Die onderwyser

Instrument van die regering of werktuig van die Here?

Dr. I.H. Horn


Staatsbeheer oor die onderwys word vandag as vanselfsprekend aanvaar. Bykans alle mense, onderwyskundiges en leke, aanvaar dat onderwysbeheer 'n regmatige funksie van die regering is. Dié aanname het tydens die Hervorming ontstaan. Die Hervormers en hulle erfgename soos die Amerikaanse Puritane en die gereformeerde Kaapse setlaars was voorstanders van staatsonderwys, maar dit was Christenonderwys in 'n Christenstaat. Wat die Hervormers en hulle erfgename voor oë gehad het was vroom, Godvresende onderwys in 'n alles-omvattende Godvresende samelewing.

Vandag bestaan daar nie meer iets soos 'n Christenstaat nie, en nou besef ons dat staatsonderwys glad nie 'n goeie idee was nie. Amerika en die res van die Weste pluk al lankal, ons in Suid-Afrika nou eers, die wrang vrugte van openbare skole wat deur 'n onchristelike regering beheer word. In 1 Samuel 8:11-18 waarsku die Here teen die magsbeheptheid van aardse konings, oftewel regerings, om die burgers en die se kinders as hulle besittings te beskou en om hulle wil op die burgers af te dwing.

Staatsbeheerde onderwys is die ideale instrument om die wil van die regering te verwesenlik. In staatsbeheerde onderwys is onderwysers werknemers van die regering. Dit is dus heeltemal logies dat die regering hulle as huurlinge beskou en van hulle verwag om staatsideale by die opkomende geslag te bevorder.

Suid-Afrika se huidige regering word deur 'n messianse ywer gedryf om hulle sosiale ideale deur middel van die skool te vestig. Hulle wil alle sosiale ongeregtighede deur middel van die skool oorwin. In hierdie poging beklee die onderwyser 'n sentrale posisie. Aan onderwysers het die regering sewe rolle toegeken:

* bemiddelaar van leer

* interpreteerder en ontwerper van leerprogramme en leermateriaal

* leier, administrateur en bestuurder

* geleerde, navorser en lewenslangeleerder

* gemeenskapslid, burger en herder (pastor)

* assesseerder

* leerarea- of fasespesialis

Uit 'n praktiese standpunt is die rol van die onderwyser as ontwerper van leerprogramme en leermateriaal heeltemal onrealisties. Kurrikelering is 'n nagraadse spesialiseringsvak. Uiteraard kan dit nie in voorgraadse onderwysersopleiding ingesluit word nie, veral nie in die opleiding van grade R-9-onderwysers wat in geen leerarea spesialiseer nie, maar al agt leerareas op 'n geïntegreerde wyse moet aanbied. Aan dié onderwysers moet deskundig uitgewerkte akademiese sillabusse wat sinvolle integrasie met ander leerareas insluit, verskaf word.

Daar is wel leerprogramme van die Onderwysdepartement en boekuitgewers beskikbaar, en daar sal sekerlik nog meer beskikbaar wees in die toekoms. Die verlede paar jare sedert daar met die infasering van Kurrikulum 2005 begin is, het egter bewys dat dié programme en handboeke 'n bron van groot kommer vir Christene is. Ouers besef ook nie altyd en word ook nie altyd ingelig oor die 'waardes' wat in sulke programme en boeke aan kinders oorgedra word nie. Byvoorbeeld, die boekie oor seksvoorligtingsprogramme in skole wat aan ouers gegee word, skep die indruk dat die programme heel aanvaarbaar is. Geen melding word gemaak van die klaskamerweergawe se eksplisiete prente en taal en vrae en opdragte wat permissiwiteit en/of seksuele perversie as't ware aanmoedig nie.

Om terug te keer na die rolle van die onderwyser: Buiten die rol van ontwerper van leerprogramme, is die ander ses rolle wat die regering aan onderwysers toegeken het almal regmatige pligte van 'n onderwyser. Selfs die pastorale herderskaprol wat gevaarklokke by Christene moet laat lui, is nie iets wat die ANC uitgedink het nie. Geen onderwys is ooit religious/ideologies neutral nie. Alle onderwysers dra, bewustelik of onbewustelik, 'n religieuse/ideologiese waardestelsel aan leerders oor. Derhalwe is die skolestelsel 'n magtige instrument om kinders religieus/ideologies te vorm en omvorm.

Dit is die einste aard van die regmatige pligte van 'n onderwyser wat mens laat besef hoekom staatsbeheerde onderwys nie 'n goeie idee is nie. Soos aan die begin genoem, is staatsonderwys in die moderne wêreld deur Christene tot stand gebring in die tyd toe die Weste nog amptelik Christen was. Daar is toe nooit rekening gehou met die moontlikheid van ontkerstening en dat 'n onchristelike, selfs antichristelike regering die gevestigde en hoogs nuttige skolestelsel sou oorneem en sy eie onchristelike agenda sou voorskryf nie.

Voorskrywing van die staatsagenda aan skole is nie eie aan die ANC nie. Alle regerings gebruik die staatskolestelsel om hulle ideale te bevorder en om sodoende hulle eie voortbestaan te verseker.

Onder die ideale van die regering is edel ideale: die bestryding van sosiale ongeregtigheid, van armoede en van MIV/VIGS. Natuurlik kan Christenonderwysers hulleself met dié ideale vereenselwig, maar hulle kan hulle nie met die regering se wyse van bestryding vereenselwig nie. Die ANC erken nie die Here nie. Hulle wil, in die woorde van Augustine, die Stad van die Mens bou en daar is daar geen ruimte vir die toegepaste Woord van God nie. Daar is derhalwe ook geen ruimte vir die onderwyser as werktuig van die Here nie. Inteendeel, die regering poog na inklusiwiteit tov godsdiens en seksuele lewenstyl. Die ANC maak geen geheim van die feit dat hulle ideologie godsdienstige eksklusiwiteit uitsluit nie. Dit is dus naïef om te glo dat onderwysers Christenherderskap in staatskole sal mag beoefen.

UGO het met hersiening behoue gebly, en UGO is deur sosialisties-gesinde Westerlinge ontwerp as middel tot die daarstelling van 'n sosialistiese utopie - 'n egalitaristiese samelewing sonder armoede en uitbuiting van die natuurlike omgewing. Deur middel van UGO wat in 'n staatsbeheerde onderwysbestel funksioneer, word daar in Suid-Afrika en ander lande gepoog om dié utopie daar te stel. Natuurlik, soos alle gepoogde utopies dwarsdeur die geskiedenis, sal die werklikheid vêr te kort skiet van die verwagtinge. Nietemin, die messianse ywer van die ANC moet nie onderskat word nie. Opleiding en heropleiding van onderwysers behels dus noodwendig pogings tot bekeerdery tot staatsideologie. Daar is ook nie verniet sprake dat Kubane na Suid-Afrika gebring gaan word om te help met die heropleiding van onderwysers nie.

Aangaande die hersiene kurrikulum sê Kader Asmal wel dat: 'The curriculum is and will be differently interpreted and enacted in diverse contexts' (Staatskoerant, 31 Mei 2002:10). Maar in dieselfde verklaring sê hy ook dat die kurrikulum die uitdrukking is van 'our idea of ourselves as a society and our vision as to how we see the new form of society being realised through our children and learners.' En hy voeg by: 'We will make the most strenuous efforts to enable the realisation of its vision through addressing all those issues which make up teaching and learning. This requires the commitment and participation of all who work in education.' Sy stelling dat onderwysers die kurrikulum op diverse wyses kan toepas, is dus bevraagtekenbaar.

Met die oorspronklike Kurrikulum 2005 was verskillende konteksuele vertolkings wel moontlik. Die gebrek aan vakinhoud en die verwarrende terminologie het gesorg dat baie onderwysers (en ouers en onderwysersopleidingsdosente) onder die indruk verkeer het dat K2005 en UGO eintlik niks meer behels as om doelstellings uitkomste te noem, hulle vooraf te identifiseer en om te onderrig deur middel van self-doen groepstake. Op die wyse is die verskuilde ideologies agenda van die regering omseil, en dikwels sonder dat die onderwyser eens bewus daarvan was! Die onderwyser se onbewustelike (en, in sommige gevalle, bewustelike) omseiling is nou met die hersiening van die kurrikulum onderskep.

Leerinhoud word in die vorm van assesseringstandaarde voorgeskryf wat wel nog soms vaag is ten opsigte van akademiese vakinhoud, maar nie ten opsigte van die regering se visie van 'n nuwe mens vir 'n nuwe samelewing. Deur middel van die assesseringstandaarde word die minimum akademiese standaard vir elke graad en leerarea neergelê, maar die ideologie van die regering word ook as assesseringstandaarde verwoord. Dit beteken dat onderwysers nie net die kind se leer van akademiese kennis en intellektuele vaardighede moet assesseer nie, maar ook of hy/sy polities-korrekte waardes en gesindhede demonstreer. Dié waardes verskyn in elkeen van die agt leerareas se assesseringstandaarde. In elke leerarea is daar ten minste een uitkomste en gepaardgaande assesseringstandaarde wat vereis dat onderwysers polities-sosiale bewustheid aanwakker en assesseer, en soos die grade vorder, word die assesseringstandaarde meer ideologies uitgesproke.

Benewens die ideologies-gekleurde assesseringstandaarde wat elke leerarea se vakinhoud binne die raamwerk van die regering se ideologie plaas, is daar ook noodsaaklike akademiese inhoud in die kurrikulum. Die akademiese inhoud van die wiskunde-leerarea lyk heel aanvaarbaar. Minimum standaarde is dalk ietwat laag, maar nietemin 'n ervare wiskunde-onderwyser wat homself nie laat lei deur die UGO-benadering nie, maar daadwerklik onderrig en basiese bewerkings (tafels en bande) indril, sal kan syfergeletterdheid en basiese wiskundige vaardigheid te weeg bring. Probleme gaan egter opduik in klaskamers waar die onderwyser die UGO-benadering streng toepas. In UGO word die waarde en noodsaaklikheid van daadwerklike onderrig en herhaalde inoefening onderskat. UGO-voorstanders is van mening dat formele onderrig minder doeltreffend as spontane leer is en dat die kind derhalwe kreatief te werk moet gaan om by antwoorde uit te kom. UGO vereis dus onderrigmetodes wat in die konstruktivisme gegrond is, en gevolglik is dit die norm in huidige onderwysersopleiding. Volgens die konstruktivisme (en UGO) leer kinders ten beste as hulle op probeer-en-tref wyses antwoorde self uitpluis eerder as om in beproefde metodes vir byvoorbeeld veelvuldigekolom optel en aftrek, lang vermenigvuldiging en deel gedril te word. Die minagting van drilwerk in wiskunde is nie nuut nie en die gevolg daarvan is dat minder, eerder as meer, kinders wiskunde bemeester.

Met die natuurwetenskap-leerarea stuur Suid-Afrika af op 'n nasionale ramp. Geen feitlike wetenskaplike kennis word voorgeskryf nie, slegs wetenskaplike vaardighede (process skills). Dit is eenvoudig nie voldoende om selfs die mees basiese wetenskaplike geletterdheid te weeg te bring nie. Dit blyk ook dat die natuurwetenskap-leerarea en die tegnologie-leerarea deur onderwysers gebruik moet word om kinders onder die indruk te bring dat nie-Westerse inheemse sogenaamde kennissisteme (indigenous knowledge systems) op dieselfde wetenskaplike vlak is as die moderne natuurwetenskap wat in die Christelike Weste ontstaan het. Inheemse kennissisteme sluit egter al die bygelowe omtrent magiese, geesteswerking in die natuur in, en is derhalwe onversoenbaar met ware natuurwetenskap. Ware natuurwetenskap is in die Bybelse natuurbeskouing gewortel, nl dat die natuur ordelik en nie-geestelik en derhalwe verstaanbaar is.

Die akademiese leerinhoud van die tale lyk, soos die akademiese inhoud van wiskunde, op die oog af heel aanvaarbaar. Hier knel UGO egter ook. In UGO word daar eerder gebruik gemaak van die kyk-sê-metode (whole-language) as die fonetiese metode om kinders te leer om te lees. Die kyk-sê-metode behels die lees van hele woorde en frases voordat die lees van taalklanke geleer word. Die fonetiese metode werk presies anders om - lees van klanke voor die lees van woorde. Die fonetiese metode is die korrekte metode vir alfabetiese tale omdat die lees van dié tale 'n proses van fonetiese klankdekodering is. Daarteenoor aanvaar die kyk-sê-metode dat om te leer lees soortgelyk is met die leer van. die moedertaal; 'n geskrewe woord (of frase) moet in sinvolle kontekste aan die kind voorgestel word terwyl die kind die verbale-geskrewe korrespondensie moet uitpluis op dieselfde probeer-en-tref wyse wat die leer van die moedertaal kenmerk. Hierdie kom egter daarop neer dat alfabetiese tale wat 'n fonetiese patroon het, benader word asof hulle piktografiese tale is met geen fonetiese patroon nie, bv. Sjinees en Japanees. Die kyk-sê-metode vereis as't ware dat die kind 'n horde woorde en frases eenvoudig moet memoriseer. (En dit terwyl memorisering in UGO geminag word!) Die kyk-sê-metode is al geruime tyd gewild, ook in Suid-Afrika, en dit is die hoofrede hoekom baie volwassenes en jeugdiges nie meer goed kan lees en ook nie meer van lees hou nie.

Wat die leer van skryf betref: UGO word as nie-voorskriftelik gepromoveer. Hiermee word bedoel dat onderwysers nie aan kinders moet voorskryf hoe leertake verrig moet word nie want dit sal kwansuis hulle kreatiwiteit demp. Dit beteken dat beproefde leer- en taakverrigtingsmetodes nie aan kinders oorgedra word nie. Met leer skryf beteken dit dat letterformasie-tegnieke nie onderrig word nie. Die kinders moet letters skryf, maar sonder dat hulle die spesifieke handbewegingsvolgorde vir die skryf van elke letter geleer word. In Amerika het onderwysers se versuim om kinders fonetiese lees en korrekte letterformasie te leer tot bykans 'n epidemie van disleksie gelei.

UGO is 'n uitstekende voorbeeld van moderne onderwysersopleiding wat gedurig na 'die nuutste ontwikkeling in die onderwys' gryp. Die onderwys van vandag is 'n wêreld van veranderende onderrig- en leermetodes, maar terselfdertyd neem leerprobleme teen 'n geweldige pas toe. Natuurlik is daar kinders met ingebore leerprobleme, maar daar is 'n toenemende aantal kinders met leerprobleme wat veroorsaak word deur onderwysers wat daadwerklike onderrig vervang het met die nuutste slimmigheid wat kwansuis spontane leer en allerhande hoër denkvermoëns te weeg sal bring en boonop nog die harde werk uit leer uit sal neem!

Om terug te keer na die nuwe kurrikulum: die leerinhoud van kuns en kultuur, die sosiale wetenskappe (geskiedenis en aardryskunde) en lewensoriëntering is met niks anders as die regering se ideologiese doelwitte voor oë saamgestel.

In die kuns en kultuur-leerarea geniet klassieke Europese kultuur min aandag. Dié leerarea is Afrosentries, en binne die UGO-benadering beteken dit aktiewe deelname aan Afrika-danse en -musiek. Mens wonder in die verband hoeveel onderwysers weet dat die doel met tradisionele Afrika-danse en -musiek is om geeste op te roep. Dat die ANC tradisionele Afrika-kultuur in ere wil herstel is te verstane. Die ANC is 'n swart regering wat nie die Here erken en dus ook nie Sy verbod op heidense praktyke nie (bv Lev 19:26; Deut 18:10-12; 2 Kron 33:6; 2 Konings 17:17; Handelinge 16:16; Efesiërs 5:20) .

In die sosiale wetenskappe (geskiedenis en aardryskunde) word, bo en behalwe die assesseringstandaarde, ook 'n gedetailleerde sillabus vir elke graad uitgestippel. Dit word nie 'n sillabus genoem nie, maar 'n kennisfokus vir elke graad. In die beleidsdokument is die ideologiese vooroordeel teen die Weste, die Christendom en mans nie meer so uitgesproke soos dit was in die konsepdokument nie. Nietemin dat daar van onderwysers verwag sal word om die polities-korrekte perspektief aan kinders oor te dra, is nie te betwfel nie. Die toekoms sal leer hoeveel onderwysers die oortuiging en/of die moed sal hê om die inhoud van die sosiale wetenskappe in 'n ander perspektief as dié van die regering aan kinders oor te dra. En dit sal moed verg, want in die toekoms sal skole ge-assesseer word en onder andere sal leerders se take en portfolios nagegaan word. Daarbenewens aan die einde van graad 9 moet leerders se take en portfolios na die Onderwysdepartment vir assessering gestuur word.

Die lewensoriëntering-leerarea se inhoud is gewortel in die humanisme. Uit die humanisme spruit die menseregtekultuur waarin die gelykmaking van alle godsdienste en die partikuliere betekenis wat die regering aan die tien voorgeskrewe waardes gegee het, gegrond is. Lewensoriëntering, soos al die ander leerareas, is eksamineerbaar. Onderwysers gaan dus oordeel vel oor die kind se lewensingesteldheid en dit op sy/haar rekord plaas.

Die woord eksamineer is met die woord assesseer vervang, en die betekenis is baie breër. Dit kan wel nog toetse en eksamens insluit, maar dié speel 'n baie geringe rol. Assessering moet aaneenlopend wees (continuous assessment). Dit behels meer as die inhandiging van individuele en groepstake op 'n gereelde basis. Dit behels ook die opinies wat die onderwyser deur waarneming vorm omtrent die kind se kennis en waardes en gesindhede. Hierdie is opvoedkundig onverantwoordbaar. Dit is subjektief. Dit is indringerig. Dit maak van die onderwyser 'n waghond. Dit is ook nie net verkeerd omdat onbybelse waardes voorgeskryf word. Assessering van waardes deur onderwysers is altyd verkeerd ongeag watter waardes nagestreef word. 'n Onderwyser se assesseringstaak is slegs om akademiese prestasie op 'n objektiewe wyse te evalueer.

'n Onderwyser moet wel morele deugde soos pligsgetrouheid, eerlikheid, self-beheersing, regverdigheid, respek vir die lewe en eiendom van ander mense bevorder, maar of die kind selfs dié deugde as sy/haar eie lewenswaardes aanvaar mag nie assesseer word nie. Waardes en gesindhede behoort nooit assesseerbaar te wees nie omdat dit die kind se reg tot gewetensvryheid en emosionele en ingesteldheidsprivaatheid skend. As 'n onderwyser wel bekommerd is oor 'n kind se waardes moet dit vertroulik met die ouers bespreek word.

Ten einde laaste is die kind se aanvaarding van waardes en gesindhede altyd net iets wees waarna onderwysers strewe. As dit op die kind se leêr geplaas word kan dit ernstige langtermyn gevolge hê. Dink maar net aan watter kans 'n persoon het om werk te kry as sy/haar skoolrekord 'n lae assessering toon van, byvoorbeeld, eerlikheid of interpersoonlike groepsvaardighede.

Assessering van waardes en gesindhede is inderwaarheid dwang. Kinders word gedwing om die voorgeskrewe waardesisteem te bely uit vrees dat hy/sy nie sy/haar skoolsertifikaat sal verkry nie. Sulke dwang is verkeerd en het geen plek in ware opvoeding en -onderwys nie. Die Here dwing Homself en Sy Wil nooit aan mense op nie. In Johannes 6:67 vra Jesus: 'Wil julle nie ook weggaan nie?' Hier stel Jesus dit duidelik dat by Hom is daar geen dwang nie. Geen regering het dus die reg om waardes deur assessering af te dwing nie. Die Here het die mens vryheid van waardekeuse gegee, en geen menslike instelling, ook nie die regering nie, mag enige mens van hierdie God-gegewe vryheid ontneem nie. (Tussen hakkies, die Here het die mens die vryheid gegee om enige waardes te kies, maar nie die vryheid om die gevolge van sy keuse te kies nie.)

Op hierdie tydstip is dit paslik om na die Christenonderwyser te kyk. Die Bybel praat nie oor skole en onderwysers nie, maar oor ouers. 'n Christenonderwyser vervang nie die ouer nie, maar modelleer homself op God se orde vir ouers. Die kortste dog omvattendste beskrywing van ouers se roeping is in die enkele sin: 'Moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil' (Efesiërs 6:4). Met hierdie woorde som Paulus die Here se orde vir ouers op in drie fundamentele bevele: liefde, dissipline en onderrig. Die Here se orde vir ouers is op Homself gemodelleer. Hy onderrig deur Sy Woord, en as Sy Woord verwerp of geïgnoreer word, straf Hy. Die straf is nie lig nie: 'Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val' (Hebreërs 10:31). Maar vir Sy kinders is Sy straf nie in teenstryd met Sy liefde nie (Hebreërs 12:5-6).

'n Christenonderwyser verwesenlik die Here se opvoedingsbevele van liefde en dissipline deur, eerstens, kinders soos kinders te behandel, met ander woorde soos onvolwasse mense wat volwassenes se leiding en sorg nodig het. Tweedens skep die Christenonderwyser 'n warm dog geordende en gedissiplineerde klaskameratmosfeer wat noodsaaklik is om kinders beide vakkennis en morele deugde te leer. Derdens straf die Christenonderwyser ongehoorsaamheid en wangedrag op 'n regverdige en konsekwente wyse. Kinders moet leer dat God se wetsorde vir 'n beskaafde samelewing 'n stelsel van verbod, beoordeling en straf is.

'n Christenonderwyser se spesifieke onderrigtaak is om kinders toe te rus met 'n breë basis van vakkennis binne die raamwerk van die Bybelse lewens- en wêreldbeskouing. Die Bybelse raamwerk is die beste raamwerk vir intellektuele arbeid om die eenvoudige rede dat God die Skepper van die wêreld is. God is die Lig waarin die wêreld 'n verstaanbare geheel word. Sonder die Lig van Sy Woord is kennis beperk en uiteindelik verwronge en vals. Watter ontploffing van kennis het nie gevolg toe wetenskap binne die Bybelse natuurbeeld beoefen is, en watter verwrongenheid van kennis en kennistoepassing het nie gevolg toe die natuur en die mens nie meer as God se skepping beskou is nie, maar as dinge wat deur evolusie tot stand gekom het.

Die Bybel is die absolute norm waarteen alles gemeet moet word. Ware opvoeding en onderwys vind dus slegs plaas as die onderwyser Bybelse doelstellings verwesenlik. Een Bybelse doelstelling is om kinders 'te leer om met eerlike werk in die noodsaaklike lewensbehoeftes te voorsien' (Titus 3:14). In ons hoogs tegnologies-ingewikkelde beroepswêreld beteken dit nie beroepsopleiding as sulks in skole nie, maar dat, benewens die vakkennis wat aan kinders oorgedra moet word, moet kinders ook die waardes van die werketiek geleer word, naamlik eerlikheid, hardwerkendheid, pligsgetrouheid, stiptelikheid, ensovoorts.

'n Tweede Bybelse doelstelling is om kinders te leer om volop by te dra vir elke goeie werk (2 Kor 9:8). In die verband moet die onderwyser waardes soos mededeelsaamheid en 'n bereidwilligheid om ander te help, voorleef. 'n Derde Bybelse doelstelling is dissipelskap: 'Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die Evangelie aan die hele mensdom' (Markus 16:15). In ons tyd behels die aanslag teen die Evangelie ook 'n felle intellektuele aanslag. Kinders moet dus geleer word om met God se Woord elke valse redenasie en hooghartige aanval wat teen Hom en Sy Wil gerig word, af te breek en te vernietig (2 Kor. 10:4-5).

Om kinders te leer om ingevolge die Bybel te dink en te redeneer is nie indoktrinasie of breinspoeling of vrome propaganda nie. Die Bybelse standpunt oor enige saak kan op eerlike en intellektuele wyse geregverdig en verdedig word. 'n Christenonderwyser kan dus sonder vrees die ondersteunende argumente vanuit 'n ander standpunt met die leerders bespreek. Die Christenonderwyser spreek ook enige twyfel en selfs bevraagtekening van die Christengeloof aan en soek saam met die leerders Skriftuurlike antwoorde. Soos yster yster slyp, so moet Christenonderwysers en Christenleerders mekaar slyp (Spreuke 27:17). Saam moet hulle sake in skoolleerstof en in die media en ook die leerders se eie idees en opinies ondersoek vir valsheid, onlogiese en/of valse redenasie, dubbelsinnigheid, onduidelikheid, irrelevantheid en oorbodigheid. Op die wyse leer die Christenonderwyser kinders om van Bybelse voorveronderstellinge en feite te redeneer en nie volgens gevoelens en/of populêre opinie nie. Met ander woorde, die Christenonderwyser wakker die ware intellektuele gesindheid aan, naamlik daadwerklike denke, 'n strewe na waarheid en 'n gewilligheid om ook eie foute te erken.

Ten slotte: Spreuke 22:6 lui as volg: 'Gee leiding aan 'n jong mens hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy oud is nie daarvan afwyk nie.' Hier belowe die Here dat as ons kinders volgens Sy Woord lei en onderrig, sal hulle nie van Sy Woord afwyk nie . Maar die Here rig hier ook 'n waarskuwing: dat kinders wat in valsheid gelei en onderrig word ook nie daarvan sal afwyk nie..

Bronnelys

Christenson, L. 1970. The Christian family. Minneapolis: Bethany Fellowship.

Blumenfeld, SL. 1996. The whole language/OBE fraud. Boise: Paradigm.

Hirsch, ED. 1996. The schools we need and why we don't have them. New York: Doubleday. Wilson, D. 1991. Recovering the lost tools of learning: an approach to distinctively Christian education. Wheaton, Ill: Crossway.

Wilson, D. 1997. Teaching disadilities [sic]: Why Johnny doesn't learn much anymore. Moscow, Idaho: Canon.