'n Bybelgefundeerde benadering in die natuurwetenskappe

P H Stoker
9 Februarie 1996

1 Feite en natuurwet

Feitekennis moet onderrig word, want leerlinge en studente moet opgelei word vir en ingelei word in die wêreld waarin ons leef. In ons onderrig moet ons egter ook 'n waardebepaling van die feitekennis deurgee. Hierby kom ter sprake die verhouding van hierdie wêreld tot die Skepper.

Feitekennis moet verbind word aan die sin en betekenis van die bestaan van mens en wêreld. Feite het hulle plek in 'n raamwerk, wat bepaal hoe ons die feite sien, hoe ons hulle waarde bepaal en wat ons met die feitekennis doen. Hierdie kennis moet ook meewerk in verbreding van insig in God se openbaring in die natuur en hulle lewe, en hoe dit van wesentlike betekenis is vir hulleself en vir andere met betrekking tot elkeen se lewenstaak. Hiervoor het elkeen sy talente en verantwoordelikhede van die Skepper ontvang, wat tot diens van God en medemens in hierdie wêreld benut moet word om daardeur God se Kerk en Koninkryk te bou.

Wetenskapsvorming is 'n onderdeel van die Bybelse opdrag om die natuur te beheer en te versorg. Vir ons beheer en versorging van die natuur is ons verantwoording aan Hom verskuldig. Met natuur bedoel ons alles van die Skepping wat ons met sintuie en instrumente kan waarneem. Dit sluit sowel die lewenslose natuur as plant, dier en mens in, daarmee saam dan ook alle samelewingsverbande.

'n Natuurwet is 'n reëlmatigheid, wat deur die mens geformuleer is. Hierdie reëlmatighede het ons op aarde uit sistematiese kennisverwerwing gevind. Daar is geen bewys dat hierdie reëlmatighede oral in die heelal en vir alle tye geldig is nie. Ons het geen bewys dat alles in die heelal volgens vaste natuurwette verloop nie. Hierdie siening dat alles volgens vaste natuurwette verloop, gee aan die reëlmatighede, wat die natuurwetenskappe onder ideale omstandighede in die laboratorium of in die natuur vind, 'n veel meer omvattende status van noodwendigheid as wat die beperkte (afgeslote) omstandighede, waaronder die reëlmatighede gevind is, toelaat. Hierdie siening verabsoluteer die betekenis van waargenome reëlmatighede tot universeel-geldige natuurwette. Hierdeur word God as onderhouer en bestuurder van alles uit Sy skepping uitgerangeer. Dit laat geen ruimte meer vir geloof in God en vir die wonder nie.

2 Evolisme, ouderdomsbepalinge en antwoorde uit die Bybel

2.1 Ons beswaar teen 'n evolusionistiese siening op die natuur:

(a) die evolusionisme aanvaar 'n natuur sonder God

(b) 'n evolusionis ontken dat die natuur deur God gemaak is en hy ontken dat die natuur deur God bestuur word

(c) 'n evolusionis aanvaar 'n geslote wêreldbeeld, 'n wêreld wat deur eie krag van laer na hoër vorme ontwikkel, aangesien hy nie die bestaan van God Drie-eenheid binne of buite die sigbare heelal aanvaar nie

(d) 'n evolusionis aanvaar 'n evolusie deur natuurwette as selfstandige kragte, vanaf 'n fisiese evolusie wat met die oerknal en vorming van materie uit energie begin het tot die vorming van sterre, planete, en galaksies, daaropvolgend 'n chemiese evolusie vir die geleidelike ontwikkeling van eenvoudige stowwe (molekule bestaande uit waterstof, stikstof en suurstof) na ingewikkelde stowwe (soos eiwitte), en ten slotte 'n biologiese evolusie waarvolgens laer organismes geleidelik na hoër organismes en vorme van lewe ontwikkel.

(e) 'n deïstiese visie op die natuur, wat tussen die evolusionistiese en Bybelse siening staan met die beskouing dat die heelal soos 'n masjien deur God aan die gang gesit is, wat daarna volgens ingeboude wette van die natuur verloop met God as toeskouer.

In die beoefening van die natuurwetenskap werk hulle wat die Bybel as die Woord van God aanvaar, dikwels saam met diegene wat 'n evolusionistiese of deïstiese kyk op die natuur het. Daar kan heelwat ooreenkomstige bevindinge wees omdat elke natuurwetenskaplike werk met die verordeninge wat God aan die natuur gegee het en met die manier waarop God die natuur bestuur. Die Bybelse kyk op die natuur is egter van groot belang vir ons geloofslewe en vir ons beoefening van die natuurwetenskappe. Groot natuurkundiges soos Boyle (1626-1691) en Newton (1642-1727) het hulle verset teen die deïsme en het in hulle geskrifte hulle geloof belei dat God self steeds besig is om die natuur te bestuur.

2.2 Die mens kan die natuur nie deurgrond nie

God het alles in die wêreld gemaak en die mens geskape om Hom beter te leer ken deur Sy Skepping te ondersoek. God het alles gemaak soos dit tans is en bestuur die wêreld volgens Sy Raadsplan tot 'n voleinding. Ons as mense kan egter God se werke in die natuur nie volledig verstaan en verklaar nie. Isaac Newton het kort voor sy dood gesê: "Ek weet nie wat ek vir die wêreld beteken het nie, maar vir myself lyk dit of ek slegs soos 'n kind was, wat aan die seestrand gespeel en hom vermaak het deur af en toe 'n gladder klippie of 'n mooier skulp as die gewone te vind, terwyl die groot oseaan van die wêreld nog onontdek voor my uitgestrek het". Hierdie beskeidenheid dat hulle min weet, kry ons by die meeste natuurwetenskaplikes.

In baie handboeke lees 'n mens dat fossielbrandstowwe soos aardolie, aardgas en steenkool in 'n proses, wat miljoene jare geduur het, gevorm is uit reste van plantjies en diertjies, wat daarvoor geleef het. Allerlei ouderdomsbepalings van fossiele en gesteentes dui daarop dat baie aardlae reeds miljoene jare oud is. Nie een van die metodes, waarmee ouderdomme bepaal word, lewer bewyse dat die materiale werklik so oud is soos deur die metodes bereken word nie, omdat al die metodes op bepaalde uitgangsaannames en veronderstellings berus. Die radioaktiewe metode, byvoorbeeld, veronderstel dat radioaktiewe verval oor al die miljoene en selfs miljarde jare steeds met dieselfde tempo plaasgevind het. Daarvoor bestaan daar geen bewys nie. Ook in astronomie (sterrekunde) word sterre en sterrestelsels waargeneem, waarvan die lig volgens wetenskaplike berekeninge miljoene tot miljarde jare neem om ons te bereik.

'n Belangrike vraag is of 'n ou aarde met aardlae, diersoorte en sterre wat daar was lank voordat die eerste mense geleef het, te ruim is met die Bybel, waarvolgens die skepping in 6 dae voltooi is. Kan ons uit die Bybel hierdie vraag oortuigend beantwoord? Die Bybel gee nie op al ons vrae duidelike antwoorde nie. Daar is altyd vrae, waarop ons nie antwoorde uit die Bybel kan kry nie, en waarop niemand met bewyse kan antwoord nie.

2.3 Sake duidelik uit die Bybel

(a) Die aarde en kosmos is deur God geskep en word ook deur Hom onderhou en bestuur.

(b) Alle mense het voortgekom uit die eerste mens Adam. Die gedagte dat die eerste mense deur geleidelike evolusie uit diere ontstaan het, is in stryd met die Bybel. Ook weet ons uit die Bybel dat God die eerste mense nie miljoene jare gelede geskape het nie, maar slegs duisende jare gelede.

(c) Genesis 1 en 2 beskryf geskiedenis. Wat daar verhaal word, het werklik gebeur. Die 6 skeppingsdae is werklike dae, werksdae van God. Wie sê dat wat in Genesis 1 en 2 vermeld word, nie werklik gebeur het nie (nie geskiedenis is nie), maar 'n simboliese formulering van 'n vroeëre geloofsoortuiging oor die ontstaan van die aarde en alles daarop is, tas die Goddelike gesag van hierdie Bybelhoofstukke aan.

Ons kan egter ook vrae stel, waarop ons vanuit die Bybel geen duidelike antwoorde kry nie omdat die Bybel oor baie dinge min sê. Tot hierdie kategorie behoort bv. die vraag oor die ouderdom van die aarde en die kosmos, en daarmee saam die duur van die skeppingsdae in terme van die wetenskaplik-definieerde fisiese tyd, nl. die sekonde en die uur van 3600 sekonde, met 24 ure van 3600 sekonde elk in 'n hedendaagse aardse dag. In Genesis 1 en 2 en verder aan in die Bybel word telkens van 6 skeppingsdae gepraat en oor die feit dat duisternis en lig mekaar tot 6 maal toe afgewissel het, maar daar word geen melding gemaak van die duur van die dae. Dit staan nêrens dat die dae net soos tans 24 uur geduur het nie.

3 Kreasionisme en biblisisme

Ons het in die vorige afdelings gesien dat die Bybel belangrike uitsprake oor die natuur maak, en dat ons vanuit die Bybel 'n Christelike visie op die natuur kry. Vir die Christen is die wete dat God alles geskape het en deur Sy Voorsienigheid in stand hou, 'n groot troos. Maar kan die Bybel ook inhoudelike gegewens vir die natuurwetenskap lewer? Of anders gestel, kan en moet ons die Bybel gebruik as 'n kennisbron vir die beoefening van die natuurwetenskappe?

Kreasioniste is 'n beweging wat oortuig is dat gegevens uit die Bybel en resultate van eksegese as feite in die natuurwetenskappe kan en moet gebruik word. Hulle gebruik bv. die geskiedenis van die sondvloed (Gen. 6-9) as bron van geologiese gegewens om die geskiedenis van aardlae te beskryf, met die oortuiging die skeppingsdae 24 uur was, dat die aarde ongeveer 5000 jaar oud is en dat alle fossiele tydens die sonvloed, wat die hele aarde sou omspan het, ontstaan het. Dit het in die VSA en elders 'n stryd tussen die geologiese wetenskappe, wat 'n hoë ouderdom vir die aarde aanvaar, en die sondvloedgeologie ontketen. Die Bybel is nie geskryf om oor hierdie tweestryd 'n uitspraak te lewer nie.

Die Bybel is nie 'n handboek met gegewens vir die natuurwetenskaplike nie, maar die Bybel is die boek vir die verbond. Die God van die Verbond spreek Sy reddende Woord van genade tot ons. God het bv. die geskiedenis van die sondvloed nie geopenbaar om geologiese gegewens te verskaf, wat gebruik kan word vir die beskrywing van die geskiedenis van die aarde nie. Die kreasioniste fouteer as hulle die sondvloed daarvoor gebruik. God het aan ons die openbaring oor die sondvloed gegee om ons Sy oordeel oor die sonde te laat sien en vir Noag en sy gesin Sy verkiesende genade. Die heilshistoriese betekenis van die sondvloed word veral duidelik by die lees van 2 Petrus 3. Dit is egter wel moontlik dat ons in natuurwetenskaplike ondersoek gegewens kan teëkom, wat moontlik die gevolg van die sondvloed is. 'n Christen weet immers seker dat die sondvloed wel plaasgevind het.