Hoe Oud Is Die Aarde Regtig?

Pieter H. Stoker
Dept. Fisika, PU vir CHO

Inleiding

Die aarde was nie altyd daar nie. Volgens die Bybel is die hemel en aarde "in die begin" geskep (Gen.1:1). Ook natuurwetenskaplike gegewens dui daarop dat die aarde en alles wat op, in en om die aarde is, iewers in die verlede 'n begin moes gehad het. Daarom moet die aarde 'n ouderdom hê, en die lewe op die aarde moes daarna tot stand gekom het. Hierdie vraag is egter nie so eenvoudig om te beantwoord nie. Die natuurwetenskappe beantwoord die vraag deur te aanvaar dat die heelal, die aarde en alles wat daarop is, die produk van miljoene en miljoene jare se voortgaande ontwikkeling volgens natuurwette en evolusie is. Volgens die skeppingsverhaal in die Bybel is die hemel en aarde deur die almagtige God uit niks geskape, het Hy alle lewe op aarde gevorm en bestier Hy alles na 'n voleinding volgens Sy ewewige Raadsplan.

Die natuurwetenskaplike metode

Menslike kenne van die geskape werklikheid word beperk deur die mens se vermoëns. Die antieke Griekse geleerdes het die grondmotief van die hedendaagse wetenskap gevestig, nl. die begeerte om 'n gedagtemodel van die werking van die heelal te maak. In die Griekse wêreld het daar om en by die sesde eeu voor Christus 'n intellektuele (logies-beredeneerde) benadering tot gebeurtenisse in die wêreld gekom. Dit het 'n nuwe begrip (verstaan) van die natuur tot gevolg gehad. Die sentrale uitgangspunt was die gedagte dat verskynsels en gebeurlikhede plaasvind as "noodwendige" gevolge in opeenvolgende kettings van oorsaak en gevolg.

Sedert Galileo (1564 - 1642) stel die natuurwetenskaplikes deur eksperimente vrae aan die natuur. Hierdeur probeer ons antwoorde in terme van die taal van die natuur te verkry. Ons maak van die taal en metode van die wiskunde gebruik om afgebakende strukture van die fisiese wêreld te beskryf, verby die begrensing van ons gewone denke en gesproke woorde.

Die natuurwetenskaplike metode aanvaar dat slegs dit, wat die mens deur waarneming uit die geskape werklikheid kan leer, deel kan wees van die wetenskap. Slegs dit wat waarneembaar is, hetsy visueel met die oog, of deur ander sintuie, of deur sy apparaat, moet dwingend aanvaar word. Hierdie kwalifisering en kwantifisering van waarnemings sedert Galileo is in feite 'n aanvaarding van 'n nuwe filosofie met 'n nuwe taal in die wetenskappe na die Griekse en Middeleeuse tydperke. Dit het gelei tot 'n beskouing dat die heelal soos 'n meganiese masjien verloop en dat die heelal en sy voortgang volledig uit homself verklaar kan word. Hierdie beskouing is dan ook die filosofiese basis van die evolusieleer en van ouderdomsbepalinge.

Die ouderdom van die aarde

Uitsprake dat die aarde 4,5 miljard (4 500 000 000) jaar gelede ontstaan het, dat geologiese gesteentes met ouderdomme van miljoene tot miljarde jare voorkom, dat fossielreste van die eerste lewe op aarde sowat 500 miljoen jaar oud is, dat skedels van oermense gevind word, wat meer as 'n miljoen jaar gelede geleef het, word dikwels gehoor of gelees. Die bepaling van hierdie ouderdomme volg uit gekontroleerde eksperimentele metings, wat op algemeen aanvaarde wetenskaplike metodes gegrond is. Hierdie metodes gaan uit van 'n wêreldbeeld (filosofie) wat buite die eksperimentele werklikheid lê, soos die aanname dat die prosesse van verandering (bv. deur radioaktiewe verval, of in geologiese formasies) tot in die verre verlede teen dieselfde tempo as vandag verloop het. Wanneer die verre verlede bestudeer word, word brokkies van waarneming so goed as moontlik soos 'n legkaart gerangskik en die talle ontbrekende stukke word deur veronderstellings aangevul. Net so berus bogenoemde ouderdomme op veronderstellings, wat nie eksperimenteel bevestig kan word nie, want ons was nie in die verre verlede daar om waar te neem wat werklik gebeur het nie. Hierdie ouderdomme het daarom slegs veronderstellende waarde.

'n Unieke planeet

Ons planeet, die aarde, is 'n unieke planeet, 'n wonder, 'n seldsaamheid in die ontsaglike sterrehemel. Vandag word dit allerweë erken dat so planeet, wat die tuiste van lewe is soos ons dit ken, nie toevallig volgens die wette van die natuur kon ontstaan het nie. Die aarde is die grootste van alle kosmologiese en wetenskaplike raaisels, het Lewis Thomas in die uitgawe van Discover van April 1981 geskryf. Hy vervolg dat hierdie voorwerp wat om die son wentel, sy eie suurstof, die suurstof wat ons inasem vervaardig, sy eie stikstof uit die atmosfeer haal en dit in die grond sit en wat 'n unieke weerstelsel het, waarvan ons maar min verstaan. Slegs op hierdie planeet is lewe in die ganse heelal gevind, en watter groot en wonderlike verskeidenheid van lewensvorme bestaan daar nie op die aarde nie, vanaf mikroskopiese organismes tot die mens, die mees uiteenlopende lewensvorme wat deur baie verskillende en ingewikkelde stelsels onderhou word. Indien hierdie lewensvorme vanself en toevallig uit dooie materie moes ontwikkel, sou daar miljarde (duisende miljoene) jaar vir hierdie ontwikkeling toegelaat moet word. Die natuurwetenskappe het egter nog geen bewys kon vind dat lewe en al die uiteenlopende lewensvorme uit lewenslose materie kan ontwikkel nie.

Die onderskeie toestande wat vir lewe op aarde noodsaaklik is, is net reg vir lewe, soos die hoeveelheid lig en warmte, wat vanaf die son ontvang word. Die aarde ontvang slegs 'n klein deeltjie van die son se energie, maar dit is net die regte hoeveelheid om lewe op aarde moontlik te maak. Volgens die natuurwetenskappe was die aarde na sy vorming 'n gesmelte massa van hoofsaaklik yster en silika. Deur uitstraling van warmte na die buitenste ruimtes sou die aarde oor 100 miljoen jaar kon afkoel tot die huidige temperatuur waarby lewe moontlik is. Afkoeling deur die verlies aan warmte kan egter nie gebruik word om die ouderdom van die aarde te bepaal nie, want oral in die aardkors is daar radioaktiewe elemente, wat deur ontbinding warmte aan die aardkors gee. Hierdie radioaktiewe verhitting van die aardkors is presies voldoende om die verlies aan warmte deur uitstraling te balanseer sodat die oppervlak van die aarde by 'n vaste temperatuur, waarby lewe moontlik is, kan bly.

Die aarde bevat 'n ontsaglike voorraad water met unieke eienskappe, wat vir lewe noodsaaklik is. Geen ander stof het daardie besondere eienskappe nie. Water kom in groter oorvloed as enige ander stof op die aardoppervlak voor. Een van water se talle nuttige eienskappe is dat dit as 'n gas (waterdamp), 'n vloeistof (water) en 'n vaste stof (ys) voorkom - almal binne die temperatuuruiterstes van lewe op aarde. Water is ook uiters geskik om die duisende grondstowwe wat as voedsel van mense, diere en plante noodsaaklik is, in bloed of plantsappe op te los en na lewendige selle te vervoer.

Die atmosfeer, wat die aarde omring, is ook uitsonderlik. Ruimtevaarders het spesiale ruimtepakke nodig om in die buitenste ruimte aan die lewe te bly. Maar geen ruimtepakke is op aarde nodig nie. Ons atmosfeer beskerm ons van die lewensgevaarlike ruimte daar buite en bevat net die regte samestelling van gasse om lewe op aarde moontlik te maak. Sonder suurstof sal mense en diere binne minute doodgaan, maar suiwer suurstof is giftig as dit te lank ingeasem word. As daar te veel suurstof in die atmosfeer was, sou brandbare stowwe hoogs ontvlambaar word. Daarom dat suurstof met stikstof verdun moes word. Die klein persentasie koolsuurgas in die atmosfeer is noodsaaklik vir plante, maar te veel koolsuurgas is weer nadelig vir mense en diere.

Grond weer het eienskappe wat noodsaaklik vir plantegroei is. Plante omskep chemiese elemente in die grond in vorme, wat deur die liggame van mense en diere opgeneem kan word. Klein lewende organismes in die grond help hiermee. Daar is miljoene van hulle in 'n teelepel grond. Die aarde het 'n verbasende herstelvermoë na droogtes, brande, natuurrampe en besoedeling deur die mens. Die ineengeskakelde selfhandhawende stelsels van die aarde kan nie gebruik word vir oudersomsbepalinge nie. Wat wel hieruit afgelei kan word is dat die aarde inderdaad deur die Skepper as 'n tuiste vir die mens voorberei is.

Die wetenskap en ons waarnemings kan selfs vandag met al ons magdom van kennis en beskikking oor die mees moderne tegnieke nie naastenby die volle werklikheid beskryf nie. Ons moet die werklikheid vereenvoudig om met ons menslike beperkinge iets daarvan te kan verstaan. Die bevindinge wat uit hierdie beperkte wetenskap afgelei word, word in die verlede terug geprojekteer, ook wanneer ouderdomme bepaal word.

Wat die werklike ouderdom van die aarde, van sy geologiese strukture en van sy geweldige verskeidenheid van lewensvorme is, kan nie naastenby met finaliteit beantwoord word nie. Die leerstuk van die skepping, soos verhaal in die eerste drie hoofstukke van Genesis, sê nie dat God die heelal met die mens op aarde begin het en daarna aan sy eie oorgelaat het om sy gang te gaan nie. Dit sê wel dat die skepping 'n Goddelike Handeling is en nie dat dit slegs 'n proses is, wat byvoorbeeld deur natuurwette beheers word nie. Dit is 'n handeling met kennis en met 'n bedoeling. Die mens as geroepene is medewerker in die ontplooiing van God se ewige raad, waarvolgens God die skepping tot sy voleinding voer. Hierdie Handeling kan nie gemeet of gekwantifiseer of in wiskundig-geformuleerde natuurwette beskryf word nie. Ons kan dan ook geen gesaghebbende uitspraak oor hoe natuurprosesse in die verre verlede verloop het met ons beperkte kennis en insig maak nie. Ons moet onbewysbare aannames oor die verloop van prosesse in die verlede maak wanneer ons volgens die wetenskaplike metode ouderdomme bereken. Daarom is alle uitsprake oor ouderdomme slegs veronderstellend.