Nuusbrief 3 van 2013

Maart 2013

Beoordeling van SA onderwys

Onlangs het 'n onderwys-segsman, Danie van Wyk, in sy beoordeling van SA onderwys dit sonder omhaal van woorde só gestel:

?Was die Suid-Afrikaanse openbare onderwys vandag 'n pasiënt, sou ons dit in die intensiewe-sorgeenheid van 'n hospitaal vind, gekoppel aan 'n asemhalings-apparaat wat dit kunsmatig aan die lewe hou. Dít is so erg as wat die toestand van onderwys in Suid-Afrika in 2012 is ...?

Die uitlating was tydens 'n beraad oor onderwys wat in Aug. 2012 te Athlone gehou was, gedoen, om die ernstige knelpunte daarvan uit te lig. Knelpunte wat, te midde van tydige waarskuwings in 'n vroeë stadium d.m.v. o.m. die media geopper was, om die onderwysowerhede van die wantoestand bewus te maak. Die soort knelpunte wat voorkom, is van 'n aard wat verskeie diepliggende gebreke na vore bring, maar daar is veral twee aspekte waarop die aandag gevestig wil word.

Valse vertroue in ekonomiese probleemoplossing

Die eerste is die persepsie wat by die onderwysowerhede bestaan dat meer geld probleme in die onderwys sal laat weggaan. Dit moet as 'n valse probleemstelling uitgewys word dat baie geld probleme sal oplos. Dit toon egter die benadering waarvan uitgegaan word. In jonger dae het 'n mens self die fout gemaak om te dink dat as daar maar net genoeg geld was, dan sou alles regkom. Dit is egter 'n naïewe manier van dink en redeneer en boonop gevaarlik, veral vir die onderwys van 'n land. So 'n benadering reflekteer iets van die filosofie ten grondslag van SA onderwys, waarvan ouers en ander belanghebbendes kennis moet neem, naamlik die valse vertroue in die vermoë van geld en die ekonomie, wat o.m. ook die koers van onderwys in SA bepaal. Bykans 20% van die totale staatsbesteding word aan onderwys toegewys, wat die grootste deel is van die nasionale begroting. Met soveel geld tot beskikking sou onderwys van hoogstaande gehalte gebied kon word, indien dit met oorleg en kundigheid bestuur word, maar in SA is dit nie die geval nie.

Onderwysmodel se mislukking

Die onderwysmodel se mislukking aan inherente gebreke te wyte

Die tweede is die geneigdheid om op die simptome van die probleem te bly konsentreer. Sedert die vroegste knelpunte begin manifesteer het, het die simptome van 'n ontoereikende onderwyssisteem net bly eskaleer, wat onderwyskenners en raadgewers uiteindelik tot die besef moes bring dat iets radikaals fout is met SA se onderwysmodel. 'n Vraag wat tot nogtoe onbeantwoord gebly het is waarom daarmee volhard word. Dit lei ongetwyfeld tot enorme skade van die opkomende geslag en die SA jeug in die algemeen, en die ontwikkeling van die land word ernstig gekortwiek. Maar meer belangrik nog, in soverre dit die strewe na Christelike onderwys betref, bly daar in finale instansie die saak van verantwoording. Wanneer sekere simptome aanduidend van inherente gebreke in 'n sisteem voorkom, word gebruiklik na die oorsaak daarvan gevra. Daar word grondig vasgestel waaraan die oorsaak te wyte is, en of die gebreke nie dalk in die sisteem self geleë is nie. Botswana, Kenia, Mosambiek (waar daar nog onder-die-boom skole is) en selfs Zimbabwe vaar net soveel beter met hulle onderwys, terwyl hulle soveel minder betaal. Die ou retoriese vraag bly: het onderwyskundiges regtig seker gemaak dat SA wel een van die beste onderwysmodelle het?, aangesien die beskikbaarheid van geld klaarblyklik nie 'n probleem is nie.

Aan die anderkant: is dit regverdigbaar dat soveel aan onderwys bestee word, terwyl wesenlike aspekte daarvan oor die hoof gesien word, soos deur die gebreke uitgewys? Is dit 'n geval dat die onderwysowerhede hulleself weerspreek wanneer hulle sê dat onderwys in SA 'n prioriteit is? Ekonoom, Dawie Roodt, het al vantevore (2010) kommentaar gelewer dat SA 'n duur onderwys-sisteem probeer instandhou en dit soos volg gestel: ?die regering moet eerder van vooraf beplan, indien hy beter resultate vir sy duur onderwysstelsel wil verseker?.

Waarom word hiervan so 'n ophef gemaak?

Wanneer die openbare onderwyssisteem so voortdurend in die spervuur kom, moet ons onthou dat die oorgang wat daar in SA gekom het, verwagtinge by baie mense gewek het. Daar was (en is steeds) diegene met onrealistiese verwagtinge oor wat die oorgang hulle sou/sal besorg. Aan die anderkant is daar diegene wat met meer realistiese verwagtinge hulle hoop daarop gevestig het dat dit nuwe moontlikhede vir die land sou teweegbring, waarvan o.m. ook die onderwys, wat 'n moontlike bloeitydperk tot gevolg sou hê? Daar bestaan nou soveel meer geleenthede, óók wat naskoolse opleiding betref, wat alle inwoners 'n baie beter kans bied om vir hulleself opgang te maak, sodat ekonomiese vooruitgang kan plaasvind. Weereens is die klem op die ekonomiese. Dit het nogtans slegs in 'n beperkte sin gebeur en tans is die vooruitsigte ? ekonomies geproke ? glad nie rooskleurig nie.

SA beleef tans die gevolge van sosio-ekonomiese verwagtinge wat nie gerealiseer het nie. Maar dit beleef ook die gevolge van 'n onderwysmodel wat nie in staat was om te lewer wat dit moes nie. 'n Mens sou met die meeste van die probleem-identifikasie kon saamstem, maar daarmee sou ons Christelike verantwoordelikheid nie afgehandel wees nie. Die Christelike onderwysgemeenskap durf nie ongeërg wees oor die toenemende verval in die onderwys en vele ander segmente van die samelewing nie. Bowendien bevind talle kinders van Christen-ouerhuise hulle in die openbare skolebedeling en word hulle op die een of ander wyse geraak. Dit is net onvermydelik. Christene kan en mag nie werklikheidsontvlugting toepas nie, deur hulle eenkant te onttrek met 'n houding van laat-maar-gaan nie. Christene mag ook nie slegs kritiseer sonder om konstruktief hulle bydrae tot verantwoordbare onderwys te lewer nie.

Verantwoordbare onderwysmodel

'n Verantwoordbare onderwysmodel vereis deeglike besinning, beplanning en hervorming

Religieuse werklikhede

SA se samelewing huisves sy eiesoortige religieuse agtergronde, wat waarskynlik van die mees uiteenlopende van die wêreld is. Dit is egter verstommend met watter gemak die religieuse diversiteit vanoor die wêreld binne korte tyd in SA gevestig geraak het. Tot die mate dat selfs voorheen religieus-averse lede van die samelewing die verskeidenheid wat sedert 1994 gebied word aangegryp het. Maar die byna bomenslike eise wat dit aan die modellering van 'n nuwe onderwysbedeling vir SA gestel het, het sy eiesoortige problematiek meegebring. Die verwagte oorbrugging is daarin gevind dat 'n beleid van die nivellering van godsdienstige verskille in onderrig gevolg word, waardeur die mees fundamentele saak in menselewens uitgekanselleer word, ten gunste van wat as ?intergeloof? bekend geword het. Religieuse werklikhede kan egter nie blywend geïgnoreer word nie, sonder dat dit tot groot spanning in 'n samelewing lei. Daar sal nie onbepaald daarvan weggestuur kan word nie. Op die een of ander wyse sal voorsiening getref moet word, deur wat bes moontlik as enkelgeloof-onderwys aangedui kan word.

Ideologiese werklikhede

Reg uit die staanspoor sedert 1994 was dit vreemde ideologie wat grootliks deur buitelandse eksperimentering aangevuur was, wat die deurslag vir SA onderwys gegee het. Daar was nie ag geslaan op die godsdienstige en kultuur-historiese milieu waaruit Suid-Afrikaanse onderwys kom nie. Toegegee dat die SA onderwysmilieu van die verlede sy eie stel kompleksiteite bied. Maar, om daar bo-oor te gegaan het met onderwys wat vanuit 'n vreemde godsdienstig-kulturele milieu oorgeneem was, het SA onderwys onkeerbaar tot mislukking gekelder. Ons weet verder dat mense, na gelang van hulle godsdienstig-kulturele agtergronde, eie ideologieë huldig, wat deur hulle lewens- en wêreldbeskouing weerspieël word. Ideologie in SA is vandag nog net so lewendig as voor 1994, soos wat ons dit gereeld uit die uitsprake van mense oor verskillende sake verneem. Dit bevestig net die vermoede dat ideologiese verskille in SA baie moeilik opgehef sal kan word. Eiesoortige onderwys vir homogene groepe wat dieselfde ideologiese beskouinge huldig, blyk dus onafwendbaar te wees.

Kulturele werklikhede

Die laaste aspek waaraan aandag gegee wil word is die kwessie van kulturele gebondenheid. Naas die religieuse, vervul kultuur van die mees belangrike funksies, wat in bepalende sin die houdings, gedrag, oriëntasies en waardes in menselewens na vore bring. Die plek wat kultuur inneem kan nie geïgnoreer word nie, aangesien dit inherent deel van die individu se lewe uitmaak. Mense handel volgens hulle godsdienstig-kulturele oortuiging en daar moet noodwendig met die realiteit van kulturele diversiteit en verskille rekening gehou word. Die verweer sou kon wees dat dit 'n ongeldige punt is, omdat ons in elk geval multi-religieuse skole het. Dit bly egter 'n ope vraag hoe daar aan kulturele verskeidenheid reg geskied kan laat word op so 'n wyse dat nie één van die kulturele groepe te ná gekom word nie. (i) Die mees blatante vergrype van die kant van onderwysowerhede teen die kultuur en taal van die Christen-Afrikaner is bekend. (ii) In voorgeskrewe vakhandboeke word o.m. die ?verkeerdheid? van die Afrikaner se godsdiens en kultuur as afbrekend en diskriminerend tot ander kultuur-groepe voorgestel. Dit blyk dus onvermydelik te wees dat ook kulturele diversiteit nie regmatig geakkommodeer kan word nie, anders as om uiteindelik vir eie onderwys voorsiening te tref.

Slotsom

Die slotsom waartoe gekom word is dat die heraanpak van ?n geskikte onderwysmodel vir SA ?n dringende noodsaaklikheid geword het. Flagrante oordeelsfoute toon dat daar in die ontplooing, voortgang en einddoel van onderwys sedert 1994 van ?n vertrekpunt uitgegaan was/word dat: (i) die ekonomie as ?n ?versekering? geneem word dat onderwys moet slaag en dat 'n sosio-ekonomiese einddoel tog net moet verseker dat daar vir almal werk sal wees; (ii) die religieuse, ideologiese en kulturele werklikhede van die SA samelewing duidelik oor die hoof gesien was toe die onderwysmodel vir SA saamgeflans was, tot groot skade; (iii) die kritiese begronding van SA onderwys nie na behore gedoen was nie, wat oor tyd heen die talle inherente gebreke opgelewer het, wat goeie onderwys geleidelik lamgelê het.

?Regstellende aksie? in die onderwys is besig om voltrek te word, deurdat daar stelselmatig vanuit die openbare skolebedeling na die privaatbedeling beweeg word. Die oorwegings is duidelik dat ouers almeer na die verantwoordbare grondslae van die onderwys wil terugkeer. In die proses word voorkeur gegee aan Christelike onderwys en opleiding, wat ware sekuriteit bied ten opsigte van die godsdienstige, ideologiese en kulturele werklikhede.