Wetenskapsleer (WNR311) vir Fisika en Chemie

Deel 5

Prof P. H. Stoker

Hoofstuk 10. Normatiewe bepalings en die natuurwetenskappe

10.1 Die kultuurmandaat en menslike gawes

Onder kultuur word alle menslike handelinge verstaan, dit wat die mens doen en wat hy dink, ook sy kennis en wetenskap. In die konteks van Genesis 1 het God aan die mens volmag gegee met die mandaat: "onderwerp die aarde" (Gen 1:28). Dit is die mandaat van God aan die mens om as God se medewerker te "heers oor die visse van die see, en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde" (Gen 1:26). Om hierdie mandaat te kan uitvoer, "(het) God die mens na sy beeld geskape…; man en vrou het Hy hulle geskape" (Gen 1 :27). God se verdere mandaat in Gen 1:28: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde" vloei voort uit die spesifiek-menslike taak om oor die aarde te heers en dit te onderwerp. Daar moet 'n taakmag oor die hele aarde ontplooi word. God bly die oppermagtige Heerser oor die werke van Sy hande nadat Hy die skepping op die sesde skeppingsdag voltooi het. Die mens is verantwoording aan Hom verskuldig.

Om die kultuurmandaat te kan uitvoer het God aan die mens baie gawes geskenk: 'n verstandelike gawe om te abstraheer en logies te dink en daarmee saam sintuiglike waarnemingsvermoëns om te hoor, te sien, te praat, te voel, te proe en te ruik. Op 'n hoër vlak as hierdie verstandelike en sintuiglike gawes het God ook aan die mens (1) 'n denkende vermoë gegee om te kan onderskei tussen waarheid en onwaarheid, (2) 'n sedelike vermoë gegee om te kan onderskei tussen goed en kwaad, en (3) 'n estetiese (skoonheids-) vermoë gegee om te kan onderskei tussen mooi en lelik. Hierdie hoër gawes kan nie deur sintuie, wat diere ook besit, waargeneem word nie, maar slegs deur die hoër kenvermoë van die mens.

Die mens se gedagtes, skeppinge en handelinge (sy vermoë tot kultuurvorming) geskied in terme van hierdie hoër gawes van waarheid, goedheid en skoonheid. Sy gedagtes, skeppinge en handelinge word gerig deur norme (maatstawwe). Norme het 'n outeur: óf die mens bepaal self wat die norme moet wees óf die mens aanvaar God van die Skrifte as die outeur en beoordeel sy gedagtes, skeppinge en handelinge in die lig van Sy Woord.

Waar die ware en goeie onderskeidelik op die denkende en die sedelike in die lewe betrekking het, het die skone geen eie inhoud nie, maar verkry sy inhoud altyd deur aanskouing of aanhoring van die ware en die goeie. Skoonheid openbaar hom in 'n groot verskeidenheid fasette in die daaglikse lewe van die mens. Skoonheidsgewaarwording sluit dan altyd skoonheidsgenietinge in, bv. natuurtonele, skilderye en musiek. Mense is tog nie bloot onaandoenlike toeskouers en aanhoorders in die wêreld nie. Alles wat ons deur ons sintuie waarneem, waardeer en beoordeel ons ook: Op die laer vlak deur die maatstaf (norme) van nuttigheid, bruikbaarheid, aangenaamheid, en op die hoër vlak volgens die norme van waar en onwaar, goed en kwaad, en mooi en lelik. So 'n beoordeling in die hoër sfeer vind weerklank in ons hart: daardeur word 'n gevoel van vreugde en instemming verwek of 'n gevoel van teleurstelling en afkeur. Die Skepper van alle dinge het 'n kostelike gawe in die waardering van skoonheid en die goeie aan sy mense geskenk.

Die estetiese (die skone, die mooie) is 'n norm, waarvolgens nie slegs menslike kultuurskeppinge beoordeel kan word nie, maar dit is ook 'n norm, waardeur die wetenskap as skeppinge van die mens uit ervaring en kennis beoordeel moet word (Afdeling 10.2). Die normatiewe word nader uitgewerk in 10.3, vanuit die skepping, die aard van kennis en die mens se mandaat tot verantwoordelike besluitneming in 10.4-10.6. Voorts, vandag word allerweë erken dat die aarde deur die skepping (evolusie?) voorberei is as tuiste vir biologiese lewe en inbesonder vir die mens. Dit is die antropiese beginsel, waaruit norme vir die beoordeling van die bestaan en werk van die mens afgelei word (Afdeling 10.7). Hierdie beginsel spruit voort uit die goedheid van God, wat die mens as Sy medewerker geskape het, en sluit aan by die funksionele. Laasgenoemde word toegelig in Afdeling 10.8, waar dit gaan om die aarde as woonplek van die mens. Daarna volg rentmeesterskap in 10.9.

10.2 Die estetiese (die skone, die mooie) en die ekonomiese (die eenvoud)

Die estetiese is 'n deel van die skepping. In Genesis 2:9a vind ons: "Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit". God se skepping is daarom nie alleen funksioneel ("lekker om van te eet") nie, maar ook esteties genotvol ("mooi om na te kyk"). Die mens kan die skepping van God geniet, ook deur sy natuurwetenskaplike ondersoeke en beskrywings.

Sowel in die eksperimentele natuurwetenskappe (soos atomiese en molekulêre fisika/chemie en biochemie) as in die waarnemende natuurwetenskappe (soos kosmologie en gedrag van diere), soek natuurwetenskaplikes die beste beskrywing uit 'n groot hoeveelheid en soms verwarrende data en gegewens. So 'n 'beste beskrywing' sal deur empiriese toereikendheid in ooreenstemming met algemene beginsels, ekonomie (eenvoud), elegantheid (die estetiese), en standhoudende (konsistente) bruikbaarheid bepaal word. So is bv. wiskundige eenvoud en skoonheid 'n erkende beoordeling van 'n juiste beskrywing van fisiese en chemiese prosesse en strukture. Telkens weer vind ons dat dit die getalmatige en die wiskundige beskrywing is, wat deur skoonheid, eenvoud en elegansie gekenmerk word, wat die wese van die fisiese en chemiese wêreld die beste beskryf. Die ekonomiese in God se skepping (niks oordadig, niks te veel, niks te min, uiters doelmatig) lê in sy eenvoud. Die skepping is mooi (esteties) in sy eenvoud.

In die natuurwetenskappe word die mens oorweldig deur die orde, meesterlike strukture en uitnemende skoonheid in die skepping van God, waarvan die geheimenisse daarin vervat, die menslike verstand vér te bowe gaan. Die grootste gawe aan die mens is 'n rasionele en 'n logiese denkvermoë, waardeur die mens die vermoë, alhoewel gebrekkig en deur die sonde benewel, besit om die rasionaliteit van die skepping te kan verstaan, en waardeur die mens sy roeping om die skepping te beheers, kan nakom. Daarmee saam het die mens die estetiese vermoë om God se skeppingswerk in sy oorweldigende skoonheid te geniet en God daarvoor te loof.

Die skepping van God is in terme van die simboliese logika van die wiskunde 'n majestueuse kunswerk. Wiskunde is 'n wetenskap van die logika met die getal as skeppingsgegewe. Die verbasend mooi wiskundige strukture wat die mens op grond van die logika ontwikkel, gebruik die wetenskappe in hulle beskrywing van eksperimentele waarnemings en lewenswerklikhede in terme van modelle (of metafore). In die eksakte wetenskappe is wiskunde die (abstrakte) taal vir die beskrywing van eksperimentele waarnemings, gebruikmakende van modelle (bv. die atoommodel vir materie of die golfmodel vir lig). Die rasionaliteit van die menslike denke moet daarom deel wees van (harmonies ingestem wees op) die rasionaliteit waarmee God die wêreld geskape het. Die rasionaliteit van God se skepping voorsien 'n asemberowende eenvoud en skoonheid in die skepping, vir sover die mens dit kan deurgrond en verstaan, en waarvan die mens gebruik kan maak in die nakoming van sy kultuurmandaat.

10.3 Die normatiewe in wetenskapsbeoefening

Die wetenskap wat ons vorm (kyk Afdelings 6.2 en 6.10) en toepas, moet aan maatstawwe voldoen. 'n Maatstaf is iets waarvolgens menslike handelinge beoordeel word. Kriteria, norme en standaarde is vorme van maatstawwe. 'n Verdere voorbeeld van 'n maatstaf is mate (bv, die maatband, die maatfles). Daar is onder andere ook letterkundige, juridiese, artistieke, sedelike en etiese maatstawwe.

Menslike handelinge word volgens morele standaarde beoordeel. Morele standaarde hou verband met en is gebaseer op die beginsels of reëls onderliggend aan goeie en korrekte gedrag. Sedes is gewoontes, gebruike, en geoorgeloofde gedrag, terwyl Sedeleer die leer is van wat goed en kwaad is; die wetenskap van sedelike beginsels en wette. Die wet van God, soos God dit in die Bybel aan die mens openbaar, omvat die morele opdragte aan die mens. Die Tien Gebooie vat hierdie opdragte saam.

Etiek(afgelei uit die Griekse woord ethikos, wat sede beteken) is die wetenskap wat oor die sedelike gedrag, pligte en waardes handel. Dit is die wetenskap van sedelike norme of wette; van sedeleer, van die leer van die ideale menslike karakter en van die ideale doel en strewe van menslike handelinge (uit WAT).

Normis dit waaraan iets getoets of gemeet word of waarvolgens iets beoordeel word, soos 'n maatstaf of standaard; terwyl Normatief beteken normgewend, die vasstelling van standaard reëls, wat voorskriftelik geld.

Normaalis die gewone, volgens die reëls, soos ons die natuur leer ken. Dit is normaal dat 'n kat vier pote het. 'n Kat met vyf pote is abnormaal. As 'n kat blind is, is dit abnormaal, maar as alle katte blind sou wees, sou blinde katte die normale gewees het. Dit noem ons bestaans-(eksistensiële) norme. Hierdie norme word uit ons daaglikse lewenservaring en eksperimentele waarnemings afgelei.

Wetenskaplike kennis is persoonlike kennis, omdat dit onlosmaaklik verbind is aan 'n persoon se selfstandige beoordeling. Tog is persoonlike beoordeling nie 'n saak waaroor elke bepaalde individu volgens sy eie insigte alleen kan besluit nie, want die beoordeling word besleg binne die kader van kollegiale gemeenskappe van natuurwetenskaplikes en het 'n universele (algemeen-geldende) strekking. Daarom dat wetenskaplike kennis nie normvry (waardevry) is nie - daar bestaan reëls waaraan wetenskaplike kennis moet voldoen.

Die normatiewe bepalings in die skepping leer natuurwetenskaplikes ken deur hul ervaring, wat hulle deur waarneming, eksperiment en teoretiese beskrywing verkry. Die volgende normatiewe bepalings volg uit hierdie ervaring:

(1) Ons kennis is gegrond in ons ervaring van die werklikheid. Menslike faktore is egter medebepalers in die vorming van wetenskaplike kennis, maar hierdie faktore bepaal nie wat hierdie kennis sal wees nie. Vorming van wetenskap word sosiaal beïnvloed, maar word nie sosiaal bepaal nie (kyk Hoofstuk 6).

(2) Natuurwetenskaplikes beskryf die werklikheid vanuit hulle ervaring en 'n heersende paradigma. Geen beskrywing gee die werklikheid in alle detail weer nie, maar beskryf slegs 'n struktuur van die werklikheid op 'n beperkte skaal en uit 'n bepaalde gesigshoek. Soos ons deur ervaring (waarneming, eksperiment en teorie) die werklikheid voortgaande beter leer ken, kan ons die werklikheid in al hoe fyner detail benader, maar ons kan nooit tot die volle omvang van die werklikheid kom nie vanweë ons beperkte en gebrekkige insigte.

(3) Nuwe en onverwagte verskynsels het al dikwels 'n begripmatige wysiging of selfs 'n geheel en al nuwe denkwyse genoodsaak. Daarom dat natuurwetenskaplike bevindings slegs tydelik en voorlopig kan wees. Vir Newton met sy deterministies-meganistiese beskrywing was die fisiese wêreld helder en duidelik. Sy gebeurtenisse het in 'n reëlmatige vloei van tyd plaasgevind. Vir sy twintigste eeuse opvolgers is die kwantummeganiese fisiese wêreld newelagtig en onvoorspelbaar, terwyl die verloop van tyd en gelyktydigheid afhang van die toestand van beweging van die waarnemer.

(4) Natuurwetenskaplikes word in hulle ondersoekinge beloon deur ontdekking van rasionele skoonheid, die estetiese, van die fisiese en biologiese wêreld. Hierdie rasionele skoonheid, wat natuurwetenskaplikes telkens weer ontdek in fisiese en biologiese strukture, gee 'n gevoel van verwondering en gewaarwording van die bestaan van norme (waardes) in die skepping.

(5) Natuurwetenskaplik word die natuur in eenvoud rasioneel-logies beskryf (deur deelteorieë) te midde van 'n ondeursigtige ingewikkeldheid van strukture en prosesse.

(6) Daar is die misterie van 'n veelvlakkige werklikheid (kyk Afdeling 9.4) wat natuurwetenskaplikes vind in 'n wêreld wat tegelyk ordelik, mooi en goed is.

(7) Wiskundig word die fisiese wêreld deur elegante en ekonomiese (relatief-eenvoudige) teorieë beskryf. Telkens weer vind ons dat dit vergelykings met wiskundige skoonheid (die estetiese) en doelgerigtheid (die ekonomiese), wat die eksperimentele wêreld beskryf. Wiskundige skoonheid en doelgerigtheid blyk kenmerkend vir die beskrywing van fisiese en chemiese prosesse en strukture te wees.

(8) Agter die menslike ervaring van skoonheid en doelgerigtheid sien die Bybelgelowige die Skepper se vreugde in Sy skepping.

Behalwe vir hierdie normatiewe bepalings, wat ons uit ons waarneming en ervaring uit die natuur leer ken, bestaan daar ook reëls of norme waarvolgens ons ons kennis moet toepas. Die norme wat ons aanvaar, het 'n outeur. As dit die God van die Skrifte is, bepaal onder andere die Tien Gebooie die norme waarvolgens ons ons kennis sal toepas. Volgens die Grondwet van die RSA is dit die Beginsels van Menseregte wat ons optredes in die toepassing van ons kennis bepaal.

10.4 Meensgerigte norme

Deur die rasionalisme van die Verligting is die natuurwetenskappe tot vroeg in die twintigste eeu al hoe meer losgemaak van die vraag na die betekenis van die menslike bestaan. Gedurende die twintigste eeu het dit geblyk dat kennis verkry in die empiriese wetenskappe nie op dieselfde wyse geformaliseer kan word as logiese en wiskundige stelsels nie (kyk besprekings in o.a. Afdeling 6.6). Daardeur het belangstelling vir die menslike faktor in wetenskapsvorming ontstaan (kyk ook Afdeling 6.9). Gedurende die afgelope dekades het die mens tot die oortuiging gekom dat daar iets skort met die empiriese metode. Hierdie besef het uit die ontnugtering gegroei dat, waar die bedoeling met die wetenskap was om die mens deur die tegnologie te dien, dit tegelykertyd die wesenlike van menswees bedreig het.

Op die vraag: 'watter plek moet die wetenskap in die menslike samelewing inneem?' kan die antwoord wat die Verligting op hierdie vraag gegee het, kort saamgevat word met: 'die wetenskap moet in diens van menslike vryheid wees'. Uit hierdie antwoord blyk dit dat die beoefening van die wetenskap gerig word deur 'n selfopvatting van die mens. Vir die Verligting gaan dit in die menswees om 'n mondige mens, 'n mens wat vry is om sy hede en toekoms self te bepaal. Hiervolgens moet die wetenskap dan funksioneer (kyk Afdelings 4.1, 4.2 en 4.7).

Vryheid beteken vir die Verligtingdat die oorsprong van norme (waardes) en die betekenis van menslike bestaan in die mens self, in sy bedoelings, geleë is. Vryheid is in selfbestuur en selfskepping geleë. Rasionaliteit is enersyds instrumenteel vir die realisering van hierdie vryheid, vir die beheersing van die werklikheid. Dit bepaal die pad waarlangs die mens mondig word en sodoende vry word. Andersyds is rasionaliteit verbind met die ideaal van vasstaande kennis. Juis met die oog op die ideaal van vasstaande kennis word rasionaliteit steeds meer geformaliseer tot logiese strukture. Die voorveronderstelling is dat die werklikheid in beginsel voorspelbaar is. Onlangse wetenskaplike bevindings verseker ons egter dat die werklikheid vanuit homself in beginsel onvoorspelbaar is, en dat in die werklikheid orde steeds opnuut uit chaos vorm (kyk Afdeling 9.2). Dit beteken dat die wetenskap self in beginsel onvoorspelbaar is, d.w.s die wetenskap kan nie die verloop van prosesse voorspel nie.

Die verligtingsdenkers het probeer om 'n suiwer rasionele basis aan die opvattinge van normatiwiteit te gee. Hulle het egter nie daarin geslaag nie omdat (1) deur die formalistiese benadering van die rasionaliteit in die wetenskap hulle die wetenskap losgemaak het van sy menslike verbondenheid, en (2) in 'n strewe na mag oor die natuur en samelewing 'n intrinsieke normatiewe begrensing ontbreek het. Etiek was bepaal deur persoonlike voorkeure en is daarmee aan menslike willekeur oorgelaat. Die mens se selfopvatting het losgestaan van die werklikhede in die samelewing. Gevolglik is vir die hedendaagse mens die betekenis en norme vir sy bestaan geleë in sukses, self-ontplooiing en selfbelewing.

10.5 Verantwoordelike besluitneming

Al die skeppende aktiwiteite van die mens is kultuur. Alles wat die mens aanraak, word kultuur: As hy wol aanraak, word dit klere; as hy fisiese klanke aanraak, word dit taal en musiek; as hy ertse aanraak, word dit minerale en allerlei materiale vir menslike gebruik; as hy grond aanraak, word dit voedsel vir mens en dier; orals waar hy die natuur aanraak, word dit kultuur. Kultuurwerk is saamgestel uit al die skeppende (en vernietigende) werksaamhede van die mens.

Vanuit die perspektief van die mens as rentmeester (beheerder - kyk Afdeling 10.9) en vanuit die korrekte etiese motief, behoort die mens se doen en late aan 'n groot aantal norme te voldoen. Dit beteken dat die mens deur sy kultuurwerk aan die skepping diensbaar moet wees en op die belang van die skepping gerig moet wees, altyd tot eer van God.

Wat ons as verantwoordelike optrede of handelinge ten opsigte van die natuur beskou, sal afhang van ons denkbeeld van die natuur. As ons die natuur mitologies sien, sal ons daarmee allerlei gode assosieer en die natuur met omsigtigheid benader, dikwels eers na raadpleging met 'n toordokter. As ons die natuur tot diens van die mensheid sien, sal ons dit onverskillig benader en dit manipuleer om aan ons onmiddellike behoeftes te voldoen. As die natuur die moederskoot is, wat deur evolusie aan ons geboorte gegee het, sal ons dit met gewaardeerde naverwantskap benader. As die natuur 'n skepping van God is, sal ons dit as godgegewe respekteer en dit beskerm en versorg.

Die natuur is 'n ingewikkelde werklikheid en ons begrip van ons verhouding tot die natuur moet dan ooreenstemmend ingewikkeld, uiteenlopend en genuanseerd wees. Net so is alle probleme met betrekking tot die versorging van die omgewing baie ingewikkeld. Telkens is daar twee kante: die voordeel van die mens en die impak op die natuur. Die huidige afwesigheid van enige ooreengekome morele grondslag vir besluitneming in ons hedendaagse samelewing het die debat oor etiese aangeleenthede (bv. die gebruik van kernenergie) laat ontaard in emosionele aansprake van individuele menings.

Die wetenskap het 'n wêreldbeeld aanvaar waarin daar geen plek vir God is nie. Daarmee is daar ook geen plek meer vir religieus-begronde norme nie. Jacques Monod skryf: "ons plig is nie meer êrens opgeskryf nie". Slegs die verstand kan as maatstaf aanvaar word. Mettertyd het dit geblyk dat die uiteindelike maatstaf geheel en al van die doel waarmee dinge gedoen word, afhang. Die doel is daarom vandag dikwels die beslissende maatstaf.

Die wegdoen van die transendente, die religie, in die moderne samelewing het verder meegebring dat die samelewing nie meer kan besluit oor vrae met betrekking tot lewe en dood nie, soos vrugafdrywing, genadedood, kloning, en genetiese inginieurswese. Daar is nie meer die religie-gebaseerde morele basis vir besluitneming nie. Wat kan nou die basis wees om sodanige besluite te neem? Is die verstand, die mening van die meerderheid, die model van die natuur of funksionaliteit voldoende?

Dit is die onbeheerste gebruik van tegnologiese vermoë wat beskikbaar gekom het deur natuurweten-skaplike ontdekkings, wat die mens se tussenkoms in die natuur op 'n wêreldwye vernietigende skaal moontlik gemaak het. Daarom het die natuurwetenskappe en natuurwetenskaplikes 'n onmisbare rol om te vervul in 'n ingeligte debat en in verantwoordelike besluitneming by vorming van kultuur, aanlê van stede, dorpe, nywerhede, ensomeer.

Natuurwetenskaplike kennis gee aan die gemeenskap 'n vermoë, wat ten goede of ten kwade gebruik kan word. Dit is egter nie die alleenreg van die gemeenskap om die kennis na goeddunke te gebruik nie. Die natuurwetenskaplikes het 'n ewe groot etiese verantwoordelikheid in die gebruik van die kennis. Die natuurwetenskappe is nie norm- of waardevry in die sin dat die natuurwetenskappe eties neutraal is en beperk is tot vrae in die ontginning van die kennis en ontdekkings nie. Dit is slegs die deskundiges wat 'n ingeligte skatting kan maak van die moontlikhede en gevolge van die gebruik van natuurwetenskaplike kennis en insigte. Die etiese besluite kan egter ook nie aan die deskundiges alleen oorgelaat word nie. Daar moet 'n breë inspraak in besluitneming wees, ook onder andere vanuit ekonomiese oorwegings.

10.6 Die skepping, menslike kennis en normatiwiteit

In Genesis 1 word verskillende uitdrukkings gebruik om die skeppende handelinge van God aan te dui. Lig word tevoorskyn geroep, water word van water en lig word van duisternis geskei, grense word vasgestel tussen die see en droë grond, die aarde word opgeroep om allerlei plante voort te bring - en so het dit gebeur. In die volgende drie skeppingsdae word alle lewende wesens volgens hulle soorte geskape, ook die mens, man en vrou. In die eerste drie skeppingsdae het God die anorganiese materiale tesame met water geskep en daarna organiese materiaal (plante) uit die anorganiese stowwe laat voortkom as voedsel vir lewende wesens, wat later op die vyfde en sesde dae geskep is. Die verskillende uitdrukkings dui elkeen op 'n eiesoortigheid van verskeie skeppingshandelinge: skep uit niks, vormgewing aan rou materiaal, ordening van wat na chaos lyk, lewende prosesse volgens eiesoortighede laat begin, en die toekenning van gesag aan die mens om te heers oor ander skepsele. Maar die liefde en sorg van God is aan al hierdie fasette van die skepping verbonde: 'Toe het God gekyk na alles wat hy gemaak het, en dit was baie goed' (Gen 1:31)

Aan die mens is 'n spesiale plek in die skepping gegee (o.a. Ps 8). Handhawing en uitbouing van ordelikheid in die natuur, doel en voleinding in die skepping volgens die raadsplan van God, is deel van die mens se roeping. Daar bestaan 'n diepgaande harmonie tussen die rasionaliteit van die mens se insig en begrip en die rasionaliteit van die wêreld (die heelal). Anders was die vorming van wetenskap nie moontlik nie. Die beoefening van wetenskap is daarom 'n van God gegewe roeping. Hierdie harmonie word egter verduister en dikwels vernietig deur die sondige hebsug van die mens.

Menslike kennis is self deel van die skeppingswerklikheid want vorming van kennis is self 'n skeppingsaktiwiteit. Kennis is kennis van 'n unieke individu en is as sodanig self uniek. Kennis is afhanklik van omstandighede, is oop in tyd en in ontwikkeling en het ook 'n kulturele en samelewingskarakter.

Menslike kennis het 'n eie aardwat die mens van die dier onderskei. Een van die belangrike kenmerke van die mens is dat hy 'n besef van normatiwiteit het: van wat mag en wat nie mag nie. Dit geld nie slegs dit wat hy self doen of nie doen nie, maar dit geld die geheel van die werklikheid van sy ervaringswêreld. Ons onderskei byvoorbeeld implisiet of eksplisiet tussen wat normaal is en wat nie. 'n Kalf met twee koppe en vyf pote is nie normaal nie. Ons onderskei ook tussen normale en abnormale gedrag. 'normatiwiteit' is egter veel meer as afwykings van dit waaraan ons gewoond is of wat ons as normaal aanvaar. Ons het ook 'n besef van die innerlike kwaliteit en betekenis van dinge en van ons eie bestaan. Normatiwiteit en kwaliteit behoort bymekaar as twee kante van dieselfde saak.

As Christus die Here van die hele skepping is, is Hy ook Here van die norme van die mens se kulturele en sosiale lewe. Sy Woord is hier die rigtinggewende gesag net soos op elke lewensterrein. Moderne sekularisme aanvaar nie die idee van 'n universele normatiewe gesag nie omdat dit geen wet vir menslike kennis behalwe die wet van menslike ervaring aanvaar nie. Daar bestaan geen universele faktor binne menslike ervaring waarop 'n beroep gedoen kan word om uit te maak wat normaal (normatief) is, of wat reg of verkeerd is nie. Dieselfde probleem ervaar ons as ons probeer om die Woord van God op 'n rasionele wyse as 'n gesag binne menslike ervaring te laat geld. As ons daarenteen die Woord van God in die geloof erken as die openbaring van skeppingsverordening, dan erken ons 'n universele normatiewe gesag wat ons individuele en kulturele beoordelings bepaal. Dit beteken dat ons beredenerings sowel as ons oortuigings, wat oa. deur ons ervaring gevorm word, telkens weer getoets moet word aan die gesagvolle Woord van God. Die Woord van God is dan dié universele normatiewe gesag waaraan alle voornemende menslike handelings beoordeel moet word.

10.7 Die antropiese beginsel

Op grond van twee algemene waarnemings het natuurwetenskaplikes tot die gevolgtrekking gekom dat die skepping sodanig gevorm is dat lewe en in besonder menslike lewe op aarde moontlik is. Hierdie gevolgtrekking word deur die antropiese of menslikheidsbeginsel ondervang. Die eerste waarneming is dat in die fisiese beskrywing van die natuur daar 'n aantal konstantes voorkom, wat nie deur die teorieë bepaal word of bereken kan word nie maar wat uit eksperimentele waarneming volg, bv. die massa, m, van 'n elektron, die massa van 'n proton, die waarde e van die elektriese ladingseenheid van elektrone en protone, Planck se konstante h, elektriese permitiwiteit e0 en magnetiese permeabiliteit,m0 , van die vakuum, en andere. Hierdie konstantes word fundamentele konstantes genoem.

Hierdie konstantes het presies die regte waardes sodat biologiese lewe op aarde moontlik is. Dit is hierdie konstantes wat die sterkte, waarmee atome met mekaar tot molekule verbind, bepaal, sodat biochemiese reaksies vir lewe van plant en dier en van die mens moontlik is. Hierdie verbindingsterkte word deur die energie, waarmee 'n valente elektron in 'n atoom verbind word, bepaal. Hierdie energie word gegee deur

Dit is die bindingsenergie van 'n valente elektron in 'n energietoestand met hoofkwantumgetal, n, aan 'n atoom met atoomgetal Z en met Z-1 elektrone om die atoomkern. Let op dat hierdie energie sterk afhanklik is (in die vierde mag) van die waarde van die elektronlading (e4) en (in die tweede mag) van Planck se konstante (h2) en van permitiwiteit (e02). Klein veranderinge in die waardes van hierdie konstantes sal die biochemiese reaksies in lewende wesens versnel of vertraag of glad nie meer laat plaasvind nie.

Fundamentele konstantes bepaal ook die warmte wat die son uitstraal sodat die temperatuur op aarde, met die afstand wat die aarde vanaf die son weg is, reg vir lewe is. Een hiervan is die swaartekragkonstante G van die swaartekragwet F = G mM/r2.

Laasgenoemde is deel van die tweede waarneming, nl. dat fisiese omstandighede op aarde presies reg is om lewe op aarde moontlik te maak. Die samestelling van die aarde se atmosfeer met die regte mengsel van koolsuurgas, suurstof en stikstof, met spoorstowwe soos osoon en water met hul besondere eienskappe en voorkoms, is alles net reg vir lewe op aarde.

Kon alles per toeval deur natuurprosesse so ontstaan of daartoe ontwikkel het? Die antwoord van die fisiese en chemiese wetenskappe op hierdie vraag is nee. By ontleding van die tweede waarneming vir die antropiese beginsel blyk dit dat die kanse vir omstandighede wat lewe op aarde moontlik maak, so klein is dat sou alles deur evolusie per toeval ontstaan het, die heelal nog baie grootteordes ouer moes wees as wat die huidige kosmologiese berekeninge toelaat.

Op grond van die antropiese beginsel bestaan daar 'n verband tussen die waargenome fisiese en chemiese strukture en wette en die bestaan van bewustelike menslike wesens, 'n verband wat nie toevallig kon ontstaan het nie. Dit beteken dat die aard en vorm van fundamentele wette in die Fisika en Chemie in terme van doelmatigheid verklaar moet word, nl. dat hierdie wette aan die doel moet beantwoord om die bestaan van bewustelike waarnemers van die skepping van God moontlik te maak.

Anders as in die Oosterse godsdienste vind ons dat 'n Goddelike doel en bedoeling met die skepping, en daarmee saam die skeppingsopdrag aan die mens, oorheersend in die Bybel is. Die skeppingsverhaal in Genesis 1 gee aan die antropiese beginsel 'n geheel en al ander betekenis as daar aan die einde van die eerste vyf skeppingsdae telkens gestel word: "Toe sien God dat dit goed was". Opmerklik is dat aan die einde van die sesde skeppingsdag nadat Hy die mens geskape het, daar staan: "Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en - dit was baie goed".

10.8 Die aarde as woonplek vir die mens

Die aarde is die grootste van alle kosmologiese en wetenskaplike raaisels, het Lewis Thomas in die uitgawe van Discover van April 1981 geskryf. Hy vervolg dat hierdie voorwerp wat om die son wentel, sy eie suurstof, die suurstof wat ons inasem vervaardig, sy eie stikstof uit die atmosfeer haal en dit in die grond sit en wat 'n unieke weerstelsel het, waarvan ons maar min verstaan. Slegs op hierdie planeet is lewe in die ganse heelal gevind, en watter groot en wonderlike verskeidenheid van lewensvorme bestaan daar nie op die aarde nie, vanaf mikroskopiese organismes tot die mens, die mees uiteenlopende lewensvorme wat deur baie verskillende en ingewikkelde stelsels onderhou word. Indien hierdie lewensvorme vanself en toevallig uit dooie materie moes ontwikkel, sou daar miljarde jare vir hierdie ontwikkeling toegelaat moet word. Die natuurwetenskappe het egter nog geen bewys kon vind dat lewe en al die uiteenlopende lewensvorme uit lewenslose materie kan ontwikkel nie.

Die onderskeie toestande wat vir lewe op aarde noodsaaklik is, is net reg vir lewe, soos die hoeveelheid lig en warmte, wat vanaf die son ontvang word. Die aarde ontvang slegs 'n klein deeltjie van die son se energie, maar dit is net die regte hoeveelheid om lewe op aarde moontlik te maak. Oral in die aardkors is daar radioaktiewe elemente, wat deur radioaktiewe verval warmte aan die aardkors gee. Hierdie radioaktiewe verhitting van die aardkors is presies voldoende om die verlies aan warmte deur uitstraling na die buitenste ruimtes te balanseer sodat die oppervlak van die aarde by 'n vaste temperatuur, waarby lewe moontlik is, kan bly.

Die aarde bevat 'n ontsaglike voorraad water. Water het unieke eienskappe, wat vir lewe noodsaaklik is. Geen ander stof het daardie besondere eienskappe nie, bv. dat ys op water dryf. Dit verseker dat lewe in water kan voortgaan al vries die water van 'n dam, of 'n meer of die see. Water kom in groter oorvloed as enige ander stof op die aardoppervlak voor. Een van water se talle nuttige eienskappe is dat dit as 'n gas (waterdamp), 'n vloeistof (water) en 'n vastestof (ys) voorkom - almal binne die temperatuuruiterstes van lewe op aarde. Deur sy hoë latente warmte word onder andere uiterstes in aardtemperature voorkom. Hierin speel ook die groen kleur van plante 'n belangrike rol. Water is ook uiters geskik om die duisende grondstowwe wat as voedsel van mense, diere en plante noodsaaklik is, in bloed of in plantsappe op te los en na lewendige selle te vervoer.

Die atmosfeer, wat die aarde omring, is ook uniek om lewe op aarde moontlik te maak. Ruimtevaarders het spesiale ruimtepakke nodig om in die buitenste ruimte aan die lewe te bly. Maar ruimtepakke is nie op aarde nodig nie. Ons atmosfeer beskerm ons van die lewensgevaarlike ruimte daar buite en bevat net die regte samestelling van gasse om lewe op aarde moontlik te maak. Sonder suurstof sal mense en diere binne minute doodgaan, maar suiwer suurstof is giftig as dit te lank ingeasem word. As daar te veel suurstof in die atmosfeer was, sou brandbare stowwe hoogs ontvlambaar word. Daarom dat suurstof met stikstof verdun moes word. Die klein persentasie koolsuurgas in die atmosfeer is noodsaaklik vir plante, maar te veel koolsuurgas is weer nadelig vir mense en diere.

Grondweer het eienskappe wat noodsaaklik vir plantegroei is. Plante omskep chemiese elemente in die grond in vorme, wat deur die liggame van mense en diere opgeneem kan word. Klein lewende organismes in die grond help hiermee. Daar is miljoene van hulle in 'n teelepel grond. Die aarde het 'n verbasende herstelvermoë na droogtes, brande, natuurrampe en besoedeling deur die mens. Die ineengeskakelde selfhandhawende stelsels van die aarde kan nie gebruik word vir ouderdomsbepalinge nie. Wat wel hieruit afgelei kan word is dat die aarde inderdaad deur die Skepper as 'n tuiste vir die mens voorberei is.

Dat alles so funksioneel geskape is, vervul ons met verwondering oor die wysheid van die Skepper van die heelal en die aarde met alles daarop. Maar dit gee ook aan die natuurwetenskaplikes saam met ander vakdissiplines die wonderlike uitdaging om die geheime in die skepping te ondersoek en te verstaan, en die kennis te gebruik volgens die skeppingsopdrag aan die mens in Genesis 1:26-28 (om te heers as verteenwoordiger van God) en Gen.2:15 (om te versorg en te bewerk).

10.9 Rentmeesterskap (beheerder)

God se skeppingswerk kom in Genesis 1 na vore as 'n majestueuse bemagtiging van orde en struktuur met inherente skoonheid. Die skepping is 'n kunswerk by uitnemendheid. Hiervan getuig byvoorbeeld die menslike en dierlike samelewings wat met hulle inherente ordeninge en strukture by hulle natuurlike omgewings funksioneel aangepas is, nie evolusionisties nie, maar skeppingsmatig. Benewens om te beheers (Gen. 1:26-28) het die mens ook die mandaat om te bewerk (Gen. 2:15), dit is om kultuur te vorm, en om die skepping met sy inherente skoonheid en strukture te versorg ('op te pas': Gen. 2:15). Dit is God se kultuurmandaat aan die mens.

Die mens het deur die kultuurmandaat 'n verantwoordelikheid van God ten opsigte van die natuur en alles en almal wat op aarde lewe ontvang. Dit beteken nie dat die mens heer en meester van God se skepping is nie. Die mens is niks meer as rentmeester, of beheerder, nie. Die rentmeesterskap behels sowel 'n persoonlike as 'n gemeenskaplike verantwoordelikheid. Die mens moet aan God verantwoording doen oor wat hy as rentmeester doen. Hierdie verantwoordelikheid is gebonde aan o.a. wetenskaplike, tegniese, ekonomiese, en politieke faktore, faktore waaraan die mens in sy doen en late gebonde is. Etiek is die wetenskap van hierdie verantwoordelikheid van die mens en is 'n onderdeel van Filosofie. Etiek is die leer van die ideale menslike karakter en die ideale doel en strewe van menslike handelinge (Woordeboek van die Afrikaanse Taal - WAT).

'Bewerk' beteken om van die moontlikhede, wat die skepping bied, te ontwikkel en te benut, as beelddraer van God tot eer van die Skepper. 'Op te pas' hou in dat die mens enige kwaad, die sonde, van die aarde moet afweer (weg hou). Daardeur het ons die Godgegewe taak om byvoorbeeld gesondheid (geestelik sowel as fisies) by mens, dier en plant te bevorder. Die bevordering van gesondheid by dier en plant moet eerstens gemotiveer word om te sorg vir gesonde plante en diere en tweedens om gesonde plante en diere as voeding vir mens en dier te verseker. Die motief om te oes bestaan naas die Godgegewe taak om op te pas en te versorg. Oes en nogeens oes lei tot roofbou, terwyl om op te pas en te versorg 'n gesonde grondslag vir die landbou is. In landbou is die regte etiese motief om te oes, op te pas en te versorg. Die beheersingsmandaat aan die mens hou in om aandag te skenk aan die enorme rykdom van plante en diere in die wêreld en die verdere verryking daarvan. Ons moet ook steeds probeer om dit wat ons in die plante- en dierewêreld deur menslike aktiwiteite en deur natuurrampe verloor het, weer terug te kry.

Hoofstuk 11. Aanwending van fisika, chemie en tegnologie

11.1 Die mens as heerser - 'n oorsig

In die tuin van Eden was daar voor die sondeval nog harmonie tussen mens en natuur. Die mens het die natuur nie as 'n bedreiging ervaar nie. Na die sondeval verander dinge drasties. Die mens se verhouding met God en met die natuur is versteur. Sy medemens en die natuur word vir hom 'n bedreiging. Hierdie bedreiging word in primitiewe denke gesien, waarvolgens die natuur beheers sou word deur vreemde magte, wat in gode gesetel is. Die mens moet hom dan na die natuur skik en mag nie daarop ingryp nie, maar kan deur allerlei magies-rituele handelinge sorg dat die natuurgode nie ongunstig gestem word nie. Hierteenoor is in die antieke Griekse wêreld die werklikheid as 'n organiese geheel gesien, waarin alles, ook die mens, 'n vaste plek het wat nie versteur mag word nie. Dit kom na vore in die mitologieë van die antieke Grieke. Vanaf 600 v.C. het die opvatting posgevat dat die mens met sy rede die gebeure in die wêreld kan verstaan. Dit is hierdie geloof in die mens se rede wat later in die Westerse wêreld tot 'n absolute vertroue in die wetenskap gelei het.

Na die Renaissance het die mens self skepper en beheerser van die werklikheid geword. Die abstrakte kennis van die wetenskap word as die volle en ryke kennis van die werklikheid beskou. Die mens het homself begin sien as volstrek selfstandig, beslisser van sy eie heil en bewerker van sy eie toekoms. Die gevolg was dat die natuur gesien is as 'n objek, waaroor die mens volgens sy eie denke kan besluit. Sy tegniese mag oor die natuur het die mens begin gebruik om beter huise en voedsel te bekom, om welvaart te skep, beweegliker te word, kommunikasie te verbeter, gevare soos siektes te bekamp en om op allerlei wyses die lewe te veraangenaam en te vergemaklik. Dinge waaroor vroeër nie gedroom is nie, is vandag alledaagse werklikhede.

Vandag is die uitgangspunt dikwels dat alles wat met die tegniek gedoen kan word, ook gedoen mag word. Op die ekonomiese terrein word die winsmotief verabsoluteer (dit wil sê dat dit nie net gaan om wins te maak nie). Onder invloed van ekonisme (oordrywing van die ekonomiese faset van die lewe) word kunsmatige behoeftes geskep deur konsumpsinisme. Hiervoor word die tegniek in diens geneem. Ook gaan politieke magte dikwels 'n verbond met nywerheidsmagte aan tot beheersing van die samelewing en tot politieke doelwitte.

Die Hervorming het die mens as 'n deur-God-geroepe mens gesien, 'n mens wat van God afhanklik is en wat aan Hom verantwoording verskuldig is. Christelike verantwoording sluit die eis tot diens en tot rentmeesterskap in. Kenmerkend van die mandaat in Gen 1:26, 28 is dat die dienskarakter voorop in die mens se kultuurmandaat staan. Onverantwoordelike uitoefening van hierdie mandaat word in die Bybel duidelik afgewys. Die mens as dienskneg en rentmeester is geen outonome (outo=self, nome=wet) heerser nie, maar is in beoefening van sy tegniek aan menslike en goddelike norme gebonde. Alles wat kan, mag nie alles nie. By wat kan, moet steeds ook gevra word of dit mag of behoort gedoen te word. Dit staan lynreg teenoor die humanistiese siening dat tegniek self sy eie norm bepaal, 'n argument wat vandag deur voorstaanders van genoomklowing by die mens gebruik word.

11.2 Fisika, die natuurwetenskappe en tegnologie

Die fisiese, chemiese en tegnologiese wetenskappe staan in noue verbintenis met mekaar. Waar Fisika en Chemie kennis ontgin omtrent die fisiese en chemiese eienskappe van dinge, is hierdie kennis die basis van tegnologiese ontwikkeling. Gevolglik moet tegnoloë kennis hê van die fisiese en chemiese eienskappe van dinge voordat hulle kan begin ontwerp. Omgekeerd stel nuwe tegnologiese ontwikkelinge die fisiese en chemiese wetenskappe in staat om nuwe kennis te ontgin, wat weer tot verdere tegnologiese ontwikkelinge lei.

Fisika het tot 'n groter mate 'n universele fokus as die ander natuur- en tegnologiese wetenskappe. Fisika is ingestel op die verkryging van universele (oral geldende) kennis omtrent die fisiese dimensie van die werklikheid. Daarenteen is tegnologiese wetenskappe sterk gerig op geïndividualiseerde kennis, d.w.s. kennis omtrent 'n spesifieke voorwerp en van die omgewing wat dien ontwikkel te word.

Die natuurwetenskaplike basis vir tegnologie en tegnologiese wetenskappe is nie slegs Fisika nie. Fundamenteel is ook die modellering volgens reëls van wiskundige wetenskappe wat Rekenaarwetenskap insluit, asook inligtingswetenskappe, Chemie, Biochemie, Biologie, Ekologie en aardkundige wetenskappe. Biologie en Ekologie moet ook by die natuurwetenskaplike basis ingesluit word, omdat tegnologie altyd in 'n omgewing, in wisselwerking met die lewendige natuur, ontplooi word. Ons lewe vandag in 'n wêreld met omgewingsbesoedeling. Ons sien hoe die natuur agteruit gaan en selfs tot niet gaan. Opleiding aan tegniese skole bied dikwels slegs vakke uit die basiese natuurwetenskappe aan wat nodig is vir uitbreiding en voortsetting van tegnologie sonder om die gevolge vir die omgewing in ag te neem. Opleiding moet ook kursusse insluit hoe om basiese kennis te gebruik sodat daar nie besoedeling voorkom en die natuur nie nadelig versteur word deur tegnologiese ontwikkeling en voortgesette tegnologiese impak nie. Basiese kennis uit Fisika en Chemie kan baie suksesvol gebruik word om dit te bereik. Die probleem is 'n foutiewe benadering, miskien onbewustelik, om uit die natuur te haal en niks in die natuur terug te sit om versteuring te voorkom of so min as moontlik te maak nie. Basiese natuurwetenskaplikes soos fisici, chemici en inligtingswetenskaplikes het 'n besondere verantwoordelikheid om te sorg dat hulle kennis sodanig aangewend word dat tegnologie nie die natuur nadelig versteur nie.

Tegnologiese ontwikkeling, gegrond op die basiese natuurwetenskappe, moet egter nie net negatief beoordeel word nie. Hierdeur word ons lewensverwagting verleng, natuurrampe word afgeweer of hulle gevolge verminder, beveiligingstelsels, huise en voedsel word voorsien, inligting kom in groter omvang en meer effektief beskikbaar, met die hulp van elektronika en mikroprosessors kan dowes hoor, blindes sien, en verlamdes kan weer loop.

Baie tekstielweefsels (bv nylon, terlenka, poliëster, akriel) en kunsstowwe soos plastieke word deur middel van chemiese prosesse uit aardolie en steenkool gemaak. Hierdie brandstowwe word ook op groot skaal gebruik vir opwekking van elektrisiteit in kragsentrales, vir warmteopwekking, en in binnebrandmotors vir oa. die vervoerwese. Hierdeur het die persentasie voorkoms van koolsuurgas in die atmosfeer sedert die industriële revolusie verdubbel. Dit lyk baie waarskynlik dat die gemiddelde temperatuur op die aardbol toeneem as gevolg van hierdie toename van koolsuurgas in die atmosfeer, met gevolglike verandering in klimaat. Dit is daarom dringend noodsaaklik dat 'n alternatiewe, maar skoon energiebron gevind moet word, ook om die reserwes van aardolie en steenkool te bewaar vir die nageslag en vir die tekstielnywerhede en kunsstofvervaardiging.

Baie vraagstukke spruit vandag voort uit die groeiende behoefte van die mensdom vir energie. As fisika en tegnologie die probleem kan oplos hoe om uit kernsamesmelting benutbare energie te verkry, sal ons oor 'n skoon energiebron beskik, 'n energiebron wat nóg die atmosfeer nóg die omgewing sal besoedel, en wat uit 'n feitlik onuitputbare bron van grondstowwe energie sal voorsien. Die aangewese bron is swaarwaterstof (deuterium), waarvan daar voldoende voorraad in die oseane is om energie vir die behoeftes van die mensdom vir die volgende miljoen jaar of meer te voorsien. Swaarwaterstof kan deur kernsamesmelting (-fusie) tot helium omvorm word, met vrystelling van kernenergie. Dit is 'n proses wat in die son en sterre plaasvind en wat aan hierdie hemelliggame en vir die aarde deur die son energie verskaf. Die wyse waarop hierdie energie in die son en sterre gelykmatig vrygestel word, is nog 'n geheim, wat fisici probeer ontrafel. In die waterstofbom word die energie met 'n ontploffing vrygestel.

11.3 Chemie en tegnologie

Chemie is belangrik veral vir die voorsiening van die primêre lewensbehoeftes van die mens, soos voedsel, kleding, huishouding, gesondheidsorg en skeiding en verwerking van mensgeproduseerde afvalstowwe. Die voedselproduksie, bv., het sterk toegeneem deur die gebruik van kunsmis in die landbou. Ook die bereiding en toepassing van chemiese bestrydingsmiddels bevorder die voedselproduksie. Daar bestaan egter ernstige besware teen chemiese bestrydingsmiddels, aangesien baie van die middels giftig is vir mens en dier, terwyl sommige middels kankerverwekkend is en ander middels in voedselkettings kan ophoop en die uitsterf van plant- en diersoorte kan veroorsaak. Dit maak die soeke na alternatiewe gewasbeskermingsmiddels baie belangrik.

Die maak van kunsstowwe uit aardolie en steenkool deur middel van chemiese reaksies is belangrik vir die bounywerhede, terwyl aardolies ook 'n belangrike basis van medisynevervaardiging in die farmaseutiese nywerhede is. Baie chemiese nywerhede produseer afvalstowwe, wat nie in die natuur afgebreek kan word nie. Hierdie afvalstowwe veroorsaak daardeur lugbesoedeling, waterverontreiniging en bodemveront-reiniging, met gepaardgaande gesondheidsgevaar vir mens, dier en plant. Ons natuur kan nie 'n voortdurende stroom van onverwerkbare chemiese afval bly absorbeer sonder dat groot en selfs permanente skade aangerig word nie. Dit is teenstrydig met die skeppingsopdrag aan die mens om die skepping te versorg en op te pas. Daarom moet sulke produksieprosesse gewysig word of vervang word met nuwe vervaardigingsprosesse, waarby afval ontstaan wat omgewingsvriendelik is.

Deur die sterk groei van die chemiese nywerheid word die gevaar dat die wêreld se voorraad grondstowwe uitgeput sal word, al hoe groter. Aardolie en steenkool is 'n mengsel van stowwe wat nie slegs vir brandstof (energiebron) gebruik word nie, maar ook in die petrochemiese nywerheid. Daar is daarom 'n groot gebruik van aardolie en steenkool, waarvan die voorrade oor 'n 100 jaar uitgeput kan wees. Die soeke na alternatiewe grondstowwe vir energie en menslike gebruik is daarom dringend. Herwinningsprosesse vir hergebruik van stowwe is ook baie belangrik. Herwinning en hergebruik is egter nie vir alle stowwe moontlik nie.

11.4 Mens en masjien

'n Mens word vandag omring deur masjiene (sy slawe) wat sy werk doen. Masjiene kan ook 'n mens se baas word. Dink aan die telefoon, wat 'n skyn-teenwoordigheid van die spreker aan die ander kant van die lyn skep - asof die spreker by jou staan. Die telefoon reduseer ook die mens se stem tot iets "fonies". Die telefoon kom tussenin by enige taak waarmee ons besig is - as die telefoon lui, word 'n gesprek gestaak of die werk word net daar gelos om eers die oproep te beantwoord. 'n Motorkar laat ons toe om baie vinniger te beweeg as wat ons liggaam in staat is. Dit skep by baie mense 'n valse gevoel van veiligheid en 'n gevoel dat die wêreld (die pad) aan hom behoort --- totdat iets onverwags breek en die motor langs die pad gaan staan.

Meeste mense dra vandag 'n horlosie saam met hulle. Vroeër was die werksdag van sonop tot sononder, 'n dag wat volgens die stand van die son in twaalf ure verdeel is. Die duur van 'n uur het met seisoene gewissel. Vandag reël die horlosie ons lewe.

In mens en sy masjien kom twee onderskeidinge na vore: (1) (mens-instrument)-wêreld, en (2) mens-(instrument-wêreld). In die eerste beliggaam die masjien die mens, m.a.w. die mens se ondervinding word deur masjiene bepaal; die masjien word deel van die mens in sy alledaagse lewe. Tel 'n slag hoeveel "masjiene" daar in 'n gewone huishouding is. In die voorbeelde hierbo genoem "beliggaam" die telefoon, die motor (behalwe as die motor skielik langs die pad gaan staan!) en die horlosie die mens (is deel van die mens). In die tweede onderskeiding gebruik die mens die masjien om die wêreld te beheers en te verken, bv. fabrieke, of ondersoekings- en navorsingsapparaat, of satellietkarterings. Hier kom hermeneutiek (uitlegkunde) te pas. 'n Tandarts gebruik 'n sonderingspen om vir gaatjies in 'n tand te soek. Verdere voorbeelde is 'n mikroskoop, elektronmikroskoop, en so meer. Die beelde wat verkry word, moet vertolk en verklaar (uitgelê) word.

Ons het vandag 'n vertegniseerde wêreldvisie. Die gevolge hiervan is onder andere:

(1) Met tegniese ontwikkeling word daar gewoonlik vergeet dat die mens moet aanpas. As die mens nie aanpas nie, voel hy hom bedreig deur die masjiene, wat sy lewe verander.

(2) Inligting, wat met instrumente verkry word, word as meer gesaghebbend beskou as ander waarnemings of as menslike ervaring of geloof.

(3) Instrumente bepaal velde van ondersoek en daarom menslike kennis.

11.5 Inligtingswetenskappe en inligtingstegnologie

Ons leef vandag in 'n era wat deur kommunikasie- en inligtingstegnologie bepaal word. Baie dinge soos produksieprosesse, sosiale dienste en selfs politieke aktiwiteite het dramaties verander deur die gebruik van die rekenaar en rekenaarnetwerke. Deur nuwe en bestaande inligtingstelsels kan elkeen, wat toegang tot die stelsel het, allerlei dinge monitor, beheer en moontlik selfs manipuleer. Nie almal is hiermee gelukkig nie. Die uitgebreide gebruik van die rekenaar op alle terreine van die samelewing en tegnologie besorg aan baie mense 'n gevoel van magteloosheid en minderwaardigheid omdat mense voel dat hulle nie meer in beheer van dinge is nie.

Hierteenoor het die gebruik van die rekenaar 'n optimistiese verwagting vir die toekoms gekweek. Dit volg uit die optimistiese en vereenvoudigde beeld wat die media en inligtingswese van die rekenaar en rekenaarnetwerke skets. Hiervolgens sal alle menslike aktiwiteite eersdaags deur elektronies-beheerde rekenaarstelsels bepaal word. Dit behels twee-rigting televisie, elektroniese bank- en inkoopstelsels, gerekenariseerde onderrig, elektroniese nuusmedia, elektroniese posdiens, en so meer. Dit beteken dat elkeen oombliklike toegang tot 'n enorme hoeveelheid waardevolle inligting en intydse kommunikasie het, waardeur sake beplan en die toekoms beheer kan word. Daar bestaan blykbaar geen grense aan groei- en ontginningsmoontlikhede nie, waardeur 'n beter wêreld moet voortspruit.

Daar word vandag baie tyd en energie vir die daarstelling van gerekenariseerde onderrig, insluitend telematiese onderrig bestee. Publikasies van rekenaargebruik in onderrig is volop. Rekenaar-gesteunde onderrig word gesien as waardevolle en selfs as die aangewese metode om swak onderwys deur onvoldoende-opgeleide onderwysers te ondervang en om intelligente leerlinge tot hoër vlakke as die gemiddelde te ontwikkel. Trouens, kinders word vandag voor die rekenaar- en televisieskerms groot. Om onderrig op die skerm te ontvang, is nie vir hulle vreemd nie. Die vraag is of onderrig op 'n skerm die onderwyser en dosent voor 'n klas kan vervang?

Die natuurwetenskappe werk met abstraksies. Daarom dat die metode van die natuurwetenskappe 'n beperkte werklikheid omvat. Dit beteken dat wetenskaplike kennis, wat in 'n rekenaar deur programme hanteer word, altyd onvolledig is. Die gevaar bestaan dat leerlinge onkrities die beperkte en onvolledige wêreld, wat die rekenaar uitbeeld sy eie maak. Dit wat nie op die rekenaarskerm uitgespel word nie, bestaan dan nie vir die leerlinge nie.

Rekenaarprogramme bevat slegs daardie inligting wat betrekking het op metings, groottes en statistieke. Rekenaarinligting omvat 'n spesifieke vorm van menslike kennis: dit is daardie wetenskaplike kennis wat deur wiskundig-logiese formulerings geprogrammeer kan word. Alles wat nie meetbaar is nie en wat nie programeerbaar is nie, soos geloof, hoop en liefde, word dan as onwerklik beskou omdat dit nie in rekenaarprogramme voorkom nie. Dit is totaal anders gesteld met 'n onderwyser voor 'n klas. Die onderwyser onderrig volgens die voorgeskrewe leerplan, maar hy voed ook op deur sy houding tot die kind en sy begrip vir hulle persoonlikhede en individuele leerprobleme. 'n Gesonde mens-tot-mens verhouding kan nie deur rekenaarprogramme verkry word nie. 'n Rekenaar kan nie opvoed nie en kan daarom nie 'n onderwyser vervang nie.

Hoe moet die rekenaar verantwoordelike gebruik word? Wanneer rekenaars altyd gebruik word oral waar hulle gebruik kan word, gaan baie sosiale (mens-tot-gemeenskap-) en baie mens-tot-mens-kontakte en -geleenthede vir onderlinge ondersteuning, bemoediging en kreatiwiteit verlore. Inligtingstelsels, wat geprogrameer word om belangrike besluite self te neem, dra by tot die gevoel by mense dat hulle nie meer in beheer is nie. Die mens kry dan 'n gevoel van nutteloosheid. Dit beteken dat rekenaars se gebruik krities en versigtig beplan moet word. Dit is daarom baie belangrik, dat wanneer rekenaars gebruik word, nagegaan moet word watter lewens- en wêreldbeskouing die grondslag van die gebruik is. Dit sal help om te bepaal of en tot watter mate die rekenaar wel in 'n spesifieke situasie gebruik moet word.

In die opvoedkundige proses, by voorbeeld, kan rekenaars verantwoordelik gebruik word deur die voorsiening van aanvullende materiaal tot die onderrig in die klaskamer of in die huis. Dit kan ook vir vaslegging van lesmateriaal en van kennis gebruik word met inagneming van die rekenaar se tekortkominge.

'n Probleem is egter dat die rekenaar 'n nuwe kultuur, 'n toring-van-Babel-kultuur met 'n universele taal skep. Dit gebeur wanneer dieselfde beeldmateriaal in televisieprogramme in alle huise oor die hele wêreld vertoon word en wanneer op internet soektogte gedoen word. Die boodskap wat die sigbare beeldmateriaal wêreldwyd kommunikeer is universeel. Dit bevorder globalisme.

Rekenaars kan op baie maniere aangewend word om die lewenskwaliteit van mense te verbeter. Die liefdesgebod vereis dat die rekenaar gebruik moet word om diegene met 'n gebrek soos dowes, blindes en verlamdes te help. Rekenaars vervul 'n noodsaaklike funksie in lugvaart en baie nywerhede. Rekenaars kan ons waarsku teen omgewingsbesoedeling. Rekenaars kan ons help om energiebronne en roumateriale meer effektief te benut. Mense moet bereid wees om hulle lewe verantwoordelik in te rig en om die rekenaartegnologie nie sodanig uit te buit dat dit 'n bedreiging vir menslike verantwoordelikheid word nie.

Hoofstuk 12. 'n Epiloog

Natuurwetenskap word gekenmerk deur 'n distansiëring tot die werklikheid, deur begrippe uit die konkrete daaglikse ervaring te onttrek, te abstraheer. Dit beteken nie dat die natuurwetenskaplike hom buite die kosmos as 'n objektiewe waarnemer plaas nie. Inteendeel, die mens is deel van die kosmos en kyk na die kosmos van binne uit. Dit bepaal die kennis, wat die mens deur ervaring van die kosmos kan bekom.

'n Teorie is mensewerk en dit word bepaal deur die wyse waarop die mens die waarneembare werklikheid beskryf. Aristoteles se twee-ruimtebeskouing was die basis vir sy beskrywing van die onderskeie ondermaanse en bomaanse bewegings. Daarenteen het Christene sedert die Hervorming aanvaar, o.a. op grond van die skeppingsverhaal in Genesis, dat die bo- en ondermaanse dieselfde ruimte is. God het één ruimte geskep . Daarom moet dieselfde swaartekragswet oral geld en dieselfde elemente op aarde moet ook in sterre wees. Sedert Newton is Aristoteles se twee-ruimtebeskouing vervang deur 'n enkele oneindig-groot vaste (absolute) ruimte, want God is absoluut (almagtig) en alomteenwoordig. Vandag weer aanvaar ons Einstein se relatiwistiese ruimte-tyd-beskouings. Waar tyd vir Newton onafhanklik van die ruimte verloop het, het Einstein tyd en ruimte in 'n vierdimensionale kontinium gekoppel. Ook ons beskouing van materie het verander: Die Grieke het materie vergoddelik (selfs die Griekse natuurgode het uit materie - uit "Moeder Aarde" - voortgekom) en dit as ewig beskou; vir Newton was materie vas (wet van behoud van materie) en vir Einstein was materie ekwivalent aan energie.

Die feit dat die aarde 'n klein en onaansienlike planeet in 'n geweldige groot heelal is, beteken nie dat die mens onbelangrik is nie. Trouens, alle kennis dui daarop dat die kosmos slegs verstaan kan word as sy gerigtheid op die bestaan van die mens aanvaar word. Die wetmatighede wat die mens in die fisiese natuur ontdek, dui daarop. Selfs in die uitbouing van die evolusiemodel vir die kosmos het die mens hierdie gerigtheid moes aanvaar - 'n evolusie vanaf die eenvoudigste vorme van lewe tot die mens. Hiervoor word dikwels 'n aktiewe en rigtinggewende lewensbeginsel as deel van die natuur aanvaar, 'n panteïsme. Paul Davies (1995:131) beskou die aarde as 'n holistiese self-regulerende stelsel waarvan die biosfeer nie van die komplekse prosesse in geologie, klimatologie en atmosferiese fisika losgemaak kan word nie.

Kwantummeganiese en relatiwisties-meganiese natuurwette word weer as rigtinggewend vir die fisiese evolusie vanaf die oerknal tot die heelal van vandag aanvaar. Nog die rigtinggewende beginsels van hierdie fisiese nog dié van die biologiese evolusieteorie is eksperimenteel kontroleerbaar nie. Die mens mag hom ook nie aanmatig om te dink dat God Sy skepping vanaf die oerknal tot vandag tot stand gebring het volgens deur die-mens-uitgedinkte evolusieteorieë nie. Dat daar 'n oerknal was, is ook nie bewysbaar of eksperimenteel kontroleerbaar nie.

Vroeër (voor die twintigste eeu) is die onafhanklikheid, die objektiwiteit van die natuurwetenskaplike navorser sterk beklemtoon. Objektiwiteit is te weinig as 'n norm en te veel as 'n feit beskou (Stafleu, in van Woudenburg, 1996:185). Die navorser is dikwels so sterk by sy eie werk emosioneel betrokke dat die aanvaarde veronderstellings nie meer raakgesien word nie, bv. in metodes waarvolgens ouderdomme tot miljarde jare deur radioaktiewe verval bepaal word. Hierdie houding word aangemoedig deur eie- en groepsbelange, om deel te wees van 'n internasionale vakgemeenskap. In die twinstigste eeu het die fisiese wetenskappe indeterminisme in natuurbeskrywings moes aanvaar, waarna chaosteorie getoon het dat strukture uit chaos tevoorskyn kan kom. Sowel indeterminisme as chaosteorie het bevestig dat die mens nie objektiewe waarnemers van die skepping kan wees nie.

Erkenning dat die werklikheid veel meer omvat as die inhoudelike van die natuurwetenskappe, is 'n erkenning dat ons kennis en waarneming begrens word deur menslike moontlikhede. Vir 'n Christen is vorming van wetenskap 'n deelname aan waarheid. Christelike wetenskap is op geheelsperspektiewe gerig, met 'n oopheid na God as Onderhouer en Voleinder. Daarom dat van elke wetenskaplike 'n oopheid tot alles wat wetenskaplik benaderbaar is, vereis word in die beoefening tot waarheid. In die geval van 'n Christen-wetenskaplike word 'n oopheid ook vir dit wat die openbaring van God in Sy Woord voorwetenskaplik vir die beoefening van die wetenskap te sê het, aanvaar.

Die mens is geskape as aktiewe medewerker van God in die ontplooiing van die skepping. Die heel basiese grondslag van hierdie aktiewe ontplooiing is die aktiewe vormgewing van die patrone van ons kennis, o.a. deur wiskundige metodes. Vandag weet ons dat wiskundige teorieë na behoefte ontwerp kan word om enige stelsel of materiaal te omskryf en by 'n besondere waarneming aangepas te kan word. Dit is daarom nie die 'natuurwet' wat die mens uit sy waarnemings en deur sy rasionele wetenskaplike werke ontdek nie, maar die wiskundige teorie is 'n faset van die ordelike wyse waarop God die skepping onderhou en bestier.

Bronne

Boeyens, J.C.A., Red shifts in a curved space, S.A. Tydskrif vir Wetenskap, 91, 220, 1995.

Capra, The Tao of Physics, an exploration of the parallels between modern physics and Eastern Mysticism, Wildwood House, London, 1975

Davies, P., The cosmic blueprint, Penguin Books, U.K., 1995

Davies, P., About time, Einstein's unfinished revolution, Penguin Books, U.K., 1995.

Dreckmeyr, T., Towards Christ-centred education, CcE Books, Pretoria, 1997.

Dooyeweerd, H., Reformatie en scholastiek in de wijsbegeerte,Boek 1: Het Griekse Voorspel, Wever, Franeker, 1949

Dooyeweerd, H., Vernieuwing en bezinning, om het reformatorisch grondbegrip, J.B.van den Brink & Co., Zutphen, 1959.

Flew, A., A Dictionary of philosophy, MacMillan Press, 1979

Fowler, S., A Christian voice among students and scholars, Wetenskaplike Bydraes, Series F, P.U. vir C.H.O., Potchefstroom, 1991.

Gardiner, P.L., Nineteenth Century Philosophy, Collier-MacMillan, New York, 1969.

Geertsema, J.C., Reinecke, C.J. en Ouweneel, W.J., Wetenskapsleer vir Natuurwetenskappe, Farmasie en Ingenieurswese, Sentrale Publikasies, PU vir CHO, 1996

Hooykaas, R., Religion and the rise of modern science, Scottish Academic Press, London, 1972.

Miller, H., An historical introduction to modern philosophy, The MacMillan Co., New York, 1949.

Motz, L. en J.T.Weaver, The Story of Physics, Plenum Press, New York, 1989.

Ouweneel, W.J., Jeugd in een stervende eeuw, Buijten & Schipperheijn, Amsterdam, 1982.

Ouweneel, W.J., Woord en Wetenschap, Buijten & Schipperheijn, Amsterdam, 1987.

Schuurman, E., Geloven in wetenschap en techniek, Buijten & Schipperheijn, Amsterdam, 1990.

Stafleu, M.D., Theories at work, University Press of America, 1987

Stoker, H.G., Oorsprong en rigting, band I, Tafelberg, Kaapstad, 1967.

Stoker, H.G., Oorsprong en Rigting, band II, Tafelberg, Kaapstad, 1970.

Stoker, H.G.,Beginsels en metodes in die wetenskap, De Jong, Johannesburg, 1969.

Van den Beukel, De dingen hebben hun geheim - gedachten over natuurkunde, mens en God, Baarn, ten Have, 1994

Van Vliet, Redakteur, Christendom onwijs, Kok, Kampen, 1996

Van Woudenberg, R., Redakteur, Kennis en werkelijkheid, Uitgeverij Kok, Kampen, 1996.

Wolterstorff, N., Van zekerheid naar trouw, Uitgeverij Boekencentrum, Zoetermeer, 1996

Beginsel: Eenvoudigste eienskap, grondslag, grondbegrip

Estetika: Wetenskap wat die beginsels van skoonheid in die kuns en in die natuur probeer aantoon; skoonheidsleer

Feit: Iets wat werklik plaasgevind het, wat vasstaan

Logika: Wetenskap omtrent die dinkwette; denkleer

Logies: Volgens die logika

Norm: Maatstaf, reël, voorskrif. Iets volgens die norm beoordeel