Die Invloed van Primitiewe Godsdienste
op Westerse Opvoeding en Onderwys

Dr Irmhild Horn

1 Inleiding

Die term primitiewe godsdienste verwys na die ou natuurgodsdienste wat geen bekende stigter, geen basiese heilige boek en dus geen geskrewe, vasgestelde dogma gehad het nie. Godsdienstige opvattings en rituele is mondelings oorgedra van geslag tot geslag en die middelpunt van godsdienstige rituele was die toordokter, medisyne-man, waarsêer, sjamaan en/of priester. Sulke godsdienste sluit in die Keltiese paganisme van Europa en die tradisionele godsdienste van Afrika, die Amerikaanse Indiane en sovoorts. Europa is in die vroeë eeue na Christus gekersten, maar sedert die laaste helfte van die twintigste eeu keer al hoe meer Westerlinge terug na opvattings soos bevat in ou natuurgodsdienste. Die vrae wat ek in die verband gaan aanspreek is:

* Wat is die belangrikste opvattings van ou natuurgodsdienste waarheen Westerlinge terugkeer?

* Hoekom keer Westerlinge daarna toe terug?

* Hoe manifesteer dié opvattings in Westerse opvoeding en onderwys en watter effek het dit op die jeug?

2 Die opvattings van ou natuurgodsdienste waarheen westerlinge terugkeer

Die belangrikste opvattings van ou natuurgodsdienste waarheen Westerlinge terugkeer is die volgende:

* Geloof dat die geestelike en die natuurlike fisiese wêreld een onskeibare geheel vorm, m.a.w. 'n vergeestelike, magiese natuurbeeld

* Geloof in die heiligheid van 'n verenigde, gelykdenkende samelewing

2.1 Eenheid tussen die geestelike en die fisiese

Die kenmerkende opvatting van natuurgodsdienste is die geloof dat die geesteswêreld en die natuurlike fisiese wêreld een onskeibare geheel vorm. Die geloof vind uiting in een of meer van die volgende:

* Animisme: Hierdie is die geloof dat alles in die natuur, of ten minste alle lewendige materie, 'n siel het en dat die natuur derhalwe deurdrenk is met geeste. Die animisme verklaar dus natuurverskynsels in terme van geestesaktiwiteit.

* Fetisjisme: Hierdie is 'n vereering en/of aanbidding van lewelose voorwerpe omdat daar geglo word dat die betrokke voorwerpe verborge magiese kragte besit. Die moderne geloof in gelukbringers is wesenlik deel van fetisjisme.

* Totemisme: Hierdie is die geloof dat 'n stam of gemeenskap van 'n sekere voorwerp in die natuur afstam - 'n dier, 'n plant of selfs 'n lewelose voorwerp soos 'n klip. Die betrokke voorwerp - die totem - word dan as die stam se beskermer beskou en as 'n simbool van die eenheid tussen die mens en die natuur vereer en aanbid.

Alhoewel alle natuurgodsdienste die natuur vergeestelik, is almal nie noodwendig panteïsties nie, met ander woorde nie almal onderskryf die idee dat alles wesenlik goddelik is. Tradisionele Afrika godsdienste, byvoorbeeld, kombineer die vergeesteliking van die natuur met monoteïsme. Hulle glo in 'n opperwese wat buite die natuur bestaan en alles - die geeste, die mens en die natuur - geskep het.

Nietemin alle natuurgodsdienste, of hulle panteïsties is of nie, onderskryf 'n magiese natuurbeeld. Hulle glo dat geestelike magte en wesens - sy dit gode, halfgode, voorvadergeeste en/of lewende dooies - in die natuur woon en dat die mens hulle deur middel van bepaalde rituele en/of towerspreuke óf tevrede moet stel óf moet afweer. Die taak is tradisioneel uitgevoer deur die 'wyse' mense - toordokters, sjamane en/of hekse - wat oor die vermoë beskik om met geesteswesens in verbinding te tree. Daar word ook geglo dat toordokters, sjamane en hekse oor dieselfde magte as die geeste beskik en derhalwe ook oor die magiese vermoë om die natuurlike werklikheid te manipuleer en verander. In natuurgodsdienste se opgeknapte Westerse vorm word daar gepostuleer dat die magiese magte wat tradisioneel net aan toordokters, sjamane en hekse toegeken is, inherent in alle mense is en die ontwikkeling daarvan wenslik en binne die bereik van alle mense is.

Okkultiese magie (m.a.w pogings om met geeste te kommunikeer asook pogings om die fisiese werklikheid te verander) was wesenlik deel van alle natuurgodsdienstige gemeenskappe, en is as wit of swart magie geklassifiseer. Die motief agter sogenaamde wit magie was oënskynlik goed, naamlik om die werklikheid ten goede van die mens te manipuleer. Daarteenoor is sogenaamde swart magie gebruik om 'n vloek op 'n vyand te plaas. Die Bybel tref egter geen onderskeid tussen magiese praktyke nie. Almal word veroordeel en verbied (Lev 19:26, 31; Deut 18:10-12; 2 Kron 33:6; Efes 5:20). Dit beteken dat alle magie 'n bose bron het, al is die mens se bedoelinge daarmee goed.

Nogtans, ten spyte van die Bybel se eksplisiete verbod op magiese en alle ander heidense praktyke en ten spyte van Paulus se vermaning in Rom1:18-32 dat God die mens aan sy sondige natuur en die verskriklike euwels wat daarmee gepaard gaan, oorgee as hy die natuur of enigiets in die natuur sou vereer en dien, vind natuurgodsdienstige opvattings en magiese praktyke toenemend aanslag onder Westerlinge. Voor ons die rede daarvoor bespreek, gaan daar gekyk word na die ander belangrike opvatting van ou natuurgodsdienste waarna Westerlinge terugkeer.

2.2 Die heiligheid van 'n verenigde, gelykdenkende gemeenskap

'n Sterk sin van verwantskap was kenmerkend van menigte ou natuurgodsdienstige gemeenskappe. Die sin van verwantskap - dat almal in die stam/gemeenskap, insluitend vorige en opvolgende geslagte, in wese familie van mekaar is - het oor die hele stam/gemeenskap gestrek en sommige gemeenskappe wat totemisme nagevolg het, het diere, plante en/of nie-lewende voorwerpe in die verwantskap ingesluit. Die sin van verwantskap het oor alle lewensaspekte en -aktiwiteite geheers. Die gevolg was 'n sterk kommunale lewe, gelykdenkendheid en 'n groepsidentiteit wat individualisme uitgesluit het. Die individu was in 'n netwerk van verwantskappe in die gemeenskap volledig geïntegreer. Die sterk sin van verwantskap het uiting gevind in, byvoorbeeld, die Ubuntu-geloof, nl. dat 'n mens slegs 'n mens is met en deur ander mense.

In natuurgodsdienstige gemeenskappe is die mens primêr as 'n sosiale wese beskou wie se mensheid slegs in die gemeenskap vervul word, m.a.w. die mens se verhouding met die gemeenskap (in ooreenstemming of in botsing met die groep) maak of breek die mens as mens. Hierdie is nie wat die Bybel leer nie. Die Bybel leer dat God die mens na Sy beeld geskape het, maar dat die beeld van God in die mens deur die sondeval geskend is. Dit beteken dat die mens se verhouding met God Drie-Enig (wat 'n Godsbeeld-herstellende of -skendende verhouding is) die mens as mens maak of breek.

Op hierdie stadium is dit paslik om te kyk na die redes waarom Westerlinge na natuurgodsdienstige opvattings terugkeer.

3 Die aantrekkingskrag van natuurgodsdienstige opvattings op westerlinge

In die vroeë eeue na Christus is die Weste gekersten, maar veral sedert die agtiende eeu is dit weer ontkersten - die Christendom is laat vaar en naturalisme en ateïsme is omhels. Dié proses het met die Verligting van die agtiende eeu begin toe die filosowe van dié tyd die bonatuurlike gebeure wat in die Bybel beskryf word, bevraagteken het en geloof in die God van die Bybel vir geloof in 'n onbetrokke skeppergod wat die mens oorgelaat het om sy eie heil te bewerkstellig, verruil het. Binne hierdie deïstiese raamwerk, kon die mens homself as moreel outonoom beskou.

Na Darwin se evolusieleer, wat in 1859 gepubliseer is, was selfs die idee van 'n skeppergod nie meer nodig nie. Die ontstaan van die kosmos en die lewe daarin kon voorts geheel en al aan natuurlike oorsake toegeskryf word en die kosmos kon as die enigste werklikheid beskou word. Die gevolg was dat by die begin van die twintigste eeu is die wetenskap hoofsaaklik beoefen binne 'n filosofiese, lewens- en wêreldbeskoulike raamwerk van ateïsme (daar is geen God nie) en naturalisme (die kosmos is die enigste werklikheid). Daarbenewens het die talle wetenskaplike ontdekkings - wat gemaak is omdat die Bybelse natuurbeeld, nl. dat die natuur geordend en wetmatig is, behoue gebly het al is die Skepper se bestaan ontken - en die fenomenale tegniese vooruitgang aanleiding gegee tot 'n wydverspreide vertroue, ook onder Christene, dat die wetenskap oor absolute gesag beskik waarvoor die Bybel ook moet buig.

Pogings deur liberale teoloë is wel aangewend om die Bybel met die evolusieleer te versoen - teïstiese evolusie - en om sodoende die golf van naturalisme en ateïsme te stuit. Dié pogings het egter gedien om die bonatuurlike gebeure wat die Bybel beskryf tot blote mites te reduseer wat op sy beurt nie gedien het om die groei van naturalisme en ateïsme te stuit nie, maar om dit te versnel.

Die uiteinde van beide die ateïste se algehele verwerping en die liberale teoloë se ondermyning van Bybelse gesag was dat materialisme en selfsugtige individualisme die kenmerke van Westerse lewe geword het. Dié negatiewe magte het die volgende teweeg gebring; t.o.v. die mens vereensaming en identiteitsloosheid en t.o.v. die natuur uitbuiting van natuurlike hulpbronne.

Ateïsme het nie lank hoogty gevier in die Weste nie, eerstens omdat dit vereensamende magte genereer en tweedens omdat dit alles wat bestaan toeskryf aan sinlose meganiese kragte. Dié aanname is in diepste wese onuithoudbaar vir die mens omdat die mens nie net as fisiese wese, maar ook as geestelike wese geskape is. Belangstelling in geestelike sake het gevolglik weer in die laat twintigste eeu opgevlam. Dié belangstelling was egter nie tot die Christen-Evangelie gerig nie, maar tot vreemde godsdienste - Oosterse en natuurgodsdienste.

Die rede vir die belangstelling in vreemde godsdienste eerder as in die Christen-Evangelie was dat die sinneloosheid en die vereensamende mag van materialisme en ateïsme (verkeerdelik) toegeskryf is aan die dualisme tussen materie en gees - d.i. dat materie en gees wesenlik verskil - wat die filosoof Descartes in die sewentiende eeu beklemtoon het. Descartes se filosofie was in baie opsigte onbybels en was die voorloper van deïsme en die Verligting, maar dualisme tussen materie en gees is ook wat die Bybel verkondig.

Volgens die Bybel is die onderliggende en werklike rede hoekom daar nie tot die Christen-Evangelie teruggekeer is nie die feit dat God van die mens vereis dat hy/sy enige aanspraak op menslike selfgenoegsaamheid en morele outonomiteit prys gee, en dit is 'n onmoontlike taak vir die natuurlike mens. Van nature wil die mens sy eie heil bewerkstellig, wat die benadering is in alle godsdienste behalwe die Christen-Evangelie. Die Christen-Evangelie verkondig die mens se vervallenheid en sy algehele hulpeloosheid en magteloosheid. Daarteenoor bied natuurgodsdienste mag aan die mens, nl. die magiese mag om die werklikheid na eie wense te verander. Boonop blyk natuurgodsdienste se gepostuleerde eenheid tussen materie en gees om 'n oplossing tot die uitbuiting van natuurlike hulpbronne te bied, en die sterk sin van kommunaliteit 'n uitweg uit die moderne Weste se vereensaming en identiteitsloosheid.

Christene wie se identiteit in hulle verhouding met Christus Jesus lê, ly nie aan vereensaming en identiteitsloosheid nie. Nogtans is hulle nie gevrywaar van die versoeking om die natuur te vergeestelik nie en selfs te glo dat die mens oor inherente magiese kragte beskik, al veroordeel hulle ten sterkste magiese praktyke op Bybelse gronde. Daar is vroeër daarop gewys dat monoteïsme versoenbaar is met 'n vergeestelike en magies manipuleerbare natuur. Christene weet dat die geesteswêreld werklik bestaan en dat magiese verskynsels werklik plaasvind. Die Bybel maak melding van magiese gebeurtenisse, bv. die magie van die towenaars van Farao in Moses se tyd. Nietemin volgens die Bybel is die vergeestelike, magiese natuurbeeld 'n leuen en geen mens beskik oor enige inherente magiese kragte nie. 'n Vergeestelike natuur dui op 'n nie-ordelike, onwetmatige en wispelturige natuur. 'n Onveranderlike God van orde sal nie 'n wanordelike, wispelturige natuur skep nie. 'n Vergeestelike natuur is ook strydig met die werking van die tegnologie. Buiten meganiese foute, werk tegnologiese apparate op 'n konsekwente en voorspelbare wyse, wat nie die geval sou wees in 'n wanordelike, wispelturige wêreld nie.

Daar woon geen geeste in die natuur nie; geen goeie en geen slegte geeste nie. Die Satan is wel die prins van hierdie wêreld, maar hy en sy demone bestaan nie in die natuur nie. Demoniese mag kom in die natuurlike wêreld in en deur die mens wat homself bewustelik of onbewustelik oopmaak vir demoniese besetting. Dus enige magiese manipulering van die werklikheid, ook die sogenaamde wit magie wat met goeie bedoelinge beoefen word, word nie deur die mens self bewerkstellig nie maar deur demone. Die mag agter die magie is ook nooit 'n engel nie. Eerstens, alle magie is deur God verbode, wat op 'n bose bron dui. Tweedens, alhoewel ons vanuit die Bybel weet dat God soms engele as boodskappers na mense gestuur het, kan die mens nooit self kontak met 'n engel bewerkstellig nie omrede dit tot vereering en diening van engele sou lei.

Nieteenstaande die verbod wat God geplaas het op geestelike oopmaking, behalwe in gebed met Hom, word vandag se mens op verskillende maniere daartoe gelok. Die jeug is veral kwesbaar en word deur middel van die internet, TV-programme, films en boeke asook in die klaskamer tot geestelike oopmaking en 'n magiese natuurbeeld aangemoedig.

4 Natuurgodsdienstige opvattings in westerse opvoeding en onderwys

4.1 Geesteskontak en 'n magiese natuurbeeld

4.1.1 Die rol van die media

Aanvanklik in die 1970s was die soeke na geestelike sin deur middel van natuurgerigte godsdienste beperk tot New Age groepe en die Wiccans wat die paganisme van ou Europa navolg. Die groepe het toe op die rand van Westerse gemeenskappe bestaan. Gedurende die laaste dekade het die situasie egter verander. Geesteskontak en die magiese praktyke van natuurgodsdienste het hulleself ook in die hoofstroom van Westerse gemeenskappe ingegrawe. Hierin het die media 'n groot rol gespeel. Geesteskontak en okkultiese magie word op die internet gepromoveer en in TV-programme, films, boeke en speletjies ingeweef; dalk omrede dié verskynsels hulleself uitstekend tot fantisering ontleen en derhalwe populariteit, veral onder die jeug, en 'n goeie wins waarborg.

Die prominente inkorporering van geesteskontak en magiese rituele en praktyke in TV-programme, films, jeugboeke en speletjies normaliseer geesteskontak en magiese rituele en praktyke, en die vrees waarmee die geesteswêreld moet bejeën word, word afgebreek. Dit is bykans onvermydelik dat hierdie toestand van sake aanvaarding van dié praktyke en die godsdienste waaruit hulle spruit, sal bevorder onder jeugdiges, en selfs volwassenes, wie se godsdienstige opvattings vloeibaar is.

Stories wat handel oor geesteskontak en okkultiese magie behels gewoonlik 'n stryd tussen goeie en bose magte en die stryd word gewoonlik deur die goeie magte gewen. Om die rede glo baie mense dat sulke stories skadeloos is. Party mense beweer selfs dat sulke stories tot die vorming van goeie waardes kan bydra. Dit is om die minste te sê bevraagtekenbaar. Dié stories moedig eerder jongmense aan om die leuen van goeie wit magie te glo. Sogenaamde wit magie is niks anders as die Satan wat homself as 'n engel van die lig voorstel om sy eie saak te bevorder.

Stories wat handel oor geesteskontak en okkultiese magie moedig ook jeugdiges aan om behep te raak met die bonatuurlike en om doelbewus na magiese magte te soek. Die jongmens besef nie dat hy/sy nie inherente magte ontwikkel nie, maar met demone te make het. Vir dié jongmens kan daar net gebid word.

Voorts gaan daar gekyk word na die onderwys se rol in die geestelike oopmaking van die jeug.

4.1.2 Die rol van die onderwys

In die onderwys word jeugdiges deur middel van o.a. die volgende tot geestelike oopmaking en die aanvaarding van 'n magiese natuurbeeld gelok:

* multireligieuse onderrig

* postmoderne natuurwetenskaponderrig

* alternatiewe leermetodes

4.1.2.1 Multireligieuse onderrig

Sedert die laat twintigste eeu is Westerse opvoedkundige teorie gegrond in die postmoderne ontkenning van alle absolutes en die gepaardgaande relativisering van waarheid op alle vlakke van kennis, sy dit religieus of wetenskaplik. Die relativisering van wetenskaplike kennis is nuut, maar die relativisering van religieuse waarheid was al 'n produk van die moderne era toe wetenskaplike kennis verabsoluteer is en die bonatuurlike gebeure in die Bybel deur ateïste en liberale teoloë as mitologiese fabels afgemaak is.

In die onderwys vind die relativisering van religieuse waarheid uiting as multireligieuse onderrig, waar kinders moet leer van alle godsdienste met die doel om godsdienstige verdraagsaamheid en wedersydse aanvaarding te kweek. (In Suid-Afrika is multireligieuse onderrig verweef in alle leerareas, maar veral in Lewensorientering en Kuns en Kultuur - alle heidense kuns- en kultuurvorms is onlosmaaklik deel van hulle godsdiens.) Dit is wel waar dat kinders moet leer om alle mense met respek te behandel. Dit beteken egter nie dat absolute verdraagsaamheid en wedersydse godsdienstige aanvaarding gekweek moet word nie, maar dat kinders geleer moet word om hulle verskille met ander mense sonder kwaadwillige geniepsigheid te bespreek en om nie hulle eie opvattinge op ander af te forseer nie.

Multireligieuse onderrig se doel om godsdienstige verdraagsaamheid te kweek is in diepste wese antichristelik omdat dit die uniekheid van Christus Jesus as enigste Verlosser en Saligmaker ontken terwyl dit terselfdertyd kinders leer om heidense opvattings, insluitend 'n vergeestelike, magiese natuurbeeld en die beoefening van okkultiese magie, met empatie te bejeën.

4.1.2.2 Postmoderne natuurwetenskaponderrig

_ Magiese natuurbeeld en die beoefening van okkultiese magie word ook d.m.v. natuurwetenskaponderrig bevorder. Volgens postmoderne denke dra wetenskaplike verklarings van natuurverskynsels en die wetenskaplike natuurbeeld nie meer gewig as ander verklarings en ander natuurbeelde nie. Met ander woorde, die Bybelse natuurbeeld - dat die natuur sekulêr, geordend en wetmatig is wat die dryfkrag agter die ontstaan van natuurwetenskap onder Christene in sestiende eeu Europa was - word op dieselfde vlak geplaas as die animisme wat natuurverskynsels aan geestesaktiwiteit toeskryf. Hierdie dien uiteraard om okkultiese magie te normaliseer en as't ware te verhef tot 'n vorm van wetenskap wat met die 'geestelike dimensie' van die natuur werk. Dit is onvermydelik dat menige jongmens tot magiese self-beoefening hierdeur gelok sal word.

Die toevoeging van die animisme en okkultiese magie tot die wetenskap is egter nie net kommerwekkend omdat dit inbruis teen ons Bybelse geloofsoortuiginge nie. Dit beteken ook dat kinders nie tot ware wetenskaplike geletterdheid gelei word nie en derhalwe ontneem word van die onderwys wat hulle nodig het om doeltreffend te funksioneer in die kontemporêre wetenskaplike en tegnologiese samelewing en ekonomie. Daarbenewens het navorsing getoon dat kinders wat die natuur en tegnologie as sekulêr en verstaanbaar beskou, meer lewensvertroue het as die wat meen dat die natuur en tegnologie misterieus en magies is.

4.1.2.3 Alternatiewe leermetodes

Natuurgodsdienstige opvattings, spesifiek geesteskontak, word ook in die klaskamer ingebring in die vorm van nuwe, alternatiewe leermetodes, wat sedert die laaste dekade of twee saam met ander heidense tegnieke wesenlik deel is van buite-kurrikulêre leer- en motiveringskursusse. Die metodes ter sprake is die wat vereis dat die verstand in 'n ontspanne, passiewe toestand geplaas word, bv. fantasiereise (wat deur die onderwyser of in 'n handboek voorgehou word), Lozanov se suggestopedie (wat aanspraak maak dat dit superleer, oftewel bonatuurlike leervermoëns, te weeg bring).

Kwasi-wetenskaplikheid word aan dié metodes deur die linker-regterbreinteorie verleen, waar daar o.a. gepostuleer word dat die mens net sowat 10% van sy/haar breinvermoë gebruik as logiese linkerbreindenke en dat die ander onontginde 90% intuïtiewe vermoëns is wat in die regterbreinlob geleë is. Ontwikkeling van dié onontginde bron sal dus verstommende leervermoëns tot gevolg hê. Volgens neurospesialiste berus dié teorie op geen wetenskaplike gronde nie. Dit is m.a.w. niks anders as wensdenkery wat in die mens se strewe tot bomenslike vermoëns gesetel is. Die ontspanne, passiewe verstandstoestand wat dié metodes vereis, kom egter daarop neer dat nugtere denke en kritiese onderskeidingsvermoë afgeskakel is. In die toestand is die moontlikheid van 'n beswyming groot, en in 'n beswymde toestand is enige persoon weerloos teen geestelike, oftewel demoniese, indringing.

Rolspel is ook 'n nuwe leermetode wie se plek in die klaskamer bevraagtekenbaar is. Dit geniet tans groot populariteit as leermetode en dit is wel nie okkulties nie, maar dit is 'n magtige instrument om aanvaarding van o.a. vreemde geloofsopvattings te weeg te bring.

Dit is nie net geesteskontak en die vergeestelike, magiese natuurbeeld wat deel van Westerse onderwys geword het, maar ook die strewe na 'n verenigde, gelykdenkende gemeenskap.

4.2 'n Verenigde, gelykdenkende gemeenskap

Soos op 'n vroeër stadium genoem is, wend Westerlinge hulle tot die groepsdenke van ou natuurgodsdienstige gemeenskappe in 'n poging om vereensaming en identiteitsloosheid te oorkom. Die huidige klem op groepsdenke is nie uniek tot die Westerlinge wat hulle tot natuurgodsdienste wend nie. Dit is ook deel van die algemene postmoderne klem op groepsdenke en groepsidentiteit.

Volgens die groepsdenke van ou natuurgodsdienstige gemeenskappe, en van vandag se postmodernisme, is kinders groepsbesit wat vir volkome opname in die groep opgevoed moet word. Volgens die Bybel egter is kinders Godsbesit en moet vir God en tot Sy eer opgevoed word. Dit is ware opvoeding.

Natuurlik is die opname van die kind in die Christelike gemeenskap asook die teëwerking van selfsug belangrike doelwitte in ware Christelike opvoeding. Individualisme en selfsug is egter nie dieselfde ding nie. Individuele persoonlikheid is 'n geskenk van God terwyl selfsug aan die sondeval te wyte is. Die Bybelse weg tot die oorkoming van selfsug is derhalwe nie die vervanging van individualisme met groepsdenke nie, maar oorgawe van die selfsugtige self aan die werking van die Heilige Gees. Die Bybel vereis ook nie samewerking en konsensus met die sosiale groep nie, maar dat standpunt teen die verkeerde ingeneem moet word.

Die klem op groepwerk en groepskonsensus in vandag se onderwys ondermyn in der waarheid goeie en sterk karaktervorming. Die gewilligheid om saam te gaan met die meerderheid word as 'n positiewe eerder as 'n negatiewe karaktereienskap aan kinders voorgestel. Dit sal bydra dat die gesag en waardes van die ouers deur portuurgroepdruk ondermyn word en dat Bybelse beginsels met populêre mediawaardes vervang word.

Die vraag na groepbesprekings skep ook 'n gulde geleentheid vir ideologiese indoktrinasie. In Westerse lande en in Suid Afrika word daar van onderwysers verwag om geleenthede te skep vir die bespreking van kontroversiële sake, veral seksuele en politiese sake. In die huidige postmoderne klimaat waar waarheid vir politieke korrektheid verruil is, beteken dit dat polities-korrrekte sieninge oor sulke sake bevorder moet word.

Kinders en adolessente is egter nog geensins toegerus om te besef dat hulle denke in 'n spesifieke rigting deur die onderwyser/es gelei word of om die korrektheid van diè rigting te beoordeel nie. Die kweking van ware kritiese denke, d.i. onafhanklike, selfstandige denke wat waarheid eerder as groepsopinie oftewel polities-korrektheid dien, asook die moed om teen groepsopinie in te gaan word dus op 'n baie effektiewe wyse uitgeskakel. Op dié wyse word 'n volkome gesosialiseerde burgery grootgemaak wat dieselfde sake ondersteun en veroordeel.

In so 'n samelewing kan 'n skynbeeld van 'n vrye samelewing maklik gehandhaaf word. Vryheid van denke, spraak en die pers kan in die grondwet ingeskryf en oënskynlik gehandhaaf word want die lede van die samelewing het van kleins af geleer om groepskonsensus en -gebondenheid as primêre waardes te aanvaar en sal dus die idees van andersdenkers spontaan verwerp. Die vrees vir verwerping sal ook sorg dat andersdenkers eerder swyg. Dié wyse van beheer is inderwaarheid baie effektiewer as afgeforseerde diktatorskap.

5 Ter afsluiting

Ons Here het Sy volgelinge beveel om die sout vir die aarde te wees (Matt 5:13), wat beteken dat Christene algehele verderf in die wêreld moet stuit. Ons kan egter net aan hierdie Christus-gegewe taak voldoen as ons kinders teen onbybelse opvattings en God-verbode praktyke beskerm en as ons God se Wil aan die wêreld bekend maak. Die feit dat baie nie sal luister nie en dat ons dalk verwerp en selfs vervolg sal word, mag ons nie stilmaak nie. Ons moet nie mense vrees nie want hulle kan net die liggaam doodmaak; ons moet Hom vrees wie liggaam en siel in die hel vir ewig kan laat vergaan (Matt 10:28, Luk 12:5).