Christelike onderwys

P H Stoker
9 Februarie 1996

1 Die Calvinistiese lewensbeskouing en C.N.O.-skole

Die Heilige Skrif is die grondslag van die lewensbeskouing van Calvyn (1509-1564). Ons is gewoond om hierdie lewenskouing Calvinisme te noem, 'n lewensbeskouing wat op die gebied van die Godgeleerdheid, en op die kerklike, maatskaplike en staatkundige terreine 'n groot invloed in Frankryk, Switserland, Nederland, Engeland en Skotland, en ook groot dele van Duitsland, Pole en Hongarye uitgeoefen het.

Die formele hoofbeginsel van die Calvinistiese lewensbeskouing is dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is, wat Sy lig op alle terreine van die menslike lewe en die wêreld werp, en wat nie slegs vir die godsdiens en vir die saligmaking van die mens van belang is nie.

Die stigters van die volksplanting aan die voet van Tafelberg het die Calvinistiese beginsels in die sewentiende eeu op Suid-Afrikaanse bodem oorgeplant. Later het die veeboere en nog later die Voortrekkers die beginsels na die binneland en veral na die Republikeinse Noorde oorgedra. Op hierdie gereformeerde beginsels is die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel oorspronklik gebou.

2 Ontwikkeling van denke

Alle mense het die vermoë om teoreties te dink en gebruik teoretiese denke dan ook in hulle alledaagse lewe. Teoretiese denke vind alreeds plaas in die brein van klein kindertjies deur die vorming van begrippe. Die teoretiese analiserende en abstraherende vermoë wat God ons gegee het, gebruik die kind onbewus bv. om die kenmerke van verskillende voorwerpe te onderskei. Hy weet wanneer hy 'n meubelstuk sien of dit 'n bed, stoel, of tafel is, al het hierdie meubelstukke almal vier pote. Hy sal ook verskillende soorte stoele as stoele teenoor ander meubelstukke onderskei al bestaan daar belangrike verskille tussen verskillende soorte stoele (sommige stoele het leunings, ander nie, en so meer). Ons brein het daarom die wonderlike vermoë om duisende begrippe ons eie te maak. Hierdie vermoë kom ook bv. voor in rekene. In graad 1 leer die kinders dat twee appels en drie appels vyf appels is, en baie gou daarna word veralgemeen na twee plus drie is vyf, wat 'n abstraksie vanaf die konkrete is. Die getal 'twee' is 'n abstrakte begrip. Die woord 'abstrak' beteken volgens die Afrikaanse Woordeboek o.a. 'aftreksel' of 'afgetrokke begrip'. Die kind leer dus om die getalle 'af te trek' of te onttrek van die konkrete dinge. Die feit dat die mens geen probleme het om in terme van getalle te dink nie beteken dat die mens 'n fantastiese vermoë tot abstrakte 'teoretiese' denke het.

Dit is dan ook 'n bekende opvoedkundige benadering om die mens in sy verstandelike en geestelike ontwikkeling op die pad van die konkrete na die abstrakte te begelei, maar dat daar nietemin 'n gedurige wisselwerking tussen die konkrete en die abstrakte moet wees. Die vorming van abstrakte begrippe op skool moet, opvoedkundig gesien, aansluit by die vormingsjare in moederstaal. Volkseie kulturele onderwys en opvoeding aansluiting by hierdie vormingsjare in ouerhuise aan. Dit was die kern van Christelik-nasionale opvoeding, wat 'n alles-omvattende opvoeding was.

3 Die 'neutrale' staatsskool

Tydens Jan van Riebeeck se vertrek na die Kaap het daar in Nederland 'n gereformeerde staatstelsel bestaan, waar die Christelike en nasionale beginsels toegepas is. Die privaatskooltjies op die boereplase het uitgegaan van en is in stand gehou en beheer deur die ouers, wat ook die gees en rigting van die onderwys bepaal het. By alle tipies skole van daardie tyd was die onderwys Christelik en Afrikaans-nasionaal. Die Afrikaanse volkskarakter is in en om hierdie skooltjies vasgelê.

Vroeg in die negentiende eeu is die liberale invloed van die Franse Rewolusie ook in die onderwys aan die Kaap gevoel toe advokaat De Mist die bewind vir die Bataafse Republiek oorgeneem het. Vir die eerste keer in ons geskiedenis moes die gereformeerde staatskool plek maak vir die 'neutrale' staatskool. Aan die staat is opgedra om volksonderwys te verskaf en om kinders op te voed tot goeie staatsburgers. Die aksent van die onderwys het verskuif van die Christelike na die nasionale. Die vreemde invloed is deur die Britse bewind na 1806 bestendig. Toe is die Christelike beginsel nie alleen aan die onderwys ontneem nie, maar ook die nasionale. Die ouers het geen seggenskap meer in die onderwys gehad nie. In die buitedistrikte en veral op die afgeleë plase van die veeboere, is die beginsel van ouerverantwoordelikheid gehandhaaf. Daar in die plaasskooltjies van die eenvoudige boereskoolmeesters is 'n tradisie van C.N.O. as onafskeidbaar van die Afrikaner se lewensbeskouing gemaak.

Die eerste onderwyswetgewing in Transvaal het aan die ouers, die staat en die kerk elkeen sy regmatige plek toegeken en die gees en rigting was Christelik-nasionaal. Met die uitbreek van die Anglo-Boere-oorlog het die Transvaal en Oranje Vrystaat elk 'n goed-gevestigde onderwysstelsel gehad, in ooreenstemming met die Calvinistiese lewensbeskouing van die Boerebevolking. Die onderwysstelsel van die Boere-republieke is egter deur die Oorlog heeltemal ontwrig en 'n totaal volksvreemde Britse onderwysstelsel is vanaf 1903 ingevoer. In Maart 1906 het 'n sterk C.N.O.-organisasie ontstaan. In dieselfde jaar het die destydse Minister van Onderwys, genl.J.C. Smuts, die mense oortuig dat die nuwe regeringskole die mense alles sou gee wat hulle verlang. Baie CNO-skole het, weens gebrek aan fondse, hulle aan die regering begin oorgee. Ons vakonderrig was sedertdien lewensbeskoulik vasgevang in 'n wetenskaplike tradisie, wat sy oorsprong in die Griekse wysbegeerte van die eeue voor Christus gehad het. Ons is ook produkte van hierdie tradisie.

Die Afrikaner is vandag in 'n vertrouenskrisis. Apartheid is die Afrikaner se filosofie. Hy het sy toekoms daarop gebou. Almal sê dat dit misluk het. Hy het vandag 'n traak-my-nie-agtige houding, 'n houding wat hom 'n onverskuldige instelling ten op sigte van homself en wat syne is gee. Vandag is die Afrikaner ook ingevang in 'n liberalistiese tydsgees, wat die aksent op die regte van die individu plaas. Gesien vanuit Christelik-Bybelse perspektief is dit 'n eensydige benadering wat gegrond is op die tweede liefdesgebod: die liefde tot die naaste. Dit is 'n horisontalistiese beskouing, wat nie die alles-oorheersende vertikale dimensie van God se liefde vir die mens en die mens se God-gegewe roeping in samelewing en in die wêreld raaksien nie.

Die Christen behoort in sy hele bestaan met alles wat hy het, aan God:

(a) deur ons vorming van kultuur, geskiedenis, en ons vorming en gebruik van taal en kuns

(b) deur ons sorg vir die mens in die huwelik, gesin, volk en staat, asook ons onderwys en opvoeding in skool en universiteit

(c) deur ons allesomvattende roeping in vervullende diens van God

4 Die uitdaging vir Christelike Onderwys

Ons leef in tye van reformasie en transformasie. Die mens wil hom loswoel van die ankers van die verlede. Die Verligting van die agtiende en negentiede eeue het van die veronderstelling uitgegaan dat die mens met sy verstand die verloop van die wêreld en die dinge wat om hom in sy daaglikse lewe gebeur, kan deurgrond en verstaan. Die wetenskap het die denke van die mens begin beheers en daardeur in konflik met God as Heerser en Skepper gekom. Die lewe word deur die tegnologie en die skeppinge van die mens beheers. Tegelykertyd is gesag, dissipline, en gesag teenoor die meerderes en medemense van bo af deur die staat/owerheid beheer. Vandag word die gesag van die Bybel afgebreek sodat die mens vry is om sy eie lewe te leef, sonder beperkinge van bo (staat) of van buite (gesag van die Bybel, norme, beginsels) nie. Vandag word alles oopgemaak, wat weer die verantwoordelikheid van die mens op die voorgrond plaas. Hierin lê die uitdaging van Christelike onderwys.

Die tydsgees, die moraal, die waardesisteem, die lewens- en wêreldbeskouing, wat vandag in die wêreld verkondig word, lei die gedagtes weg van die ware God af. Die geweldige impak wat onder andere humanisme, die liberalisme, die "New Age"-beweging en Oosterse godsdienste op die mensdom het, getuig hiervan. Ook opvoedkundige beginsels en patrone word deur hierdie impak meegevoer. So word selfverwesenliking vandag in die opvoeding van kinders nagestreef. In skoolleerplanne kom dit voor dat die kind hom moet toespits op selfagting, selfontplooiing, selfverwesenliking, en so aan, sodat die kind sy menswees binne groepverband kan ontdek. Dit is alles baie lofwaardig, maar dit word gegrond op die geloof dat ons as mense die meesters van ons eie bestemming is.

Christelike onderwys moet gewortel wees in die roeping om ons kinders as diensknegte van God op te voed. Daarin moet ons jeug hulle selfverwesentliking vind, om daardeur tot volwasse gelowiges opgelei te word. Volwasse gelowiges is nie meer soos kinders maklik beïnvloedbaar nie; is "nie meer soos golwe wat op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie" (Efisiërs 4:14). Volwasse gelowiges beskik gaandeweg al meer oor insig, wat deur ervaring geoefen is, om tussen goed en kwaad te onderskei. So kom en bly 'n mens by die waarheid.