Wetenskapsleer (WNR311) vir Fisika en Chemie

Deel 2

Prof P. H. Stoker

Hoofstuk 3. Tegniek en vorming van tegniese wetenskap

3.1 Die Griekse denke en tegniek

Die Egiptenare en voor hulle die Babiloniërs het slegs daardie feite van die materiële wêreld bestudeer, wat van onmiddellike praktiese waarde was. Die Grieke daarenteen het wat vandag nog die grondmotief van die wetenskap is, gevestig, nl. die begeerte om 'n gedagtemodel van die werking van die heelal te maak. Hulle het uit sintuiglike kennis deur logiese denke vir die eerste keer wetenskap gevorm. Die Griekse wetenskap het egter nie tot die tegniek deurgewerk nie, want verstandelik-beredeneerde (rasionele) denke was ver verhewe bo die tegniek wat uit handearbeid met eenvoudige gereedskap en dierekrag (sg. tradisionele of bestaanstegniek) bestaan het om aan onmiddellike lewensbehoeftes van die mens te voorsien. Daar was geen motivering tot tegniese ontwikkeling nie.

Vir die Griekse geleerdes was eenvoudige eksperimente met gereedskap en meganiese opstellings slaafagtig en vernederend soos handearbeid. Daarom dat hulle nie op die gebied van Fisika en Chemie kon presteer nie. Sekere handelinge soos die geneeskuns en die studie van plante en diere - laasgenoemde was van ietwat minder belangrik as geneeskunde - was vir die Griekse wysgere edele verstandelike oefeninge, terwyl sterrekunde en die studie van die ewige wiskundige harmonie (Ptolemie se werk) in die heelal nog edeler was. Die grootste sukses van die Grieke lê egter in die ontwikkeling van meetkunde as 'n wetenskap. Daarvoor was geen eksperiment nodig nie maar slegs verstandelike beredeneringe (rasionalisme).

3.2 Wat verstaan ons met die woord tegniek?

Die woord tegniek is afgelei van die Griekse woord techné, wat baie betekenisse het (kyk Vlot, in van Woudenburg, 1996:203 e.v.). Alle menslike handelinge kan daarmee beskryf word. Vir die Grieke het dit vaardigheid in die wetenskap, die kuns en die tegniek beteken. Ook in ons spraakgebruik het 'tegniek' verskillende betekenisse. Ons praat bv. van die tegniek van klavierspeel, en ook van sosiale tegnieke. Die Franse filosoof Ellul gebruik die woord tegniek in die sin van wetenskaplike beheersingsmetode.

Vir ons doeleindes moet ons die betekenis van die woord noukeurig omlyn. In ons woordgebruik beteken wetenskap altyd (gesistematiseerde en gekontroleerde) kennis van die werklikheid. Hierteenoor beteken tegniekverandering van die werklikheid deur mense en hulle gereedskap. Dit beteken dat wetenskap kennismag is, terwyl tegniek vormingsmag is. Saam met Schuurman (1990) beskou ons tegniek as die menslike vorming van die natuur vir menslike doeleindes met behulp van gereedskap. Die aard van hierdie gereedskap het met die verloop van tyd sterk verander veral onder die invloed van die wetenskap. Die invloed is vandag só sterk dat tegniek soms as toegepaste natuurwetenskap beskryf word.

Vir 'n betroubare insig op die ontwikkeling van die tegniek en die invloed van die natuurwetenskap daarop, is kennis van die geskiedenis en in besonder die geestelike dryfkragte en die motiewe daaragter, nodig.

3.3 Geskiedenis van die tegniek

Die tegniek is so oud soos die mensheid. So lees ons in Genesis 4:17 dat Kain 'n stad begin bou het, daarna in vers 21 van Jubal wat "die stamvader was van dié wat op die lier en die fluit speel", en vervolgens van Tubal-Kain, wat "'n smid, 'n vakman in koper en yster" was. Tegniek was aanvanklik beperk tot handewerk van die mens en was deel van die menslike bestaan, om aan onmiddellike en plaaslike behoeftes te voldoen.

Die geskiedenis van die tegniek kan in drie tydperke verdeel word. Die eerste fase is die tradisionele of bestaanstydperk. In hierdie tydperk van bestaanstegnieke was die ontwikkeling baie traag, eintlik staties. Eenvoudige gereedskap en werktuie, soos 'n blaasbalk, weefbank of meulsteen, is gebruik. Die energie vir die tegniese arbeid is deur mens en/of dier verskaf. Tegniese ontwikkeling was aangedryf deur omstandighede om te oorleef. Die uitvinding van die wiel byvoorbeeld is aangedryf deur die gebruik van strydwaens in oorlogvoering (bv. tussen die Israeliete en die Filistyne). Ook die draaibank, die pottebakkerswiel, die waterskepwiel, ensomeer, se ontwikkeling is deur omstandighede aangedryf.

Gedurende die tradisionele tydperk was die motivering en behoefte van die mens nie gerig op die praktyk van die samelewing nie, nie op die maak en verkoop van goedere nie, want die lewensinstelling was om te aanskou en te bepeins. Dit was nie dinamies en aktief nie. Tegniese uitvindinge is wel op papier gemaak, bv. deur Archimedes (o.a. die hewel), maar is nie uitgevoer nie. Daar was geen motivering om uitvindinge wat op papier gemaak is, tegnies uit voer nie, aangesien verstandelik-beredeneerde denke vir die Grieke vér bo die onmiddellike lewensbehoeftes van die mens verhewe was. Ook in die Middeleeue was daar nie 'n motief tot tegniese ontwikkeling in die samelewing nie, toe as gevolg van religieuse beskouinge waardeur die aardse lewe onderwaardeer is. Tegniek is tradisioneel slegs in die kerk en erediens gebruik, en daarbuite was dit beperk tot oorlogvoering en spele.

Hierdie tradisionele fase het tot ongeveer die vyftiende eeu n.C. geduur. In die laat Middeleeue het die besef by die gewone mense van Christelike Europa langsamerhand begin posvat dat die mens ook 'n roeping het om God in Sy skepping te dien en nie net geroep is tot diens vir die kerk nie. Hierdie groeiende besef dat die skeppingsopdrag in Genesis aan die mens 'n kultuurmandaat gegee het, het tot 'n positiewe waardering van die tegniek gelei en tegniese ontwikkelinge het gevolg, want tegnieke kan tot die uitvoer van die skeppingsopdrag gebruik word. Hiermee het die tweede fase, die praktiese tydperk, begin, wat ten nouste saamgehang het met die opkoms van die protestantse Christendom. Dit het gelei tot verdere ontwikkeling van die kompas, nadat twee Sjinese in die elfde eeu die kompas na Europa gebring het. Deur ambagtelike tegnieke is die konstruksie en werking van die kompas sodanig verfyn dat Gilbert dit as 'n instrument kon gebruik om sodoende magnetostatika as 'n wetenskap in 1600 te kon vestig. Die ontdekking van buskruit in Europa gedurende die laat Middeleeue (buskruit was veel vroeër by die Sjinese bekend) het tegnici die uitdaging gebied om kanonne en later gewere en pistole deur ambagtelike tegnieke te ontwikkel. Deur die uitvinding van boekdrukkuns as 'n praktiese tegniek ongeveer 1450 deur Gutenberg, het die eerste gedrukte Bybel, die Gutenberg-Bybel in 1456 verskyn. Deur die boekdrukkuns het die intellektuele lewe 'n omwenteling ondergaan.

Alhoewel glas alreeds by die Egiptenare so vroeg as 3800 v.C. bekend was, is daar nie van glas se optiese toepassings gebruik gemaak nie tot laat in die Middeleeue. Roger Bacon (1214 - 1294) was een van die eerstes om die eienskappe van lense en spieëls te ondersoek. Brille is daaropvolgend in Italië gemaak en begin gebruik rondom 1300. Omvattende gebruik het in Duitsland en Holland gedurende die vroeë sestiende eeu posgevat. Die eerste teleskope is omstreeks 1608 in Holland gemaak. Galileo van Italië het in 1609 van hierdie Hollandse uitvinding gehoor. By gebrek aan besonderhede het hy toe die beginsel van die teleskoop self uitgewerk en het binne weke sy eie teleskoop gemaak, wat hy dadelik op hemelvoorwerpe gerig het. Hiermee het 'n nuwe tydvak van opwindende waarneming van sterre en planete begin, en sterrekunde kon as 'n wetenskap gevestig word.

Vroeër is die sonnewyser gebruik om tyd gedurende die dag te bepaal. Die Grieke het 'n waterklok ongeveer 2000 v.C. ontwikkel, terwyl Henry De Vick in Württemberg, ongeveer 1360 n.C., 'n klok, wat ure slaan en met gewigte werk, ontwikkel het. Galileo het in 1581 die gelykdurigheid van die slinger ontdek, terwyl Christian Huygens van Nederland in 1656 die eerste slingerklok gemaak. Robert Hooke, Engeland, het ongeveer 1676 die opgerolde haarveer gebruik om 'n klok met 'n slingerwiel te maak. Al hierdie ontwikkelinge is deur ambagtelike tegnieke tot stand gebring.

3.4 Die moderne tegniek en die tegniese wetenskap

Die tydperk van praktiese tegnieke word gekenmerk deur verskillende nuwe uitvindinge soos buskruit, boekdrukkuns, die kompas, horlosies, die bril en teleskoop, asook verdere ontwikkelinge van menigvuldige instrumente vir natuurwetenskaplike en praktiese gebruik. Ambagslui was verantwoordelik vir hierdie ontwikkeling van praktiese tegnieke. Hierdie praktiese tegnieke het omstreeks 1800 oorgegaan tot moderne tegnieke wat uit natuurwetenskaplike kennis ontwikkel is en wat nie meer ambagtelik is nie. So het James Watt (1736-1819) die stoomenjin op grond van natuurwetenskaplike kennis kon ontwikkel. Dit was die begin van die industriële revolusie. Nou kon mensekrag en dierekrag vervang word met stoomkrag, wat uit die verbranding van steenkool verkry is.

Die moderne tegniek maak gebruik van feitelike en geordende kennis van die natuurwetenskappe om die natuur en sy hulpbronne te benut tot voordeel van die mens. Die kennis wat die natuurwetenskappe van die natuur verkry, open vir die nywerhede nuwe weë en moontlikhede tot tegniese skeppinge en vervaardiging, en tot uitoefening van mag oor die natuur. Ons kan dit tipeer met: Kennis gee mag. Omgekeerd bied die nywerhede en die tegniek aan die basiese natuurwetenskappe vandag tegniese hulpmiddels, waar ons vroeër nie oor kon droom nie. Daardeur kan meer betroubare gegewens en nuwe en meer omvattende kennis ingewin word. Dit kan getipeer word met: Mag oor die natuur bied middele tot kennisvermeerdering. Meerdere kennis gee weer meerdere mag, terwyl meerdere mag dan weer nuwe kennis gee, waardeur verdere mag oor die natuur verkry kan word, ensovoorts. Dit is 'n teruggekoppelde proses, 'n kettingreaksie, wat 'n eksponensiële ontwikkeling tot gevolg het. Dit is wat ons vandag beleef, in besonder met die vermoë van rekenaartegnologie wat tot 'n veel groter mate mag gee om kennis van die natuur vinnig in te win en die toenemende mag wat hoë-tegnologie met behulp van rekenaars aan nywerhede en die samelewing gee.

Sedert die nywerheidsomwenteling (industriële revolusie) het daar ook 'n selfaangedrewe proses ontwikkel deur die terugkoppeling tussen die behoefte van die samelewing en tegniese ontwikkeling. Om dit verduidelik, begin ons met die uitvinding van die stoomenjin. Na sy uitvinding is die stoomenjin self gebruik om te help met die myn van ystererts en steenkool, om water uit die myn te pomp, en met die produksie van yster. Daardeur kon meer steenkool gemyn en meer yster geproduseer word. Meer stoomenjins kon toe vervaardig word, waarvoor daar meer steenkool nodig was om die stoomenjins vir verskillende gebruike aan die gang te hou. Gevolglik moes meer steenkool gemyn word, waarvoor meer stoomenjins nodig was. Dit het verhoogde produksie van steenkool en yster nodig gemaak en nog meer stoomenjins en beter yster kon vervaardig word vir allerlei ander toepassings in die samelewing. Dit het weer 'n nuwe behoefte geskep vir nog meer steenkool en nog meer stoonenjins waarvoor nog meer yster nodig was, ensovoorts, in 'n steeds groter wordende spiraal. So 'n proses word 'n kettingreaksie of 'n teruggekoppelde proses genoem. Iets dergeliks, net op 'n ander wyse en op 'n groter skaal, gebeur vandag.

Tegniese wetenskap is nie dieselfde as die tegniek nie. Tegniek en tegniese wetenskap is wel onafskeidbaar aan mekaar verbonde. Die tegniese wetenskap is gerig op die vraag hoe iets gemaak moet word. Om te maak is die opdrag aan die tegnici. Nuwe ontwikkelinge in die tegniese wetenskap gaan hand aan hand met nuwe tegniese moontlikhede.

Hoofstuk 4. Moderne denkraamwerke

4.1 Rasionalisme

Rasionalisme is die siening dat slegs dit wat die verstand kan begryp, aanvaar mag word. Die verstand is die grondslag van alle sekerhede. 'n Enger betekenis is deur 'n groep filosowe van die 17e en 18e eeu waaronder Descartes, Spinoza en Leibniz, ontwikkel. Hulle aanvaar dat dit moontlik is (1) dat alle ware kennis van die natuur en alles waaruit dit bestaan, alleen deur rede, die verstand verkry kan word uitgaande van bepaalde algemeen-geldende beginsels, (2) dat kennis in 'n enkele stelsel of raamwerk deduktief (van die algemene na die besondere) verklaar kan word, en (3) dat alles, dit wil sê enigiets verklaarbaar is binne hierdie enkele stelsel. Dit aanvaar daarmee dat daar 'n enkele teorie bestaan, wat alles deduktief kan omskrywe ('n teorie vir alles).

Volgens die Griekse wysgere bestaan daar alle rede om te aanvaar dat die natuur rasioneel is (deur denke verstaan kan word) en dat natuurprosesse logies-noodwendig is. Volgens die Grieke impliseer dit logiese Noodwendigheid, wat oor 'n wêreld van ewige selfaangedrewe Vorme regeer. In wese is die Griekse wetenskap 'n wetenskap wat aan die voorskrifte van die rede voldoen (Hooykaas, 1972:29). Hierteenoor impliseer die Bybelse voorstelling van 'n wêreld, wat God volgens Sy vrye Wil gemaak en geskep het, 'n wetenskap wat afhanklik is van data en feite, van dinge wat gegee en gemaak is, dinge wat sowel rasioneel as nie-rasioneel (dit wat deur geloof aanvaar word) is. Daar word keer op keer in die Bybel gestel dat die gedagtes van God nie die gedagtes van die mens is nie. Die mens kan slegs ten dele ken. Daar is nie net 'n sintuiglik-waarneembare wêreld nie, maar daarmee geïntegreerd ook 'n wêreld wat nie sintuiglik waarneembaar is nie.

Rasionalisme verwerp alle godsdienstige geloof as nie-rasioneel. Daarenteen bevorder rasionalisme egter noodwendig 'n metafisika aangesien 'n stel uitgesoekte beginsels aanvaar moet word om die absolute en universele vorm van die werklikheid te bepaal. Descartes en Leibniz beklemtoon dat wiskundige beginsels deel van die werklikheid is. Kennis van universele beginsels sê egter niks omtrent hierdie wêreld nie. Leibniz was bewus van hierdie kontingente aard van die natuur. Dit beteken dat 'n wiskundige teorie in homself nie noodwendig die soort wêreld wat ons bewoon, omskrywe nie (Miller, 1947:268 e.v.). Vandag weet ons dat wiskundige teorieë na behoefte ontwerp kan word om enige stelsel of materiaal te omskryf om by 'n besondere waarneming aan te pas.

4.2 Materialisme

Materialisme is die filosofiese beskouing waarvolgens materie as die enigste werklikheid gesien word, of waarvolgens materie die wese of substansie van die werklikheid is. Dit beteken dat alles wat bestaan, is of materie of afhanklik van materie vir sy bestaan. 'n Voorbeeld hiervan is die lewensstrome wat volgens die Griekse wetenskap uit die aarde, wat ewig is, voortkom en weer daarna terugkeer. Alles wat bestaan, ook die gode, kom uit die lewensstrome voort. Dit beteken ook dat alles, ook geloof en die bewussyn van die mens vanuit materie (die natuur) ontstaan het en daardeur verklaar moet word. 'n Verdere voorbeeld is Democritus se beskrywing van natuurlike prosesse en menslike ervaring in terme van ruimtelike rangskikkings en herrangskikkings van onveranderlike (ondeelbare) atome.

Vir die meeste Griekse wysgere was die natuur 'n lewendige en goddelike organisme wat alle dinge voortgebring het, alle gode (en daar was baie), mense en diere. Die kosmos was vir hulle iets lewendigs met 'n wêreldsiel. Voortbrenging is dan 'n basiese funksie van die natuur. Vir Aristoteles het die natuur twee hoofeienskappe gehad : die natuur is verstaanbaar en is 'n lewende organisme (Hooykaas, 1972:9). Dit was 'n materialistiese wêreldbeeld.

4.3 Die meganistiese wêreldbeeld

Meganisme word gewoonlik gedefinieer deur die stelling dat ware wetenskaplike verklaring van die werking van die natuur verkry word wanneer die waarnemings deur meganiese modelle beskryf kan word. Hiervolgens verloop prosesse in die natuur soos 'n masjien volgens natuurwette. Dit is 'n filosofie wat hoofsaaklik deur Descartes (1591-1650) ontwikkel is. Volgens die meganis het doel (teleologie) geen plek in natuurwetenskaplike teorieë nie. So moet nie gesê word dat 'n plant sy blare draai om die volle sonlig op te vang nie, want dit is 'n teleologiese (doelmatige) verklaring. 'n Aanvaarbare meganistiese verklaring is dat 'n spesifieke molekulêre struktuur die blare na die son laat draai. Die meganis soek daarom 'n aanvaarde wetenskaplike beskrywing in terme van meganiese modelle. Sulke modelle, gegrond op bekende prosesse, beskryf dan die ware meganismes van 'n verskynsel of waarneming.

Ontwikkelinge in wetenskapsdenke en waarnemingsmetode vanaf Kopernikus tot Newton het die model van die wêreld as 'n organisme vervang deur 'n beeld van die wêreld as 'n meganisme (masjien). Die antieke atomiste het ook 'n meganistiese filosofie gehad deur hulle geloof dat veranderinge as gevolg van beweging deur materie plaasvind. Die atomiste erken egter nie struktuur (ontwerp) in die natuur nie. 'n Meganisme (soos 'n masjien) moet die produk van 'n ontwerper wees en het daarom 'n struktuur, wat sy maker aan hom gee. 'n Ontwerper is nie deel van die produk nie maar die produk word deur die ontwerper onderhou. Hierteenoor dui 'n lewende organisme op 'n inherente (inwonende) meganisme wat aan hom bv. die vermoë gee om te oorleef. Daarteenoor lê die rede van bestaan en voortbestaan van 'n masjien buite homself - dit lê in die plan en bedoeling van sy ontwerper.

Die Bybel se siening van die wêreld is dat die heelal in geheel en in al sy dele van oomblik tot oomblik van God as Skepper en Voleinder afhanklik is. Die Bybel gee egter nie 'n wêreldbeeld van die natuur as 'n organisme of as 'n masjien nie, maar van God wat in die natuur werksaam is as Onderhouer en Bestierder. Omdat God transendent is, kan niks in die natuur enige werklike kennis van God aan ons voorsien nie. Die voorstelling van die natuur as 'n 'masjien' of as 'n 'organisme' kan die natuur geensins genoegsaam beskryf nie. Christen-wetenskaplikes het egter sedert die Hervorming die meganistiese ontwerp aanvaar en die werking en onderhouding van die natuur met hul teïstiese geloof aan 'n voortreflike God toegeskryf, 'n God wat volgens die Bybel transendent in die heelal inwerk en nie panteïsties deel is van die organistiese wêreld van die antieke Grieke met sy godedom nie.

Meganiese Determinisme is 'n beskouing dat die heelal soos 'n klokwerk onderhewig aan deterministiese (oorsaak-gevolg) natuurwette, verloop. Hierdie filosofie is deur Laplace (1749 - 1827) aanvaar op grond van die enorme sukses van Newton (1642 - 1727) se meganika, waardeur hy onder andere die meganiese stabiliteit van die sonnestelsel kon beskryf. Die regstellende hand van God was daarom volgens Laplace nie meer nodig nie. Die meganiese determinisme was ook die basis van Darwin (1809 - 1882) se evolusieteorie. Newton was die vader van die meganiese verklaring van verskynsels en waarnemings, uitgaande van sy bewegingswette, wat hy wiskundig geformuleer het. Meganiese determinisme voer Newton se werk veel verder as die fisiese teorie en wel tot op geloofsvlak. Daarvolgens is God nie meer Onderhouer en Bestierder nie.

4.4 Empirisme

Empirisme word gewoonlik gedefinieer deur die stelling dat alle kennis (of ten minste alle feitelike kennis met die uitsluiting van suiwer logiese verbande tussen denkbeelde) uit ervaring en eksperimentele waarneming verkry word. Dit is die opvatting dat ware kennis alleen deur middel van sintuiglike ervaring verkry word. Empirisme sien die verkryging van kennis as 'n stadige brokkie-vir-brokkie-proses, met voortdurende self-regstelling, met grense en moontlikhede, wat bepaal word deur die eksperiment of waarneming. Francis Bacon (1561 - 1626) was die eerste in 'n lyn van empiristiese filosowe, wat hoofsaaklik in Brittanje gesetel was.

Natuurwetenskappe werk vanaf empiriese waarnemings van verskynsels na rasionele stelsels, verbande, verhouding, beskrywings en voorspellings, wat weer eksperimenteel getoets kan word. Wanneer die rasionele element oorbenadruk word, word dit rasionalisme, want dan word rasionalisme die kriterium vir beskrywing van die werklikheid. Waarneming en eksperimentering verkry dan 'n ondergeskikte en afgeleide belangrikheid.

Rasionele empirismebeteken dat die natuurwetenskaplike sy meganiese of ander beelde of modelle, wat hy gebruik, aanvaar as 'n wyse van verstandelike (rasionele) beskrywing en nie as verklaring van die wesentlike van die wêreld nie. Rasionele empirisme het 'n oop oog vir die kontingente. Die wêreld van die Fisikus en Chemikus is in wese 'n vertaling van die wêreld van fisiese en chemiese verskynsels en waarnemings tot simbole, wat hulle leen tot wiskundige verwerkings en tot skematiese voorstellings in sketse, tabelle of grafieke. Van hier uit kan weer gerieflik terug vertaal word na verskynsels en waarnemings in die natuur of laboratorium.

Na die Hervorming is die meganistiese wêreldbeeld aanvaar met God as Skepper daarvan, met bepaalde voorbehoude en ontoereikenhede, bv. deur Descartes, Boyle, Huygens en Newton. Hierdie aanvaarding het spoedig gelei tot 'n positivistiese en 'n empiristiese beeld van die natuurwetenskappe, 'n beeld wat tot 'n mate alreeds by Pascal, Boyle en Newton aanwesig was (Hooykaas, 1972:25). Hierdie beskouing is die basis van rasionele empirisme, wat die gangbare metode van moderne natuurwetenskappe is. Hedendaagse natuurwetenskaplikes is dikwels onbewus van die feit dat die metafisiese begronding van hulle werk grootliks deur Christen-wetenskaplikes van Bybelse begrippe en denkbeelde van God en die skepping afgelei is.

Rasionele empirismeerken dat die rede onontbeerlik is om die werklikheid empiries waar te neem en te beskryf. Vir die Christen-wetenskaplike is die werklikheid veel meer omvattend as dit wat waargeneem word. Vir hom is die rede (die verstand) 'n gawe van God om die skepping deur eksperimentering en andersinds te leer ken tot verheerliking van die Skepper. Hy erken verder die kontingente as 'n element in die bestaan en wese van dinge en prosesse in die skepping en gee daardeur diepte aan die beoefening van Christelike Bybelgefundeerde wetenskap.

Wiskundige empirisme: Plato het wiskunde beskou as een van die beste voorbeelde van ware wetenskap, aangesien dit te doen het met dinge (getalle, meetkundige figure en logika) wat nie aan veranderinge onderhewig is nie. Hierteenoor is wetenskaplike inhoude van Fisika en Chemie baie minder seker want dit handel met dinge wat kan verander. 'n Wetenskap, wat van waarneming afhanklik is soos verskynsels wat in die hemelruim waargeneem word (sterrekunde), kan volgens Plato nie ware wetenskap wees nie.

Volgens Descartes het God wiskundige waarhede in die wêreld gevestig. Kepler en Galileo, twee van die grondleggers van die moderne natuurwetenskappe, het geglo dat God gedurende die skepping Sy wiskundige beplanning ten volle deel van die heelal gemaak het. God het die mens met 'n wiskundige aanleg geskape sodat hy deur eksperimentering die wiskunde, wat God in die skepping ingelê het, kan ontdek. Kepler en Galileo het daarom 'n wiskundige empirisme ('n beskrywing van sintuiglike waarneming en ervaring in terme van wiskundige verwerkings en beskrywings) in hulle wêreldbeskouing ingebou.

4.5 Klassieke funderingsdenke van John Locke (1632 - 1704)

Volgens die bekende Britse, vandag klassieke, wysgeer John Locke is dit wat ons weet meer omvattend as sintuiglike kennis. Ons het ook oortuigings. Volgens Locke moet ons dankbaar wees dat God ons meer gegee het as slegs 'n vermoë tot insig. God het ons die moontlikheid van oortuigings gegee, om daarvan oortuig te kan wees dat iets so is, bv. dat dit nou agtuur is, al sien niemand in dat dit agtuur is nie. Wat iemand werklik sien is sy horlosie, wat aangee dat dit nou agtuur is. So is ons ook oortuig van ons eie bestaan, dat ons bestaan. Sekerheid is ook kennis. Tussen kennis en oortuiging behoort geloof geplaas te word, dit wil sê dat die mens iets aanvaar op God se gesag. Maar volgens Locke gee die Rede groter sekerheid tot kennis as oortuigings en as geloof. Daarom is volgens Locke geloof en veral oortuiging onvolkome in vormgewing aan kennis (Woltersdorf, 1996:17 e.v.).

Oortuigings moet, volgens Locke, gelei word deur die Rede, maar nie deur outoriteite en tradisies nie. Outoriteite en tradisies moet steeds getoets word deur 'n beroep op die Rede, die Verstand, te doen. Sodoende kan gestreef word na dit wat algemeen geldig en na dit wat vas en seker is.

Die Rede is 'n vermoë. Dit is eerstens 'n vermoë om in te sien dat uit 'n gegewe stelling of bewering 'n bepaalde afleiding volg. Maar die Rede stel ons tot meer in staat as die waarneming van verbande tussen gevolgtrekkings en bewerings of stellings. Die Rede stel ons ook in staat tot waarnemings van verbande tussen waarskynlikhede en bewerings. Danksy die Rede kan ons die waarskynlikheid peil vir die korrektheid van 'n bewering, uitgaande van die betrokke bewysmateriaal. Hiermee maak Locke gebruik van ons twintigste eeuse begrip van waarskynlikheid. Die vernuwende kern van sy beredenering was dat ons in ons oortuigings ons nie moet laat lei deur beproefde outoriteite nie, maar deur die waarskynlikheid dat die bewering volgens die Rede waar is, gegee die betrokke bewysmateriaal en feite.

Volgens Locke kan ons soos volg gebruik maak van die Rede: (1) Versamel betroubare bewysmateriaal, (2) bedink logies die krag van die bewys van die betrokke bewering, en (3) rig die aanvaarding van die bewering op die mate van waarskynlikheid wat dit volgens die Rede het, uitgaande van ons bewysmateriaal. Hierdie beginsels van Locke word funderingsdenke genoem, en tiperend van Locke se tyd is dit eintlik klassieke funderingsdenke.

Locke was van oordeel dat ons oortuigings gefundeer is op en gelei word deur wat seker is. Ons moet ons oortuigings aanvaar met 'n sekerheid wat afgestem is op die waarskynlikheid wat ons oortuigings volgens die Rede het. Ons oortuigings moet gefundeer wees op die sekerheid van regstreekse insig. Sodoende kan ons soms insig in die werklikheid kry. As ons ons nie op hierdie wyse op insig beroep nie, sal ons slegs doelloos ronddwaal in die duister van onwetendheid en ten prooi val van tradisie en outoriteit. Ons oortuigings moet verantwoord wees. Die taak van die wetenskaplike is om die nodige bewys in wat ons regstreeks waarneem te soek, en op grond daarvan die waarskynlikheid van die bewys te verreken.

Die hart van Locke se beeld van die wetenskap is 'n strewe om tot verantwoorde oortuigings te kom - in die wetenskap, in die godsdiens, of waarin ook al - deur gehoor te gee aan die stem van die Rede en aan ons insig in die werklikheid. Sy filosofie het die weg voorberei vir die Verligting.

Verligting: Die 18e en 19e eeue word die eeu van die Verligting (verstandsverligting) genoem. Die verligte mens het geglo dat deur die logiese krag van sy verstand, sy Rede, hy tot betroubare kennis omtrent die werklikheid sal kom. Volgens die woorde van Voltaire (1694-1778) het die onmondige mens mondig geword deurdat hy sy gees van die knellende bande van teologie, opvoeding en tradisie losgewoel het en tot selfstandige denke gekom het. Die Verligting spruit voort uit die Renaissance en was die wrange vrug van die rasionalisme en die empirisme (Francis Bacon, 1561-1650), afkomstig van Engeland. In besonder het die Verligting op John Locke se idees voortgebou.

4.6 Auguste Comte (1798 - 1857)

Comte is 'n Franse wysgeer, wat geglo het dat menslike insig in natuurprosesse begin by die teologie en geloof as eerste fase, dan metafisiese abstrahering (onttrekking) van idees en begrippe uit die werklikheid en as derde (laaste fase) die positiewe. In die teologiese fase soek die denke die wesentlike aard van voorwerpe terwyl gebeure aan bo-natuurlike kragte toegeskryf word. In die metafisiese fase word die bo-natuurlike vervang met abstrakte kragte en ander geabstraheerde begrippe. In die laaste, die positiewe fase, word daar nie meer aandag gegee aan die oorsprong en bestemming van die heelal en aan die oorsake van gebeurtenisse nie, maar die denke word nou toegespits op die studie van wette, waaraan die werklikheid onderhewig is, by name onveranderlike verbande, opvolging en ooreenkomste in wette. Die positiwis wil deur sodanige studie die aantal wette oor alle terreine van die lewe tot 'n minimum beperk. Dit is volgens hulle vooruitgang. Beredenering en waarneming lei gesamentlik tot hierdie vooruitgang en tot kennis van die werklikheid. Oor oorsprong en doel kan slegs geredeneer word en kan nie deur waarneming bevestig word nie, en is daarom van geen betekenis nie (Gardiner, 1969:133 e.v., Miller, 1949:404).

Byvoorbeeld die Newtonse swaartekragwet, wat in wiskundige vorm die wyse weergee waarvolgens swaartekrag inwerk op waarneembare fisiese voorwerpe, is die resultaat van waarnemings op natuurlike verskynsels. Comte het geglo dat dergelike beskrywende vergelykings uiteindelik alle "verklarings" van fisiese gebeurtenisse sal vervang. Sy rede vir hierdie geloof is sy oortuiging dat menslike denke 'n wet van vooruitgang gevolg het, wat hy die wet van die drie fases genoem het. Die eerste was die primitiewe, waartydens alle verklarings teologies van aard was: gebeurtenisse is aan die wil van gode toegeskryf; oorsake en doel van gebeure is gesoek in die bo-natuurlike. Die tweede fase het hy metafisies genoem : abstrakte kragte en ander groothede het die bo-natuurlike vervang. Die derde fase is die positiewe, waar ons tot kennis van wette, wat alles beheer, sal kom. Om saam te vat:

Positivisme kan teruggevoer word na Francis Bacon en die Britse empiristiese skool van die 17e en 18e eeu. Die woord positief het hier die betekenis dat dit wat gegee is of waargeneem word, moet aanvaar word soos dit gevind is en kan nie verder verklaar word nie. Die woord beteken dat dit wat waargeneem word, moet nie verder teologies of metafisies (buite die waarneembare wêreld) probeer verklaar word nie, m.a.w. slegs dit wat waarneembaar (sigbaar) is het werklikheidsbetekenis. Dit beteken dat alle vrae wat nie deur die .natuurwetenskappe beantwoord kan word nie, onbeantwoord moet bly. Evolusieteorie is dikwels positivisties benader. Die positiviste het selfs verder gegaan: al ons kennis, ook geestes-wetenskaplike kennis moet in beginsel tot wetenskap herlei kan word, los van teologie en metafisika.

Logiese positivisme het op die positivisme voortgebou en aanvaar dat slegs dit wat bewys en gekontroleer (geverifieer) kan word het werklikheidsbetekenis. Volgens die logiese positiviste is bv. teologie en metafisika nie verifieerbaar nie en het daarom geen betekenis nie. Logiese positivisme het gedurende die 1920s en 1930s sy beslag gekry. Logiese positivisme trag om empirisme te ontwikkel en te sistematiseer deur begripsmatige (konsepsuele) metodes verkry uit moderne navorsing op logika en die wiskunde. Die basiese gedagte is dat wiskunde en logika betekenisvol is omdat waarnemings deur wiskunde logies-konsistent (nie-strydig) beskryf kan word.

4.7 Humanisme en Postmodernisme

Humanisme plaas die mens in die middelpunt. Humanisme het met die Renaissance die waardigheid en vryheid van die middeleeuse mens wou herstel. Aanvanklik wou die humanis nie met die Christelike godsdiens breek nie. Humanisme was egter strydig met die Christelike godsdiens aangesien dit vir die humanis gaan om die sentrale posisie van die mens, die outonome (outo=self, nome=wet) mens. Die outonomie van die mens is aanvanklik bepaal deur sy rede. Sedert die 19e eeu het hierin egter langsamerhand 'n verandering gekom. Die mens het in die sukses van die tegniek sy ideale in verwesenlik sien gaan. Die mens het mondig geword in die sin dat hy self oor sy wel en weë en sy toekoms kon besluit. In die jongste tyd het die mens egter begin besef dat sy tegniek en wetenskap hom nie na 'n betroubare toekoms lei nie. Hy het begin twyfel aan sy humanistiese wêreldbeskouing, aan sy vermoë om dit te bereik wat hy graag wil. Dit het gelei tot postmodernisme.

Postmodernisme aanvaar dat elke mens deur sy eie ervaring (en eie bemagtiging) tot die waarheid kom. Hierdie opvatting verwerp die samehangende verband van kennis en daarmee groot kennisstrukture soos 'n teorie vir alles. Dit bevraagteken daarmee die mens se rasionele vermoë om die werklikheid te leer ken.

Hoofstuk 5. Kennis en ervaring

5.1 Analiserende en abstraherende denke

Alle mense het die vermoë om teoreties te dink en om probleme op te los. Alle mense gebruik teoretiese denke dan ook in hulle alledaagse lewe. Teoretiese denke vind alreeds plaas in die brein van klein kindertjies deur die vorming van begrippe. Die teoretiese analiserende en abstraherende vermoë wat God ons gegee het, gebruik die kind onbewus bv. om die kenmerke van verskillende voorwerpe te onderskei. Hy weet wanneer hy 'n meubelstuk sien of dit 'n bed, stoel, of tafel is, al het al hierdie meubelstukke vier pote. Hy sal ook verskillende soorte stoele as stoele teenoor ander meubelstukke onderskei al bestaan daar belangrike verskille tussen verskillende soorte stoele (sommige stoele het leunings, ander nie, en so meer). Ons brein het daarom die wonderlike vermoë om duisende begrippe ons eie te maak. Hierdie vermoë kom ook in rekene voor. In graad 1 leer ons dat twee appels en drie appels gee vyf appels, en baie gou daarna word veralgemeen na twee plus drie is vyf, wat 'n abstraksie vanaf die konkrete is. Die getal 'twee' is 'n abstrakte begrip. Die woord 'abstrak' beteken volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) o.a. 'aftreksel' of 'afgetrokke begrip'. Die kind leer dus om die getalle 'af te trek' of te onttrek van die konkrete dinge. Die feit dat die mens geen probleme het om in terme van getalle te dink nie beteken dat die mens 'n fantastiese vermoë tot abstrakte 'teoretiese' denke het. Dit is dan ook 'n bekende opvoedkundige benadering om die mens, die kind in sy verstandelike en geestelike ontwikkeling op die pad van die konkrete na die abstrakte te begelei en dat daar 'n gedurige wisselwerking tussen die konkrete en die abstrakte moet wees.

Nêrens in die Bybel word geskryf oor die vorming van begrippe of abstrakte getalle nie. Die Bybel is nie geskryf om ons bv. 'n analise van die mens se bestaan te gee nie, maar om ons te leer om as mense God te dien en lief te hê. Die Bybel skryf nie oor analiseer en abstraheer nie, maar van kindsbeen af is ons in ons alledaagse lewe onbewustelik besig om te analiseer en te abstraheer, om teoretiese begrippe uit die konkrete werklikheid te vorm. Die Bybel is nie bedoel om ons 'n uiteensetting van teoretiese denke te gee nie en is daarom geen wetenskaplike handboek nie.

Die teoretiese kennis is nie verhewe bo die alledaagse kennis nie. Teoretiese denke is nie voorbehou net vir die wetenskaplike nie. Die wetenskaplike staan baie nader aan die gewone alledaagse lewe as wat baie mense dink.

Wat ons intelligensie noem, is eintlik die vermoë om probleme op te los. In die wêreld is daar baie probleme om op te los. So vermeld die Bybel dat die eerste mense na die skepping enkele van die grootste uitvindings gemaak het, nl. die uitvinding van vuur en hoe om metale te bewerk. God het aan die mens die vermoë gegee om die natuur te bewerk, en te verander, wat ons kultuurskepping noem. Die mens maak (skep) uit erts en grondstowwe gereedskap, werktuie en chemiese stowwe, verbeter diererasse en ontwikkel kultivars, om enkele te noem. Die mens het 'n sterk skeppende vermoë en is ook hierin na die ewebeeld van God geskape, met die verskil dat God uit eie krag kan skep, terwyl die mens slegs uit die materiaal van die geskape wêreld kan skep.

5.2 Kennisleer

Kenleer of Epistemologie beskryf die aard en ontwikkeling van kennis, die draagwydte en omvang van kennis en die betroubaarheid van aansprake tot kennis.

Waar kom kennis vandaan? Volgens die Griekse wysgeer Epikurus (341-270 vC) word kennis uit sintuiglike waarnemings afgelei. Volgens die empiriste (bv. Locke en Hume) is alle kennis op ervaring gegrond, alternatief, uit ervaring afgelei, terwyl die rasionaliste (bv. Plato en Descartes) aanvaar dat ideë uit menslike denke (verstand) ontstaan (voortkom) en dat hierdie ideë die enigste bron van kennis is.

5.3 Menslike kennis en ervaring

Kennis en ervaring is aanmekaar verbind. Ek kan nie verwag om kennis van iets te verkry as ek nie daarvan ervaring het nie. Ek kan iets van 'n stad weet al het ek die stad nie gesien nie. My kennis van die stad kom dan van die ervaring deur die lees van 'n boek of die aanskouing van 'n uitbeelding of van die vertelling van iemand wat daar was. Net so moet ek kennis van 'n bepaalde wetenskaplike teorie in Fisika of Chemie verkry deur ervaring. Ervaring word verkry deur middel van studie, probleemoplossings, eksperimentele werk en toepassings.

Ervaring moet in sy breë betekenis verstaan word: as die volle omvang van die mens se bewustheid van sy bestaan en sy omgewing, dit is sy bestaansbesef, sy selfbewussyn. Enigiets, waarvan ek bewus is, behoort by my ervaring. Dit sluit my gevoel en verstandelike insig (begrip) in, of ek dit met iets oorsaakliks kan verbind of nie.

'n Belangrike faset van ervaring is die ervaring van orde. Kennis benodig 'n geordende ervaring van een of ander soort. Hierdie stelling spreek vir homself in geval van teoretiese of wetenskaplike kennis, wat berus op sistematiese ontleding en ordening van ons ervaring. Die stelling is net so waar vir ons alledaagse kennis.

Wat is die bron van hierdie ordening van ons ervaring? Die algemene antwoord vandag is dat die bron van ordening van ons ervaring in die kennende (wetende) persoon self geleë is - in die "ek weet dit". Die veronderstelling is dan dat die ordening van ons ervaring sy oorsprong het in die kennende prosesse van ons denke. Hieroor is al baie gefilosofeer en dit is nie deel van hierdie kursus om op al die uiteenlopende uitgangspunte en beredenerings in te gaan nie.

Menslike kennis is nie 'n versameling van stukkies en brokkies van losstaande inligting nie. Dit moet 'n geordende rangskikking van verbandhoudende stukkies en brokkies wees. Dit, tesame met 'n noukeurige ontleding van die prosesse waardeur ons gaan om kennis te bekom, dui sterk daarop dat kennis 'n produk van die mens se ordeningsaktiwiteit is, en nie 'n ordening, wat in ons afgedruk word nie. Bv. die periodieke indeling van elemente, in families met ooreenstemmende chemiese gedrag (soos die alkaliese, die alkaliaarde die edelgasse en die halogene).

Hierdie siening is in ooreenstemming met wat ons uit die Bybelse openbaring sou verwag. God het ons nie passief geskep om passiewe instrumente te wees nie, maar om medewerkers verbonde aan Hom te wees, om aktief betrokke te wees in die ontplooiing van Sy skepping. Hy het aan ons die mandaat gegee om te heers, te versorg en die skepping te kultiveer, nie as passiewe instrumente nie, maar as Sy ewebeeld.

God het ons nie soos fotokopieerders gemaak om passiewe ontvangers te wees van kennispatrone wat op ons afgedruk word deur ons ervaring nie. Hy het ons aan-Hom-verbonde deelgenote gemaak, as aktiewe medewerkers in die ontplooiing van die skepping. Die heel basiese grondslag van hierdie aktiewe ontplooiing is die aktiewe vormgewing van die patrone van ons kennis.

5.4 Konkrete en teoretiese kennis

Alle menslike kennis het sy begin by konkrete geheelkennis. Hierdie soort kennis is konkreet omdat dit kennis van bepaalde dinge, persone, diere, plante, gebeurtenisse of wedervaringe is. Die konkrete geheelkennis is 'n geheel omdat dit kennis van 'n volledige geheel is, byvoorbeeld 'n koei wat op 'n grasveld wei. Die twee: koei en grasveld, hoort bymekaar. Hulle vorm 'n konkrete geheel, o.a. 'n geheel in lewenssiklusse: die koei het die gras nodig om te leef, maar die gras het die koei nodig om te bly groei deur bemesting en deur kort gehou te word.

Waar dit in konkrete kennis om dinge as 'n geheel gaan, moet die geheel in baie spesifieke deelstelsels verdeel word om teoretiese kennis van elke deelstelsel te verkry, soos Descartes dit voorgestel het. Elke eienskappe van iets, soos grootte, vorm, afstand, lewenskrag, energie, asook op insigte tot verbandhoudende eienskappe soos snelheid en versnelling, word as afsonderlike deelstelsels teoreties beskryf. Vir teoretiese kennis van elke deelstelsel moet begrippe (konsepte) vir elke spesifieke eienskap ontwikkel word, soos begrip van maat, krag, massa en lading. Hierdie begrippe moet ons begripsmatig ontwikkel deur prosesse van abstraksie (onttrekking) uit die konkrete kennis. Die begrippe wat uit die konkrete abstraheer of onttrek word, word dan gebruik volgens ooreengekome reëls, gegrond op noukeurige definisies.

In ons teoretiese kennis word ons konkrete ervaring van die werking van die wêreld volgens universeel-(algemeen-) geldende teorieë en wette georden. In ons teoretiese benadering vereenvoudig ons die geheel deur in bogenoemde voorbeeld die koei en gras in afsonderlike wetenskapsdissiplines t.w. dierkunde en plantkunde, te skei. Bodemkunde, die medium waaruit die gras groei, vorm dikwels ook nog 'n afsonderlike dissipline. Dit beteken dat ons ons kennis oor die wyse waarvolgens die ervaringswêreld funksioneer, opbreek in afsonderlike teorieë en wette, om enige besondere en geskikte situasie te kan beskryf. Deur hierdie afsonderlike teorieë en wette verkry teoretiese kennis sy besondere krag om ons ervaringswêreld te orden. Daar moet egter ook koppeling tussen die verskillende teorieë wees om 'n geheelbeeld van die werklikheid te verkry. Ons verwys hier weer na die beeld van die koei (Dierkunde), wat op die gras (Plantkunde) wei, wat saam met Bodemkunde en Fisiologie 'n eenheidsbeeld moet gee.

'n Verdere eenvoudige voorbeeldvan formulering van teorie en wette is die volgende: Vanuit die raamwerk van konkrete ervaring sou die val van 'n appel na die grond, die gekromde baan van 'n bal in beweging deur die lug, en die beweging van planete in die hemelruim nooit tot die formulering van die swaartekragwet as oorsaak van die verskillende bewegings kon lei nie. Die formulering van hierdie belangrike wet was slegs vanuit die teoretiese kennisbenadering moontlik. In hierdie benadering word die probleem van beweging van die verskillende voorwerpe losgemaak van ons konkrete ervaring met appels, balle en planete en in die konteks van 'n formele begripsmatige benadering geplaas. Elke bewegingsprobleem word uitmekaar gehaal en in terme van formeel-gedefinieerde begrippe soos massa, verplasing, snelheid, versnelling, krag, en eweredigheid (o.a. in die swaartekragwet) volgens vasgestelde reëls en deur Newton se bewegingswette en swaartekragwet ontleed (geanaliseer). Daarna word elke beweging weer afsonderlik saamgestel (gesintetiseer) tot afsonderlike bewegings van die onderskeie voorwerpe .

In hierdie konteks word elkeen van die sleutelbegrippe presies en formeel gedefinieer, waardeur die betekenisse van die begrippe binne die raamwerke van die verskillende bewegings bepaal word. Die verskillende begrippe word dan in elke raamwerk gebruik om elke beweging afsonderlik te beskryf. In hierdie proses word aanvaar dat dieselfde bewegingswette en swaartekragwet vir al die bewegings geldig is, m.a.w. dat dieselfde wette oral in die heelal en vir alle tye geldig is. Dit is die eenvormigheidsbeginsel.

Hierdie voorbeelde illustreer dat uiteenlopende bewegings in die wêreld van ons konkrete ervarings aaneengeskakel kan word, hier deur die swaartekragwet. Dit alles illustreer nie slegs die sleutelrol wat abstrahering en formele begripsmatige stelsels (of wêreldbeelde) speel in die vorming van teoretiese kennis nie. Dit illustreer ook hoe ons ervaring van die werklike wêreld georden word deur universeel-geldige teorieë en wette.

Die eenvormigheidsbeginsel stel dan dat dieselfde reëlmatighede en wette van die natuur, wat op aarde waargeneem word, ook oral in die heelal geld en tydloos altyd dieselfde bly. Dieselfde kragte, wat 'n appel op aarde laat val, laat ook satelliete en die maan in bane om die aarde beweeg en is ook bepalend vir die beweging van die planete om die Son. Newton het hooflyne van die plan van die sonnestelsel aan die wêreld gegee, waarvolgens die sterrekunde en wiskunde vir die daaropvolgende 150 jaar verder ontwikkel het, gegrond op sy metode. Verskeie klein afwykings van die elliptiese bane van die planete is een vir een opgelos. Die finale sukses het in 1846 gekom toe Adams en Leverrier onafhanklik van mekaar die bestaan en posisie van 'n planeet verder weg van die Son as Uranus, uit afwykinge van Uranus se baan afgelei het. Sodoende kon Neptunus ontdek word.

Saamvattend: ons orden ons kennis omtrent die wyse waarop die ervaringswêreld werk (funksioneer) in teorieë en wette, wat geldig is vir enige geskikte en toepaslike omstandigheid. Sodanige teorieë en wette gee teoretiese kennis sy unieke en uitsonderlike vermoë om ons ervaringswêreld te orden en nuwe insigte te ontwikkel en sy krag om deur toepassings ons lewensomstadighede te verbeter.

Teoretiese kennis kan daarom van konkrete geheelkennis deur vier sleuteleienskappe onderskei word:

deur toespitsing 1) van teoretiese kennis op eienskappe,

2) op die gebruik van formele begripsmatige stelsels (of wêreldbeelde) om kennis te orden

3) op die abstrahering van begrippe, en

4) op die formulering van teorieë en wette wat 'n universeel-geldige beskrywing van die werking van die ervaringswêreld gee.

Teoretiese kennis gee aan ons vrugbare en ryke kennisvelde wat konkrete geheelkennis nie aan ons kan gee nie. Deur teorieë en wette, wat uit teoretiese kennis afgelei word, verkry ons 'n unieke en besondere insig in die wetsgeordende werking van die skepping, waardeur ons vir ons 'n meer vrugbare lewenswyse kan bewerkstellig.

Teoretiese kennis vervang egter nie konkrete geheelkennis nie en is ook nie verhewe bo konkrete geheelkennis nie. Dit is eenvoudig 'n ander soort van kenne. Teoretiese kennis is net so werklik (reëel) as konkrete kennis. Albei is konstruksies van menslike denke gewortel in die wetbeheerde skepping. Konkrete ervaring en teoretiese kennis is slegs dimensies of fasette van die samehangende multidimensionele geskape werklikheid. Nóg die een nóg die ander het enige betekenis in homself los van hierdie multidimensionele werklikheid.

5.5 Die aard van ervaring

'n Fundamentele aanname van die empiristiese skool is om ervaring gelyk te stel aan sintuiglike ervaring. Dit is egter 'n te eng siening van ervaring. Ervaring van abstrakte begrippe en formele begripsmatige stelsels van teoretiese kennis is net so 'n beslissende ervaring van die skeppingsordeninge (kosmiese wetsorde) as konkrete ervaring. Die abstraksie is 'n abstraksie uit die konkrete ervaring en nie uit die skeppingsordeninge nie. Die abstrakte aard van teoretiese kennis maak dit nie 'n ervaring van die wêreld wat uit die skeppingsordeninge geabstraheer is nie, maar 'n abstraksie in die geskape orde. Die aard van menslike konstruksie maak nie van teoretiese kennis 'n wêreld, wat verwyderd is van die skeppingsordeninge nie. Alles wat ons tot stand bring is in die skeppingsordeninge geleë.

Die wêreld van konkrete ervaring en die wêreld van teoretiese kennis is heg inmekaar verweef. Ons kan daartussen onderskei, maar ons kan hulle nie skei nie, omdat die abstraksies en formele stelsels van teoretiese kennis nie van die wêreld van konkrete ervaring losgemaak kan word nie. Hulle is gekoppel met ons ervaringswêreld en hulle waarde lê in die oplossing van probleme wat ons in ons konkrete ervaring teenkom.

Aan die ander kant, konkrete ervaring is nie 'n ander soort van primitiewe ervaring, wat nie deur teoretiese kennis beïnvloed word nie. Teoretiese kennis gee in mindere of meerdere mate 'n inhoud aan konkrete ervaring. So is dit die kennis van die moderne natuurwetenskap wat ons 'n donderstorm laat ervaar as 'n elektriese aktiwiteit eerder as die dondering van 'n god, of wat ons die simptome van griep laat ervaar as 'n virusinfeksie.

Vir baie eeue het die teoretiese kennis van Newton se meganika die Westerse wêreld daartoe gelei om gebeure in die wêreld in terme van meganiese oorsaaklikhede (kousaliteitsleer) te ervaar. Hierdie teoretiese beïnvloeding is nog daar, maar die kwantumteorie en verbandhoudende insigte in die twintigste eeuse Fisika en Chemie bring gaandeweg diepgaande veranderinge in die mense se konkrete ervaring teweeg.

Nóg die teoretiese kennis van Newton se meganika nóg die nuwe teoretiese insigte van die twintigste eeuse Fisika of Chemie is die werklike wêreld. Konkrete kennis gee ook nie daardie betroubare ervaring wat kontrolerend oor teoretiese kennis en insigte kan beslis om die werklike wêreld ten volle te leer ken nie. Kennis van die werklikheid en die betroubaarheid van teoretiese kennis is slegs moontlik as die skeppingsordeninge van die Woord van God die werklikheidswêreld van die mens transendeer. Deur hierdie transendering gee die kosmiese wetsorde samehangende betekenis aan alles in die skepping, ook aan die teoretiese kennis en insigte van die mens.

5.6 Die gerigtheid van teoretiese kennis

Deur sy abstrahering in terme van formele begripmatige stelsels, verkry teoretiese kennis sy unieke krag om ons kennis van hierdie wêreld te verryk. Daardeur kan ons 'n idee (indruk) van die omvang van die wetmatige orde van die skepping verkry wat vir ons verborge sal bly as ons ons kennis slegs uit konkrete ervaring aflei. Aan die ander kant, gerigtheid op spesifieke eienskappe van konkrete voorwerpe stel ons beter in staat om hulle eienskappe en onderlinge samehang van eienskappe weer te gee as wat met konkrete geheelskennis of teoretiese kennis bereik kan word.

Op grond van sy aard is teoretiese kennis gerig op universele patrone binne 'n relatief smal kennisgebied wat bepaal word deur die begripsmatige stelsel van 'n teoretiese dissipline. Dit is deur hierdie gespesialiseerde abstrakte gerigtheid dat teoretiese kennis sy kenmerkende krag verkry, wat geen vorm van konkrete kennis kan ewenaar nie. Terselfdertyd het dit ook sy beperkinge. Deur sy gespesialiseerde abstrakte gerigtheid in 'n smal kennisgebied van 'n dissipline word faktore, wat nie in die begripsmatige stelsel van teoretiese kennis inpas nie, buite rekening gelaat. Selfs al word al die moontlike verskillende smal gebiede van teoretiese kennis bymekaar gesit, kan die unieke kwaliteite van eie aard (individualiteit) van geskape dinge nie na behore deur teoretiese kennis in berekening gebring word nie.

'n Voorbeeld is die sonnestelsel. Die swaartekragwet en die drie bewegingswette van Newton se meganika vorm die begripsmatige stelsel vir die teoretiese beskrywing van die beweging van die planete om die Son. Hierdie stelsel word gevorm uitgaande van die begrippe massa, krag, afstand, snelheid en versnelling. Konkrete kennis soos grootte, materiële samestelling, temperatuur en intrinsieke rotasiebewegings van Son en planete speel geen rol in hierdie begripsmatige stelsel nie en word in die teoretiese beskrywing buite rekening gelaat. Trouens, die teoretiese beskrywing van die planete se bewegings het ook beperkinge. Die bewegings van al die planete om die Son kan nie gelyktydig in berekening gebring word nie, want dan word die wiskundige bewegingsvergelyking te kompleks om opgelos te word. Gevolglik word die beweging van elke planeet om die Son afsonderlik bereken, waarna die afsonderlike bewegings saamgestel word, met korreksies op elke planeet se beweging vir die invloed van die ander planete op hierdie planeet se beweging.