Christelike Vakonderrig in die Biologie

Prof AE van Zyl

1 Inleiding

Die doel van hierdie aanbieding is afgestem op enkele grondslae ten opsigte van die aanbieding van Biologie as skoolvak vanuit 'n Bybelse perspektief.

Biologie as skoolvak het by uitstek te make met die begrip lewe. Dié begrip hou noodwendig verband met die kern van die mens se lewens- en wêreldbeskouing, naamlik sy siening van dit wat alle aardse lewe ten grondslag lê. Daarom word daar in hierdie aanbieding onder meer gefokus op die definiëring van lewe, die Bybelse perspektief ten opsigte van die ontstaan van aardse lewe en die Godgegewe orde as grondpilaar vir die wetenskaplike bestudering van die eienskappe van lewe in lewende organismes. Die Bybelse perspektief ten opsigte van die ontstaan van lewe word ook gekontrasteer met die evolusionisme. Argumente teen evolusionisme word verskaf om die Christen Biologie-onderwyser toe te rus met 'n beter begrip van die oorsprong van aardse lewensvorme. Laasgenoemde word as noodsaaklik geag omdat dit die wese, oftewel die geestelike ingesteldheid, van die Biologie-onderwyser teenoor sy vak verteenwoordig.

Aangesien hierdie aanbieding fokus op Christelike vakonderrig in Biologie, word enkele voorbeelde van leerder- en/of onderwyseraktiwiteite hierin opgeneem.

2 Wat is Biologie?

Om tot 'n Bybelse fundering van die dissipline Biologie te kom, is dit nodig dat daar kortliks eers gekyk word na dit wat algemeen onder dié vakgebied verstaan word. Biologie word beskryf as die studie van lewende organismes in hul groot verskeidenheid - hetsy dit die studie van die groot verskeidenheid van eensellige vorme van lewe, wat onder die Phylum Protozoa sorteer, of die meer gekompliseerde lewensvorme onder die Phylum Vertebrata (die Gewerweldes) waaronder die kroon van die skepping, Homo sapiens (die mens), geklassifiseer word, behels. Die begrip Biologie kan ook volgens sy etimologiese oorsprong ontleed word. Dit veronderstel dat dié term van nader bekyk word volgens die betekenis van die "oer" woorde waaruit die begrip Biologie saamgestel is. Die term Biologie is aanvanklik saamgestel uit twee Griekse woorde naamlik bios en logos. Bios beteken lewe en logos beteken kennis. Volgens die etimologiese begronding beteken Biologie dus letterlik die studie van lewe.

3 Wat is Lewe?

Bogenoemde, alombekende definisie van Biologie mag impliseer dat Bioloë die kernwoord waaruit die begrip Biologie afgelei is, naamlik lewe, onder die knie het en dit na sy oorsprong en wese kan omskryf. Dit is egter nie die geval nie. In hierdie definisie stuit die mens teen die konkrete ondefinieerbaarheid van die begrip lewe. Volgens Steensma & Van Brummelen (1977: 120) "we cannot define life itself. Living beings [organisms] are not living because they possess a certain substance called life; they are living beings because they have been created with a vital (biotic) function or mode of being." Laasgenoemde impliseer dat lewe as sulks na die wese daarvan nie geanaliseer en ondersoek kan word nie alhoewel die eienskappe daarvan soos wat dit opgesluit lê in die bou en die funksie van lewende organismes in samehang met verskillende omgewings bestudeer kan word. Vir die Christen-gelowige lê die ontstaan van lewe in die drieënige onverklaarbare God wat altyd was en is en sal wees. Hy het op 'n wonderbaarlike wyse lewelose elemente op so 'n kreatiewe en unieke en veelvoudige wyse saamgevoeg dat die lewelose elemente in hul spesifieke ordening 'n onnoembare verskeidenheid van lewende organismes (uitgestorwe en steeds lewend) in hul harmoniese samehang met hul omgewing op die aarde verteenwoordig. Dit beteken nie dat die elemente waaruit lewende organismes bestaan hul eienskappe waarmee hulle toegerus is verloor wanneer hulle in lewende organismes voorkom nie - hul funksionering is nog steeds afhanklik van die goddelike wette wat vir die elemente geld. Lewe as sulks kan nie op 'n menslike, rasionele wyse verklaar word nie. Biologie behels slegs die bestudering van die eienskappe van lewe, byvoorbeeld beweging, voortplanting en die metaboliese prosesse (die fisiologie) wat daarmee verband hou (of hul opbouende [anabolies] of afbrekend [katabolies] van aard is) en die struktuur (morfologie)van lewende organismes waarin dié eienskappe van lewe plaasvind, asook die harmonieuse godgegewe relasies tussen lewende organismes en hul omgewing. Lewe per se kan nie geskep of bestudeer word nie. Selfs al sou die molekulêre samestelling van 'n lewende organisme of deel van 'n organisme in detail bepaal kon word, is dit uiters onwaarskynlik dat 'n menslike samevoeging van molekules volgens die oorspronklike eksemplaar (die werklike lewende organisme of deel van die organisme) lewe tot gevolg sou hê. Lewe per se is oor die algemeen deur eeue heen beskou as iets wat onverstaanbaar in wese is.

Die scientisme poog om alles, insluitende die wese van lewe vanuit natuurwetenskaplike studies te verklaar. Volgens dié denkrigting hou die natuurwetenskaplike metode wat kennisinsameling, die verifikasie daarvan deur direkte eksakte observering, herhaling en herhaalbaarheid van eksperimente (ten einde die betroubaarheid daarvan te bevestig) asook logies-korrekte denke behels (vgl Byrne 1977: 295), die sleutel in tot die ontsluiting van alle geheimenisse. Die natuurwetenskaplike metode word dus tot god verhef en transendentale (geestelike) bekouings word as onwetenskaplik en derhalwe as onvanpas ten opsigte van die bestudering van die natuur (wat ook die ontstaan daarvan insluit) afgemaak. Dit is interessant om daarop te let dat die evolusieleer volgens die aanhangers van die scientisme natuurwetenskaplik verantwoordbaar is ten spyte van die feit dat geen direkte observering en herhaalbaarheid van eksperimente ten opsigte van die ontstaan van lewe moontlik is nie. Die evolusieleer bly dus 'n teorie.

Volgens die Christen het die scientisme nie die antwoord op die ontstaan van lewe nie. Ook bied dit vir die Christen geen hoop op die uiteindelike totale bevryding van die mens en die natuur op grond van Christus se Soenoffer, wat onder meer die herstel van 'n gebroke lewe tot ware, Godbedoelde lewe impliseer, nie. In teenstelling met die Christen-gelowige wat oortuig is daarvan dat God steeds momenteel betrokke is by die onderhouding van sy skepping (vgl Matthéüs 6:28-29) glo die ondersteuners van die scientisme dat hulle die sleutel daartoe het, selfs al het hulle met die totstandkoming van hulself en die objek van hul studie, wat Godgegewe is, niks te doen nie.

4 Wat is die oorsprong van lewe volgens die Bybel?

Talle verwysings uit die Bybel dui op die oorsprong van lewe. Die Bybel wys daarop dat God die Vader, God die Seun en God die Heilige gees betrokke was by die ontstaan van lewe (vgl Genesis 1:2,11, 26 en Kolossense 1: 16-17).

AKTIWITEIT 1

Wat sê die Bybel aangaande die totstandkoming van lewe?

Skryf die volgende tekste (vgl Haycock 1981: 5-8) uit die Bybel neer: Nehemia 9:6; Prediker 11:5; Jesaja 44:24; Daniël 5:23; Maliagi 2:10; Matthéüs 19:14; Johannes 1:10; Handelinge 14:15; I Korintiërs 11:9; Efesiërs 3:9; Kolossense 1:16-17; Openbaringe 4:11; Hebreërs 11:3.

5 Wat lê die bestudering van biologie ten grondslag?

Indien daar nie orde sou bestaan nie, sou enige wetenskaplike studie, wat verband hou met watter vakgebied ook al, gedoem wees. Enige studie berus op die feit dat daar orde in partikuliere wetensgebiede bestaan sodat hul deur middel van ordelike denke meer deursigtig en toeganklik vir die mens gemaak kan word.

God is die "[oorzaak] van alle dinge maar … [is] Zelf … onveroorzaakt" en is "als Wetgever verheven boven die wette die Hijself voor de schepping gegeven heeft, maar de schepping zelf is wetsgebonden (Ouweneel 1997: 80-81). Omdat verskillende vorme van lewe funksioneer volgens 'n vaste, Godbepaalde wetsorde wat hul morfologie en daarmeeverbandhoudende funksies verseker, kan die mens namate Biologiese studies vorder, steeds tot betere insigte van sy vakgebied kom. Ook moet dit verstaan word dat die mens wat verhewe is bo alle ander aardse vorme van lewe, slegs wetenskap kan beoefen met dit wat wetsordelik gegewe is: "Science does not put order into creation, as many scientists believe; scientists discover the order which is already there" (Steensma & Van Brummelen 1977: 124).

Selfs na die sondeval het God nie sy Wetsorde onklaar gemaak nie. Die outoriteit wat God aan die wetsorde toegedig het, bepaal steeds die bou en metabolisme van mens, plant en dier. Selfs die skadelike organismes (soos skadelike bakterieë, virusse en ander makrobiologiese vorme van lewe) wat die skepping vanweë die sondeval treiter (vgl Romeine 8: 20-22) is onderdanig aan die Godgegewe wetsorde.

Biologie kan derhalwe bestudeer word omdat die mens as skepsel wat na die beeld van God geskep is rasioneel (in teenstelling met ander plante en diere) kan optree. God se karakter wat onder meer deur rasionaliteit gekenmerk word, soos wat onder meer deur die ordelike skeppingsverhaal van Genesis bevestig word, kan egter nie gepeil word deur die ratio van die mens nie. In die verband kan miskien gemeld word dat God se getrouheid aan die mens wat hy verlos deur Sy seun Jesus ondanks die sondeval, vanuit die menslike denke, wat oorwegend op oorsaak en gevolg ingestel is, selfs irrasioneel mag voorkom.

AKTIWITEIT 2

God se wetsorde, waarvolgens lewende organismes op spesifieke wyses funksioneer, onderhou alle vorme van lewe. Maak 'n diagrammatiese voorstelling van die lewensiklus van enige skadelike organisme (bv. Trypanosoma gambiense wat slaapsiekte veroorsaak, Schistosoma haematobium wat verantwoordelik is vir die siekte bilharziaof Taenia solium) om die ordelikheid daarvan aan te dui.

Alle vorme van lewe (ook mense) bly onderdanig aan God se wetsorde. Daarom is dit so dat Bioloë van verskeie gelowe, asook ateïste, die "gesinkroniseerde eienskappe van lewe" bestudeer en grootliks tot dieselfde bevindinge kom. Wanneer hulle gekonfronteer word met die fisiese ontleding van lewende organismes, kan hulle saamstem aangesien die objek van hul studie waarneembare gegewenes is wat hulself op dieselfde wyse aan mense, ondanks geloofsverskille, openbaar. Wanneer egter gekyk word na die oorsprong van lewende organismes as sulks, tree daar egter verskillende sieninge na vore aangesien daar nou 'n onsienlike dimensie intree wat verband hou met die kern van die mens se lewens- en wêreldbeskouing, naamlik sy beskouing van die Godheid.

6 Wat is die oorsprong van biologie?

6.1 Die Christelike beskouing

Vir die Christen is die Bybel 'n onfeilbare rigsnoer ten opsigte van dit wat die onsienbare aspekte (dit wat nie selfs onder 'n mikroskoop of elektronmikroskoop ontleed kan word nie) behels. Die oorsprong van waarneembare lewe is sekerlik dié grondvraag vir bioloë wat dit waarmee hul besig is in diepte wil begrond en nie slegs wil konsentreer op dit wat observeerbaar is of logies en rasioneel met behulp van die menslike sintuie afgelei kan word nie. Christen-bioloë bied op grond van hul kennis van die Bybel wat deur die werking van die Heilige Gees versterk is tot 'n vaste oortuiging, 'n antwoord op die ontstaan van sienbare lewe. Die antwoord lê natuurlik in die skeppingsverhaal soos wat ons dit in die Bybelboek Genesis aantref en wat daarop neerkom dat die sienlike sy oorsprong het uit die onsienlike God in sy Almagtigheid en dat Hy 'n ordelike verskeidenheid van lewe geskep het waaroor Hy die mens aangestel het om op verantwoordelike wyse te regeer (vgl Psalm 8: 7-9).

6.2 'n Ander populêre beskouing: Die Evolusieleer

In teenstelling met die Bybelse fundering van die oorsprong van lewe, bied die makro-evolusieleer 'n ander verklaring, wat deesdae, vanweë die outoriteit waarmee dit in onder meer talle televisieprogramme gepropageer word, al hoe meer aanvaarbaar vir leerders mag klink. Alhoewel hierdie bydrae nie as sulks fokus op evolusie nie, is dit tog nodig vir die Christen Biologie-onderwyser om kennis van die voorveronderstellings van die evolusieleer te dra sodat vrae wat deur leerlinge gestel word, beter beantwoord kan word.

Die evolusieleer gaan uit van die veronderstelling dat uiters eenvoudige vorme van lewe oftewel eensellige organismes, wat 'n waterlewe bestaan gevoer het, oor miljoene jare heen uit lewelose materie ontwikkel het tot meer ingewikkelde vorme en dat die mens self ook biljoene jare later geleidelik uit primitiewe dier-vorme (aap-mense) ontwikkel het. Primitiewe uitgestorwe Primata (ape) wat uitgesterf het en as fossiele waargeneem word, word voorgehou as verskillende stadia in die ontwikkeling van die mens. Periodiek word spesies ontdek wat deur die aanhangers van die evolusionisme beskou word as voorbeelde van diere wat ons help om die evolusionistiese diere-weg op pad na die mees ontwikkelde dier, die mens, te verstaan. Hierdie siening is in teenstelling met die Bybelse siening dat God verskillende spesies plante en diere verskillend geskep het. Genesis 1:11,1:21, en 1:24 lees: Toe het God gesê: "Laat daar uit die aarde groenigheid voorkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit. … God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard. … Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy eie aard: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy eie aard."

'n Mens het respek vir die ywer wat deur evolusioniste getoon word in hul poging om 'n lyn van ontwikkelende dierelewe daar te stel wat uiteindelik tot die mens, soos ons hom vandag ken, sou ontwikkel. Tog kan mens nie hierdie leer, wat hoofsaaklik deur ongelowiges slaafs aangehang word, en wat die ontstaan van biologiese lewe aan kans toedig, op grond van dit wat in die Bybel staan, asook ander logiese redenasies, aanvaar nie.

Die aandag word vervolgens kortliks aan 'n aantal redenasies wat kontra-evolusionisties van aard is geskenk. Alhoewel dit aanvaar word dat die wese van 'n mens se lewens- en wêreldbeskouing op geloof berus, het God die mens wat na Sy beeld geskape is, ook rasionalisties geskep sodat hy, ten spyte van sy gevalle staat, teorieë wat kontradiktories tot die Bybel is kan bevraagteken.

* Hou lewelose anorganiese elemente die sleutel tot die skepping van lewe?

Volgens die evolusieleer word die ontstaan van lewe verduidelik "in terms of some sort of transformation of non-living material into living material … " (Steensma & Van Brummelen 1997: 127). Dit sou veronderstel dat lewelose elemente op so 'n wyse by mekaar sou uitkom dat dit lewe sou inisieer. As laasgenoemde die waarheid sou wees, sou dit beteken dat die elemente oor 'n intelligensie moes beskik om hulself sodanig in 'n unieke en gekompliseerde volgorde te rangskik om enigsins die moontlikheid vir lewe daar te stel. Dit sou ook veronderstel dat die elemente waaruit lewende organismes bestaan, hulself só sou moes rangskik dat die lewende organismes aangepas is by die omgewing waarin hulle moes leef. 'n Mens kan die redenasie insake die evolusionistiese beskouing dat anorganiese elemente verantwoordelik is vir alles wat konkreet waarneembaar (insluitende lewe) selfs verder voer: Waar sou die eerste materie vandaan gekom het? Ouweneel (1997: 80) sê in dié verband: "Wat bestaat, kan dus niet uit zichzelf worden verklaard. Hiermee is bijv. die variant van de evolutieleer in strijd die beweert dat het leven 'vanzelf' op 'natuurlijke' wijze uit de stof ontstaan is en dat de betrokke natuurwetten en natuurlijke processen een dergelijke dragende Grond niet hebben of nodig hebben."

Die ontstaan van lewe wat kwansuis aan lewelose elemente toegedig word, kan tot gevolg hê dat 'n lewens- en wêreldbeskouing wat op paganisme ("paganism") gegrond is, aangehang word. Paganisme impliseer dat die natuur nie, soos vir die Christen, die wonder en almagtigheid van God verkondig nie, maar dat die natuur as sulks as goddelik beskou word. Aanhangers van laasgenoemde siening kan selfs oorgaan tot die siening dat die verkenning van die natuur deur eksperimentering nie behoorlik is nie omdat daar nie enigsins met dit wat heilig is ingemeng mag word nie. Laasgenoemde siening verwerp dus in der waarheid die opdrag van God dat die mens moet heers oor die natuur.

* Berus die skepping op kans, sonder Goddelike inspraak?

Wanneer na enige lewende organisme gekyk word, selfs na die relatiewe eenvoudige eenselliges, val die kompleksiteit daarvan mens op. Hoe die boumateriaal daarvan en veral die genetiese materiaal wat die morfologie en die fisiologie van organismes bepaal bloot per toeval "by mekaar" uitgekom het op so 'n georganiseerde wyse dat dit organiese lewe ten gevolg het, iets wat selfs die knapste mikrobioloë, ondanks al hul kennis, nie kan skep nie, laat dit onmoontlik lyk dat lewe sonder die aanwesigheid van 'n Hoër Intelligensie kon ontstaan.

Die algemene aanvaarding van die evolusioniste dat "die menslike rede, gewapen met die wetenskaplike metode, die enigste betroubare pad tot kennis is" (Stoker & Gerber 1997: 20) hou desnieteenstaande hul negering van 'n Intelligente Hoërwese 'n geloofsoortuiging in wat 'n groot "leap of faith" verteenwoordig. In die verband sê Stoker & Gerber (1997: 20, 113): "[O]nbewese uitgangspunte (word) in die evolusionistiese prosesse op 'n geloofsbasis ingelees, wat aan die evolusieleer 'n onverdiende finaliteit en oortuigingskrag verleen. … Evolusie is 'n ongeloofuitspraak. In feite bestaan daar nie 'n enkele eksperiment of gekontroleerde waarneming wat so 'n gerigte en onomkeerbare proses ondersteun nie, nóg evolusie van nie-lewe tot lewe, nóg evolusie van een soort na 'n ander. Makro-evolusie moet daarom ongeloof wees, gegrond op die aanname dat lewe geheel en al uit natuurlike prosesse bestaan, wat steeds na hoër vorme van lewe vooruitgaan."

* Is die mens soos wat die evolusieleer impliseer vergelykbaar met diere?

Al sou die bou en fisiologiese funksies van die mens tot 'n groot mate ooreenstem met dié van aapsoorte, is die mens, as die kroon van die skepping nie onderhewig aan instinktiewe gedrag nie. Met die skepping van die mens wat afsonderlik in Genesis 1:27 vermeld word, kom 'n "[n]uwe lewensvorm … wat nie alleen die lewe soos dié van diere omvat nie, maar 'n lewe waar die liggaam slegs instrumenteel is tot 'n geestelike lewe" in aansyn (Stoker & Gerber 1997: 111). In dié verband sê Stoker en Gerber (1997:111- 112) voorts: "Die geestelike lewe, wat God in die mens skep, kan nie uit fisiologiese funksies van ons liggaamlike bestaan afgelei word nie. Die onsigbare wêreld, dié van waarheid en skoonheid, kennis en insig, is nie vir diere toeganklik nie. … [I]n die mens skep God 'n geestelike lewensbestaan binne die liggaamlike bestaan. Omdat menswees so totaal verskillend van die dierwees is, kon die mens nie uit die natuur van die dier ontwikkel het nie, soos evolusioniste dit wil hê."

* Sou genetiese verandering die voortbestaan van die soort dier of plant (spesie) bevorder?

Gene, wat die anatomie en fisiologie van die verskillende spesies plante en diere, asook die mens, bepaal, kom voor in komplekse DNA-molekules. Verskillende spesies plante en diere bevat gene wat verskil. Ons weet dat selfs 'n klein afwyking in die basiese DNA samestelling van 'n spesie dikwels tot verreikende, onaangename gevolge vir die plant, dier of mens kan lei. So byvoorbeeld kan die bekende Down-sindroom, aangebore blindheid en talle ander tragiese toestande, wat volgens die Christen-gelowiges aan die sondeval toegeskryf kan word, daagliks waargeneem word. Indien lewe aldus die evolusieleer die ontstaan van nuwe spesies uit reeds bestaande spesies sou behels, sou dit noodwendig genetiese verandering, met die daarmeegepaardgaande uiters groot gevaar van afwykings vir die betrokke "veranderende" (of evoluerende) spesie veronderstel.

Die fynheid en spesifisiteit van die genetiese samestelling van 'n spesie verhoed kruising. Dit laat 'n mens wonder of 'n oerplant of -dier ooit die potensiaal kon besit vir so 'n drastiese verandering van genetiese materiaal dat ander spesies plante en/of diere daaruit kon ontstaan deur "genetic tampering" wat boonop nog sonder goddelike ingryping sou plaasvind. Horton (1992: 152) is van mening dat "(o)rganic evolution if it were ever to occur, would require the violation of certain well-established principles of genetics and thermodynamics. … Laboratory experiments designed to force plants and animals to change from one distinct kind to another have failed completely. Even if researchers were to succeed in changing one kind of organism into another under these highly artificial consditions they would not have proved that the same thing could have happened without manipulation by an intellectual power."

Die volgende ou bekende kerkkoortjie bied veral wat Biologie betref, steeds die kern van

hoe die verskeidenheid van lewe geïnisieer is.

All things bright and wonderful

All things great and small

All things wise and wonderful

The Lord God made them all.

AKTIWITEIT 3

Maak 'n skets van enige plant of dier of selfs 'n deel van 'n plant of dier. Bestudeer die skets sorgvuldig: Let op die komponente wat geteken is en neem ook hul funksies in ag. Skryf nou 'n paragraaf waarin u na aanleiding van u skets en die funksies wat u geïdentifiseer het sê waarom u aan 'n Intelligente Hoërwese glo.

AKTIWITEIT 4

Die mens (die kroon van die skepping wat na die Beeld van God geskape is) is, in teenstelling met ander vorme van lewe, voorsien met die eienskap om rasionalisties ("rede"lik) en realisties met inhoude om te gaan. Watter redes sou u, sonder om u direk te beroep op aanhalings uit die Heilige Skrif, aanvoer ten einde evolusionisme te weerlê.

7 Waarom bestudeer 'n Christen biologie?

Baie redes kan vir die bestudering van Biologie genoem word: "Dis interessant"; "ek wil 'n medikus word"; "ek hou van die logika daaraan verbonde". Hierdie is geldige redes maar die dieper motivering vir die keuse van enige studie moet uiteindelik aan die kern van mens se lewens- en wêreldbeskouing gekoppel word om as betekenisvol ervaar te word. Volgens Byrne (1977: 307) "[s]cience needs the light of revelation [my kursivering] to give it purpose and causation without which it becomes virtually meaningless. While it is the primary function of science to gather data, it is the function of theology to give these data their purpose and teleological ordering."

Vanuit 'n Christelike lewens- en wêreldbeskouing word alle studie, ook van Biologie, gekoppel aan die Groot Gebod (Matthéüs 22: 37-39) wat uiteindelik neerkom op die verering van God. Laasgenoemde kan dan ook beskou word as die hoeksteen vir die eienskappe oftewel kriteria waarvolgens 'n Christen Biologie-onderwyser homself/haarself voortdurend moet beoordeel.

8 Watter eienskappe toon 'n Christen biologie onderwyser?

* Nederigheid teenoor en respek vir sy/haar vakgebied.

Vir 'n Christen-Biologie onderwyser is dit onmoontlik om 'n alwetende houding ten opsigte van sy/haar vak in te neem. Hy/sy is oortuig daarvan dat alhoewel die lewende skepping van 'n Almagtige God ondersoek moet en behoort te word, die omvang daarvan nooit begryp kan word nie. Dit beteken dat hy/sy steeds verwonderd staan teenoor nuwe behoorlik verantwoorde insigte met betrekking tot die wetsorde wat die drieënige God daargestel het en dit aan leerders meedeel.

Alhoewel die bestudering en onderrig van Biologie objektiwiteit ten opsigte van die omgang en die oopdekking van Biologiese gegewens vereis, kan 'n koue ingesteldheid teenoor die skepsels van God nie ingeneem word nie. Dit sou onder meer beteken dat daar met respek met lewende organismes tydens disseksies en eksperimentering omgegaan word.

In die verband moet gemeld word dat God nie die nie-menslike lewende wêreld van Sy skepping minag nie. In dié verband kan talle voorbeelde genoem word: God het immers bepaal dat Sy Seun (ooreenkomstig die professie in Sagaría 9: 9) Jerusalem sou binne ry op die rug van 'n donkie (Matthéüs 21: 5); Jesus gebruik die gelykenis van die saad wat op verskillende plekke val om die reaksies van verskillende mense op die aanhoor van die Evangelie te illustreer (Matthéüs 13: 13:3-8; 13: 18- 23); die Here vertroos Israel deur te sê dat hy sederbome, akasias, mirte en wilde-olyfbome in die woestyn sal plaas en sipresse, platane en dennebome in die wildernis sal vestig (Jesaja 41: 19); visse kry 'n simboliese en geestelike betekenis wanneer Christus aan Petrus en Andréas sê dat Hy hulle vissers van mense sal maak (Matthéüs 4: 19) en Jesus self word die Lam van God genoem (Johannes 1: 29.36).

AKTIWITEIT 6

Skryf vyf gedeeltes, anders as dié waarna reeds verwys is, uit die Bybel neer om aan te toon dat God nie Sy plante en diere minag nie.

* 'n Ekologiese gesensitiseerdheid

Hierdie eienskap toon noue verwantskap met die vorige eienskap. Aangesien God die mens

as opsigter oor die aarde aangestel het (Genesis 1: 28), behoort Biologie-onderwysers by

uitstek hul sensitiwiteit oor en afkeer van die misbruik, in plaas van verantwoordelike gebruik

van die natuur, aan leerders voor te hou. In dié verband kan stelling ingeneem word teenoor

die misbruik van tegnologie wat lewensbedreigende omgewingskrisisse in byvoorbeeld riviere,

stede en op plase tot gevolg het. (vgl Steensma & Van Brummelen 1977:123-124). Biologie-

onderrig kan derhalwe onder meer gesien word as 'n propageringsforum vir die instandhouding

en restourering van fyngestruktureerde Godgeskape ekologiese verhoudings, wat indien dit

versteur word, uiteindelik wraak neem op die mens self.

AKTIWITEIT 7

Skryf na aanleiding van nuusberriggewing in onder meer koerante, tydskrifte, asook beriggewing oor die televisie, 'n opstel waarin u fokus op die negatiewe effekte van 'n partikuliere ekologiese balansversteuring.

* Optimale dienslewering aan leerders

Die Christen Biologie-onderwyser wat die mens as die kroon van God se skepping beskou, behoort kinders met agting te bejeën (vgl Matthéüs 19 : 13-14). Natuurlik veronderstel dit nie dat dissipline, wat 'n Goddelike verordening is, negeer moet word nie. Slegs die beste is goed genoeg vir die onderrig van diegene waaroor die onderwyser aangestel is (ook ongelowiges) omdat alles volgens God se Woord gedoen moet word asof die diens aan Homself gelewer word. Daarom moet die Biologie-onderwyser (asook Christen-onderwysers van ander wetensgebiede) kreatief, georden en blymoedig met inhoude omgaan en sover moontlik gebruik maak van tegnologiese onderwyshulpmiddele en gepaste onderrigmetodes wat die logiese ontsluiting van inhoude bevorder. Die onderwyser moet as Godaangestelde hoeder van sy leerlinge toeganklik vir hulle wees en vertroud wees met die individuele vordering van individue omdat elke kind vir God waardevol is.

AKTIWITEIT 8

Hierdie aktiwiteit kanbeskou word as 'n private aksie. Gun uself eerstens genoeg tyd om rustig en ongestoord te dink. In hoeverre dink u voldoen u aan die enkele kriteria van 'n Christen Biologie onderwyser wat hierbo uitgelig is? Watter ander kriteria, hetsy dit spesifiek te make het met die onderrig van Biologie of die onderrig van alle vakke vanuit 'n Bybelse perspektief, kan u volgens u geloofsoortuiging toegevoeg tot die lys?

Slotsom

Biologie as vak is by uitstek gepas om die kern van 'n Bybelgefundeerde wêreld- en lewensbeskouing uit te bou omdat dit verband hou met dit wat kardinaal is ten opsigte van enige godsdiens, naamlik die siening ten opsigte van die ontstaan en onderhoud van lewe. Die Biologie-onderwyser het voorts ook die verpligting om deur etiese optrede teenoor lewensvorme, die beklemtoning van die Goddelike wetsorde in die skepping en 'n Christusgesentreerde liefde teenoor leerders as't ware 'n advertensie vir die Christendom te wees.

Bibliografie

Byrne, H.W. 1977. A Christian Approach to Education. Educational Theory and Application. Milford, MI: Mott Media.

Dekker, J.G. (ed). 1989. Advanced Biology. Cape Town: Juta.

Edlin, Richard J. 1994. The Cause of Christian Education. Northport, Al: Vision Press.

Haycock, Ruth C. 1981. Bible Truths for School Subjects. Vol. III. Science/Mathematics. Whittier, CA: Association of Christian Schools International.

Horn, I.H. 1996. The Implications of New Age Thought for the Quest for Truth: A Historical Perspective. Ongepubliseerde DEd proefskrif. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

Horton, Ronald A. 1992. Christian Education: Its Mandate and Mission. Greenville, South Carolina: Bob Jones University Press.

Ouweneel, W.J. 1997. Wijs met de wetenschap. Inleiding tot een Christelijke Wetenschapsleer. Leiden: Barnabas.

Steensma, Geraldine J. & Van Brummelen, Harro W. 1997. Shaping School Curriculum: A Biblical View. Terre, Haut, Indiana: Signal.

Stoker, P.H. & Gerber, J.M. 1997. Voed hulle op. VCHO-studiestuk nr. 9. Bloemfontein: Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys.