklaring dienooreenkomstig uit te brei. Sal die verbintenis die moed en openheid aan die dag kan lê om die versweë onregte wat daar in resente tye teenoor volke in Suidelike Afrika en elders in die wêreld gepleeg word, wat tot hulle onderdrukking meewerk, aan die kaak te stel? Opsienbare verklarings soos hierdie moet beduidende relevansie vir ons tydsomstandighede inhou, anders sal dit slegs mooi formuleringe bly, wat vir geaffekteerde volke van weinige betekenis wees. Die bevinding van die eCe is dus van groot betekenis, maar daar is nog baie Bybelstudie wat gedoen moet word.

Christelike staatsleer en volkekunde.

Kernaspek waaraan gevolglik aandag gegee moet word is, of vanuit die Christelike staat- en volkekunde, 'n antwoord op die vraagstuk van regeermag, oorheersing en magsvergryp gebied kan word. Dit hou eerstens met die plek, roeping en taak van die owerheid verband. Om hierop 'n antwoord te kan gee, moet die uitsprake oor die oorsprong en aard van mag en gesag en die roeping en taak van die owerheid in die Woord van God ondersoek word. Daar stel ons sonder enige twyfel vas dat alle mag in absolute sin in God-Drieënig setel en aan Hom alleen behoort:

Joh. 19:11 "Jesus antwoord: U sou geen mag teen my hê as dit u nie van bo gegee was nie." Mat 28:18 "En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: 'Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde'". Rom. 13:1 "… want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel."

Niemand kan dus vir hom-/ hulself mag toe-eien wat nie deur God gewil word nie. Om die waarheid te sê, geen mag kan deur enigiemand uitgeoefen word, sonder die toelating van God nie. Bekleërs van regeerampte is daartoe geregtig enkel kragtens die grasie deur God self verleen. So sal alle maghebbers dan ook moet insien dat die mag waaroor hulle beskik, nie in hulleself setel nie, maar verleende mag is, wat as sodanig uitgeoefen moet word. Dit is mag wat herroep of teruggeneem kan word. Mag kan onder geen omstandighede van die Goddelike oorsprong daarvan ontsetel word nie. Niemand beskik oor enige mag in persoon nie, maar wel in amp. Dit spreek vanself dat iemand wat 'n regeeramp beklee ook die mag wat daarmee saamhang, verkry. Dit sou egter nooit as outonome mag hanteer kan word, sonder uiters nadelige gevolg nie. Die feit dat magsoorskryding onder regeerders voorkom, wat die oorsprong daarvan nie reg begryp, of nie wil erken nie, lei daartoe dat daar vorme van mag ontstaan wat nie volgens die wil van God is nie. 'n Bekende vorm hiervan is die van diktator en tiran, waar die mag in daardie situasies buitengewone proporsies aanneem. Diktature is daarvoor berug dat hulle onbeperkte / ongebreidelde mag uitoefen, soos in die geval van Hitler, Mussolini en Stalin. Aan die begin van die 21ste eeu kan hierdie lys aansienlik uitgebrei word, met resente toevoeginge. Wat dit betref, is Afrika beslis nie te verskoon nie. Sedert die eerste skryf van hierdie bydraetjie het die verhouding owerheid-onderdaan nog baie meer aktueel geword vanwee onlangse wêreldgebeure.

Dit is nie dat die Bybel die opneem van enige amp ontmoedig nie; inteendeel. In 1 Tim 3:1 staan daar: …"as iemand na 'n opsienersamp verlang, begeer hy 'n voortreflike werk". Dit is die bedoeling van die Here dat onder die mense daar die sal wees wat in ampte staan waar hulle met sekere mag beklee word. Dit geld ook hulle wat die hoogste ampte beklee, naamlik om as regerings oor volke te ageer. Om as regerings met mag beklee te wees, is dus nie in stryd met die Bybel nie. Regerings moet egter daarmee rekening hou dat dit slegs verleende mag uit die hand van God is. Die uitoefening daarvan wat in magsoorskryding en -vergrype van watter aard ookal ontaard, is sonde teen die heilige bedoeling van God. Gevolglik moet die mag waarmee regerings beklee is op getemperde wyse deur hulle uitgeoefen word. Gewoonlik word na die mag van die staat as die 'swaardmag' verwys. Tog moet dit reg verstaan word. Onordelikheid onder die mense moet beteuel word, waartoe die staat geroepe is om op te tree. Maar in positiewe sin, is daar ook 'n groot seën in die verhouding onderdaan teenoor owerheid, en andersom, opgesluit, wanneer God se opdrag in sy Woord deur beide partye gehoorsaam word. Dit gebeur wanneer die owerheid se gesag om as dienaar van God te kan optree eerbiedig, en van die staat se kant billik, regverdig en onpartydig na die belange van die onderdane omgesien word. Daar is geweldig baie in die volgende uitspraak opgesluit: "Hy is. dienaar van God jou ten goede" (Rom.13:4). Waar so regeer word dat dit onderdane in staat stel om in art 36-omstandighede (NGb) te kan lewe en werk, hou dit voorwaar groot seën vir die bevolking van so 'n land in.

Burgerskap en die owerheid

In tydsomstandighede waar dit aan die orde van die dag is dat daar in identifiseerbare lande groot onrus en tweespalt heers, wat tot die ontwrigting en dood van mense lei, begin die waarde van 'n regering wat volgens die eise van God's Woord regeer, meteens weer nuwe betekenis kry. Dan begin so 'n geteisterde volk weer begryp waarom daar 'n Bybelse uitspraak oor die owerheid gemaak word, op grond waarvan die reformatoriese belydenis oor die owerheid geformuleer is, wat al so lank staan. Dit is nie bloot 'n teoretiese oefening in woordkuns nie, maar so konkreet as die werklikheid self. Dit beklemtoon die noodsaak van verantwoordelike burgerskap, waardeur seker gemaak moet word dat regerings wat hulle aan die verordening van God gebonde hou, tot stand gebring moet word. Die leer oor die Christelike owerheid en burgerskap, wat oor soveel eeue heen deel van ons gereformeerde belydenis en opvatting was, kry dan opeens weer nuwe betekenis. Te meer so wanneer in die wetenskappe van die staatsleer en volkekunde (etnologie) ten nouste hierby aangesluit word, tot verchristeliking van die wetenskap en die samelewing. Die onderhawige verklaring behoort dus met die Christelike belydenis oor die regte en magte van die staat en van volke opgevolg te word, deur die Bybelse lig duidelik en helder daarop te laat val. Bes moontlik kan wat nou nog net 'n verbintenis van die eCe is, oorgaan in die eeue-oue belydenis oor die Bybelse roeping en taak van die owerheid. Daarmee saam sou 'n dringende oproep tot die internasionale gemeenskap, dat dit hoog tyd geword het dat toegesien moet word dat praktiese beslag daaraan gegee word, die trefkrag van so 'n belydenis dermate versterk.

Onderdrukking en vervolging

Die onderdrukking en vervolging van mense is so oud soos die geskiedenis van die mensdom. Selfs in tye en omstandighede waar ons nog nie met gedifferensieerde samelewings te doen het nie, het owerhede dit as hulle taak gesien om meestal met 'n ysterhand te regeer. In daardie vroeë geskiedenis was dit egter nie deur verantwoordelike demokratiese prosesse dat hulle tot stand gekom het nie, maar selfaangestelde owerhede wat deur troonopvolging aan bewind gebly het. Dit is goed te begrype wanneer daar op die vrees wat daar vir konings en ander maghebbers onder onderdane geheers het, gelet word. 'n Mens sou onderdane en owerhede van daardie tyd egter kon verskoon, omdat hulle nog nie oor Rom. 13 beskik het nie. Desondanks vind ons Godvresende konings wat met die besef van hulle verantwoordelikheid teenoor Hom regeer het. Die Rom. 13-aanwysing van die roeping en taak van die owerhede is egter ver van die oudmodiese model van onderdrukking en vervolging verwyder. Dit veronderstel 'n owerheid wat regeer met die volle besef van die feit dat hulle hul mag en gesag aan God ontleen, en as sy dienaars daargestel word. Dit laat geen ruimte meer vir die verskynsels van magsvergrype en persoonlike verryking nie.

Die Bybel, Rom. 13:1-7: "Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan sal hulle oordeel ontvang. Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is en jy sal lof van hom ontvang.

Want hy is 'n dienaar van God jou ten goede. Maar as jy kwaad doen vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is 'n dienaar van God, 'n wreker om die een wat kwaad doen te straf." ?

Ook Tit . 3:1; 1 Petr. 2:13-14 ens. Nederlandse geloofsbelydenis, art. 36: "Ons glo dat onse goeie God vanweë die verdorwenhed van die menslike geslag, konings, vorste en owerhede verorden het, omdat dit sy wil is dat die wereld geregeer moet word deur wette en regeringe. … sodat die Here hulle mag bestuur in al hulle wee en ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid."