Manifestering van 'n
Christelike Lewens- en Wêreldbeskouing

Prof. H.J. Strauss

Ons Christelike lewens- en wêreldbeskouing

Vanwaar kom ons Christelike lewens- en wêreldbeskouing? Dit is die eerste vraag waarop ons 'n suiwer antwoord aan u verskuldig is en op hierdie beslissende vraag is daar slegs één korrekte antwoord: dit kom uit die Bybel - in sy geheel en in al sy dele die geïnspireerde én die onfeilbare Woord van God.

Elke mens wat die Christelike lewens- en wêreldbeskouing tot kosbare besitting van sy hart wil maak, moet hierdie belydenis aangaande die Bybel onvoorwaardelik onderskryf omdat dit die enigste Bron van waarheid is oor ons Skepper, oor ons self én oor ons aardse tuiste. Wie dus aan die absolute gesag van die heilige Woord van God die minste torring of twyfel, is besig om die hoeksteen van ons Christelike lewens- en wêreldbeskouing te ondergrawe en om daarmee die waarheidsvesting van die suiwer Christendom ten bate van die leuen te verlaat.

Die eerste les wat die Bybel ons leer aangaande ons en ons wêreld is dat God Drie-enig die Skepper, die Onderhouer en die Voleinder van alle dinge is. Hy - Vader, Seun en Heilige Gees - is van ewigheid tot ewigheid die Allerhoogste. Buite Hom is niemand van wie Hy afhanklik is nie. Aan Hóm, die Almagtige, is dan ook álle dinge volslae onderworpe.

Ons en ons wêreld is skepsele van God en bowendien volkome van Hom afhanklik omdat Hy ook die Onderhouer is van die werke van sy hande. Indien Hy ons nie in sy almag dra nie, verdwyn ons en ons aardse tuiste in die ewige niet. Alles wat bestaan, wys dus in onderhorige afhanklikheid heen na ons Skepper en Onderhouer.

Maar God Drie-enig is ook die Voleinder van ons lewe en ons aardse woning. In sy alwyse raad beheer Hy die uurwerk van sy skepping en volgens die beslissing van sy heilige wil gaan hierdie skeppingstyd verby met die oorgang van die tydelike na die ewige - die nuwe mensheid op die nuwe aarde onder die nuwe hemel.

Die Bybel leer ewe-eens baie duidelik dat God ons en ons aardse tuiste deur sy wet aan Hom onderwerp. Vir ons en vir alle ander skepsele het God in sy wet die voorskrifte gegee waaraan ons in diensbaarheid aan sy heilige wil onderworpe is. Die wet van God dek die lewe van die mens en in samehang daarmee ook die bestaan van alles in die ryk van die stoflike dinge, in die ryk van die plante én in die ryk van die diere. Daar is dus letterlik niks onder skepsele wat aan die wet van die Allerhoogste te onttrek is nie, want dáárin het Hy aan ons (sy enigste beelddraers) die voorskrifte gegee waarvolgens ons die aarde tot sy eer moet vul, onderwerp en beheers.

Onder die Wet van God is die mens en sy aardse tuiste dus saam knegte van die Allerhoogste. Die mens omdat hy geroepe is om God te dien met sy hele hart; die stof, die plant en die dier omdat hulle deur God verordineer is tot diensbaarheid aan die mens in sy diens van God. Ons en ons wêreld het dus alleen sin en betekenis omdat ons ganse bestaan deur ons Skepper op Hom gerig is.

God Drie-enig is dus die enigste rigpunt van ons Christelike lewens- en wêreldbeskouing. Ons ken ons self, ons lewe en ons wêreld korrek slegs wanneer ons die God van die Skrifte na waarheid ken en dien. Kortom, ons ware selfkennis, ons ware lewens- en wêreldkennis is volkome afhanklik van ons ware Godskennis. Daarom, die mens wat God nie na waarheid ken nie, ken homself as mens nie, begryp ook nie die menslike lewe nie en beslis ook nie die wêreld waarin ons leef en werk nie.

Uit die Bybel weet ons ook dat die ganse skepping gaaf en goed was na die sesde skeppingsdag. Daar was geen gebreke in die werke van Gods hande nie en in daardie volmaakte wêreld was Adam (ons eerste verbondshoof) met 'n rein en onbesoedelde hart gehoorsaam aan die voorskrifte van God. Hy het al die ordinansies van sy Skepper onderhou en kon dus in hierdie perfekte staat van regtheid begin om die aarde tot eer van God te vul, te onderwerp en te beheers. Hy en Eva saam, want sy is hom tot 'n hulp in die diens van God gegee.

Alles in ons aardse tuiste was bowendien sonder vlek of rimpel toegespits op die mens se suiwer diens van God. Alles in die ryk van stof, plant en dier is trouens deur God so geskep en gemaak dat dit sonder moeite deur Adam en Eva, en deur hulle sondelose nageslagte, tot eer van God in gebruik geneem kon word. Elke skepselding volgens sy eie-aard en op sy regte plek, sodat die mens daaruit kultuur kon bou in volkome gehoorsaamheid aan die wet van sy Skepper.

In hierdie staat van regtheid was daar dus geen tekortkominge, geen kwade bedenkinge of verkeerde insigte by die mens nie, en daar was ook geen steurings of gebreke by stof, plant en dier nie. Nee, die mens en sy wêreld was in onderlinge harmonie gehoorsaam onderworpe aan die ewige wet van die Allerhoogste - saam in volmaakte gereedheid vir die diens van God volgens sy wil en welbehae.

Dit is die glorieryke begin van die mens en sy wêreld - heilige ontvangenis uit die hande van ons Skepper!

Maar so was dit slegs vir 'n kort tydjie, want die Bybel leer verder dat Adam (op inspraak van Satan) die verskriklike sonde gedoen het om ongehoorsaam te word aan die wet van God. Hy keer sy hart teen die Here en toe was dit onmiddellik verby met die glansryke glorie van die mens en sy wêreld. Adam stort erbarmlik in duie. Ons eerste verbondshoof deursny die band van gehoorsaamheid aan God en daarmee haal hy by voorbaat die skuld van die erfsonde op die hals van alle geslagte wat nog gebore moes word - Adamskinders in sonde-verlorenheid.

Tot oormaat van ramp eindig hierdie sonde-gevolge nie by die kroon van die skepping nie. Nee, staande in die middelpunt van die geskape werklikheid met álles daarin op hóm aangelê en op hóm toegespits, trek Adam ons aardse tuiste saam met hom die sonde-afgronde in.

Ná die sondeval het ons dus onmiddellik met 'n ander mens en 'n ander wêreld te doen. Nou is niks meer gaaf en goed nie. Nee, want die mens koester sonde-kwaad in sy hart en dit deurtrek al die uitgange van sy lewe. Hier eindig dit egter nie, want dit bars ook in sy aardse tuiste uit - aardbewings, dorings en distels, verwilderde diere.

So tref óns sonde die glorie van die mens en sy wêreld - om dit saam te laat verdonker in die nag van Gode-ongehoorsaamheid.

Daarby laat die Allerhoogste dit egter nie, want direk met die val van Adam gryp Christus verlossend en behoudend in. Ook dit leer die Bybel onomwonde deur o.m. aan ons mee te deel dat die Here vir die slang gesê het: Hy (d.w.s. Christus) sal jou die kop vermorsel.

Christus tree in as Verlossingsmiddelaar, want dood in die sonde kon die mens hom nie self met God versoen nie. Nee, iemand sonder sonde was nodig om hierdie versoenings- en verlossingswerk te doen, en daarvoor word Christus - die Seun van die mens en ons in alles gelyk behalwe die sonde - deur God gesalf tot Profeet, Priester en Koning; verordineer tot Maghebber van tyd en ewigheid, want aan Hom is gegee alle mag in die hemel en op die aarde.

Uit eie krag kon die sondaar ook nie sy aardse tuiste behou en bewaar nie en daarom is Christus ook die Herskeppingsmiddelaar. In Hom bly die aarde vir die mensheid behoue tot by die voleinding.

Deur Christus, die tweede Adam, word dus 'n verlossings- en 'n herskeppingsbegin gemaak - die tweede skof van die mens en sy wêreld. Nie onder leiding van die gevalle Adam nie, maar onder die veilige hoede en die ferme heerskappy van die Christus.

En in hierdie tweede begin bring Christus ons terug tot gehoorsaamheid aan die wet van God. Daarom kan ons, as verloste sondaars, slegs in Hom begrepe tot eer van God leef en werk. Ja, en slegs aan sy herskeppingswerk dank ons die behoud van ons aardse tuiste.

In hierdie hoofstuk het ons 'n blik gewerp op die hoofsom van ons Christelike lewens- en wêreldbeskouing - samevattend saaklik die volgende: (a) Die Bybel leer aan ons dat God Drie-enig die Skepper, die Onderhouer en die Voleinder van alle dinge is. (b) Die Bybel leer aan ons dat alle skepsele aan die wet van die Almagtige onderworpe is - in volslae afhanklikheid van Hom. (c) Die Bybel leer aan ons dat die mens in die sonde geval het en dat dit ook ons aardse tuiste getref het. (d) Die Bybel leer egter ook dat Christus ons Verlossings- en Herskeppingsmiddelaar is, en dat ons slegs in Hom teruggebring word tot gehoorsaamheid aan die ordinansies van God - in 'n aardse tuiste wat deur Hom vir ons behoue gebly het.

Die uitlewing van ons Christelike beginsels en die unieke posisie van die kerk

Aan die einde van ons eerste hoofstuk het ons verduidelik dat slegs Christus die sondaar terugbring tot gehoorsaamheid aan die ordinansies van God. Hy het vir ons die wet vervul en slegs in Hom kom ons tot hierdie gehoorsaamheid.

Die beginsels waarvolgens ons as verloste sondaars moet lewe, word dus nie deur óns ontwerp nie maar is gegee in die allesdekkende ordinansies uit die wet van God. Ons is nie die bron van hierdie beginsels nie. Nee, ons is in Christus geroepe tot gehoorsame onderwerping daaraan. Slegs so kan ons die Here na waarheid en in opregtheid dien.

Christus wederbaar die hart omdat daaruit die uitgange van die lewe is en so word die Christus-herbore hart - deur die werkende inwoning van die Heilige Gees - tot gehoorsaamheid gebring.

Geldend vir al die uitgange uit die hart bestaan daar dus geen terrein van die lewe waarvoor God nie sy ewige beginsels verordineeer het nie. Daarom is elke Christenmens geroepe tot gehoorsaamheid aan die ordinansies van God vir ons godsdienstige lewe, ons morele lewe, ons regslewe, ons kunslewe, ons ekonomiese lewe, ons sosiale lewe, ons taallewe en ons gedagtelewe, kortom ons hele kultuurlewe.

Die daaglikse lewe van elke Christenmens moet die openbaring wees van hierdie totale gehoorsaamheid, want slegs dit beantwoord aan ál die eise van ons Christelike beginsels. Ons moet dit nie slegs bely nie maar dit ook prakties uitleef. Daarom moet ons ook sorg dat ons op hoogte van sake is met die eise van ons lewe in Christus, sodat hierdie kennis ons hele lewe bewus op die diens van God sal rig en ons bowendien sal beskerm teen die dwaalleringe van die leuen.

Elke Christenmens moet dus nie slegs die godsdienstige beginsels (soos uit die Bybel saamgevat in die Drie Formuliere van Enigheid) ken nie, maar beslis ook die Christelike beginsels, die Christelike politieke beginsels, die Christelike kunsbeginsels en die Christelike beginsels vir die ekonomiese lewe, die sosiale lewe en die taallewe, die Christelike kultuurbeginsels en die Christelike onderwys- en wetenskapbeginsels, sodat hierdie rykdom van Christelike beginsels op elke gebied ons enigste gids kan wees; ons wapens teen die magte van die ongeloof.

Nog meer, want geen Christenmens is in eensaamheid tot diens van God geroepe nie. Nee, Hy het ook die ordinansies verordineer waarvolgens ons in die kerk, in die Christelike huwelik, in die Christelike huisgesin, die Christelike skool en universiteit, die Christelike staat en politieke party sowel as in die Christelike bedryf ens., moet saamleef en saamwerk tot sy eer. Ons is dus geroepe om ook die Christelike beginsels vir ons lewensvorme behoorlik te ken, sodat ons ook hierin gewapen sal wees teen dwaalleringe t.o.v. kerk, huwelik, gesin en staat ens.

Maar nóg meer. Die ganse aarde is aan ons in bruikleen gegee sodat ons dit tot eer van God kan vul, onderwerp en beheers. Uit hierdie opdrag aan die kroon van die skepping spruit al ons kultuurwerke, d.w.s. alles wat ons uit die aarde beheersend daarstel en gebruik in ons godsdienstige lewe, ons liefdeslewe, ons regs- en politieke lewe, ons kuns- en ekonomiese lewe, ons sosiale en taallewe, ons onderwys- en opvoedingslewe. Vir al hierdie kultuurgoedere in diens van ons Christelike samelewing het God ewe-eens sy besondere ordinansies verordineer en daarom moet ons sorg dat hierdie Christelike beginselkennis ook ons deel is, sodat ons nie t.o.v. ons kultuurbesittings in argelose sondediens sal verval nie.

Kortom, Christus bring ons tot gehoorsaamheid aan God in al ons lewensuitgange, in al ons lewensvorme én in al ons lewenswerke, want ons Christelike lewe is die totale diens van God met ons hele hart.

Natuurlik, tot hierdie gehoorsaamheid is ons nie uit ons self in staat nie. Ons is wel verloste sondaars maar daarom nog nie verloste hemelinge nie. Ons moet dus van moment tot moment in ons gehoorsaamheid aan die ordinansies van God deur Christus gelei word. Op hierdie ewige weg van heil kan ons nie één skrede sonder Christus waag nie.

Hierdie sonde-gebrokenheid is aan ons hemelse Vader bekend en daarom is die kerk van Christus in genadeguns aan ons geskenk, sodat Christus ons dáárin met genadespyse kan voed en sterk - die unieke posisie van die kerk t.o.v. die uitlewing van ons Christelike beginsels.

Laat ons dit nader ondersoek.

Dit is die kerk van Christus, ons tweede Verbondshoof!

Indien ons eerste verbondshoof, Adam, nie ongehoorsaam was nie, sou 'n sondelose mensheid in hom behoue gebly het. Hy val egter uit die hoogheilige amp waarin God hom as eerste hoof van die mensheid geplaas het. Christus gryp terstond in en daarom is Hy ons tweede Adam, ons tweede Verbondshoof - die Hoeksteen van die genadeverbond van God met alle verlostes. Slegs hulle wat van ewigheid af deur God in Christus verkies is, is in Hom deelgenote van dié genadeverbond - bondelinge onder die Hoofskap van Christus.

Christus is dus die Verbondshoof van 'n nuwe mensheid wat bestaan uit verloste sondaars - die bondsvolk van God uit alle nasies.

En nou is dit juis aan hierdie bondsvolk wat die genademiddele in die kerk van Christus bedien word, sodat die bondelinge daardeur gesterk kan word op hul lewensweg van Gode-gehoorsaamheid.

Die kerk van Christus is dus verbondskerk vir verloste sondaars en daarom is sy besondere posisie slegs uit die Hoofskap van Christus korrek te begryp.

As Hoof van die genadeverbond is Christus deur God tot Profeet, Priester en Koning gesalf. In Christus begrepe word elke Christen hierdie drieledige verbondsamp deelagtig - 'n bondeling uitverkore tot die profetiese, die priesterlike en die koninklike diens van God. Profeties moet ons die Here dien met 'n lewe waaruit "so sê die Here" straal; priesterlik moet ons die Here dien deur ons hele lewe as dankbare offer aan Hom te wy en koninklik deur op aarde te heers slegs tot die eer van die Allerhoogste.

Profeties, priesterlik en koninklik staan ons dus in die amp van alle gelowiges. Dit dek ons ganse lewe, want al ons lewensuitgange (godsdiens, moraal, kuns en wetenskap ens.), al ons lewensvorme (kerk, huwelik, gesin, staat, skool en universiteit ens.) en al ons kultuurgoedere moet in profetiese gehoorsaamheid, in priesterlike offerdiens en in koninklike heerskappy aan God gewy wees.

En nou is dit juis tot hierdie totale verbondslewe wat ons nie sonder die bediening van die genademiddele in die kerk van Christus in staat is nie. Hierdie verbondspyse moet ons profeties, priesterlik en koninklik voed en daarom vind die amp van alle gelowiges sy volle bediening in die kerklike ampte van leraar (profetiese gehoorsaamheid), diaken (priesterlike barmhartigheid) en ouderling (koninklike regering). Die ampsbedieninge van die kerk kom dus op uit die amp van alle gelowiges in Christus en wie predikant, diaken en ouderling in die erediens sien, moet bloot deur hulle verskyning herinner word aan sy eie drieledige verbondsamp en -roeping in Christus.

Nooit mag die Christen hom dus aan die kerk van Christus onttrek nie. Nee, want vir ons allesdekkende diens van God kan ons die bediening van die genademiddele nie ontbeer nie.

En nooit mag die kerklike ampsdraers die bondelinge verwaarloos nie. Die Woord van God moet in die prediking en op huisbesoek suiwer en onverkort bedien word, die bediening van die heilige doop (seël van die verbond) mag nie ontheilig word nie en ewe-eens ook nie die gebruik van die heilige nagmaal nie. Die kerklike tug (heilige geneesmiddel) moet streng gehandhaaf word en die diens van barmhartigheid getrou onderhou word. Want die suiwer bediening van die genademiddele is onontbeerlik, d.w.s. absoluut noodsaaklik, vir ons gehoorsame verbondslewe - in al ons lewensuitgange, in al ons lewensvorme en in al ons lewenswerke.

Die kerk is dus midde in ons volle lewe - saam met die res onder die Hoofskap van Christus - en daarsonder is ons tot geen totaal-Christelike lewe in staat nie omdat slegs die kerk toegerus is vir die bediening van die genademiddele.

Wie dus skei tussen godsdiens en kerk enersyds en die res van ons lewe andersyds - en nie slegs onderskei nie - is daarmee besig om die eenheid van ons Christelike lewe te vernietig en die eenheidslewe van die bondelinge te verbrokkel. Trouens, dit is nie slegs die Christelike godsdiens wat verbondsdiens is nie, maar beslis ook die Christelike liefde, reg, kuns en wetenskap ens., nie slegs die kerk wat verbondskerk is nie, maar beslis ook die Christelike huwelik, die Christelike gesin en die Christelike staat ens.

Dit is die volheid van die gehoorsaamheid waartoe Christus ons bring en dit is die volheid van die verbondslewe waartoe ons in die verbondskerk van Christus gesterk moet word.

Die beskawingsvormende krag van die Christelike beginsels

Ons is in Christus geroepe om die aarde onder sy Hoofskap te vul, te onderwerp en te beheers in gehoorsaamheid aan die ordinansies van God. Tot hierdie gehoorsaamheid word ons as verloste sondaars in Christus toeberei en voordurend daartoe gesterk deur die bediening van die genademiddele in die kerk.

Die korrekte wyse waarop die mens die aarde moet vul, onderwerp en beheers, is dus uitsluitlik in die ordinansies van God aan ons voorgeskryf en wanneer ons in Christus hieraan gehoorsaam is, word ons Christelik-beskaafde mense.

Christelike beskawing - soos geopenbaar in die persoonlike beskaafdheid van elke Christenmens, ingebed in 'n Christelike samelewing met sy Christelike lewensvorme en kultuurgoedere - is dus nie uit die mens nie, maar wel die resultaat van Christus se heerskappy in die Christus-herbore hart. Christus is dus die oorsaak van ons Christelike beskawingsgehoorsaamheid.

Uit die Christus-herbore hart ontsluit al ons lewensuitgange in gehoorsaamheid aan die ordinansies van God. So bring Christus ons tot gehoorsaamheid aan die ordinansies van God vir die godsdienstige uitgang van die hart, maar ewe-eens bring Hy ons ook tot gehoorsaamheid aan die ordinansies vir die uitgange van die liefde, die reg, die kuns, die ekonomie, die omgang, die taal en die denke. In die Christus-ontslote hart - met sy uitgange ontplooi in gehoorsaamheid aan die ordinansies van God - is dus gegee die sentrum van ons persoonlike Christelike lewe soos geopenbaar in ons Christelike godsdienstigheid, ons Christelike moraal, ons Christelike reg, kuns, ekonomie, omgang, taal, vorming en ook ons Christelike kennis en wetenskap ens.

Slegs die Christenmens, d.w.s. die mens van wie die hart tot Gode-gehoorsaamheid in Christus ontsluit is, kan ook die draer wees van 'n grootse verskeidenheid van Christelike lewensvorme omdat alle veroorloofde lewensvorme in samehang met die uitgange van die hart bestaan en omdat slegs die Christus-herbore hart gehoorsaam kan wees aan die ordinansies van God vir die bestaanswyse van hierdie lewensvorme.

Laat ons dit saaklik verduidelik.

Die kerk van Christus is 'n godsdienstige lewensvorm. Hier word ons onder leiding van die Christelike godsdiens saamgebind in onderworpenheid aan die ordinansies van God vir die bestaanswyse van die kerk. Die Christelike huwelik is egter 'n liefdesgemeenskap en hier word man en vrou onder leiding van die Christelike liefde saamgebind in onderworpenheid aan die ordinansies van God vir die bestaanswyse van die Christelike huwelik.

Die Christelike gesin is ewe-eens 'n liefdesordening, maar hierin word ouers en kinders onder leiding van die Christelike liefde saamgebind in onderworpenheid aan die ordinansies van God vir die bestaanswyse van die Christelike gesin. Die Christelike staat is daarenteen 'n regsverband en hierin word owerheid en onderdane onder leiding van Christelike regsbeginsels saamgebind in onderworpenheid aan die ordinansies van God vir die bestaanswyse van die Christelike staat.

Die Christelike skool is 'n onderwysende opvoedingsverband. Hier word onderwysers en leerlinge onder leiding van die Christelike onderwys- en opvoedingsbeginsels saamgebind in onderworpenheid aan die ordinansies van God vir die bestaanswyse van die Christelike skool. Die Christelike bedryf is egter 'n ekonomiese verband waarin werkgewer en werknemers onder leiding van die Christelike ekonomiese beginsels saamgebind word - steeds in onderworpendheid aan die ordinansies van God vir die bestaanswyse van die Christelike bedryf.

So sou ons kon voortgaan om aan te toon dat elke veroorloofde lewensvorm vir die wyse waarop hy behoort te bestaan aan die betrokke ordinansies van God onderworpe is. In elke lewensvorm word ons op 'n besondere manier saamgeorden en daarom openbaar elke lewensvorm 'n unieke bouplan - oorspronklik verordineer in die wet van God en dus nie onderling tot mekaar te herlei nie. Elke lewensvorm is in dié sin soewerein in eie kring met sy eie interne reg en gesag.

Hoofsaak is egter om te onthou dat u slegs uit u Christus-herbore hart kom tot gehoorsaamheid aan die ordinansies van God vir die "bouplanne" van die Christelike lewensvorme, en dat hierdie Christelike lewensordeninge onontbeerlik is vir ons Christelik-beskaafde samelewing.

In al ons lewensuitgange en in al ons lewensvorme gerig op gehoorsaamheid aan die betrokke ordinansies van God, lei Christus ons gelyktydig tot gehoorsaamheid aan die ordinansies van God vir die vorming en gebruik van ons kultuurgoedere. So lewer die Christelike beskawing kultuurgoedere in diens van ons godsdienstige lewe, in diens van ons Christelike liefdeslewe, in diens van ons Christelike regs- en politieke lewe, en in diens van ons Christelike kunslewe, ons Christelike ekonomiese lewe, ons Christelike sosiale lewe, ons Christelike taallewe, ons Christelike onderwyslewe en ons Christelike wetenskapslewe - alles saam die resultaat van ons diens van God met die hele hart. So lei die Christen stof, plant en dier uit tot kultuur in diens van die Allerhoogste.

Buite Christus - en daarom uit die hart óngehoorsaam aan die ordinansies van God vir alle lewensuitgange, alle lewensvorme en alle kultuurwerke - kom geen mens dus tot Christelike beskaafdheid nie en het geen volk deel aan die seëninge van 'n Christelike beskawing nie. Nee, buite Christus kan daar slegs van Gode-afvallige en daarom ook Gode-vyandige beskawing sprake wees, soos in die primitiewe lewe van die sg. natuurvolke, of in die lewe van die sg. heidense kultuurvolke, of in die lewe van mense onder leiding van die moderne ongeloof, d.w.s. die humanisme met sy liberalistiese en allerlei sosialistiese uitlopers, w.o. ook die kommunisme.

Slegs gehoorsaamheid aan die allesdekkende ordinansies van God bevorder dus 'n ware beskawingsontwikkelingsgang en hierdie waarheid word bevestig ook deur die geskiedenis van die Protestantisme sedert die Hervorming.

Alleen die volke wat onder Protestants-Christelike leiding tot gehoorsame oorgawe aan die ordinansies van God gebring is, slegs die Protestantse volke van weleer, het tot ware Christelike beskawingsmondigheid gekom - in Europa en in die Protestantse buitestigtings van Europa, soos bv. in ons eie vaderland.

Wie dus die geskiedenis van die Protestantse Christendom ondersoek - in besonder die geskiedenis van die Calvinistiese Protestantisme as die mees konsekwente Christendom - sal spoedig bevind dat die beskawingsvormende krag van die Christelike beginsels sonder weerga is in die wêreldgeskiedenis. Dit is waar omdat alle Christelike beginsels ons deel is uitsluitlik deur gehoorsame oorgawe aan die ordinansies van God in Christus.

En let wel. Christelike beskawing is verbondsbeskawing - beskawing tot eer van God. Nie gegee in die rykdom van ons stoflike besittings of in die vertoon van tegniese mag nie, maar wel gegee in die adel van die Christus-ontslote hart, in die sieraad van die Christelike lewensvorme en in die kleinood van ons Christelike kultuurbesit - hoe nietig en gering dit ook al mag lyk in die oog van hierdie wêreld en sy afvallige maghebbers.

Daarom was die nasate van Geus en Hugenoot die draers van die ware Christelike beskawing in Suid-Afrika en daarom het ons vandag nog ons beskawingsvoortgang in hierdie vaderland slegs te danke aan die Gode-gehoorsaamheid van hulle wat in Christus ons samelewing tot 'n seën is. Ja, en al is hierdie getroue bondelinge die minderheid in Suid-Afrika, dan geld nógtans dat hulle in Christus die draers is ook van die beskawingsout - alle gelowiges in ons vaderland tot heil maar ook alle óngelowiges omdat laasgenoemdes almal uiterlik voordeel trek uit die seëninge van 'n verbondsbeskawing onder die Hoofskap van Christus. Dit gee ook aan húlle beskawingsorde en -rus, al misbruik die ongelowiges hierdie geleenthede.

Die noodsaaklikheid van Christelike onderwys en opvoeding

  tot behoud van ons Christelike beskawing in Suid-Afrika

Die draers van die Christelike beskawing in Suid-Afrika is slegs húlle wat in Christus gehoorsaam is aan die ordinansies van God - in die kerk van Christus voortdurend daartoe gevoed en gesterk.

Hierdie Christelike beskawing is dus ons erfenis in die genadeverbond. Dit is verbondsbeskawing en daarom is ons geroepe om die kinders van die verbond te onderrig en op te voed tot Christelike beskawingstrou, sodat die ware beskawing in Christus ook deur hulle aan hulle nageslagte oorgedra sal word en sodat die Christelike beskawing sy bestendige voortgang in ons vaderland sal hê - altyd sterker en sterker in die linies van die verbond, aanwassend onder die seënende hand van die Here.

Die onderwys en opvoeding waartoe ons in Christus geroepe is, is dus 'n vesting wat ons nie aan die magte van die ongeloof mag prysgee nie. Nooit, want daarmee gee ons beslis die toekoms van die Christelike beskawing in Suid-Afrika prys en daarmee lewer ons die jeug van die verbond aan die kring van die spotters uit. Daarmee word ons verbondsverraaiers, ontrou aan die Christus, ons Verlosser, in Wie ook alle beskawingseëninge ons aardse deel is.

Vir die voortbestaan van die Christelike beskawing in Suid-Afrika is Christelike onderwys en opvoeding dus 'n saak van lewe en dood. Ons het hierin geen keuse nie - alleen maar 'n plig tot Christus-trou in gehoorsame oorgawe aan die eise van die verbondsonderwys en -opvoeding.

In die kring van die verbond (d.w.s. gebore uit die lendene van verbondsouers of onder die hoede van verbondsvoogde) is ook elke kind 'n verbondsburger onder die Hoofskap van Christus, soos bevestig deur die heilige doop as seël van die verbond.

Elke verbondskind is - hoewel 'n verloste in Christus - nogtans 'n onvolwasse mens en juis daarom volkome afhanklik van Christelike onderwys en opvoeding tot Christelike beskawingsvolwassenheid.

Tot die eerste skrede op sy weg na Christelike volwassenheid word elke verbondskind reeds in sy ouerhuis gelei. Hier, by die aanvang van die inskerping van sy afhanklikheid van ons hemelse Vader - tot Wie hy in sy kindergebedjie slegs deur Christus mag nader - hier begin reeds die proses van sy verbondsonderrig tot Gode-gehoorsaamheid uit die Christus-herbore hartjie.

Oorgegee aan die leiding van verbondsouers, en van kindsbeen af saam met hulle onder die bediening van die genademiddele in die kerk, ontsluit die kinderhart in Gode-gehoorsaamheid en ontplooi reeds op geringe ouderdom die klein Christenpersoonlikheid. Ja, selfs as klein kindjie onderskei hierdie Christen-mensie hom van nie-Christene. Hy ken die gebed, hy bely die Bybel as onfeilbare waarheid, hy is bewus van sy sonde en hy weet dat daar by God in Christus vergiffenis is na ootmoedige sondebelydenis.

Dit is hierdie klein burgertjie van die verbond wat op die skamele leeftyd van ses jaar vir sy voortgaande Christelike lewensonderrig mede op die onderwys en die opvoeding van die skool aangewys is. Hier begin gewoonlik sy eerste formele onderrig - gekondisioneer en beplan volgens bepaalde onderwys- en opvoedingsbeginsels en aan die hand dáárvan onderworpe aan 'n gedissiplineerde onderwysprogram.

In die verlengde van die Christelike aanloop in die ouerhuis moet hierdie onderrigprogram van die verbondskool - met leerstellige godsdiensonderrig én die Christelike onderrig in alle ander skoolvakke - gerig wees op die koestering van die Christelike wasdom in die hart van die klein bondeling. Dit is die grondtoon waarin álle onderwys en opvoeding in die Christelike skool gedrenk moet wees.

In die Christelike skool moet die voortgaande ontplooiing van die leerstof steeds gedra word deur die belydenis dat ons in Christus geroepe is tot gehoorsame uitlewing van ál die ordinansies van God, dat die uitgange van ons hart in harmonie dáármee moet ontsluit en dat ons in elke veroorloofde lewensvorm en t.o.v. al ons kultuurgoedere gehoorsaam moet wees aan die ordinansies wat ook dáárvoor geld.

In die Christelike skool moet die jeug van die verbond dus onderrig word in die kennis van Gods ordinansies en in samehang daarmee ook in die kennis van die aardse tuiste waarin Hy ons uitsluitlik tot sy diens geplaas én geroep het.

Die onderwys- en opvoedingswerk van die Christelike skool sal dus altyd staan onder leiding van die waarheid in Christus; die enigste waarheid waarin ons God Drie-enig leer ken en gevolglik ook onsself en ons aardse tuiste; die enigste kennis tot Christelike volwassenheid en Christelike beskawingsmondigheid vanweë die diens van God met ons hele hart. Alleen so is die Christelike skool 'n opvoedingsvesting tot behoud van ons Christelike erfenis én ons Christelike toekoms.

Maar dan moet dit ook onteenseglik duidelik wees dat die wetenskaplike kennis wat aan die onderrigprogram van die Christelike skool ten grondslag moet lê, slegs die kennis van die Christelike wetenskap mag wees, omdat uitsluitlik hierdie wetenskap ware onderwys- en opvoedingskennis aan ons lewer. Dit is trouens verbondswetenskap by die helder lig van Gods Woord!

Maar daarom is ons ook geroepe om ons te beywer vir die vorming van Christelike wetenskaplikes aan Christelike universiteite en die opleiding van Christelike onderwysers en onderwyseresse aan die Christelike opleidings-kolleges. Slegs langs dié weg kan ons trouens die onderwys beman met leerkragte wat die Christelike onderwys en opvoeding van verbondskinders na behore kan waarneem - tot eer van God en tot behoud van ons Christelike beskawing.

Christelike onderwys en opvoeding - vanaf die ouerhuis deur die laer- en die hoërskool tot aan die Christelike universiteit en Christelike onderwyskollege, sonder verwaarlosing van alle ander onderwysinrigtings - is dus een van ons sterkste vestings teen die ongelowige magte van ons tyd. Vanselfsprekend, want in hierdie Christelike onderwysvestings word ons jeug gewapen met kennis wat vry maak tot positiewe diens van God. Egter ook kennis en waarheidstoerusting waarmee die Christenman en -vrou die teenstanders van Christus aan elke sektor van ons lewensfront kan ontmoet; nie slegs op godsdienstige gebied nie, maar ook op die terrein van die moraal, die reg en die politiek, die kuns en die ekonomie, die taal en die omgang ens. Sodat ons lewe oor die hele linie in Gode-gehoorsaamheid kan gedy, maar ook só dat ons oor die hele linie die waarheid handhaaf teen die aanslae van die leuen.

Sonder Christelike onderwysvestings staan ons ontwapen, oop en onbeskut, teen die vyande van Christus. Werklik, want geen Christen mag dink dat ons die vesting van die Protestants-Christelike beskawing in Suid-Afrika sal hou slegs met die kerk nie. Nee, ons lewe in Christus is 'n hegte eenheid onder sy Hoofskap; 'n eenheid uit die Christus-herbore hart waarvan ál die uitgange tot gehoorsaamheid geroepe is - nie slegs die godsdienstige nie. En wie probeer om alleen maar godsdienstig trou te wees, sal spoedig uitvind dat die ontrou in al die ander uitgange ook die godsdienstige trou ondermyn. En wie probeer om slegs die kerk getrou te wees, sal spoedig uitvind dat die ontrou in die huwelik, in die gesin, in die staat, in die skool en in die bedryf ens. as vanself ook kerklike ontrouheid in die hand werk.

Nee, ons Christelike beskawing eis van ons Christelike gehoorsaamheid in elke lewensuitgang, in alle lewensvorme en in al ons lewenswerke. Daarom vra ons Christelike onderwys en opvoeding tot Christelike volwassenheid - niks minder nie - want dit is onverbiddelike voorwaarde vir die handhawing van ons Christelike beskawingsmag in Suid-Afrika.

Die taak van die Christelike owerheid ter beskerming van ons Christelike beskawing

Verordineer tot die handhawing van 'n Christelike openbare orde, en daarvoor toegerus met eie ampsbevoegdheid en selfs die swaardmag oor lewe en dood, is die Christelike owerheid geroepe om te sorg vir die staatkundige beskerming en bevordering van ons Christelike beskawing.

Die Christelike owerheid moet dus in gehoorsaamheid aan die Christelike staatkundige beginsels oor sy onderdane regeer, want ook vir die staatkundige lewe van die mens het God sy besondere ordinansies voorsien. Daaraan is Christen-owerheid en Christenburger saam tot gehoorsaamheid in Christus gebonde, want Hy is die Hoof ook van die Christelike staat net soos van sy kerk of van die Christelike huwelik, die Christelike gesin en die Christelike skool ens.

Daar bestaan dus nie iets soos 'n neutrale staat of 'n neutrale owerheidsbeleid nie. Nee, elke staat is onder die bewind van sy owerheid 'n politieke mag vir of teen Christus - sy onderdane tot 'n seën of sy onderdane tot 'n oordeel indien hulle gedweë sou buig onder die bewind van 'n afvallige regering.

Die beveiliging van ons Christelike beskawingserfenis verg dus van ons owerheid 'n bewind in gehoorsaamheid aan die Christelike politieke beginsels. Om hierdie taak van die Christelike owerheid te begryp, moet ons vooraf 'n blik werp op die Christelik-beskaafde samelewing.

Deur gehoorsaamheid aan die ordinansies van God tot beskawingsvolwas-senheid gebring, laat die Christelike samelewing hom ken as 'n ordening van mense waarvan die lewensuitgange ontsluit is en waarvan die lewensvorme in grootse verskeidenheid tot selfstandigheid gekom het. Die Christelik-beskaafde samelewing word dus nie slegs deur Christelike enkelinge gedra nie maar ook deur hulle Christelike lewensvorme - bv. kerk, huwelik, gesin, skool, universiteit en bedryf ens.

Hierdie lewensvorme het elkeen sy eie, oorspronklike interne reg (bv. kerkreg, huweliksreg, gesinsreg, bedryfsreg ens.), en hulle het ook elkeen sy eie soort gesag (bv. godsdienstige gesag in die kerk, liefdesgesag in die huisgesin, ekonomiese gesag in die bedryf ens.). Die staat, as regsverband, is dus 'n bepaalde lewensvorm onder baie ander lewensvorme en die staatlike reg en gesag nie die enigste in ons samelewing nie. In dié sin is al hierdie selfstandige lewensvorme soewerein in eie kring en daarom is die gesag van die verskillende ampsdraers (kerkraad, ouers, onderwysers, werkgewers en owerheid ens.) begrens. Die owerheid is bv. nie bevoeg om ons godsdienstig saam te orden nie, want die staat is nie 'n kerk nie. En die owerheid is ook nie geroepe om ons moreel saam te bind asof die staat 'n gesin is nie. Nee, en die owerheid is ook nie geroepe om ons ekonomies saam te bind asof die staat 'n bedryf is nie.

Synde gesagdraer in die staat as regsverband bind die owerheid ons grootse belangeverskeidenheid (regsverskeidenheid) juridies saam. Hierdie regs-ordening van ons samelewing deur die owerheid stempel sy staatlike taak tot iets besonders en dit kan die ampsdraers van die kerk, van die huisgesin of van die skool ens. nie by hom oorneem nie.

In sy unieke regsheerskappy moet die owerheid in belang van die reghebbendes regeer. Dit beteken dat hy geroepe is om 'n openbare regsorde te handhaaf waarin daar ewewig en harmonie in die veelheid van regsbelange gewaarborg word. Kortom, die owerheid moet sorg dat die nie-staatlike vryheidsregte van die burgers (soos gegee in ons godsdiensvryheid, ons morele vryheid, ons kunsvryheid, ons ekonomiese vryheid, ons sosiale vryheid, ons taal- en kultuurvryheid en ons akademiese vryheid ens.), nie deur hom en ook nie deur die burgers onderling geskend word nie. Bykomend moet die owerheid sorg dat ook die interne reg van die nie-staatlike lewensvorme beveilig is. Alle regskenders moet voorts deur die owerheid aan die man gebring word en in verhouding tot hulle misdade gestraf word.

Die handhawing van ewewig en harmonie in die veelheid van Christelike regsbelange is dus die besondere taak van die owerheid en dit kan hy alleen behartig onder leiding van die Christelike politieke beginsels.

Die omvangrykheid van die Christelike politieke beginsels waarvolgens die Christelike owerheid moet regeer, blyk uit die feit dat die owerheidstaak 'n juridiese raakpunt met elke aspek van ons nie-staatlike lewe vertoon. Dink maar aan die wetgewing i.v.m. godsdiens en kerk; die wetgewing i.v.m. arbeid en bedryf, omgang en verkeer, sport en ontspanning, kuns en onderwys ens., en spoedig is dit duidelik dat daar geen aspek van ons beskaafde lewe bestaan waarmee die owerheid nie uit die hoek van sy regshandhawing gemoeid is nie.

Die Christelike owerheidsbeleid sal dus ewe-eens 'n groot verskeidenheid van staatkundige beleidsaspekte vertoon, soos bv. 'n staatkundige beleid t.o.v. die posisie van kerk en godsdiens in die openbare samelewingsorde;die regsposisie van die huwelik, die gesin, die skool, die bedryf en die vrye vereniging ens. T.o.v. elke lewensaspek en t.o.v. elke lewensvorm is die Christelike owerheid aangewys op 'n Christelike staatkundige beleid; op die Christelike politieke beginsels wat daarvoor moet geld.

Onder leiding van die Christelike politieke beginsels sal elke Christelike owerheid nie alleen die grense van sy gesagsbevoegdhede eerbiedig nie - wetende dat hy nie almagtig en tot alles bevoegd is nie - maar hy sal ook 'n beleid handhaaf wat die welsyn van ons nie-staatlike lewensaspekte en lewensvorme ens. ten goede kom. Hy sal die openbare regsbane effen ter bevordering van ons Christelike beskawingsontwikkeling en hy sal ons Christelike beskawingsbesit beskerm teen onreg én teen vyandelike magte van binne en van buite - al moet hy ook met die swaardmagkrag van polisie en leër daarteen optree.

U is dus in Christus geroepe om ook draers van die Christelike politieke beginsels te wees - selfs van die Christelike partypolitiek - want dit is in die kennis en die verkondiging van ons Christelike politieke beginsels wat die vorming van ons Christelike staatkundige mag geleë is. In u Christelike beskawingsmondigheid het u ook tot politieke mondigheid en verantwoorde-likheid gekom. U moet u politieke medeseggenskap - soos gegee in u politieke spraak- en persvryheid, in u politieke kritiek- en protesreg en in u politieke kiesreg, - steeds gebruik tot vorming van 'n Christelike politieke magsbasis in u vaderland. Die Christelike politieke beginsels moet mede deur u toedoen ingang vind sodat die ondersteuners van die Christelike politiek steeds in aantal sal aanwas ter vorming van méér Christelike politieke mag. So moet u u stemreg ook gebruik ter ondersteuning van 'n Christelike owerheidsbewind omdat alleen dááruit heil vir die staatkundige versorging van ons Christelike beskawingserfenis te verwag is.

Slot

In Christus tot gehoorsaamheid aan die ordinansies van God gebring; in die kerk van Christus voortdurend daartoe gevoed en gesterk, is ons Christelike lewe 'n eenheid onder die Hoofskap van Christus. Uit die Christus-herbore hart is ons knegte van die Allerhoogste in al ons lewensuitgange, in al ons lewensvorme en in al ons lewenswerke.

Elke Christenhart is 'n vesting van ons Christelike lewensroeping, elke Christelike lewensvorm 'n saamordening tot meer Christelike lewensmag en ons ganse Christelike kultuur en beskawing 'n bolwerk teen die magte van die duisternis.

Ons hele lewe - profeties, priesterlik en koninklik - die diens van God met ons hele hart.