Die Verbondsmoeder in Skriflig

Dr I H Horn

Moederskap behels dat 'n vrou aan haar kinders onder meer die volgende bied: liefdevolle kommunikasie, blywendheid, sekuriteit, vertroeteling, gerusstelling en dissipline. God het die vrou so geskape dat moederskap in haar hart geskrywe staan. Daarbenewens het God die vrou 'n passie vir haar eie kinders gegee. In ons tyd blyk dit egter dat baie vrouens 'dwaas geword het in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister' (Romeine 1:21). Baie vrouens weet eenvoudig nie meer van nature wat ware moederskap behels nie. Dié vrouens mag dan óf hulle kinders te min aandag gee, óf hulle is oortoegewy aan hulle kinders. Eersgenoemde hou verband met die feminisme en die sogenaamde emansipasie van die vrou. Laasgenoemde hou verband met die magdom literatuur aangaande kinders grootmaak waarin die advies op 'n humanistiese, mensgesentreerde, eerder as 'n Bybelse perspektief berus.

Die Bybel praat nie direk van moederskap nie, maar van ouers. Beide ouers word beveel om hulle kinders lief te hê, te dissiplineer en in God se Woord te onderrig. In Efesiërs 6:4 som Paulus die Here se ordes in drie fundamentele bevele op: liefde, dissipline en onderrig. Hierdie opdragte moet op verskillende wyses deur die vader en moeder vervul word. God het die man en die vrou nie net fisies verskillend geskape nie. Hy het hulle ook met emosionele verskille geskape, en derhalwe het Hy aan die man en die vrou verskillende rolle in die huweliksverhouding toegesê. Om die moeder se spesifieke rol in die gesin te bepaal, moet ons dus kyk na die rol wat die Here vir die vrou in die huweliksverhouding neergelê het. Die leringe van die feminisme is in direkte teenstryd met die rol wat die Here vir die vrou neergelê het.

In die gedeeltes van die Bybel waar God oor die vrou se rol in die huweliksverhouding praat, byvoorbeeld Efesiërs 5:22-24, Kolossense 3:18 en 1 Petrus 3:1, is Sy kernopdrag aan die vrou dat sy aan haar man onderdanig moet wees. Hierdie bevel beteken nie dat vrouens minderwaardige wesens is of dat vrouens aan mans in die algemeen onderdanig moet wees nie. Die vrou moet aan haar eie man onderdanig wees. In elk van dié Skrifgedeeltes word die vrou ook eerste aangespreek. Dit dui op vrywillige onderwerping - 'n liefdegawe van haar aan haar man wat sy gesinshoofskap tot stand bring en in stand hou.

Die Here het die man as hoof van die gesin aangestel omdat Hy hom geskape het om te inisieer en te lei, terwyl Hy die vrou geskape het om te volg. Die vrou se sondige natuur kom natuurlik in opstand teen die gesagsordening wat God vir die huwelik beveel. Nietemin, die vrou wat God se opdrag aan haar as huweliksmaat gehoorsaam, skep vir haarself en haar gesin die geluk en welsyn wat ons Hemelse Vader vir hulle bedoel het. Sy bring in haar huis die liefde en die samesyn wat in Psalm 133 besing word, tot stand.

Die vrou se erkenning van haar man as die gesinshoof skap 'n atmosfeer van liefde en rustigheid in die huis. Haar respek vir haar man is die sleutel tot die respek en eerbied wat die kinders vir hulle vader moet toon. Die moeder is die brug tussen die kinders en die vader, en haar optrede teenoor haar man moet die vader-kind verhouding opbou. As sy nie haar man as hoof erken nie, mag sy die vader-kind verhouding dalk onherroepelik beskadig. Opbou eerder as afbreek van die vader is vandag belangriker as ooit tevore. Die feminisme en die sogenaamde emansipasie van die vrou het in die huidige gekulmineer in 'n samelewing wat vyandig teenoor mans staan.

Die vrou wat te trots is om haar man as haar hoof te eer, doen haarself en haar kinders 'n groot onreg aan. Sy ontneem haarself en haar kinders die emosionele en geestelike beskerming wat die hoofskap van die man hulle bied en wat hulle nodig het. Die vrou is emosioneel en geestelik kwesbaarder as die man en juis daarom het God in Sy wysheid die man as hoof aangestel.

Die gevolge van die moeder se trots is óf dat die ouers in gedurige konflik is, óf dat die vader die rol van gesinshoof aan sy vrou oorgee. Albei lei tot 'n gebrek aan innerlike geborgenheid en sekuriteit by die kinders. Die vrou se oorname as gesinshoof kan diepgrypende en ontsettende gevolge hê. In ons samelewing waar die man van sy hoofskap ontneem is of waar hy dit vrywilliglik ontduik, ervaar ons toenemende homoseksualisme, lesbienisme, vrouemishandeling en verkragting. Dit kan as volg verklaar word: Seuns leer om nie-dominant, selfs swak te word, maar omdat die man se God-geskape drang tot leier- en hoofskap selde totaal onderdruk kan word, word dié mans dikwels vrouemishandelaars en verkragters. Daarbenewens soek alle mans na sagtheid en teerheid. Seuns van 'n dominerende moeder en 'n swak vader neig derhalwe meer dikwels tot homoseksualisme omdat hulle warmte, sagtheid en teerheid eerder met mans as met vrouens assosieer. Dogters uit 'n gesin waar die moeder die dominante figuur is, leer om leierskap in hulle eie huwelike en op ander lewensterreine op te eis, maar omdat God die vrou nie geskape het om hoof te wees nie, neig feministe asook ander vrouens in leierskapposisies dikwels tot hardheid en selfs tot ongenaakbaarheid.

Die sogenaamde emansipasie van die vrou het ook 'n ander diepgrypende gevolg gehad. Dit het baie vrouens oortuig dat self-vervulling nie in moederskap gesetel is nie, maar in 'n loopbaan, en vordering in dié loopbaan. Ek besef dat baie vrouens as gevolg van hoë lewenskostes móét werk en dat moederskap en alles wat dit behels moeiliker vir 'n werkende vrou is. Nietemin, die Verbondsmoeder wat genoodsaak is om te werk, moet nogtans haar heil en vreugde in haar moederskap vind en nie in haar werk nie. God se roeping aan die vrou as moeder word in 1 Timoteus 2:15 gegee, naamlik: '[S]jy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoëndheid'.

God is 'n God van liefde. Hy verstaan as die moeder moet werk. In die lig van wat in 1Timoteus 2:15 geskrywe staan, glo ek egter nie dat Hy verskonings van 'n werkende moeder sal aanvaar dat sy te min tyd gehad het om haar kinders na Hom toe te bring nie. Die Verbondsmoeder moet haar man en kinders vóór persoonlike ambisie stel. In Deuteronomium 6:5-9 beveel die Here dat kinders in 'n omgewing wat met Sy Woord oorheers word en deurdrenk is, moet grootword. Om 'n werkende moeder te wees, is geen verskoning om nie huisgodsdiens voor ontbyt en aandete te hou nie, om nie wyding na aandete te hou nie, om nie Bybelverhale te lees en te bid voor slapenstyd nie, om nie Sondae aan die Here te wy nie en om nie die kind te leer om Skrifgedeeltes te memoriseer nie. Sny byvoorbeeld TV uit en daar is onmiddelik ekstra tyd.

God beveel die moeder om Godvresende kinders groot te maak. Daarin lê haar heil. Haar kinders mag egter nie die spil wees waarom haar lewe draai nie. Die gesagsordening wat die Here vir die gesin neergelê het is: Christus bo, dan die man, dan die vrou (Efesiërs 5:23) en laastens die kinders (Efesiërs 6:1-2). In sommige gesinne plaas die moeder die kinders eerste. Hulle behoeftes en begeertes word eerste gestel. 'n Kind-gesentreerde gesin word ook aangemoedig deur die klem wat sielkundiges en opvoedkundiges op kinders se selfbeeld en hoë self-agting plaas. 'n Skynbare teenstrydigheid mag egter ontstaan, naamlik dat die kind nie meer toegelaat word om kind te wees nie. Hy/sy moet altyd beter wees as ander kinders. Hy/sy word alles gegee wat hy/sy wil hê, maar daar mag ook vereis word dat hy/sy presteer, beter as ander kinders en verkieslik bo sy/haar ouderdomsvlak. Die begaafde kind sal heerwaarskynlik arrogant word, terwyl die vereiste om te presteer die minder begaafde kind onder geweldige spanning plaas wat uiteindelik selfs tot selfmoord kan lei. En albei hierdie kinders, begaafd en onbegaafd, leer dat liefde verdien moet word. Hoe kan kinders ooit die ware Evangelie van die mens se algehele onverdienste begryp? Boonop, kinders wie se selfbeeld oorbeskerm word, stuur op traumatiese ontnugtering af wanneer hulle een dag besef dat hulle nie die spil is waarom ander mense se lewens draai nie en/of dat hulle dalk nie so wonderlik is soos die moeder te kenne gegee het nie. Hoe kan hierdie kind ooit sy/haar eie sondige hart raaksien en tot ware bekering kom?

Ten slotte: Ons kinders, soos alle kinders deur die eeue heen, het lewensnood na 'n Bybelse huisgesin waar die gesagsorde volgens die Here se wil is. Mag die Here die sluier oor die harte van vrouens lig dat hulle moederskap volgens Sy wil verstaan en die invloede van ons tyd - die feminisme en die onBybelse opvoedingsadvies - te bowe kom. Die moeder is die hart van die gesin en dit is by haar waar die herstel van ons gesinne moet begin.

Bronnelys:

Christenson, L. 1970. The Christian family. Minneapolis: Bethany Fellowship.

Grams, A. 1968. Changes in my family life. St.Louis, Missouri: Concordia.

Opperman, G. 2002. My kind: my Alfa en Omega. Roeping en Riglyne, Jaargang 50, Nr 2, Des.:1-2.

Viljoen, H. [sa]. God se plan vir 'n gelukkige huwelik. Pta: Christelike lektuurmaatskappy.