Nuusbrief 2 van 2013

Februarie 2013

VCHO relevant in sy strewe

Gewaande neutrale onderwys 'n hersenskim

Ons vorige nuusbrief het dit beredeneer dat die VCHO se verklaarde doelstrewe naamlik Christelike onderwys, relevant is. Onderwys in Suid-Afrika het gedurende onderskeie tydvakke van ons geskiedenis veral die twee strome gehuisves, naamlik
(i) die Christelik-gereformeerde, wat sedert Afrika- nervolkstigting nog deurentyds deel van die volkshuishouding was (vgl. CNO & CVO).
(ii) Die gewaande neutraliteitsidee het met Britse bewinds- oorname aan die Kaap vastrapplek gekry en word nog deur sommige as die ideale onderwys-model gehuldig.
Daaropvolgende ontwikkeling van SA-onderwys toon egter dat "neutrale onderwys" slegs maar die teelaarde voorberei vir onderwys wat ideologies van 'n ander herkoms as die vroeer- gevestigde Christelik-nasionale (tans -volkseie) is. Die beste hedendaagse voorbeeld is die ideologie van die evolusionisme, soos wat dit weer in 2013 aan skole en universiteite geleer sal word. Neutrale onderwys kon en het ideologies nie ongeskonde gebly nie, omdat dit 'n onmoontlike posisie-keuse is.

Bybelse gegewe kanselleer enige gedagte aan 'n sg. "middeweg", aangesien die keuse slegs vir of teen God kan wees. Die keuse is nie vermengd van aard nie. Oorvloed getuienis wat die geesteswetenskappe opgelewer het is dat, onder beheersing van of die Goddelike of ander geestesmag(te), elke individu hom- /haarself lewensbeskoulik, vanwee die besondere geloofsoortuiging, daaraan bind. Onderwys wat hetsy in die klaskamer of lesinglokaal aangebied word, word onvermydelik hierdeur bepaal. 'n Onderwyser of dosent kom (as volledige mens) met sy of haar lewensbeskoulike 'bagasie' en al na die aanbieding. Dit is of Christelik, of dit is nie. Daar is nie 'n tussenposisie nie. Vrysinnigheid word wel as ongebonde gereken, maar intussen is dit ten nouste met die liberalisme verweef, waarvan ons tans die uitwasse in oormaat beleef. Bowendien staan Christelik teenoor, en nie naas al die ander, dat Christelike onderwys (foutiewelik) bloot as een van vele alternatiewe (die moderne siening) vir onderwys voorgehou sou kon word nie.

Die VCHO se meer as sestig jaarlange verklaarde standpunt is dat daar nie met die Bybelse Waarheid ge-eksperimenteer moet word nie. God het sy heilige bedoeling vir sy skepsele op geen dubbelsinnige wyse nie bekendgemaak, sodat daar geen twyfel kan bestaan nie oor waarheen ons met opvoeding en onderwys op koers moet wees. Heersende tendense om die Godsopenbaring onder verdenking te probeer bring (selfs vanuit die Christelike kerk?), is niks anders nie as 'n poging om die absolute gesag van die geopenbaarde Waarheid óf te relativeer, óf uit te rangeer. Deur Christelike onderwys uit te rangeer, kan teenstanders daarvan hulle planne vir 'n gesekulariseerde samelewing probeer deurvoer, met alternatiewe onderwys as die aangewese voertuig.

VCHO se posisie-keuse Bybelgefundeerd

Die VCHO neem standpunt in ten gunste van Christelike onderwys en wetenskap, omdat dit in elke opsig verantwoordbaar is. Dit is verantwoord-baar in vertikale sin teenoor God wat sy wil vir die wêreld en skepsele bekendgemaak het. Dit is verantwoordbaar in horisontale sin teenoor medemense, wat daaraan onderworpe is om volgens die wil van God te lewe. Die Christelike standpunt is voor alles een wat volledig met die gebod van liefde tot God en die naaste rekening wil hou. Dit setel daarin dat die opvoeding, onderwys en wetenskap so begrond en vergestalt moet word dat dit op die Bybelse beginsels van kennis, liefde en waarheid sal berus. Die doel van Christelike onderwys kan daarom nie die verheerliking van kennis of meer bepaald, die natuur wees nie (vgl. die evolusionisme), maar dat die kind, jongmens en student die God van die Bybel en van sy skepping in al ruimer mate sal ontmoet en leer ken 'n die toeneem in kennis en van die heerlikheid van God, tot heiliging van die nuwe mens in Christus deur die geloof.

Die bestudering van die grootsheid van die Almagswerk van God moet daarom uit die samestelling van die leerplan blyk. (Uit 'n deeglike ondersoek van die evolusionistiese leerplan aan 'n vroeer tradisioneel Christelik-Afrikaanse universiteit, sal enigeen kan vasstel dat dit tans onverbloemd opponerend teenoor die Christelike ideaal staan.) Dit is egter deur die sistematiese ontsluiting van die werklikheid aan die hand van die Bybels- verantwoorde leerplan en die konsekwent Christelike vakinhoude dat die kennis van God en van sy werke almeer tot skering en inslag van die lewens van kinders en jongmense gemaak moet word. Dit word toegegee dat ons kennis van die werklikheid nie volmaak is nie; die wetenskap moet deurentyds die korrektiewe, soos uit navorsing en nuwere kennis na vore kom, aanbring. Christelike onderwys en wetenskap roem egter nie op volmaaktheid nie. Dit roem wel daarin dat, kragtens die soenverdienste van die Here Jesus, die geskape werklikheid in hierdie Lig - die Lig wat van God afstraal voort - nuut geinterpreteer kan word, in ooreenstemming met die onfeilbare Woord van God. Hierin verskil Christelike onderwys/wetenskap ingrypend en radikaal van alle ander werklikheids-beskouings, al sou dit ook so wees dat daar in ander wetenskaps-beskouings momente van waarheid aangetref word. Christelike wetenskap is nie blind hiervoor nie en dit word geredelik toegegee, ook deur wetenskaplikes in hierdie tradisie. Die kardinale punt wat egter hier beklemtoon moet word, is dat die onderwys/wetenskap in diens van 'n hoer Mag of Persoon gestel word.

Elke beoefenaar van wetenskap gaan van 'n religieuse oortuiging of staanplek uit, waarvolgens erken word dat daar iemand veel groter of hoer moet wees as hy-/syself, wat die beheer het oor die ontstaan/wording en voortgang van die werklikheid, en die afloop (voleinding) daarvan. Hulle interpretasie van die werklikheid word daarvolgens bepaal. Ons verneem dikwels oor die media dat gebeure waaroor mense nie beheer het nie aan die Noodlot toegeskryf word; evolusioniste plaas hulle vertroue in die Natuur. Andere stel die Wetenskap as hoogste bepaler (iets wat dus nie wetenskaplik bepaal kan word nie is non-eksistent). In nie een hiervan het ons met die Christelike uitgangspunt te doen nie. In elk van die genoemde verwysings beskik die eksponente oor 'n magdom (wetenskaplike) kennis, nogtans is die interpretasies van die werklikheid verskillend. 'n Tweede kenmerk is dat elkeen aanwysend religieus- bepaald is (nie-neutraal nie): noodlot-gedrewe; naturalisties; scien-tisties agtereenvolgens, maar nie Christelik nie. Die kennis/wetenskap staan in genoemde drie gevalle derhalwe aan ander gode toegewy as die God van die Bybel. Desondanks is talle Christen-ouers oenskynlik tevrede dat aan hulle kinders/jongmense onderwys/wetenskap gebied word wat opsigtelik nie-christelik van aard is. Hulle dring minstens nie openlik op Christelike onderwys aan nie.

Noodsaak aan Christelike bewegings en instellings

Die noodsituasie met onderwys en wetenskap in Suid-Afrika vereis dat daar vanuit 'n nuwe benadering gedink moet word in die rigting van die oplossing, betreffende Christelike onderwys. Dit is duidelik dat vroeer tradisioneel Christelik-Afrikaanse universiteite hulle heersend nie vir die akkommodering van konsekwent Christelike onderwys en wetenskap sal oopstel nie. Ampsdraers in hoe posisies het dit reeds in soveel woorde laat blyk. Daar is doodgewoon nie meer plek daarvoor in 'n transformerende SA nie.

Teen die agtergrond hiervan word dit al meer 'n gegewe dat daar met alles tot beskikking vir eie onafhanklike instellings vir Christelik-Afrikaanse onderwys gewerk sal moet word. Sodanige instellings bestaan ook reeds, waar ten dele in die behoefte aan onderwys en opleiding voorsien word. 'n Mens moet in die lig hiervan besondere betekenis aan die bestaan van bewegings en instellings soos die BCVO, AROS & ARSO die AP Akademie, die Tuisskoolbeweging, Moria, e.a. heg, vir die werk wat alreeds daar gedoen word. Terselfdertyd moet waardering uitgespreek word vir onderwysers aan openbare skole wat hulle nog vir Christelike onderwys beywer, in soverre as wat dit moontlik is.

Dr. Joe Pipa in SA

Dr. Joe Pipa van die GPTS (Greenville Presbyterian Theological Seminary) in die VSA is tans in SA vir 'n sprekerstoer vanaf 17-24 Maart 2013, wat groot belangstelling wek. Dit handel oor ondermeer gereformeerde teologiese opleiding en 'n preekreeks oor die 7de gebod. Die naweek van 22 en 23 Maart word 'n konferensie, in samewerking met die Gereformeerde Kerk, Bet-el, in Pretoria aangebied, waar dr. Pipa die hoofspreker sal wees. Meer inligting oor dr. Pipa en die toer is beskikbaar by: http://wp.me/pM9VW-L2.

Gesamentlike geleenthede die jaar op program

Opleidingsgeleentheid oor kommunikasie 4 Mei
Konferensie oor Bybelkennis en ons gereformeerde belydenis 3 Augustus
VCHO-kongres, waarvan die tema weldra aangekondig sal word 5 Oktober