ONTMOET DIE VCHO

ATTIE BEETGE

Ds Attie Beetge (Emeritus)

My verbintenis met die VCHO strek so ver terug as 1957, toe ek as Kweekskoolstudent op Stellenbosch, ʼn lid van hierdie lofwaardige Vereniging geword het.

In die vroeë sewentigerjare van die vorige eeu het ek betrokke geraak by die werwing van lede deur verskillende gemeentes oraloor te besoek. Dit was die tyd toe Gerrie van Niekerk sekretaris van VCHO geword het. Hy was ʼn onderwyser en ook leierdiaken in die gemeente Rustenburg, waar ek toe leraar was. Ek en Gerrie was boesemvriende. Deur my aanmoediging het hy destyds aansoek gedoen vir die vakante pos as sekretaris.

Nadat hy met die werk in Bloemfontein begin het, het ek en hy baie gepraat oor effektiewe maniere om lede te werf. Dit was nie lank nie, toe span hy my in. Kort hierna het ek ʼn beroep aanvaar na Pretoria-Oos. Ek het toe steeds op ʼn deeltydse basis gemeentes begin besoek, wat deur Gerrie gereël is. Ek het dan die erediens gelei. Die prediking was veral toegespits op die verbondsverantwoordelikheid wat ons teenoor ons kinders het. Aan die einde van die erediens het ek vir die kerkgangers inligting oor die VCHO gegee en verduidelik watter rol die Vereniging speel as vennoot in die opvoeding en onderwys van ons jeug.

Die reaksie wat ons in daardie jare by ons kerklidmate gekry het, was fantasties. Dit was niks snaaks as ons 20, 30, 40 aftrekorders tydens so ʼn gemeentebesoek gekry het nie. Mense was entoesiasties oor die werk van VCHO.

Ek kan nie onthou hoeveel gemeentes ek besoek het nie, maar dit was baie. Maar elke keer was dit vir my ʼn groot voorreg en vreugde om dit te kon doen. Ek was altyd bemoedig deur die pragtige gesindheid van leraars, kerkrade en lidmate. Almal was altyd positief en opgewonde oor die baie goeie werk wat VCHO doen.

Baie dankie vir die groot voorreg wat ek kon hê om betrokke te kon wees by hierdie pragtige Vereniging.

Ek wens u van harte geluk met die 50-jarige bestaan. Ek wil die bede uitspreek dat die beste jare vir VCHO nie agter lê nie, maar voor. Julle taak is nou groter as wat dit ooit was. Mag die VCHO steeds van krag tot krag gaan, in biddende opsien na Hom wat gesê het:

“Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die Koninkryk  van God is juis vir mense soos hulle” (Markus 10: 14)

DAWIE BOTES

Ds. Dawie Botes

Ek het in 1943-44 my studie aan die destydse UKOVS voltooi, en my in die onderwys begeef. Ek het maar altyd die plan gehad om my as predikant te bekwaam, maar die Botesse is maar gemiddelde mense! Ek het uitgesak in Grieks en Hebreeus en het toe maar die onderwys gekies.

Drie oudrektore was my dosente, te wete DF Malherbe, GD Scholtz en Benedictus Kok.  Tydens my onderwysjare het ek ʼn korrespondensiekursus in Maatskaplike Werk gevolg.

In 1945 is ek na die Universiteit van Stellenbosch en het ook op die studenteraad gedien. Daar het ek my studies as predikant voortgesit en was ook later primarius van die kweekskool.  Ek het drie jaar by die bekende professor FJM Potgieter, later vir etlike termyne voorsitter  van die VCHO-hoofbestuur, geloseer. Ek het ʼn baie hoë dunk van hom gehad.

In 1952 het ek my studies voltooi. Ek was maar pas in die bediening toe die manne my begin pols het oor Christelike Onderwys. Agter die skerms was daar heelwat spanning, want die Vrystaatse Universiteit het gedink dat die VCHO, wat in 1949 gestig is, hom in die rug wou steek. Daar was aanvanklik die gedagte dat die VCHO hom landswyd sou beywer vir ʼn Christelike Afrikaanse Universiteit. Ons het gevoel ons as VCHO-manne moet ʼn lae profiel handhaaf in die Nederduitse Gereformeerde Kerksinode van 1952.    Dominee Mentz was een van die reuse wat die NG Kerk gelewer het. Hy was ʼn streng gereformeerde man wat sy woord kon doen. Hy was ook assessor van die Kaapse Kerk.  Met sy afsterwe was ek teenwoordig by sy begrafnis. Ek het die VCHO daar verteenwoordig. Professor FJM Potgieter het hom as voorsitter opgevolg. Hy was vir baie jare die voorsitter.  Hy en ek het altyd ʼn besondere band gehad.

Dominee CC Colyn was die eerste sekretaris van die VCHO. Een van die briljantste manne wat ek geken het.  Op die ouderdom van 70 jaar werk hy aan sy proefskrif!  Na dominee Colyn is ek as sekretaris verkies. Ek onthou veral hoe dominee AMH Koornhof die pad oopgeveg het vir die VCHO, veral op finansiële gebied. Hy het homself nie gespaar nie.

Dominee Jan Jooste het toe as nuwe organiseerder na vore getree. Na hom het manne soos Manie Malan gekom, ʼn hoogs intelligente persoon en geweldig gefundeerd.  Ongelukkig het hy sterk gestaan onder die druk van veral professor Herman Strauss wat toe die visevoorsitter was.

Na Manie Malan was daar Erlank en Deon Hugo. Hugo het mooi aksente gehad waarvoor ek baie waardering gehad het. Toe het dominee Japie Gerber tydens ʼn sinodesitting aan my die suggestie gestel dat hy sy dienste aan die VCHO bied, indien hulle hom sou benodig. Hy was ʼn man met ʼn helder kop vir finansies. Hy en Dawid Jacobs was groot geeste. Hy het vir die VCHO baie beteken.

Gerrie van Niekerk was ʼn man wat baie invloed gehad het by skole en groot sukses behaal het met fondsinsamelings het. Sy kursusse was uitstekend gereël.

ʼn Besondere gebeure vir my was die aankoop van die skoolkompleks op Oviston. Ek het eendag die Rapport oopgemaak en het gemerk dat die skool in die mark was: skool, klavier, meubels, die lot! My vrou maak toe die opmerking of ek nie die Hoofbestuur moet nader of die VCHO dalk die skool moet koop nie. Die Hoofbestuur het dit baie ernstig oorweeg en het die skool gekoop.

Van ʼn man soos professor DF Malherbe het ek  aangename herinneringe. Hy was ʼn man met Christelik-nasionale beginsels.  In eie reg was hy ʼn besondere mens. So ook Dawid Jacobs. Hy het toegang gehad tot byna alle ministers. Hy en ek het talle kere saamgery na kongresse en vergaderings toe. Ek het die voorreg gehad om sy begrafnisdiens te lei.

Professor Danie Strauss is ʼn baie begaafde persoon. Veral professor P du B Kok het ʼn baie hoë dunk van sy akademiese vermoëns gehad. Danie het op die gebied van die Christelike wysbegeerte baanbrekerswerk verrig – nie net in Suid-Afrika nie, maar oor die hele wêreld. Sy publikasies was egter soms op so ʼn hoë vlak dat gewone mense dit moeilik gevind het om te volg. Ek het dikwels vir hom gesê: “Danie, kom af!” Hy het destyds baie gedoen om die leerstoel aan Rhodes gevestig te kry.

Ek het hom eendag baie verleë gesien toe daar by geleentheid van ʼn kongres ʼn Hoofbestuursverkiesing plaasgevind het. Ek was bekend vir my behoudende standpunte en is as gevolg daarvan op georkestreerde wyse uit die Hoofbestuur gestem. Baie Hoofbestuurslede was onthuts oor die gebeure. Hul mening was dat ek op ʼn “vuil” manier uitgestem is. Ek het dit veral gehad teen die oopgooi van die lidmaatskap van die VCHO aan ander kulture. Ek het gesê ons kan onder hulle iets soortgelyks (as die Vereniging) begin, maar ons lidmaatskap mag nie oopgegooi word nie. Later het die hele ding geboemerang toe dit weer “regses” is wat verkies word. Dit het daartoe gelei dat sommige lede uit die VCHO bedank het. So asof hulle ons op daardie manier wou laat voel. Ek dank die Here dat ons hierdie pad steeds loop.

Die fondamente van die VCHO is goed vasgelê. Op die beginsels wat ons begin het, waarmee ons jare voortgegaan het, moet ons die nuwe millennium binnegaan. Ons sal onder die seënende hand van die Here suksesse behaal. Ek twyfel nie daaraan nie.

JAN JOOSTE

Ds. Jan Jooste

Terwyl ek in Stellenbosch op kweekskool was, hier in die veertigerjare, het my kontak met die VCHO begin. Professor FJM Potgieter was my mentor. Ek het vier jaar onder hom studeer en daarna het ons lekker saamgewerk in die VCHO. Ek het so hier in 1951/1952 by die VCHO aangesluit.

Ek was van die begin af aangetrokke tot die idee van die soewereiniteit-van-God-op alle lewensterreine. Veral dit het my sterk aanklank laat vind by die VCHO.

Met Ansie Koornhof se dood – ek was toe 10 jaar predikant – het die VCHO my genader vir die pos van sekretaris. Dit was in 1962. Dominee Koornhof moes hom baie toespits op die terrein van fondsinsameling. Hy moes elke maand genoeg insamel sodat hy salaris kan kry!  In die proses het hy baie gemeentes besoek.

Toe ek betrokke raak het ek vir professor Potgieter gesê dat ek nie dominee Koornhof se werk net so sal kan voortsit nie. Ek wou eerder die klem laat val op die akademiese werk en die nodige skakeling met akademici. Op hierdie basis het ons mekaar gevind en so het ek die pos aanvaar. My hele termyn was onder die voorsitterskap van professor Potgieter. Ek het ʼn lang pad saam met hom geloop.

Hy was inderdaad my lieflingprofessor! Daardie jare was gekenmerk deur ʼn sterk groei in die VCHO. Ek het talle gemeentes besoek. Dit was heerlike werk. Donasies het gereeld ingekom en ons het begin met die idee van lewenslange lede.   Bekende figure binne die VCHO wat by my opkom was manne soos professor DF Malherbe, Dawie Botes, Paul du Toit, Dawid Jacobs, professor HL Joubert, Louis van Niekerk, Frans van Niekerk, professor Koos Lombard en professor Herman Strauss.

Die VCHO het deur die jare ʼn besondere roeping gehad, met klemverskuiwings en aanvullings en al.  Ek dink nie jou roeping as sodanig verander nie.   Maar ons sit in ʼn nuwe Suid-Afrika met heel nuwe omstandighede. Veral die ouderwys word baie hierdeur geraak.  Dat die VCHO steeds sy roeping en taak het, daaroor is daar by my geen twyfel nie.

Ek het nog kontak met die VCHO deur Roeping en Riglyne. Uit die aard van die saak kan ʼn mens nie by alles bybly nie. Die rolstoel waarin ek sit beperk ʼn mens se bewegings baie.

Ek het ook ʼn pad deur die politiek geloop.  Tans beklee ek geen poste meer nie.  Ons het ook die stigting van die Afrikaanse Reformatoriese Kerk gehad.  Die ouderdom het my egter ook ingehaal.  Intussen probeer die gemeente my rekenaargeletterd maak!

ʼn Man soos Dawid Jacobs in die VCHO het ʼn baie groot indruk op my gemaak. Hy was vir baie jare die penningmeester, ʼn taak wat hy met groot onderskeiding volvoer het. Hy was ook die voorsitter van die Eierbeheerraad. Van geboorte ʼn Hollander, stoere Calvinis en uiters belese. Jy kon met hom oor enige ding praat.

Ook professor Herman Strauss onthou ek goed. Ek het jare lank onder hom studeer. Hy het veral baie aandag aan SACUM gegee.

Nog ʼn persoon wat sterk in my herinnering uitstaan was professor DF Malherbe. Hy “sluk ʼn mens mos heeltemal in”! Hy was inderdaad ʼn karakter van sy eie. Vrye sê, net soos hy wil. Jy kon mos nie vir hom kwaadbly nie.

My tyd by die VCHO was ʼn oorgangstyd. Die Vrystaat het manne gehad soos Herman Strauss, professor  P du B Kok, Frans Wessels en dié manne. Ek het die gevoel gehad ek moet in die Transvaal ʼn vatplek kry. Veral die onderwyserskolleges was vir my toeganklik. Sommige plekke is takke gestig. Ek is ook dikwels na die Transvaal Onderwysunie se kongresse genooi.

Ek het ook dikwels gesprekke gevoer met politici. By geleentheid het die VCHO my Kaap toe gestuur om met onder andere doktor HF Verwoerd samesprekings te voer, veral oor die gewetensklousule.

Ek het ook die voorreg gehad om Roeping vir die eerste maal as redakteur uit te bring.  Onder Manie Malan het ons ʼn mooi logo gekry. Ook die Tydskrif vir Christelike Wetenskap het as aparte tydskrif sy beslag gekry.

Ek het veral onder die akademici uitstekende artikels gewerf. Manie Malan is aangestel, omdat die werksdruk dit vereis het. Ek het toe algemene sekretaris geword met Manie as mede-sekretaris.

Daar het in Pretoria ʼn behoefte aan ʼn kantoor ontstaan en ek het soontoe verskuif.

Deur die jare het die hele idee van neutraliteit en evolusionisme sterk posgevat onder akademici.  Die VCHO het voortdurend daarmee in stryd getree. Soms ʼn felle stryd!  Dit gaan in ons dag nog voort.

My boodskap aan die VCHO bly dus: Gaan voort!  Doe zo voort! Seënwense vir julle.  Die genade van die Here Jesus Christus dra ʼn mens deur hierdie stryd.

PROF DANIE STRAUSS

Prof. DFM (Danie) Strauss

  1. Inleiding

Die VCHO het ontstaan in ʼn stadium na die Tweede Wêreldoorlog waarin die smeltkroes van die proses van geestelike herskikking sterk aan die gang was.  Waar Nederland, wat tussen die twee wêreldoorloë die beeld van ʼn eg gereformeerde samelewing vertoon het, skielik ʼn versnelde proses van geestelike ontworteling en sekularisasie beleef het, sou ook Suid-Afrika die aanslae van die na-oorlogse smeltkroes nie vryspring nie.  Die gang van die twintigste eeu is egter ten nouste verweef met ʼn eiesoortige dinamiek wat nog verder teruggryp.

Die eerste drie dekades van die twintigste eeu word gekenmerk deur ʼn ingrypende en variasieryke proliferering van wysgerige denkrigtings en oriëntasies. Dilthey het ʼn deurslaggewende bydrae gelewer tot die tans veelsins aangehaalde oorgang van “denke” na “taal” (die sogenaamde “linguistic turn”).

Hoewel hy vroeër reeds daaraan begin werk het, verskyn die eerste groot werk van Wittgenstein kort na die Eerste Wêreldoorlog (Tractatus-Logico Philosophicus).  Sonder dat Wittgenstein homself daartoe sou reken, het sy werk ʼn groot stimulans gebied vir die hernieude bloei van die neo-positivisme. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Wittgenstein sy manuskrip aan Bertrand Russell gestuur. Net soos wat die neo-positivistiese lesers van hierdie werk later die eintlike onderliggende mistiese inset daarvan sou misverstaan, het ook Russell se lees daarvan ʼn negatiewe reaksie by Wittgenstein self ontlok:  “Now I’m afraid that you haven’t really got hold of my main contention to which the business of logical propositions is only corollary.”  “The main point” (beklemtoning deur skrywer – DFMS) “is the theory of what can be expressed (gesagt) by propositions, i.e. by language (and, which comes to the same thing, what can be thought) and what cannot be expressed by propositions, but only shown (gezeigt); which I believe is the cardinal problem of philosophy.”

Waar die grondmotief van die moderne humanistiese wysbegeerte die ontwikkelingsgang van die moderne denke vasgegryp het in die wentelgang van primaat-wisselinge, was dit nog steeds die onderliggende motivering in die denke van Wittgenstein.  Analoog aan Kant se onderskeiding tussen “is” en “behoort”, onderskei Wittgenstein tussen dit wat gesê kan word en dit wat sig slegs toon (naamlik die mistieke).

Dat laasgenoemde eintlik die primaat (voorrang) in sy denke besit, spreek treffend uit sy woorde:  “Die drang na die mistieke vloei daaruit voort dat die wetenskap nie ons wense kan bevredig nie”. (Notebooks, 51, 30). Gevolglik is Max Black volkome reg wanneer hy afwysend staan teenoor die verwaarlosing van die mistieke element in Eerste Wêreldoorlog se denke:  “Wittgenstein’s ‘mysticism’ is far from being irrelevant aberration. What he called ‘the urge towards the mystical’ is one of the chief motive powers of the book”  (1964: 374).

Die periode na die Eerste Wêreldoorlog skenk bykomend ook geboorte aan die kragtige denkstroming van die dialektiese teologie (Barth, Gogarten en Brunner) wat ʼn uitwerking is van die denke van die vroeëre eksistensialiste (Kierkegaard en Jaspers).  Die reeds gemelde neo-positivisme, bekend as die “Weense kring”, tree ook in hierdie periode skerp op die voorgrond, onder meer gerugsteun deur hul bekende “manifes” van ʼn wetenskaplike wêreldbeskouing (1929 – uitgegee deur H Hahn, O Neurath, R Carnap en Neurath).

Die eksistensiële fenomenologie maak sy prominente buiging met die verskyning van Heidegger se werk Sein und Zeit in die Fenomenologiese Jaarboek van Husserl (in die jaar 1928).  Saam met die wending na die taal vind Heidegger in die taal inderdaad ʼn nuwe universele horison met behulp waarvan hy die trefkrag van die historisme (wat aan die begin van die 19de eeu ontstaan het) te bowe wou kom.

Ook op natuurwetenskaplike front vind betekenisvolle wendinge in hierdie tyd plaas.  In die jaar 1900 ontdek Max Planck sy Wirkungsquantum wat op die fundamentele diskontinuïteit van die materie dui.  In 1913 ontwerp Niels Bohr sy nuwe atoomteorie en in 1905 en 1916 publiseer Einstein onderskeidelik sy besondere en algemene relatiwiteitsteorie.  Nadat die wiskundige versamelingsleer van Cantor in innerlike spanninge vasgeloop het, vind die eerste aksiomatisering daarvan in 1904 deur Zermelo plaas – spoedig geamendeer deur A Fraenkel.  Russel en Whitehead publiseer hul Principia Mathematica as vrug van hul logistiese tese dat die wiskunde en logika identies is, terwyl Brouwer daarteenoor sy program van intuïsionistiese wiskunde van stapel stuur.

Hoewel die neo-Darwinisme na die herontdekking van Mendel se genetiese wette ʼn sterk opmars aan die begin van die 20ste eeu maak, word hierdie tydperk nogtans gedomineer deur die neo-vitalistiese biologie van Hans Driesch.  Eers nadat Von Bertalanffy teen die laat twintigerjare gekom het tot die veralgemening van die tweede hoofwet van die fisika (die wet van nie-afnemende entropie) tot oop sisteme het die neo-vitalisme invloed ingeboet, hoewel latere bioloë soos Sinnott, Haas en Rainer-Schubert Soldern met verrekening van die aard van oop sisteme die neo-vitalisme van Driesch gekontinueer het.  In die jare twintig vestig Meyer en ons eie generaal Smuts die holisme as biologiese denkrigting, terwyl Theodor Zeihen aan die begin van die twintigste eeu sy pan-psigistiese sielkunde uitwerk wat in Bernard Rensch ʼn biologiese navolger sou vind wat tot in die jare vyftig, sestig en sewentig van die vorige eeu ʼn beduidende bydrae tot die biologie sou maak.

  1. Die ontstaan van die Reformatoriese Wysbegeerte

In die twintigerjare van die vorige eeu beleef ons egter ook die geboorte van die Reformatoriese Wysbegeerte toe Vollenhoven en Dooyeweerd vir die eerste keer in die Westerse filosofiegeskiedenis begin werk het aan ʼn filosofiese benadering wat erns wil maak met die lewensomvattende appèl van die evangelie van Gods Koninkryk sonder om in die slaggate van een of ander reduksionistiese werklikheidsverstaan vas te val.

Met die lewering van sy intreerede in 1926 het Dooyeweerd reeds ver gevorder met die deurdenking van die implikasies van ons Bybelse skeppingsgeloof vir ʼn radikaal nuwe verstaan van die eenheid en verskeidenheid binne die skepping.

In hierdie stadium het hy pas ʼn uiters insiggewende en uitvoerige studiereeks (in meerdere aflewerings) in die nuwe tydskrif Antirevolutionaire Staatkunde (deur homself gegrondves as eerste redakteur) gepubliseer.  In 1931 verskyn ʼn moeilik verstaanbare, maar uiters skerpsinnige werk:  De Crisis in de Humanistische Staatsleer en vier jaar later sy drieledige magnum opus genaamd De Wijsbegeerte der Wetsidee (alom bekend as WdW).

Op natuurwetenskaplike gebied was sy eerste entoesiastiese en kompetente medewerkers die bioloog, Diemer,  – wie se lewe egter voortydig op tragiese wyse tydens die Tweede Wêreldoorlog ten einde geloop het.  Daarna het Dooyeweerd vir ʼn tyd lank saam met Lever ʼn vrugbare werksverhouding opgebou totdat Lever in 1956 sy geskrif Creatie en Evolutie die lig laat sien het – waarop Dooyeweerd in 1960 uitvoerig krities ingegaan het in ʼn artikel in Philisophia Reformata.

  1. Die VCHO en die evolusieleer

Teen hierdie tyd het die VCHO reeds ontstaan. Die jong Vereniging het onmiddellik die stryd teen die evolusie-dogma van die neo-Darwinisme aangepak en spoedig finansiële middele tot die beskikking van wyle professor JJ Duyvené de Wit gestel om die nodige jongste publikasies aan te koop en om oor hierdie aktuele tema vanuit Christelik-wetenskaplike hoek te publiseer.

Op basis van ʼn artikelreeks wat in 1953 in Die Volksblad en Die Kerkbode verskyn het, publiseer SACUM ʼn beknopte brosjure met die titel: Die Evolusionisme (gedruk deur die destydse Sentrale Pers). Hierdie geskrif konfronteer die evolusionisme ten opsigte van grondplanne, met name die vermeende toevallige ontstaan van eerste lewende entiteite, ten opsigte van die diskontinuïteite in die paleontologiese rekord en ten opsigte van die uniekheid van die mens.  In 1957 publiseer hy ʼn ewe treffende werkie: Die Paleontologie as Openbare Wetenskap (met ʼn voorwoord deur die Nederlandse wysgeer, KJ Popma). Tussen 1960 – 66 verskyn daar talle gesaghebbende wetenskaplike artikels uit die pen van professor De Wit – almal medemoontlik gemaak deur die ondersteuning wat die VCHO aan sy arbeid gegee het. Een van die treffende artikels uit hierdie tydperk is die bydrae wat hy gelewer het tot die Feesgeskrif wat in 1965 opgedra is aan Dooyeweerd:  Philosophy and Christianity.  Die opstel van professor De Wit dra die titel: The impact of Herman Dooyeweerd’s Christian Philosophy upon present day Biological Thought (pp 405 – 433).  In laasgenoemde werk wys De Wit op ʼn merkwaardige dilemma van die neo-Darwinistiese evolusionisme. Daarvolgens bied die kombinasie van mutasie en natuurlike seleksie die nodige verantwoording vir die groot (kwalitatiewe) veranderinge wat gepostuleer word.  Nogtans erken evolusioniste uit hierdie kamp dat mutasie eintlik tot ʼn minimumvlak beperk moet bly:  “Furthermore it has been shown by Haldane that the population fitness is depressed by an amount roughly equal to the sum of all mutation rates”. (E Mayr, Animal species and evolution, 1963). “The more drastically a mutation affects the phenotype, the more likely it will reduce fitness.” “Therefor,” sê Dobshansky, “natural selection will favor the genotypes in which the mutability is kept to a minimum.” (Genetics and the origin of species, New York, 1953)

Na die skielike dood van professor De Wit in 1966, het die VCHO voortgegaan met die ondersteuning van navorsing op hierdie gebied.  In 1975 het die VCHO opnuut ʼn publikasie die lig laat sien met die titel:  Die Evolusionisme – Knelpunte ontbloot, deur professor DFM Strauss.  In 1983 is ʼn vereenvoudigde boekie deur die NG-Kerk Jeugboekhandel uitgegee met die titel Evolusie – Kernpunte van die moderne afstammingsleer onder die soeklig, van dieselfde skrywer.  In laasgenoemde twee geskrifte is onder meer klem gelê op die feit dat dit streng gesproke foutief is om van die “evolusie-teorie” te praat – eenvoudig omdat daar in die moderne biologie uiteenlopende (selfs wederkerig-uitsluitende) standpunte bestaan (soos die meganistiese en fisikalistiese teorieë aan die een kant teenoor die neo-vitalisme, of organismiese en holistiese standpunte aan die ander kant).

  1. Leerstoel

As deel van die aksies wat die VCHO van stapel gestuur het, moet ons in hierdie konteks die instelling van ʼn besondere leerstoel in Reformatoriese Wysbegeerte aan die Rhodes Universiteit te Grahamstad vermeld.  Nadat die Hoofbestuur van die VCHO op voorstel van professor DFM Strauss eers ʼn brief aan alle Engelstalige universiteite gestuur het met die versoek om aan die Vereniging die geleentheid te bied om so ʼn leerstoel te befonds, het daar uiteindelik slegs van Rhodes Universiteit ʼn positiewe reaksie gekom – weliswaar met die voorbehoud dat iemand vir ʼn week na hul kampus moes gaan om lesings oor hierdie wysbegeerte te lewer waarna enige student en dosent sou kon gaan luister.

Hierdie taak is aan die voorsitter, professor DFM Strauss, opgedra.  Tydens hierdie “lesingweek” het dit onder meer geblyk dat daar skeptici op die kampus was wat van mening was dat die hele poging ʼn subtiele poging van die Afrikaner Broederbond sou wees om ʼn vastrapplek op die kampus te verkry, en dat hierdie filosofie bowendien ʼn stuk verteologiseerde dogmatisme sou behels.  Tydens die weeklange besoek is egter aan almal verduidelik dat die VCHO in gedagte het om iemand uit Noord-Amerika (met Engelstalige agtergrond) te verkry vir die betrekking – waarmee die Broederbond-agterdog uit die weg geruim is.  Die talle gesprekke in reaksie op die lesings waarin die hooftrekke van die Reformatoriese Wysbegeerte uiteengesit is, het bykomend daartoe gelei dat aanwesiges deeglik besef het dat hierdie wysbegeerte nie alleen oop en dinamies van aard is nie, maar dat dit bowendien met talle unieke en nuwe insigte en onderskeidinge na vore gekom het – perspektiewe wat ook van fundamentele belang vir die verskillende vakwetenskappe is.  Aan die einde van week het die destydse hoof van die Departement Filosofie, professor Ian Bunting (tans ʼn bekende in tersiêre onderwyskringe) die positiewe effek van hierdie week kernagtig opgesom met die woorde: “I am now convinced that this philosophy represents a perfectly respectable philosophical stance.”

Die proses het sy gang gegaan en doktor Ed Echeverria is aangestel en hy het vir ʼn aantal jare hierdie betrekking beklee totdat hy ʼn betrekking in die VSA aanvaar het.  Vanweë die stygende koste verbonde aan so ʼn betrekking is dit nie weer gevul nie.

  1. Oorsese verbintenisse van die VCHO

Afgesien van die voor-die-hand-liggende kontak wat verskeie VCHO-lede met hul Nederlandse geesgenote (van die Vereniging vir Calvinistiese Wysbegeerte) gehad het, is daar ook reeds in die sestigerjare kontak gemaak met die IARFA (International Association for Reformed Faith and Action).  Tydens die skrywer se doktorale studie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam is hy deur die VCHO in Augustus 1970 afgevaardig om die internasionale konferensie van IARFA, wat daardie jaar te Mittersill in Oostenryk gehou is, by te woon.  By hierdie konferensie is ondermeer met figure soos Paul Schrotenboer (bekende in die Gereformeerde Ekumeniese Sinode), Bob Knudsen (teoloog-filosoof), Jan Dengerink (Nederlandse filosoof), David Hanson (dekadelange entoesiastiese geesgenoot – as oor-, neus- en keelspesialis), Al Wolters (later van die ICS in Toronto en tans verbonde aan Redeemer College in Kanada) en Martin Vrieze (sosioloog) kennis gemaak.  By drie verdere IARFA konferensies (1965 – Potchefstroom; 1978 – Calvin College, Grand Rapids VSA;  en 1981 – Dordt College, Sioux Centre VSA) was die skrywer bevoorreg om steeds die VCHO te verteenwoordig (professor JC Lombard van Bloemfontein was ook by hierdie konferensies namens VCHO).  Die volgende konferensie in die middel tagtigerjare is deur doktor Echeverria bygewoon. As konferensie het dit grootliks misluk, omdat dit deur politieke agitators uit Suid-Afrika – wat van die reformatories-wysgerige tradisie werkliks niks geweet het nie – ontwrig is.

In 1974 was doktor Dengerink een van die hoofsprekers tydens ʼn VCHO-kongres wat op die UOVS-kampus aangebied is.  Reeds in 1967 het professor Henk van Riessen ons kampus besoek en later het ook professor André Troost verskeie besoeke aan Suid-Afrika gebring. Martin Valenkamp, Henk Geertsema en Sander Griffioen het almal ook besoek aan Suid-Afrika gebring (soms in samewerking met uitnodigings wat deur die destydse UOVS hanteer is).

Sedert die middelsewentiger jare het daar ʼn aktiewe en vrugbare interaksie tussen die VCHO en die Institute for Christian Studies (ICS) in Toronto ontstaan.  Die destydse hoof van die ICS, doktor Bernard Zylstra, het saam met doktor Jim Skillen en doktor Bob Goudzwaard Suid-Afrika in 1977 besoek. Tydens die eerste “Social Sciences Seminar” wat die ICS in Toronto in 1978 gereël het, was daar bykans dertig persone uit Suid-Afrika (hoofsaaklik uit Potchefstroom en Bloemfontein afkomstig) teenwoordig.  In 1981 en in 1985 was professor DFM Strauss opnuut by twee verdere konferensies van die ICS teenwoordig. Die eerste een het oor die aard van die filosofie gehandel en die tweede een oor die nalatenskap van Dooyeweerd.

In 1982, 1986, 1994 en 2000 het die Vereniging vir Calvinistische Wijsbegeerte in Nederland vier internasionale konferensies georganiseer en by almal was daar verskeie lede van die VCHO teenwoordig, sowel as hoofsprekers en as persone wat voordragte gelewer het tydens die werksessies.

Op grond van ʼn navraag wat doktor Magnus Verbrugge gedoen het tydens die 1986 konferensie, het die VCHO betaal vir die vertaling wat doktor Phil Brouwer gedoen het van die artikelreeks wat Dooyeweerd in die twintigerjare van die 20e eeu geskryf het in die stryd om die Christelike Staatkunde.  Hierdie vertaling is eventueel as Deel V in die B-reeks van die Versamelde Werke van Dooyeweerd opgeneem.  Met hierdie ondersteuning het die VCHO waarskynlik die eerste instansie geword wat daadwerklik finansieel bygedra het tot die omvangryke taak om die Versamelde Werke van Dooyeweerd te publiseer.

Sedert die skrywer van hierdie artikel in 1994 na Kanada vertrek het as die eerste “Director” van die Dooyeweerd Centre, is hierdie verbintenis voortgesit.  Hy werk intussen onverpoos voort aan die genoemde projek.  Sedert sy terugkeer na Suid-Afrika in 1997 was hy onder meer deurlopend besig met die vertaling van die Regsensiklopedie van Dooyeweerd (uitgesonderd die inleidingsdiktaat waarvan Rob Knudsen die oorspronklike vertaal het en Johan van der Vyver die onvoltooide omgewerkte vorm daarvan).  Teen die middel van 2001 het professor Strauss die ontwerpvertaling van die hoofdele van die Regsensiklopedie voltooi – wat bykans eenduisend bladsye beslaan.  Daar het reeds vier dele in die (meerdelige) A-reeks verskyn, drie in die B-reeks (bundels van verspreide artikels) en een deel in die C-reeks (hierdie reeks bevat geskrifte wat betrekking het op die wysgerige erfenis van Dooyeweerd).  Die uiteindelike Versamelde Werke sal tussen 20 en 30 bande beslaan.

PROF JAN VAN DEN BERG

 

Prof. Jan A van den Berg

  1. Inleidende opmerkings

Toe professor Pieter Stoker my in September 1999 gevra het om ʼn mededeling oor dié stigtingsgeskiedenis op skrif te stel, het ek gedink dit is ʼn maklike saak, al gaan ons notuleboek net terug tot 1974. My geheue is mos goed en die oudste VCHO-lede wat daarmee te doen het, naamlik doktore Sarel Eloff en Mieder Olivier, leef mos nog en kan opgespoor word. Hulle sou hulle ook kon herinner aan ander wat die ontbrekende inligting sou kon verskaf. Dié veronderstelling het geblyk verkeerd te wees!

Al wat ek met sekerheid kan konstateer is dat dié stigtingsvergadering een aand, kort na die afstigting van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Potchefstroom-Die Bult in 1961 plaasgevind het, en dat dié stigtingsvergadering in ʼn lesingkamer van die Potchefstroomse Onderwyskollege (POK) plaasgevind het (VCHO-brosjure 1984, met geskiedenis van VCHO, p.7: Eerste tak gestig November 1963). Die genoemde gemeente, waarvan ek toentertyd die skriba was, het die POK-saal Sondae gebruik vir eredienste. Ek onthou ook dat wyle professor HL Swanepoel dáár was en vaagweg ook dat wyle professor Kobus Hattingh aanwesig was. Ek onthou ook dat ek as voorsitter van dié VCHO-tak gekies was, seker omdat ek destyds voorsitter was van die Natuurwetenskaplike Studiekring aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en kort vantevore aan die Universiteit van Pretoria gepromoveer het. Daar was seker die verwagting dat dié jong natuurwetenskaplike, wat nie ʼn geheim daarvan gemaak het nie dat hy ʼn teenstander is van die evolusionisme, hier op Potchefstroom met sy reformatoriese tradisie, in ʼn gunstige posisie is om ʼn bloeiende VCHO-tak aan die gang te kry!

  1. Maar ʼn klein vlammetjie

Wanneer teruggekyk word, sal seker erken word dat hierdie verwagting (dat dié VCHO-tak van die begin af sou bloei) nie verwerklik is nie. Die voorsitter moes eers leer dat kerklidmate se aanwesigheid in nie-kerklike lewensvorme nie dáárdie lewensvorme Christelik maak nie! Die ander bestuurslede moes dit seker ook leer. Maar daaroor het ons nooit gepraat nie, want die bona fides van die goedgesindes teenoor Christelike wetenskap is aanvaar. So het ons een keer van ʼn Pretoriase universiteitsdosent in die Sielkunde, wat op aanbeveling van ʼn kerklikmeelewende VCHO-lid sulke vreemde beskouings in ʼn voordrag oor “ʼn Christelik-wetenskaplike beskouingswyse in die Sielkunde” aangehoor, dat ons plaaslike tak amper ten gronde gegaan het!

Vir ʼn voorsitter, wat ʼn natuurwetenskaplike is, het daar gedurig teenstand van twee kante voorgelê: enersyds die beskouing dat die “geesteswetenskappe” on-eksak is en eintlik meer met “gevoel” en die “gees” te doen het, andersyds die beskouing dat ʼn mens nader aan God in die “geesteswetenskappe” as in die “natuurwetenskappe” kan kom. Dié beskouingswyses word hier gegee as ʼn terugblik. Dit dien moontlik ook as rede waarom ons vergaderings maar altyd so swak bygewoon is.

Wat ons staande gehou het? Bo alles, God se genadige Hand wat by ons die gesindheid ingegee het om, wat ons ookal doen, van harte te doen as vir die Here en nie vir mense nie! (Kolossense 3:23). Ons behoort aan die Here en ons wetenskaplike arbeid moet ook aan Hom, wat ons verlos het, Christus die Here, behoort! Hy het ook steeds die entoesiastiese werkers en geleenthede geskenk.

  1. VCHO-tak en die Potchefstroomse Onderwyskollege

Die meeste van die bestuurslede het uit die POK se personeel gekom. Dit is nou ook nog so. Staatmakers uit daardie vroeë jare, wat ek my kan herinner, was meneer Hein Coetzee (hy het later tragies verongeluk toe ʼn ander motoris ʼn stopteken ignoreer het), meneer Dawie Conradie (hy het vroeg aan ʼn hartaanval beswyk), en meneer Johan Claassen (die latere professor aan die PU vir CHO en Springbokrugbyspeler). Met lesingkamers en sprekers by ons byeenkomste kon ons altyd by die POK geholpe raak. Dames om te help met tee het ons vergaderings aangenaam laat verloop.

Aanvanklik was ons onkostes maar gering en maklik uit eie sak betaal. Die VCHO-hoofbestuur het ons ook geldelik gehelp wanneer ons daarvoor gevra het. Kennisgewings is gereeld deur die VCHO-kantoor getik vir plaaslike verspreiding. Sowat drie vergaderings per jaar, en dieselfde getal bestuursvergaderings is gehou. Sowat twintig, soms meer, aanwesiges het gemiddeld die vergaderings bygewoon. Dinsdag- en ook Donderdagaande was die geskikste.

  1. Steun uit Nederduitse Gereformeerde gemeentes

Nie net van die POK-personeellede nie, maar ook van die Nederduitse Gereformeerde gemeentes Potchefstroom-Die Bult en Potchefstroom-Noord, het die VCHO-tak gesteun. Kennisgewings van ons vergaderings is gewilliglik in die gemeentelike bekendstellings opgeneem. Dit was veral sekere individue wat hulle invloed daartoe gebruik het. Die meeste gemeentelede het maar min kennis gedra van die VCHO se doelstellings, hoewel van tyd tot tyd teologiese professore van UOVS of predikante die doelstellings van die bevordering van Christelike opvoeding, onderwys en wetenskap toegelig het. ʼn Faktor wat hinder, was en is: die beskouings van “die wetenskap is neutraal”; van: “die Christelike houding van die onderwyser of dosent is van kardinale belang, nie soseer sy wetenskaplike benadering nie”; en van die natuur-genade-benadering “dat die mens nader by God kom in jou godsdienstige lewe as in jou aktiwiteite daarbuite”. Dis net individue wat elke keer opgeskerp word tot daadwerklike samewerking.

  1. Die VCHO-tak klein in die skaduwee van die PU vir CHO

ʼn Faktor wat sterk teen die VCHO-tak gewerk het, is dat dit moes fungeer in die skaduwee van die PU vir CHO. Vermoedelik het die saak dat die PU vir CHO die enigste universiteit in Suid-Afrika is wat vry is van die bepaling van gewetensvryheid vir die doserende personeel te doen gehad het met die onvrymoedigheid van die VCHO-tak se bestuur om meer daadwerklik samewerking te soek. Die opsteller van hierdie stuk, wat ʼn dosent aan die PU vir CHO was, het by party personeellede geen entoesiasme vir die VCHO (wat gekoppel is aan dosente van UOVS waar die gewetensklousule wel geld), gewaar nie en daarom net gesteun op die enkelinge wat wel entoesiasme getoon het. Daar was egter altyd PU vir CHO-personeellede ook van die Gereformeerde Kerke wat hulp verleen het (soos professor HG Stoker, professor BC Schutte, Jan A van Wyk en ander van die departement opvoedkunde).

Die probleem is verder dat dié dosente wat graag gehelp het, nie betrokke was in onderwerpe wat vir ʼn gewone gehoor besonder interessant sou wees nie. Die opsteller van hierdie stuk het lank gesukkel om ʼn wetenskaplike groep te laat belangstel omdat VCHO-lede, wat betrokke was, kreasioniste was! Hoe anders?

Die voorsitter moes self nog veel lees: artikels en boeke van HG Stoker, DFM Strauss, H van der Laan, Dooyeweerd, Kalsbeek en andere. In daardie beginjare, toe die regte leiding dáár moes gewees het, het dit ongelukkig ontbreek! Met die bywoning van lesings van sommige van dié skrywers en ander soos H van Riessen, E Schuurman en andere, het die gehalte van ons vergaderings verbeter.

Daar was steeds die staatmakers, die lojales wat aangespoor het, soos doktor Sarel Eloff, doktor Mieder Olivier, professor JM Hattingh, doktorandus AFF Teurlinckx, doktor HJ Schutte en ander wat ek ongelukkig nie nou kan onthou nie, wat almal met geesdrif gehelp het. Die VCHO-hoofsekretarisse en uitvoerende beamptes het die tak van tyd tot tyd besoek.

Die VCHO-takbesture het maar gedoen wat hulle hand kon vind om te doen en op die Here bly vertrou in die verwesenliking van die doelstellings:

die bevordering van Christelike opvoeding

Christelike onderwys

Christelike wetenskap

Redakteursnota:

Professor JA van den Berg, was die eerste takvoorsitter en is tot vandag toe op die bestuur.

PW DE LANGE

Eerste sekretaris van die VCHO: PW de Lange:

ʼn Kort lewenskets

Pieter Willem de Lange is gebore op 10 Augustus 1906 te Elliot in die Oos-Kaap. Hy was die agste van tien kinders; die seun van Johannes Hendrik Benjamin de Lange (nasaat van Hans Dons de Lange), en Elsie Wilhelmina Viljoen. Sy vader was ʼn meulenaar van beroep.

Tydens sy kleuterjare het die gesin na die binneland getrek met die oog op beter boerderymoontlikhede. Die gevolg was dat hy eers op tien jarige leeftyd begin het met skoolopleiding.

Sy sekondêre opleiding het hy te Volkskool Potchefstroom voltooi, en hy het Kweekskool bygewoon op Stellenbosch. Soos hy, is sy vader op vroeë ouderdom (65 Jaar) oorlede, en moes sy moeder klapperhaarmatrasse stop, en wasgoed vir die plaaslike hotel was, om vir hom en sy broer se studies te betaal.

In die afloop van die Du Plessis stryd op Stellenbosch, het hy aan die “Ou Paaiane” groep behoort, en daar het hy ʼn deeglike Calvinistiese fondament ontvang wat hom in sy latere bediening ʼn prominente leraar in die Ned Geref Kerk sou maak. Hy en sy broer Pieter Nico Viljoen de Lange, sou in die kerk bekendheid verwerf vir hulle streng gereformeerde lewens- en wêreldbeskouing.

Op 28 jarige leeftyd het hy afgestudeer, en in die Nuwe Kerk Kaapstad begin waarneem teen ʼn vergoeding van vyf pond per maand. Daarna het hy drie jaar in Bellville gestaan, waar De Langestraat wat voor die kerk verbyloop, na hom vernoem is. Hier is hy op 3 September 1935 getroud met Susanna Johanna Eksteen, nooi van Piketberg. Uit hulle huwelik is vyf kinders gebore.

Daarna het hy die volgende gemeentes bedien: Albertinia (5 jr.), Parys (3 jr.), Bloemheuwel (3 jr.) Riversdal (7 jr.), Onderstepoort (3 jr.) en Capital Park (4 mnde.). In laasgenoemde gemeente is hy in die tuig oorlede op 8 Mei 1959, op 53 jarige leeftyd.

Van hom en sy broer is daar heelwat staaltjies uit die bediening in omloop. Gedurende daardie jare, kon ʼn predikant nog deur sy teenwoordigheid danspartye beëindig, en kerkraadslede uit kroeë haal. Tydens sy bediening in Parys het onder andere hy ʼn vername rol gespeel in die beëindiging van die honderesies, wat destyds in die Vaaldriehoek aangebied is.

Met die agtergrond van PU vir CHO tydens sy vormingsjare, het hy ʼn ideaal met ʼn aantal predikante gedeel aangaande Christelike Hoër Onderwys. Dit verklaar sy optrede as notulerende sekretaris by die stigtingsvergadering van hierdie Vereniging. Heelwaarskynlik het sy bediening te Parys, wat toe 1800 lidmate getel het, hom daarvan weerhou om verder vir die Bestuur beskikbaar te wees. Wat op my as kind ʼn onuitwisbare indruk gedurende hierdie tyd gemaak het, was die geleentheid toe hy weens oorwerktheid en bloedverlies as gevolg van ʼn bloeiende maagseer, in die voorportaal van die pastorie op Parys op die vloer neergeval en bly lê het.

Hy was ʼn lewenslange student. Hy het twee meestersgrade behaal, en ʼn doktorale proefskrif voltooi oor: “Die emansipasie van die vrou, in die lig van die Skrif”.

Hy was ʼn gestrenge leraar; ʼn begaafde prediker; ʼn waardige opponent tydens debatvoering; ʼn onverbiddelike teenstander van alle vyande van die Kruisevangelie, sonder aansiens des persoons; ʼn lewenslange vriend; ʼn gereserveerde Christen; ʼn pastor met ʼn sensitiewe gemoed; ʼn deurleefde kind van sy Hemelse Vader; hy was ʼn Christen-Afrikaner.

En in hierdie tydsgewrig het ons die voorreg om met die stigting van CVO-Volkskole, die ideale van ons voorgangers prakties gestalte te kan gee; ʼn hoë roeping en eer om die stryf om Koninkryk, kerk en volk voort te sit.

LLE de Lange

SAREL ELOFF

Ds. Sarel Eloff

Ek het my opleiding aan die Onderwyskollege Potchefstroom en die PUK ontvang – Christelike Nasionale Onderwys (Later Christelike Volkseie Onderwys).

Terwyl ek aan die Kweekskool op Stellenbosch studeer het, was daar ernstige verskil van opinie onder die studente en ek dink ook die professore, oor die beoefening van Christelike Wetenskap as die logiese gevolg van Christelike opvoeding en onderwys. Studente wat aan die Universiteit van Stellenbosch en ander universiteite studeer het, het nie die beginsel van Christelike wetenskap onderskryf nie, terwyl die wat aan UOVS en PUK studeer het, wel die beginsel onderskryf het. Eersgenoemdes het geglo dat Christene wetenskap kan beoefen, maar dat dit nie Christelike wetenskap beteken nie. Laasgenoemdes het geredeneer dat as daar sprake kan wees van Christelike onderwys, daar ook sprake moet wees van Christelike wetenskap. Dit wil sê daar moet ook aandag gegee word aan die aksie en uitgangspunt van die wetenskapsbeoefening. Dit kan nooit neutraal plaasvind nie.

Met bogenoemde oortuigings is ons na ons gemeentes toe. Amalia, in Wes-Transvaal (destyds) was my eerste gemeente. Ek het daar begin in 1949. In 1950 is ek na die stigtings- of na-stigtings vergadering van die VCHO genooi wat op Brandfort of Winburg plaasgevind het. Daar was leidende kerkmanne teenwoordig, onder andere dominee Mentz van die Paarl, dominees Pieter en Nico de Lange, Carel Colyn, Awie Viljoen en andere. Dit was maar ʼn klein groepie manne wat daar saamgekom het, maar in hulle harte was die oortuiging groot dat Christelike onderwys en wetenskap in ons land bevorder moes word. Die VCHO was van die begin af ʼn organisasie wat vir sy bestaan en doelstellings moes veg – self binne Christelike geledere.

Kort na die stigting van die VCHO is doktor Antonie Koornhof, destyds predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op Vredefort, aangestel as sekretaris-uitbreidingsbeampte van die VCHO. Dit was ʼn kolskoot. Ek weet nie van iemand wat op daardie tydstip meer vir die grondlegging en koersaanduiding van die VCHO gedoen het as hy nie.

Die eerste, of ten minste een van die eerste gemeentes wat hy besoek het was Amalia, waar ek predikant was. Hy het ʼn werksmetode ontwerp wat dwarsdeur die afgelope vyftig jaar gevolg is en vandag nog gedoen word. By so ʼn besoek het hy van die kansels af die doel en strewe van die VCHO op onverbeterlike wyse gestel. Daarna is lede gewerf wat ook finansiële ondersteuners geword het.

Aanvanklik het Antonie alleen gewerk en duisende kilometer afgelê om sy taak te vervul. Soms was hy dae van die gesin en tuiste weg.

In Amalia het hy die Sondag ʼn boeiende preek oor die ouers se verbondsbelofte gelewer. Hulle doopbelofte om hulle kinders Christelik groot te maak en te laat grootmaak, is oortuigend gestel. Laasgenoemde stelling is ook op die onderwys en onderwysers betrek. Heelwat persone het as lede en ondersteuners van VCHO aangesluit.

Gedurende die week het ons ook ondersteuners tuis besoek. Sy vriendelike en minsame persoonlikheid het baie mense aangetrek. Na so ʼn besoek het elke lid ʼn omsendbriefie ontvang: ʼn warm innig-persoonlike briefie wat dit vir ʼn mens onmoontlik gemaak het om Antonie en die VCHO te vergeet. Hy was sonder twyfel die suksesvolle grondlegger van die VCHO in die praktyk. Die regte man op die regte tyd en plek. Ná dr Koornhof se dood het ek vrugbaar saamgewerk met dr Japie Gerber, sy opvolger. Ons het soms gemeentes saam besoek en baie aangenaam saamgewerk. Japie het sterk sakevernuf in die VCHO-opset ingevoeg. Dit het deur die jare baie goeie resultate gelewer.

Ek was op daardie stadium die predikant van die Algemene Sinode met opdrag die bevordering van Christelike opvoeding en onderwys. Hoewel ons feitlik op dieselfde akker gewerk het en ons doel en strewe byna dieselfde, het ons baie goed saamgewerk en die Koninkryk van God na die beste van ons vermoë probeer bevorder.

Ná die stigting van die ouervereniging op die landswye onderwyskongres oor onderwys en opvoeding in 1982 en ek as eerste voorsitter aangewys is en my pad vorentoe moes voel, was Japie ʼn werklike staatmaker. Ons moes dikwels ons man staan teen onderwysleiers wat in die ouervereniging ʼn bedreiging gesien het. Dit was ʼn uiters pynlike tendens wat deur die pers ondersteun is. Die geskiedenis het egter bewys dat hulle vrees ongegrond was. In dié tyd het ek en Japie stewig hande gevat en ons nie laat intimideer nie.

My samewerking met Gerrie van Niekerk was ook van die beste. Hy was ʼn goeie organiseerder en harde werker wat in die bloei van sy lewe letterlik op sy arbeidspad die ewigheid in is. Hoewel hy nie ʼn predikant was wat van die kansels af sy saak kon stel nie, het hy die kuns verstaan en die gawe besit om predikante daarvoor in te span. Dit was ʼn voorreg om vir ʼn kort tyd saam met hom in dieselfde span te trek.

Ná my aftrede het baie kanale opgehou om te bestaan sover dit die werk ten gunste van Christelike opvoeding, onderwys en wetenskap aangaan. Maar die uitgangspunte en doelstellinge ten opsigte van Christelike onderwys en  wetenskap bly in my hart en gebede onaangetas voortbestaan.

Die VCHO-verteenwoordigers besoek my tuisgemeente, Parys-Suid, binnekort soos hulle dit 50 jaar gelede op Amalia gedoen het.

My innigste seënbede vir hulle wat die goeie saak van Christelike onderwys en  wetenskap, voortsit.

Aan God alleen die eer!