Waar kom die mens vandaan ?

Pieter H. Stoker

Wie is die mens?

Volgens die evolusieleer is die mens 'n toevallige produk van natuurprosesse.

Natuurprosesse beteken: die heelal met alles daarin ontwikkel volgens die wette van die natuur volgens 'n ketting van oorsaak en gevolg. Lewe is daarvolgens geheel en al 'n natuurproses.

Toevallige produk beteken: dat hierdie heelal met die aarde daarin toevallig deur natuurprosesse sodanig ontstaan het dat dit geskik is vir biologiese lewe, dat geskikte omstandighede toevallig ontstaan het sodat lewe kon gevorm het, en dat deur vooruitgang lewe vanaf die eenvoudigste sel toevallig tot die mens ontwikkel het.

Vooruitgang is 'n geloof wat volgens James Huxley (Evolution and genetics) beteken: As die mens op hierdie stadium die mees ontwikkelde spesie van evolusie is, spreek dit vanself dat die ewolusionistiese proses verder moet gaan totdat die mens uiteindelik god is. Trouens, evolusie vereis betekenisvolle orde (nie chaos nie) op alle vlakke van vooruitgang. Dit is alleen moontlik deur natuurprosesse wat gerig word deur 'n intellegente beplanner. Is hierdie intellegente beplanner God van die Bybel of is dit 'n Oosterse kultiese bewussyn, wat 'n vooruitgangskrag in die heelal is, om die heelal tot 'n al hoe hoër vlak van ingewikkeldheid te laat vooruitgaan?

Humaniste wil nie 'n skepper hê nie. 'n Skepping is egter onmoontlik sonder 'n Skepper. Sonder evolusieteorie val die humanistiese lewens- en wêreldbeskouing plat. Sonder die hoë geologiese en astronomiese ouderdomme het die evolusieteorie geen geloofwaardigheid nie. Hierdie hoë ouderdomme word verkry met die aanname van uniformiteit of eenvormigheid.

Die wetenskappe soek eenvoudige teorieë, uitgaande van 'n bepaalde lewens- en wêreld-beskouing (of geloof), wat waarnemings bevredigend verklaar. Wetenskaplikes benader hulle waarnemings met die vraag: hoe kan die waarnemings in 'n bepaalde teorie (hier die teorie van evolusie) ingepas word? Dit is sekerlik moontlik om vir baie waarnemings 'n oortuigde saak uit te maak, want waarnemings word deur die gangbare (algemeen aanvaarde) teorie gerig.

Makro-evolusie is nie bewys nie en kan ook nie bewys word nie. Dit is hoogstens 'n model. Wie daaraan werklikheidsbetekenis heg, doen dit in die geloof, want dit is nie moontlik om vir waarneming na die verlede terug te gaan nie, om te bewys dat evolusie werklik plaasgevind het.

Volgens die Bybel het God die aarde met alles daarop en daarbo as 'n tuiste vir die mens, die kroon van sy skepping, geskep.

Die kern van die Bybel se openbaring is: Skepping - Sondeval -Verlossing - Wederkoms.

God se opdrag aan die mens is om te heers (Gen. 1:26), te werk (Gen. 2:15), en te versorg (Gen. 2:15). Die Bybel openbaar die verhouding tussen God, Sy skepping en die mens.

Na die sondeval was God se werk voorkomend gerig, om te voorkom dat die mens Sy skepping in chaos laat verval. God se verlossingswerk het begin met die roeping van Abraham. Christus se werk is eskatologies gerig. Die boodskap van die leë graf van Christus is dat ons weer beliggaam sal word. Die dood is 'n werklikheid vir elke mens, maar is nie die einde van sy lewe nie. Elke mens sal na sy dood deur God onthou word vir wie hy was en sal by die opstanding as dieselfde persoon in 'n nuwe liggaam herskep word (2 Kor 5:17). Ons huidige lewe berei ons voor vir die nuwe lewe hierna. Die skepping, alhoewel voltooi, sal na Christus se wederkoms nog steeds oop wees vir ontwikkeling: God het dinge gemaak om te groei en te ontwikkel. Daarvoor is die mens geroep, elkeen volgens sy talente.

Hierteenoor het die mensdom wat toevallig uit evolusie ontstaan het, sy hoop op die rasionele, op die logies-beredeneerde en op beheer van die lewe en die wêreld deur wetenskap en tegniek gestel.

God gee in die Bybel 'n geheel en al ander antwoord op die vraag: Wie is die mens? as die evolusieleer, waarvolgens die mens se lewe by sy dood eindig.

Antropologie is 'n wetenskap, wat hom onder andere besig hou met die ondersoek na die oorsprong van die mens. Fossieloorblyfsels wat verbind word met mensagtige ape en aapagtige mense, die sg. homonides, word veronderstel om terug te dateer tot ongeveer 4 miljoen jaar gelede. Daar is maar uiters min gefossileerde materiaal oor hierdie lang tydperk gevind. Al die fossiele van homonides kan op 'n enkele lessenaar uitgepak word. Onder hierdie fossiele is daar geen direkte getuienis wat die moderne mens met 'n homonidevoorganger verbind nie (L. Alberts, Geloof versus Wetenskap, 1996:80). Die breingrootte van die homonides, soos afgelei uit fossiele, het oor miljoene jare klein en konstant gebly. Dit is slegs in die jongste geologiese tyd dat fossiele van homonides gevind word met 'n groter breinvolume as vorige homonides, wat vergelykbaar is met dié van die hedendaagse mens. Hierdie fossile is van die Neanderdallers, wat tussen 40 000 en 100 000 jaar gelede in Europa sou geleef het. Daar is egter niks meer bekend van die Neanderdallers nie as klipwerktuie en gefossileerde bene, en oorblyfsels in die grond waar hulle geleef het. Ons weet nie hoe hulle gelyk het nie, of hulle gesigte glad was of met 'n baard bedek was nie. Die prente wat ons van hulle in boeke en tydskrifte sien, vertoon gelaatstrekke en liggaamshoudinge wat wissel tussen dié van 'n aap en 'n mens en is verbeeldings-(fantasie-)tekeninge van kunstenaars. Hulle was, net soos al die ander homonides, jagters gewees. Dit is nie moontlik om uit fossiele of oorblyfsels van hulle leefplekke enige geestelike of kulturele vermoëns af te lei nie.

Die beoefening van landbou het vir die eerste keer 8 000 na 10 000 jaar gelede voorgekom, terwyl die hedendaagse mens sowat 10 000 jaar gelede vir die eerste keer skielik verskyn het. Landbou is 'n kulturele aktiwiteit van die mens, volgens die skeppingsopdrag van God. Die mens word as 'n kulturele wese gekenmerk deur die plant, kultivering van gewasse en die oes van voedsel. Hierdie aktiwiteite voorsien die basis vir vestiging van gemeenskappe met uiteenlopende sosiale strukture. Dit is ook 8 000 na 10 000 jaar gelede dat die oudste stede gevind word. Die evolusieleer het geen verklaring vir die skielike verskyning van die hedendaagse mens en waar sy kulturele vermoëns skielik vandaan kom nie.

Die evolusieleer het ook geen verklaring vir die verskyning van die gewaande voorsate van die hedendaagse mens nie. Die vraag kan gevra word of die homonides van die vorige veronderstelde miljoene jare mense was. Hulle het deur jag geleef en was blykbaar nie beskaafd nie, ook nie die Neanderdallers nie. Van hulle het wel klipwerktuie en vuur gehad, maar dit is geen bewys dat hulle mense met geestelike en kulturele vermoëns was nie. Die maak en gebruik van klipwerktuie en van vuur kan ook aan instinktiewe intellek van diere toegskryf word (kyk verwysings in: D.F.M. Strauss, Man's place in Nature, VCHO-studiestuk nr.2:12 en verder).

Elke dierlike spesie het sy eie ingebore vernuf (intelligensie), wat ons kan definieer as konkrete en gevoels-(senso-)motoriese organisering van praktiese lewe. Bv. die wyse wat 'n vink sy nes bou, en wat miere hulle miershope bou met tonnels en natuurlike ventilasie, toon geprogrammeerde vaardighede om materiale struktureel te vorm. Instink speel 'n oorheersende rol in die lewe van diere, bv. die eekhoring wat sy neute begrawe. Die wêrelde van verskillende diere verskil, en net so verskil die wêreld van mens en dier.