Hoe moet Christelike onderwys in skoolvakke gestalte kry?

P H Stoker
5 Januarie 1996

Inleidend

Die vraag is nou nie "wat is christelike onderwys?" nie. Hierdie vraag is alreeds deur studies van verskillende Christen-wetenskaplikes in die opvoedkunde, filosofie en bybelkunde grondig beantwoord, maar die resultate van hierdie studies is meestal nog nie in die onderrig van die vakwetenskappe na die klaskamer deurgevoer nie. Christen-onderwysers sal wel Christelike opvoedkundige beginsels in die klaskamer beoefen, maar vakke word volgens 'n "neutrale" wetenskaplike beskouing onderrig, soos weergegee in ons skoolhandboeke. Die vraag is daarom "hoe moet vakwetenskappe volgens Christelike lewens- en wêreldbeskouing in die klaskamer onderrig word?"

Die behoefte om ons Christelike lewens- en wêreldbeskouing met ons vakkennis te integreer en te weet hoe om hierdie geïntegreerde kennis aan leerlinge en studente oor te dra, is vandag dringender as voorheen. Die tydsgees, die moraal, die waardesisteem, die lewens- en wêreldbeskouing, wat vandag in die wêreld verkondig word deur gesproke, gedrukte en beeldmedia, lei gedagtes weg van die ware God af. Hierdeur word die Christelike wysbegeerte en wetenskap, maar ook die opvoedkunde, uitgedaag om vanuit die kern van God se openbaring in Jesus Christus die lig te laat val op die realiteit van God, mens en kosmos, en op die verhouding van hierdie drie werklikhede in die lewe van die volle mens. Deur hierdie openbaring in die klaskamer in te dra, kan ons jeug volgens God se verbond opgevoed en weerbaar teen die huidige tydsgees gemaak word.

Schindler (1979: 20-21; Educating for Eternity, Wheaton: Tyndale House) beklemtoon dat dit nie 'n neutraliteit is nie, maar 'n humanistiese filosofie wat die basis van die onderwys in staatskole in die VSA vorm. Hy som die kenmerke van hierdie filosofie soos volg op (Dreckmeyr, 1986:35, 36):

* Die mens is oppermagtig. (Daarom is daar geen Hoër Mag nie).

* Die mens het uit laer vorms van lewe ontwikkel. (Daarom was daar geen skepping nie).

* Die mens is 'n soogdier. (Daarom het hy geen siel nie).

* Die mens is inherent goed. (Daarom benodig hy nie 'n verlosser nie).

* Algemene gebruike bepaal standaarde. (Daarom bestaan daar geen absolute morele standaarde nie).

* Misdadigers is bloot anti-sosiaal. (Hulle is daarom nie sondaars nie).

* Wanaanpassings van mense verklaar hulle geweldadige gedrag. (Daarom is daar nie so iets soos skuld nie).

* Swak omgewing is die oorsaak van alle sonde. (Die mens is daarom nie vir sonde verantwoordelik nie).

Getuienisse van hierdie filosofie kom in baie skoolhandboeke in die VSA voor. Gevolge hiervan is geweld en opstand in skole, dwelm en drankmisbruik, onsedelikheid, diefstal en swak akademiese prestasie (Schindler 1979: 19). Omdat hierdie filosofie in botsing is met Christelike opvoeding, het baie Christen-ouers in die VSA hulle tot die alternatief van privaat Christelike skole gewend. Kenmerke van die Christelike skool en Christelike onderwys word treffend deur Dr J. van Dyk in "Christian Philosophy and Classroom Practice: Is the Gap Widening?" (Pro Rege, Dordt College, September 1994: 1-7) uiteengesit.

Noodwendigheidsbeskouings

As verbondsouers leer ons die Christelike godsdiens aan ons kinders vanaf moedersknie. In die katkisasie leer ons kinders van die voorsienigheid en uitverkiesing van God. Gelyktydig met katkisasie begin skoolonderrig, waar ons kinders naas die aanvanklike lees en skryf, ingelei word in die 'wetenskaplike' vakke soos natuur- en skeikunde, biologie en wiskunde. Ons kinders leer dat die son elke dag op 'n vasgestelde tyd opkom - altyd, noodwendig; dat waterstof en suurstof verbind om water te vorm - altyd, noodwendig; dat die som van die drie hoeke van 'n driehoek, soos Euklides dit ontdek het, gelyk is aan 1800 - altyd, noodwendig. Ons kinders leer van die wette van Mendel en van seldeling en chromosome, van mutasies en fotosintese. So is die "natuur" saamgestel. So werk dit - altyd, noodwendig. Nadat ons kinders geloofsbelydenis afgelê het en klaar gestudeer het, kom hulle hierdie wetenskapsopvatting keer op keer weer teë, by die lees van populêre wetenskaplike artikels in dagblaaie of tydskrifte of oor die radio of televisie.

Hierdie wetenskaplike tradisie berus op die gedagte dat die wetenskappe uitsluitlik met die gegewenhede van ons ervaring werk - met die "feite". Hierdie tradisie gaan ver terug na die skeiding wat die Griekse geleerdes vanaf 600 vC tussen die metafisiese (die onsigbare) en die fisiese (die sintuiglik-waarneembare natuur) gemaak het. Die wetenskap het hom dan slegs tot die fisiese, die waarneembare, beperk. In die Middeleeue is daar vir hierdie Griekse model 'n Christelike vernis oorgesit. Dit het gelei tot die onderskeiding en selfs skeiding van die terrein van die genade en die natuur. By die terrein van die genade kom die geloof te pas en op die terrein van die natuur werk die verstand. Hierdie skolastiek het o.a. op Deïsme uitgeloop, waarvolgens God wel die wêreld geskep het, maar daarna Hom onttrek het. Na die skepping het die heelal met die aarde en alles op die aarde dan met sy eie ingeboude kragte voortgegaan en Moeder Natuur het gesorg dat alles normaal verloop. Die gevolg van hierdie opvatting en denkpatroon was dat die geloof in God tot enkele sektore van die lewe, nl. die kerk en persoonlike vroomheid, beperk is, terwyl die wetenskappe gebou word op waarneming van feite, deur rasioneel dit te beskryf wat waargeneem word.

'n Verdere uitloper van hierdie tradisie is die Positiwisme en sy opvolger, die Logiese Positiwisme, wat 'n oorheersende invloed op die menswetenskappe gehad het. Hiervolgens word Fisika as modelwetenskap aan die Geesteswetenskappe voorgehou, waardeur sintuiglike waarneming en die eksperimentele metode aanvaar word as die enigste metode om tot ware kennis te kom. 'n Streng skeiding word gemaak tussen feite, waarmee die wetenskap werk, en onsigbare dinge, wat dan buite die wetenskap val. Lewensbeskoulike uitgangspunte word as mites beskou en is geensins aanvaarbaar vir die wetenskap nie. In die wetenskap gaan dit alleen om kennis van die feite wat beskryf moet word, en om niks meer nie.

Dit bring mee 'n dualistiese werklikheidsbeskouing, wat God se heerskappy tot die hemel, die siel van die mens (die gees en liggaam van die mens behoort by die wetenskappe) en die hiernamaals beperk. Die res (sintuiglik-waarneembare) van die werklikheid behoort tot die wetenskap. Die mens word daardeur op 'n meganiese wyse opgebreek sodat geloof en wete (waarneming) geskei word. Die lewe bestaan dus uit kompartemente, waarvan geloof een is. Die heerskappy van God word tot die kerk beperk. Wetenskaplike teorieë soos die ewolusieteorie moet dan onkrities aanvaar word.

Vandag word dit ontken dat Fisika die suiwerste beeld van die werklikheid gee. Sintuiglike waarneming en die eksperimentele metode is slegs een van talle aanvaarbare metodes om gebeure in die wêreld te verklaar. Dit het vir die wetenskap duidelik geword dat stelsels in die natuur (soos lewe) hulle nie tot fisiese natuurwette laat herlei (of reduseer) nie. Dit beteken dat voortgang in die natuur nie uitsluitlik deur noodwendigheidswette beskryf word nie. Daar is verskynsels in die natuur, ook in die natuur wat deur fisici bestudeer word, wat deur waarskynlikheidswette bepaal word en nie deur noodwendigheid (met 'n oorsaak) plaasvind nie. Vandag word naas sintuiglike waarneming en eksperimentele metodes ook die uiteenlopendheid van die menslike ervaring as deel van die werklikheid aanvaar. In die hart van die nuwe tydsgees is fundamentele pluralisme en radikale relatiwisme.

Vandag is daar 'n groeiende oopheid tot godsdiens, en tot godsdienstige en ander kulture en lewens- en wêreldbeskouings. 'n Universele beskouing of norm bestaan nie meer nie. Bv. die Woord van God is waar vir Christene, maar is nie waar vir enig iemand anders nie. Hierdie nuwe relatiwisme is baie meer subtiel in sy verwerping van die Christelike geloof as wat die geval was in die vorige tydperk van noodwendigheidstradisie. In plaas om die Christelike geloof aan te val of om die heerskappy van God tot die kerk te beperk, word die Christelike geloof gerelativeer. Dit is in hierdie nuwe tydperk, wat ons die uitdaging tot Christelike vakonderrig moet aanvaar om verbondskinders in die lig van Sy Woord op te voed.

Christelike vakonderrig

* Alle wetenskap is die oopdekking van God se Skepping, en staan in die lig van die skeppingsgebod: onderwerp die aarde en heers daaroor (Gen. 1:28).

* Christelike vakwetenskap moet 'n tempel van God wees - ook in my wetenskapbeoefening is ek in Sy diens.

* Ons erken die vervloeking van die aarde, insluitend die mens, met die sondeval, en die verlossing deur Jesus Christus

* Die doel van ons wetenskap en die beoefening daarvan is nie die verhoging van die mens, om soos God te word nie, om alles te beheers tot heil van die mens nie, maar om dit as 'n genadegawe van God te gebruik tot oorlewing op aarde, as geroepene uit, deur en tot God, om sodoende te werk tot verheerliking van Sy Naam en tot koms van Sy Koninkryk.

* Ons erken die verskeidenheid en die eenheid in die Skepping. (Die werklikheid is kompleks. Daarom verdeel ons die werklikheid in vakwetenskappe, wat weer elkeen in klein afdelings deur wetenskaplike benaderingsmetodes en deur spesialisasie onderverdeel word. Eenheid in en Christelike perspektief op die Skepping van God kan slegs verkry word as die verskeidenheid in die skepping, die indeling in vakwetenskappe en die onderverdeling van vakwetenskappe in afdelings, met mekaar in verband gebring word in die lig van die Woord van God).

* Ons onderrig dieselfde wetenskaplike kennis as "neutrale" staatskole, maar in ons onderrig vestig ons gereeld die aandag op

** die talle -ismes (meganisme, positivisme, determinisme, indeterminisme, intuïsme, formalisme, logisisme, vitalisme, ens.)

** die voorveronderstellings waarvan elke onderdeel van 'n vakwetenskap uitgaan

** die verbygaandheid van wetenskaplike denkpatrone, soos dit in die geskiedenis van die wetenskappe duidelik na vore kom (wetenskap is 'n kultuurproduk van die mens en kan nie as absoluut waar voorgehou word nie)

** die lewensbeskoulike invloede in wetenskapsvorming

** die beperktheid van die wetenskap en wetenskaplike kenne

** die verband van 'n onderafdeling van 'n vak met die groter geheel

** toepassings van die wetenskappe in Christelike perspektief

* Ons erken dat die werklikheid veel meer omvattend is as die kennis wat ons deur sintuiglike en eksperimentele waarneming verkry en waaruit ons wetenskap vorm. (In die vorming van wetenskap gaan dit slegs om kennis wat uit waarneming verkry word. Waarneming en dit wat ons uit waarneming aflei word lewensbeskoulik bepaal (o.a. Kuhn)).

Daar is alreeds op verskillende vakgebiede heelwat werk gedoen in die buiteland en ook in Suid-Afrika, waarby ons in Christelike vakonderrig met vrug aansluiting kan vind.

Die taal in die onderrig

Kinders in die ouderdomsgroep tussen 2 en 7 jaar oud is in die sogenaamde voorbegripsmatige stadium. Dit is 'n periode in hulle lewens waarin hulle eenvoudige simboliese voorstellings of denkbeelde vir hulle self maak. Hulle kan dinge maklik inbeeld of voorstel. Hulle is baie lief vir stories, fantasie en versinsels. Die opvoeding van ouers en onderwysers moet dan ook by hierdie denkstadium van die kind aangepas word. Tandmuis, feetjies en kabouters is werklikhede in die wêreld van die kinders in hierdie ouderdomsperiode. Ouers en ander opvoeders is egter ook geneig om kinders te vertel van dinge soos "Moeder Natuur", "ou Vader Tyd", en om stories te vertel waarin alle dinge lewe: horlosies wat praat, klippe wat spring, en dies meer. Tekenprente op o.a. televisie versterk hierdie manier waarop kinders die werklikheid sien en benader. Sodoende word die skeidslyn tussen die nie-lewende en lewende werklikheid uitgewis en kinders begin aanvaar dat een vorm van lewe in 'n ander vorm van lewe kan oorgaan. Op skool sluit onderwyseresse in die grade dikwels aan by hierdie verbeeldingsvlugte. So bestaan die neiging om te beweer dat "Moeder Natuur" daarvoor gesorg het dat byvoorbeeld ons ore nie glad en plat is nie, maar geskulp en vol riffels is sodat ons beter kan hoor.

Prof. J.L. van der Walt (1995:24, 25) het skoolhandboeke deurgewerk en gevind dat daar min tereg kom in die onderwys van 'n Skriftuurlike of Skrifgefundeerde benadering. 'n Skeppingsperspektief ontbreek feitlik geheel en al in die voorgeskrewe handboeke. Die feit dat God die dinge in die werklikheid so geskep het dat hulle in hulle omgewing kan funksioneer en voortbestaan, word prakties nêrens in skoolhandboeke of leerplanne aangetref nie.

Onder die invloed van die noodwendigheidstradisie sal ons eerder aanvaar bv. dat die groottoon van die mens so groot ontwikkel het omdat dit 'n baie belangrike funksie vervul by vastrap as die mens loop of hardloop; dat die kameelperd se lang nek ontwikkel het om hoog in die boomtoppe te kan wei; dat sommige renosters se lippe puntvormig ontwikkel het sodat hulle daarmee blare kan vreet, terwyl ander se lippe hoekig ontwikkel het om gras te kan vreet. Waarom kry God as Skepper nie die eer vir hierdie besondere doelmatighede nie? Waarom moet ons steeds bly dink en praat in terme van 'n noodwendigheidstradisie, waarop Darwin die ewolusieteorie gegrond het? Lees gerus weer Psalms 8 en 139 en Job 38:1-5 en 38:18-24.

Taal en lewensbeskouing

* In die skepping het God aan die mens die taal gegee om tot kennis van Hom te kom, om tot Hom te spreek (te bid), om Hom te dien en te eer; ook om as kommunikasiemiddel te gebruik in sy verbintenis tot sy medemens, tot die wêreld om hom heen en tot homself.

* God wys in die Bybel die mens op die funksie van die taal en op die manier waarop die mens die taal behoort te gebruik.

* Die taal bied aan die mens die moontlikheid vir sosiale funksionering binne die kader van God se herskeppingswerk deur die kruisiging en opstanding van Jesus Christus.

Geskiedenisonderwys en lewensbeskouing

In Christelike geskiedenisonderwys moet duidelik na vore kom dat die geskiedenis in die teken van die voltooiing van God se heilsplan staan. Geskiedenis begin met die skepping, waarmee God 'n plan gehad het, wat egter deur die sondeval in die paradys versteur is. Volgens God se skeppingsopdrag bou die mens, maar deur die sonde breek die mens af en verwoes. Deur sy sondige natuur tree die mens selfverheffend en selfvernietigend op, maar deur selfbeheersing is hy 'n beelddraer van God.

Geskiedenisonderwys beoog om die leerlinge voor te berei op 'n lewe, waarin hulle, uitgaande van God se liefdesgebod, antwoord moet kan gee ten opsigte van alle lewensvrae. Leerlinge moet 'n historiese besef ontwikkel, om te kan verstaan waarheen die mens op pad is en wat die huidige stand in die geskiedenis is. Deur die historiese feite te ken en met aanvaarding van God se Raadsplan, is dit moontlik om die sin van die geskiedenis te sien in die redding van die mens deur Jesus Christus. Hierdeur verkry die feite van die wêreldgeskiedenis 'n ander betekenis.

Die ontwikkeling van 'n tydsbegrip by leerlinge is 'n essensiële voorwaarde vir die ontwikkeling van 'n historiese besef. Die geskiedenis berus op 'n chronologiese ordening van feite. 'n Historiese bewussyn word gekenmerk deur 'n besef by die mens dat hy in 'n voortgaande tyd leef, 'n tyd wat verbind is met alles wat verby is, maar wat self 'n element van die mens se voortgaande geskiedenis is, en dat elke tydvak deur 'n bepaalde wêreldvisie gekenmerk word.

Aspekte van ons visie op die mens en sy plek en taak in die wêreld

Die mens is geskape deur God, uit Wie, deur Wie en tot Wie alle dinge is.

God het die wêreld met groot wysheid geskape, met 'n geweldige rykdom aan skepsele waaroor hul Maker Hom kan verheug en waartoe Hy die reg het dat Hy aanbid en geloof word. Die mens, wat Hy met groot gawes na liggaam, siel en gees toegerus het, is die kroon van God se skeppingswerk. Die mens is na God se beeld geskape, as Sy verteenwoordiger in die aardse werklikhede, om die aarde te vul en te onderwerp en oor die ander skepsele te heers.

Die mense is veelvormig, d.w.s. elke mens word geroep tot 'n taak, wat in besonder vir hom bestem is en word toegerus met nodige gawes tot voltooiing van sy roeping. Daarvoor kry elke individu sy eie vermoëns en eienskappe om sy taak uit te voer met verantwoordelikheid teenoor God.

Die mens leef in verskillende verbintenisse: tot God, tot sy medemens en tot die dinge in die wêreld om hom heen, alles wat weer onderling met mekaar verweef is. Selfbeheersing, deur biddend na God te luister en volgens sy gebooie te leef, kenmerk die mens se verhouding tot God, sy omgang met sy medemens en met die wêreld om hom heen en in die sien en beleef van homself.

Die gevolge van die sondeval van die mens het die hele skepping, waarin die mens die hoogste posisie verkry het, beïnvloed. Die mens ervaar die mag van die sonde en die gevolge daarvan nog daagliks. God het egter deur Sy Liefde nie die mens en die wêreld, Sy skepping, losgelaat nie. Hy het Sy Seun, Jesus Christus gestuur om versoening van ons sonde deur Sy lyding aan die kruis en opstanding uit die dood te doen. Die gelowige, wat Jesus Christus as sy verlosser aanvaar, groei deur die werking van die Heilige Gees daagliks al hoe nader tot God.

In Sy herskeppingswerk deur Jesus Christus beperk God Hom nie slegs tot die redding van die mens uit die wêreld van sonde nie, maar die herskepping het kosmiese betekenis; die hele wêreld met alle skepsele word daarin betrek. Ook die ongelowige mense, wat weier om hulle met God te laat versoen, is desondanks ook ingeskakel in die uitvoering van God se Raadsplan. God laat die ongelowige mense nie los nie: Hy gee hulle nog daagliks baie goeie dinge en hy hou die volle deurwerking van die sonde teë.

Die Christen word geroep tot 'n lewe en werk in 'n sondige wêreld en samelewing. Hy sal hom nie afsonder van die samelewing nie, maar wel daaraan deelneem. Hy kan egter nooit sonder meer vrede maak met 'n bestaande toestand nie. 'n Bestaande toestand bepaal nie die aanvaarde norm vir 'n Christen nie, maar slegs die gesaghebbende woord van die Bybel is rigtinggewend vir sy denke en optrede.

Doel van opvoeding en onderwys

Die doel van opvoeding is om die kind te help en te begelei in sy opgroei tot selfstandige mens, wie God dien ooreenkomstig Sy Woord en wie al die gawes, wat hy van God ontvang het, te bestee tot eer van God en tot welsyn die geskape wêreld in alle lewensverbande, waarin God hom plaas. Hiervoor het die kind kennis en vaardighede nodig. Hierdie opvoeding is primêr die taak van die ouers, en word voortgesit in die kerk en op skool.

Die onderwys op skool is nie waardevry nie. Feitekennis word onderwys, maar ook word 'n waardering van die feite aan die kind gegee. Hierdie kennis kom uit die wêreld waarin ons leef. Konsepsuele vorming is deel van die wetenskaplike verstaan van die sintuiglike wêreld. Feitekennis hou daarom verband met die bestaan van mens en wêreld. Daarby kom dan ook ter sprake die vraag na die verband tussen hierdie wêreld en God.

Ook wil die onderwys aan die leerlinge die nodige kennis en vaardighede meegee, wat hulle nodig sal hê in die praktiese omstandighede van hulle lewe en werk. Hierdie vorming moet ook van betekenis wees vir die verryking van gees en vir persoonlike ontplooiing, sodat hulle nie alleen vir hulle beroepsarbeid voorberei word nie, maar ook om selfstandig en verrykend hierop te kan voortbou buite hulle daaglikse werk.

Bronne

Dreckmeyr, M., 1986; Die Noord-Amerikaanse Christelike skoolbeweging, Educare 15.2

Schoolwerkplan, 1986-1990. Gereformeerde Scholengemeenschap, VO1, Instituut voor Leerplanontwikkeling, Enschede 1987.

Van der Walt, J.L., Hoe word die begrip "ewolusie" op skool hanteer? Die Kerkblad, 8 November 1995:23-25

Van Dyk, J., Christian Philosophy and Classroom Practice: Is the Gap Widening?, Pro Rege, Dordt College, September 1994: 1-7