Okkultisme in die Onderwys

Dr Irmhild Horn

1 Inleiding: Wat is okkultisme?

Okkultisme is nie Satanisme nie. Satanisme is die bewuste aanbidding van die Satan met die hoop om gunstes en gawes in hierdie wêreld te verkry. Okkultisme, daarteenoor, verwys na onderwerpe soos bygelowe, magiese verskynsels, die astrologie en ander soortgelyke onderwerpe wat tradisioneel as intellektueel twyfelagtig beskou is. Die woord okkult beteken geheim, verborge en dui op die sintuiglik verborge bonatuurlike, geestelike wêreld. 'n Okkultis is dus 'n persoon wat poog om die verborge geestelike wêreld te betree en verstaan om sodoende bonatuurlike vermoëns te bekom. Okkultiste glo hulle beoefen wit magie wat ten goede van die mens is in teenstelling met die bose swart magie van Sataniste.

Okkultisme is wesenlik deel van alle heidense godsdienste omdat hulle rituele instrumente is om kontak met gode en geeste te bewerkstellig. As Christene weet ons dat die geestelike wêreld ook bose demone bevat en dat okkultiese praktyke kontak met hulle sal bewerkstellig en nie met goeie geeste, oftewel engele, nie. Die Here God verbied kontak met alle geestelike wesens behalwe met Hom. Die mens mag hom/haarself net tot Hom rig - tot geen ander geestelike wese nie. Derhalwe kan okkultiese praktyke nooit kontak met 'n goeie gees bewerkstellig nie; slegs bose geeste kan deur okkultiese praktyke gekontak word.

'n Groot bron van kommer vir Christene vandag is die subtiele manier waarop okkultisme in al hoe meer lewensterreine verweef word. In die onderwys word okkultiese praktyke as nuwe alternatiewe leermetodes aangebied. Dié metodes vorm al geruime jare deel van buitekurrikulêre leer- en motiveringskursusse, en word nou ook as aanvaarde klaskamerpraktyk gepromoveer.

2 Alternatiewe leermetodes

2.1 Wat behels alternatiewe leermetodes?

Alternatiewe leermetodes behels o.a. mistieke en magiese tegnieke soos Oosterse meditasie, bv. joga en transendentale meditasie (TM), okkultiese visualisering en stimulering van sogenaamde energiepunte in die liggaam. Gebruik van heidense tegnieke is al diep ingewortel in die sielkunde en die gebruik daarvan in die onderwys sluit aan by die huidige onderwystendens wat die hooftaak van die skool nie as kennisoordrag en karaktervorming sien nie, maar eerder as 'harmoniese ontwikkeling' aan die hand van psigoterapeutiese tegnieke. Daar word beweer dat sulke tegnieke kinders help om balans te handhaaf tussen intellektuele en affektiewe, verbale en nie-verbale, bewustelike en nie-bewustelike, en tussen fisiese, emosionele, verstandelike en geestelike prosesse, wat dan kwansuis tot streshantering, hoë selfagting, geloof in eie vermoëns en verbeterde prestasie lei.

Oosterse meditasie is passiewe, leë meditasie waar rasionele denke bewustelik afgeskakel word en derhalwe gewoonlik tot 'n veranderde, alternatiewe bewussynstoestand, oftewel beswyming, lei. Veranderde bewussynstoestande is wesenlik deel van heidense rituele. Heidene poog om d.m.v. 'n veranderde bewussynstoestand insig in en vereniging met die goddelike en geestelike wêreld te bewerkstellig. Veranderde bewussynstoestande is teen God se wil omdat dit, eerstens, soos dronkenskap en dwelms, 'n poging verteenwoordig om van die werklikheid wat God beheer te ontsnap na 'n 'werklikheid' waar die mens self in beheer is. Tweedens, al word die heidense geestelike doel nie nagestreef nie en selfs bewustelik ontken, het die mens met sy leë, passiewe verstand homself nogtans oopgestel vir geestelike indringing. Alle heidense meditasie is onlosmaaklik met die onderliggende geloof verbind, ongeag die bewerings, ook vanuit Christelike geledere, dat sulke meditasietegnieke op neutrale wyse beoefen kan word vir streshantering en vir die vrylike vloei van energie deur die liggaam en verstand. Hierdie is in elk geval nie 'n neutrale idee nie, maar afkomstig van Oosterse panteïsme, wat die bestaan van goddelike, lewensgewende energievloei in en deur alles, postuleer (genoem chi in Taoisme, ki in Buddhisme en prana in Hinduisme) asook die bestaan van energiepunte (meridiane) in die liggaam wat gestimuleer moet word om die vloei van die goddelike energie te verbeter. Dié Oosterse geloof figureer sterk in opvoedkundige kinesiologie (educational kinesiology), oftewel breingim, wat in Kurrikulum 2005 as onderwysmetode voorgeskryf word.

'n Ander okkultiese praktyk wat sterk figureer in alternatiewe leermetodes is visualisering. Visualisering is nie iets wat noodwendig verkeerd is nie. Gewone verbeelding is 'n Godgeskape deel van alle mense, en die onderwys moet dit derhalwe ook ontwikkel. Okkultiese visualisering is egter nie gewone verbeelding nie. Daar is twee vorms okkultiese visualisering. Die een vorm is visualisering wat beoefen word om die bereiking van 'n doel te bewerkstellig. Hierdie vorm van visualisering word vandag positiewe denke genoem. Die doel word gevisualiseer en gewoonlik met outosuggestie vergesel, d.i. positiewe aanmerkings omtrent eie vermoëns wat die persoon aan hom/haarself rig. Die onderliggende beginsel is mind power: 'Ek kan enigiets doen as ek dink en glo ek kan.' Fil 4:13 word dan ook dikwels aangehaal. Dit is natuurlik nie geregtig nie; Paulus het geskryf van die krag wat Christus Jesus aan Sy volgelinge gee om beproewing en leiding te verduur. In der waarheid is positiewe denke 'n poging tot magiese toordery wat gerig is op die beïnvloeding en manipulering van die werklikheid deur denke en spraak.

Die ander vorm van okkultiese visualisering behels verbeeldingsvlugte/fantasiereise waar die verstand in 'n passiewe, leë toestand geplaas word met die doel óf om mentale beelde na willekeur te laat voorkom óf om deel te neem aan 'n verbeeldingsvlug wat 'n begeleier voorhou. Okkultiste en sjamane/songomas se doel daarmee is om 'n veranderde, kwansuis hoër bewussynstoestand, oftewel mistiese ervaring, te bewerkstellig waar hulle die geesteswêreld betree, die geeste beheer en bonatuurlike kragte bekom.

In die klaskamer word die fantasiereis gewoonlik deur die onderwyser/es of in 'n handboek voorgehou. Sulke fantasiereise behels dat kinders o.a. die volgende voorstel: ontmoetings met innerlike raadgewers en situasies wat gevoelens van geluk, tevredenheid, persoonlike bemagtiging, innerlike eenheid en/of eenheid met alles wat is, voortbring. Hierdie selfde tegniek word deur okkulte magiërs (Kabbaliste, middeleeuse alchemiste, Renaissansmagiërs, Vrymesselaars, ens.) gebruik om bonatuurlike kragte te bekom.

In alternatiewe leermetodes word die okkultiese elemente in sielkundige, kwasi-wetenskaplike terminologie aangebied. Daarbenewens word die okkutiese praktyke aan empiriese wetenskaplike bevindinge gehaak sonder om melding te maak dat daar van empiries toetsbare sake wegbeweeg is en tot blote spekulasie oorgegaan is. Die praktyke word ook met algemeenhede (dit wat die Engelsman 'common sense' noem) vermeng en as nuut ontdekte insigte verkondig. Die teorie van veelvuldige intelligensies is 'n voorbeeld hiervan. Ons weet almal dat verskillende mense oor verskillende talente en vermoëns beskik. Die 'nuwe' teorie van veelvuldige intelligensies moet egter lyf kry en so ontstaan dan die moontlikheid dat heidense idees en okkultiese praktyke in 'n kwasi-wetenskaplike kleed ingevoer word.

'n Mengsel van waarheid en leuen is tipies van die weë van die wêreld en die Satan. Die elemente van waarheid verbloem die bose en vergemaklik die mens se onkritiese aanvaarding van wêreldse en/of duiwelse goedere. Ek glo dat baie voorstanders van alternatiewe leermetodes self om die bos gelei is deur die mengelmoes van waarheid en valsheid en dat hulle opreg glo dat dié metodes werklik tot voordeel van kinders is. Ouers moet derhalwe nie beskuldigend en aggressief teenoor betrokke onderwysers optree nie, maar die spekulatiewe, onwetenskaplike aard van die metodes sowel as die werklike geestelike en psigiese gevare daaraan verbonde, uitwys. As die onderwyser 'n Christen is, moet die heidense, okkulte aard van die metodes ook met hom/haar bespreek word.

2.2 Die spekulatiewe, onwetenskaplike aard van alternatiewe leermetodes

Wetenskaplike steun vir alternatiewe leermetodes word hoofsaaklik in die linker-regterbrein teorie gesoek. Mediese navorsing met brein beskadigde pasiënte en pasiënte waar die verbinding tussen die twee breinhelftes verbreek is, het wel getoon dat die twee breinhelftes verskillende gespesialiseerde funksies dien, maar die populêre weergawe wat onontginde potensiaal aan die regterbrein toeskryf, is ongeoorloofde spekulasie. Medici het slegs die volgende gevind:

* Die linkerbrein beheer die regterkant van die liggaam en die regterbrein beheer die linkerkant van die liggaam.

* Die linkerbrein is meer vir verbale en die regterbrein meer vir visueel-ruimtelike materiaal gespesialiseerd.

* Die linkerbrein is meer analities (geheel tot parte) en die regterbrein meer integrerend (parte tot geheel) gespesialiseerd.

Op grond van dié bevindinge is daar net een geldige gevolgtrekking omtrent onderrig en leer, nl. dat verbale onderrig met visuele en konkrete materiaal aangevul moet word. Dit is egter 'n onderwysbeginsel wat eintlik 'n algemeendheid is en was al bekend lank voor die gespesialiseerde funksies van die twee breinhelftes ontdek is.

Populêre idees soos die idee dat die linkerbrein die setel van koue, dooie rasionaliteit is terwyl die regterbrein die setel van kreatiwiteit en wyse intuïsie is, is ongeoorloofde spekulasie wat een neurologiese navorser beskryf as spekulatiewe spronge wat uit verbeelding eerder as logika spruit.

Die idee dat vrouens regterbrein- en mans linkerbrein-dominant is, is ook niks meer as 'n mite nie. Daar is bevind dat:

* dogtertjies in die algemeen vinniger taalvaardighede ontwikkel as seuns;

* drie keer meer seuns as dogters leesprobleme ondervind;

* adolessente en volwasse mans in die algemeen beter vaar as vrouens in visueel-ruimtelike toetse.

'n Ander wydverspreide, maar verkeerde, idee is die verskillende en teenoorgestelde eienskappe wat aan die linker- en regterbreinhelftes toegeskryf word. Hierdie klassifisering van teenoorgestelde eienskappe het geen wetenskaplike begronding nie, en is in werklikheid in ooreenstemming met die jin-jangleerstelling uit die Taoisme en Tantrisme. Die jin-jangleerstelling lui dat die heelal uit polêre teenoorgesteldes (manlik-vroulik, lig-donker, goed-sleg, ens.) bestaan wat mekaar komplementeer en geïntegreer moet word om 'n harmonieuse geheel te vorm. Aan die regterbrein word die eienskappe van die jin-pool, die vroulike pool, toegeskryf, nl. intuisie, emosie, kreatiwiteit, warmte, rustigheid, ens. Aan die linkerbrein word die eienskappe van die jang-pool, die manlike pool, toegeskryf, nl. emosielose rasionaliteit, logika, aggressiwiteit, ens.

Voortspruitend uit bostaande klassifisering word daar beweer dat Westerlinge die linkerbrein ontwikkel het ten koste van regterbreinontwikkeling en dat meditasie en visualisering dié skeefgetrekte breinontwikkeling sal regstel om sodoende die verstommende potensiaal in die regterbrein te ontgin. Dié potensiaal blyk egter om niks meer as wensdenkery te wees nie. Eerstens het antropoloë gevind dat persone van kulture waar min tegniese ontwikkeling plaasgevind het meer regterbreinaktiwiteit toon, m.a.w. dié persone dink meer visueel en minder verbaal en analities. Tweedens is dit 'n eenvoudige historiese feit dat die meeste van die mensdom se massa wetenskaplike en tegnologiese kennis in die Weste met sy wortels in die Christendom ontstaan het en nie in heidense kulture nie. In die lig hiervan is dit ironies dat heidense tegnieke voorgehou word as die sleutel tot sukses in ons huidige hoogs ontwikkelde tegnologiese samelewing en ekonomie.

Die insluiting van tegnieke soos meditasie en visualisering is egter nie net op verhoogde prestasie gemik nie. Dit word ook vir streshantering aangewend. Joga-beoefenaars en magiërs getuig dat joga en okkultiese visualiseringsvlugte tot gevoelens van vrede en geluksaligheid lei. Hulle voel dat hulle 'n hoër paradyswêreld betree. Krag kan dus blykbaar uit joga, visualisering en ander tegnieke vir veranderde bewussynstoestande geput word. Daar is egter 'n prys daaraan verbonde. Dié prys is duur en derhalwe verbied ons liefdevolle hemelse Vader heidense praktyke.

2.3 Die geestelike en psigiese gevare van alternatiewe leermetodes

'n Eerste gevaar wat alternatiewe leermetodes inhou, is die wesenlike gevaar van demoniese kontak. Selfs Carl Jung, wie visualisering by psigoterapie ingelyf het, het gewaarsku dat donker vreesaanjaende figure mag verskyn en dat visualisering derhalwe nooit met kinders beoefen moet word nie. 'n Demoon kan egter ook as 'n engel van lig verskyn, en die visualiseerder glo dan dat hy/sy 'n goeie en wyse innerlike raadgewer ontmoet het. 'n Ontmoeting met 'n innerlike raadgewer is juis een van die doelwitte met visualiseringsoefeninge en fantasiereise in die klaskamer.

Verstandelike passiwiteit en leegheid laat kinders ook weerloos teenoor enige suggestie en indoktrinasie vanaf die kant van die onderwyser/es. Voorgeskrewe fantasiereise is 'n baie effektiewe wyse om deelname en aanvaarding van ander mense se religieuse tradisies en/of lewenstyle te bewerkstellig. Dié gevaar is des te groter as daar ook gebruik gemaak word van rollespel, wat huidiglik groot aansien as onderwysmetode geniet en ook in Kurrikulum 2005 aanbeveel word. Rollespel is nie 'n okkultiese tegniek nie, maar dit is magtige instrument om begrip en vereenselwiging met ander mense se geloof, lewenstyl en waardes te weeg te bring.

'n Terugkeer tot bygeloof is ook 'n gevaar. Bygelowe soos die stimulering van denkbeeldige energiepunte mag blyk om onskuldig te wees, maar bygeloof lei uiteindelik tot 'n lewe van angs en vrees. Die geskiedenis toon duidelik dat samelewings waar bygeloof hoogty vier ook samelewings is waar donkerte en vrees heers.

Nog 'n gevaar is dat meditasie en visualisering sielkundige ontsnapping en uiteindelik skisofrenie aanmoedig. Sielkundige ontsnapping word doelbewus aan kinders geleer. Kinders word beveel om 'n veilige plek in hulle gedagtes te skep waarheen hulle kan gaan vir vertroosting in tye van ongelukkigheid. Tydens 'n periode van groot trauma kan dit gebeur dat die persoon, as kind of as volwassene, heeltemal kontak met die werklikheid verloor en hom geheel en al tot sy eie fantasiewêreld wend, m.a.w. die persoon word skisofrenies.

Die vermoë om tussen werklikheid en fantasie te onderskei moet aangeleer word. Klein kinders ondervind groot probleme om die werklikheid te skei van dit wat in hulle koppe aangaan. Klein kinders glo dat hulle gedagtes die eksterne wêreld kan beïnvloed. 'n Verdere gevaar lê dus daarin dat die propagering van positiewe denke kinders op die onvolwasse verstandelike ontwikkelingsvlak van 'n klein kind vasvang, en hulle derhalwe ook uiters kwesbaar gelaat word om tydens traumatiese tye skisofrenies te word.

Visualisering en fantasiereise is uiters gevaarlik. Verskeie joga-beoefenaars en okkulte magiërs waarsku dat dit tot kranksinnigheid en waansinnigheid kan lei. Carl Jung skryf in sy outobiografie dat hy meermale op die rand van waansinnigheid was a.g.v. sy visualisering en fantasiereise en dat hy met uiterste inspanning homself weer tot gewone rasionele denke moes dwing.

Nog 'n gevaar is die kweking van 'n selfverheerlikende, magsbehepte persoonlikheid. Die gevaar ontstaan a.g.v. visualiseringvlugte se fokus op die self en eie vermoëns, krag en innerlike wysheid. Alternatiewe leermetodes word aangewend om hoë selfagting en selfgenoegsaamheid te bevorder want dié word as die sleutel tot sukses en emosionele stabiliteit beskou. Die onaangename waarheid is egter dat positiewe denke hoogmoed en arrogante ophemeling van eie talente en vermoëns aanmoedig. 'n Belangrike tema in die Bybel is die groot gevaar van hoogmoed. Die Bybel bevat talle voorbeelde - die toring van Babel, Farao se verwaandheid, die Israelietiese se hooghartige vertroue in hulle en hulle bondgenote se militêre mag, die gelykenis van die voorspoedige boer wie se gevoelens van mag hom verblind het tot sy eie sterflikheid en baie ander voorbeelde - wat wys dat selfbevordering en selfverheerliking as instrument tot selfvernietiging kan dien. Uit 'n heel ander oord, nl. die van die New Age, kry ons ook 'n bewys dat hoë selfagting nie die sleutel tot innerlike vrede is nie. New Agers verkondig hoë selfagting en selfgenoegsaamheid, maar soek self vertroosting en bemagting by geïdealiseerde ghoeroes, geesteswesens, astrologie, ens.

Positiewe, magiese denke is in werklikheid 'n filosofie van wanhoop. Die simplistiese, oppervlakkige optimisme bring geen vertroosting vir gekwelde siele nie en laat mense weerloos in traumatiese omstandighede wat eenvoudig onveranderbaar is. Dit veroorsaak ook onnodige, sinnelose skuldgevoelens en lyding omdat dit die idee insluit dat mens se negatiewe gedagtes die oorsaak is van terugslae in mens se eie of in 'n ander persoon se lewe. Dit bevorder ook onrealistiese, opgeblaasde selfverwagtinge en uiteindelik lei dit tot wanhopige teleurstelling wanneer die persoon ontdek dat hy/sy nie alles kan vermag soos hy/sy glo en dink nie.

Positiewe denke kan ook meegevoel met en empatie teenoor die lyding van ander ondermyn en afstomp. Dit is wreed en immoreel om 'n kind wie se ma bv. aan 'n ongeneesbare siekte lei of 'n kind wat hárd leer, maar nie oor die vermoë beskik om hoog te presteer nie, te laat glo dat 'n positiewe ingesteldheid dié dinge kan verander. Dié kinders benodig ondersteuning, nie (valse) geloof in die magiese werksaamheid van gedagtes en spraak nie.

Positiewe denke is in wese oneties. Dit is oneties om mense en omstandighede te wil manipuleer deur denke en spraak om sodoende eie doelwitte te bereik.

3 Slotwoord

As Christene moet ons ons kinders teen alternatiewe leermetodes, wat in werklikheid nie leermetodes is nie, maar 'n inleiding tot heidense, okkultiese praktyke, beskerm. Ons moet hulle bybelse beginsels t.o.v. beide streshantering en skoolwerk leer. Ons moet hulle leer dat die weg na ware en blywende streshantering en emosionele stabiliteit in die bybelse opdrag om biddend God te loof en prys en seëninge te tel, lê (1 Thess 5:16-18). Om God te loof en prys en om seëninge te tel lei tot dankbaarheid en aanvaarding en verskaf derhalwe ware innerlike vrede. M.b.t skoolwerk, moet ons ons kinders die bybelse, karaktervormende deugde van harde werk, pligsgetrouheid, nederigheid en self-dissipline leer. Hierdie deugde waarborg nie aardse sukses nie, maar is volgens God se Wil en is derhalwe die karaktereienskappe wat volgelinge van Christus Jesus moet na strewe.